Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jy soos ’n lagani auna-boom?

Is jy soos ’n lagani auna-boom?

Is jy soos ’n lagani auna-boom?

IN ’N dorpie aan die buitewyke van Port Moresby, Papoea-Nieu-Guinee, was twee bedienaars op pad huis toe nadat hulle aan die predikingswerk deelgeneem het. Terwyl hulle gestap het, het hulle ’n pragtige boom gesien. “Kyk, ’n lagani auna!” het die ouer een gesê. Hy het na die jonger man gedraai en gesê: “Daardie naam beteken ‘jaarlikse boom’. Anders as baie ander tropiese bome verloor dit elke jaar sy blare, en dan lyk dit of die boom dood is. Maar wanneer die reëns kom, herlewe dit, bring dit blomme voort en lyk dit weer pragtig.”

Ons kan ’n les leer by die lagani auna, oftewel die flambojant, soos dit algemeen bekend staan. Volgens party deskundiges word dit gereken onder die vyf pragtigste blombome in die wêreld. Al val sy blomme en blare in die droë seisoen af, gaar die boom water op. Sy wortelstelsel is sterk en kan om diep ondergrondse rotse groei. So anker hy hom teen sterk winde. Kortom, dit floreer omdat dit moeilike omstandighede ten beste benut.

Ons bevind ons dalk in omstandighede wat die gehalte van ons geloof beproef. Wat sal ons help om te volhard? Net soos die lagani auna, kan ons die lewegewende water van God se Woord indrink en berg. Ons moet ook styf vashou aan ‘ons rots’, Jehovah, en aan sy organisasie (2 Samuel 22:3). Die lagani auna is waarlik ’n aantreklike herinnering dat ons, selfs in ’n ongenaakbare omgewing, geestelik sterk en pragtig kan bly as ons gebruik maak van die voorsienings wat Jehovah aan ons beskikbaar stel. Deur dit te doen, sal ons “die beloftes beërf” wat hy gemaak het, met inbegrip van die belofte van die ewige lewe.—Hebreërs 6:12; Openbaring 21:4.