Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geld en sedes—’n les uit die geskiedenis

Geld en sedes—’n les uit die geskiedenis

Geld en sedes—’n Les uit die geskiedenis

OP 7 April 1630 het omtrent vierhonderd mense in vier skepe van Engeland af na Amerika geseil. Baie van hulle was hooggeleerd. Ander was suksesvolle sakemanne. Party was selfs parlementslede. ’n Ekonomiese depressie het in Engeland geheers, wat vererger is deur die voortslepende Dertigjarige Oorlog in Europa (1618-48). Hulle het dus ’n kans gewaag en hulle huise, sakeondernemings en familielede agtergelaat op soek na beter geleenthede.

Hierdie hoopvolle groep mense was egter nie bloot opportunistiese handelaars nie. Hulle was ywerige Puriteine wat van godsdiensvervolging gevlug het. a Hulle eintlike doelwit was om ’n godvresende gemeenskap te stig, waarin hulle en hulle nakomelinge materieel voorspoedig kon wees sonder om die Bybel se standaarde prys te gee. Kort nadat hulle by Salem, Massachusetts, aangekom het, het hulle hulle op ’n stuk grond langs die kus gevestig. Hulle het hulle nuwe tuiste Boston genoem.

’n Moeilike balans

John Winthrop, hulle leier en goewerneur, het sy bes gedoen om persoonlike rykdom en openbare welvaart in die nuwe kolonie te bevorder. Hy wou hê dat die mense geld sowel as sedes moes hê. Maar dit was moeilik om so ’n balans te bereik. Omdat hy uitdagings verwag het, het hy die rol van rykdom in ’n godvresende gemeenskap uitvoerig met sy metgeselle bespreek.

Soos ander Puriteinse leiers, het Winthrop geglo dat die strewe na rykdom nie op sigself verkeerd is nie. Die hoofdoel van rykdom, het hy aangevoer, is om ander te help. Hoe ryker ’n persoon dus was, hoe meer kon hy vir ander doen. “Min onderwerpe het die Puriteinse verstand so verwar as rykdom”, sê die geskiedkundige Patricia O’Toole. “Dit was ’n teken van God se seën, maar ook ’n kragtige versoeking om toe te gee aan die sonde van hoogmoed . . . en aan die sondes van die vlees.”

Om die sondes te vermy wat deur rykdom en weelde meegebring kan word, het Winthrop matigheid en selfbeheersing verkondig. Maar die ondernemingsgees van sy medeburgers het spoedig begin bots met sy pogings om hulle te dwing om godvrugtigheid te beoefen en mekaar lief te hê. Andersdenkendes het begin kapsie maak teen wat hulle as Winthrop se onderdrukkende inmenging in hulle private sake beskou het. Sommige het ander begin opstook om ’n raad te verkies wat saam besluite sou neem. Ander het eenvoudig met hulle voete gestem deur na die naburige staat Connecticut te trek om hulle eie belange daar na te streef.

“Geleenthede, voorspoed, demokrasie”, sê O’Toole, “was alles sterk dryfkragte in die lewe van Puriteine in Massachusetts, en dit het individuele strewes aangevuur ten koste van Winthrop se gemeenskapsideaal.” Winthrop is in 1649 op 61-jarige ouderdom oorlede, feitlik brandarm. Hoewel die wankelrige kolonie ten spyte van baie teëspoed bly staan het, het Winthrop nooit gesien dat sy droom bewaarheid word nie.

Die soeke duur voort

John Winthrop se idealistiese droom van ’n beter wêreld het nie saam met hom gesterf nie. Honderdduisende emigreer elke jaar uit Afrika, Suidoos-Asië, Oos-Europa en Latyns-Amerika in die hoop dat hulle ’n beter lewe sal vind. Van hulle word aangespoor deur die honderde nuwe boeke, seminare en webwerwe wat elke jaar die lig sien en belowe om die geheim te openbaar van hoe om ryk te word. Dit is duidelik dat baie nog steeds rykdom najaag, hopelik sonder om sedelike waardes prys te gee.

Maar in werklikheid is die gevolge teleurstellend. Diegene wat rykdom najaag, offer dikwels hulle beginsels en soms selfs hulle geloof op die altaar van Mammon op. Jy vra dalk tereg: “Kan ’n mens ’n ware Christen wees en terselfdertyd ryk wees? Sal daar ooit ’n godvresende gemeenskap wees wat materieel sowel as geestelik ryk is?” Die Bybel beantwoord hierdie vrae, soos die volgende artikel toon.

[Voetnoot]

a Die naam Puriteine is in die 16de eeu gegee aan Protestante in die Anglikaanse Kerk wat hulle kerk wou suiwer van elke spoor van Rooms-Katolieke invloed.

[Foto-erkennings op bladsy 3]

Bote: The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck; Winthrop: Brown Brothers