“Die oudste bekende aanhalings uit Bybelgeskrifte”
“Die oudste bekende aanhalings uit Bybelgeskrifte”
VYF-EN-TWINTIG jaar gelede het Israeliese argeoloë ’n ongelooflike ontdekking gedoen. In ’n grafspelonk teen die hange van die Hinnomvallei in Jerusalem het hulle afgekom op twee klein silwerboekrolle waarop Bybeltekste gegraveer is. Die boekrolle dateer uit die tyd voor die Babiloniese vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. Die tekste het party van die seëninge aangehaal wat in Numeri 6:24-26 opgeteken staan. God se persoonlike naam, Jehovah, kom verskeie kere in albei boekrolle voor. Die inskripsies is beskryf as “die oudste bekende artefakte uit die antieke wêreld wat uittreksels uit die Hebreeuse Bybel dokumenteer”.
Party geleerdes het egter die datering betwis en aangevoer dat die boekrolle in die tweede eeu v.G.J. geskryf is. Een rede vir dié meningsverskil is dat die gehalte van die oorspronklike foto’s van hierdie baie klein boekrolle dit nie moontlik gemaak het om al die fyn besonderhede te ondersoek nie. Om die dateringsprobleem op te los, het ’n span geleerdes ’n nuwe studie onderneem. Hulle het die jongste fotografiese en rekenaarbeeldingstegnologie ingespan om digitale hoëresolusiebeelde van die boekrolle te maak. Die resultate van die nuwe ontleding is onlangs gepubliseer. Tot watter gevolgtrekkings het die span geleerdes gekom?
Eerstens beklemtoon die geleerdes dat die argeologiese data op ’n datum voor die Babiloniese ballingskap dui. Die paleografiese waarnemings—die datering van die skrif op grond van die vorm, styl, plasing, volgorde en skryfrigting—dui op dieselfde tydperk, naamlik die einde van die sewende eeu v.G.J. En laastens, wanneer die ortografie, die wetenskap van spellingstelsels, in ag geneem word, kom hierdie span tot die slotsom: “Die ortografiese data in die plate [boekrolle] strook met die argeologiese en paleografiese bewyse wat die datering van die inskripsies betref.”
Die tydskrif Bulletin of the American Schools of Oriental Research gee hierdie samevatting van die studie van die silwerboekrolle, ook bekend as die Ketef Hinnom-inskripsies: “Ons kan dus die gevolgtrekking van die meeste geleerdes bevestig, naamlik dat die inskripsies op hierdie plate die oudste bekende aanhalings uit Bybelgeskrifte is.”
[Foto-erkennings op bladsy 32]
Spelonk: Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.; inskripsies: Photograph © Israel Museum, Jerusalem; courtesy of Israel Antiquities Authority