Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah het my gehelp om hom te vind

Jehovah het my gehelp om hom te vind

Lewensverhaal

Jehovah het my gehelp om hom te vind

SOOS VERTEL DEUR FLORENCE CLARK

Ek het die hand van my ernstige siek man vasgehou. Ek was ’n Anglikaan en het God in gebed gevra dat my man moet herstel, en ek het belowe dat as hy nie sou sterf nie, ek na God sou soek totdat ek hom vind. Dan sou ek aan hom behoort.

EK IS op 18 September 1937 as Florence Chulung gebore, in die Aborigine-gemeenskap in Oombulgurri in die afgeleë Kimberley-platostreek van Wes-Australië.

Ek het aangename herinneringe van my kinderjare tydens daardie sorgvrye, gelukkige dae. Ek het ’n paar basiese dinge aangaande God en die Bybel by die sendingstasie geleer, maar dit was my ma wat my Christelike beginsels geleer het. Sy het gereeld uit die Bybel vir my gelees, en van kleins af het ek ’n liefde vir geestelike dinge ontwikkel. Ek het ook een van my tantes wat ’n sendeling vir haar kerk was, bewonder. In my hart het ek geweet dat ek in haar voetstappe wou volg.

Ons gemeenskap, wat voorheen as die Forrest River-sending bekend gestaan het, het skoolopleiding van graad een tot vyf voorsien. Ek het elke oggend net twee uur lank skoolgegaan. My skoolopleiding was dus redelik beperk, iets wat my pa bekommer het. Hy wou ’n beter opvoeding vir sy kinders hê en het besluit om Oombulgurri te verlaat en met sy gesin na die dorp Wyndham te verhuis. Ek was hartseer die dag toe ons getrek het, maar in Wyndham kon ek gedurende die volgende vier jaar, van 1949 tot 1952, voltyds skoolgaan. Ek is baie dankbaar dat my pa my die geleentheid gegee het om daardie opvoeding te ontvang.

My ma het vir die plaaslike dokter gewerk, en toe ek op die ouderdom van 15 skool verlaat het, het hierdie dokter my werk aangebied as ’n verpleegster by die Wyndham-hospitaal. Ek het dit met graagte aanvaar, aangesien werk destyds skaars was.

’n Paar jaar later het ek Alec, ’n blanke veeboer, ontmoet. Ons is in 1964 in die dorp Derby getroud, waar ek gereeld dienste van die Anglikaanse Kerk bygewoon het. Eendag het Jehovah se Getuies aan my deur geklop. Ek het vir hulle gesê dat ek beslis nie belangstel nie en hulle gevra om my nie weer te besoek nie. Nietemin het iets wat hulle gesê het, my gefassineer—God het ’n persoonlike naam, Jehovah.

“Kan jy nie self bid nie?”

In 1965 het die lewe baie moeilik begin raak. My man het drie redelik ernstige ongelukke gehad—twee perdryongelukke en een motorongeluk. Gelukkig het hy van hierdie beserings herstel en teruggegaan werk toe. Hy het egter kort daarna nóg ’n perdryongeluk gehad. Hierdie keer het hy ernstige kopbeserings opgedoen. Toe ek by die hospitaal aankom, het die dokter vir my gesê dat my man gaan sterf. Ek was verpletter. ’n Verpleegster het die plaaslike priester gevra om my te besoek, maar hy het gesê: “Nie nou nie. Ek sal môre kom!”

Ek wou die priester aan my sy hê om saam met my te bid en het dit vir die non gemeld. Sy het gesê: “Wat makeer jou? Kan jy nie self bid nie?” Ek het gevolglik tot die kerk se beelde vir hulp begin bid—maar tevergeefs. Dit het gelyk asof my man sou sterf. Ek het gedink: ‘As my man sterf, hoe sal ek sonder hom klaarkom?’ Ek was ook besorg oor my drie kinders—Christine, Nanette en Geoffrey. Watter soort lewe sou hulle sonder ’n pa hê? Gelukkig het my man drie dae later sy bewussyn herwin, en hy is op 6 Desember 1966 ontslaan.

Hoewel my man andersins merkwaardig goed herstel het, het hy breinskade opgedoen. Hy het aan gedeeltelike geheueverlies gely en was nou tot geweld en gemoedswisselinge geneig. Die kinders het eenvoudig te veel geword vir hom, en hy het baie aggressief geraak as hulle nie soos volwassenes opgetree het nie. Dit was moeilik om vir hom te sorg. Ek moes byna alles vir hom doen. Ek het hom selfs ook weer leer lees en skryf. Die druk om na hom en terselfdertyd na my huishoudelike pligte om te sien, het sy tol geëis, en ek het ’n senuwee-ineenstorting gehad. Sewe jaar ná my man se ongeluk het ons ingestem om ’n ruk lank uitmekaar te gaan sodat ek my gesondheid kon herwin.

Ek het die kinders saam met my geneem en na die stad Perth in die suide getrek. Voor ons getrek het, het my suster die Bybel begin studeer saam met Jehovah se Getuies in Kununurra, ’n klein dorpie in Wes-Australië. Sy het my ’n prentjie in die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe a gewys wat die Bybel se belofte van ’n paradysaarde uitbeeld. Sy het my ook in hierdie boek gewys dat God ’n naam, Jehovah, het, en dit het my beïndruk. Aangesien my kerk my nooit hierdie dinge geleer het nie, het ek besluit om Jehovah se Getuies te bel sodra ek my in Perth gevestig het.

Maar ek was ietwat huiwerig om met hulle in verbinding te tree. Toe lui die deurklokkie een aand. My seun het die deur gaan oopmaak en vinnig teruggekom en gesê: “Ma, daardie mense wat Ma gesê het Ma gaan bel, is hier.” Ek was ietwat verbaas en het gesê: “Sê vir hulle ek is nie hier nie!” Maar hy het gesê: “Ma weet mos ek mag nie jok nie.” Ek het toe maar gaan kyk wie by die deur is. Toe ek die besoekers groet, het ek ’n verwarde uitdrukking op hulle gesigte gesien. Hulle het gekom om ’n ander huurder te besoek wat getrek het. Ek het hulle ingenooi en met vrae bestook en bevredigende antwoorde uit die Bybel gekry.

Die daaropvolgende week het ek die Bybel gereeld saam met die Getuies begin studeer met behulp van die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe. Die studie het weer ’n liefde vir geestelike dinge by my aangewakker. Twee weke later het ek die Herdenking van Christus Jesus se dood bygewoon. Ek het elke Sondag die vergaderinge begin bywoon, en kort voor lank het ek ook die vergaderinge in die week bygewoon. Ek het ook vir ander begin vertel van die dinge wat ek geleer het. Ek het agtergekom dat my verstandelike en emosionele welstand verbeter het wanneer ek ander gehelp het om Bybelwaarhede te leer. Ses maande later is ek by ’n streekbyeenkoms in Perth gedoop.

Namate ek geestelike vooruitgang gemaak het, het ek Jehovah se beskouing oor die heiligheid van die huwelik begin verstaan, onder andere die Bybelbeginsel in 1 Korintiërs 7:13, wat sê: “Laat ’n vrou wat ’n ongelowige man het wat nietemin bereid is om met haar saam te woon, haar man nie verlaat nie.” Hierdie teks het my beweeg om na Alec terug te gaan.

My terugkeer na Derby

Ek het op 21 Junie 1979 in Derby aangekom, nadat ek meer as vyf jaar lank van my man af weg was. Ek het natuurlik gemengde gevoelens gehad en gewonder hoe hy op my terugkeer sou reageer. Tot my verbasing was hy verheug dat ek na hom toe teruggekom het, hoewel hy ’n mate van teleurstelling uitgespreek het omdat ek een van Jehovah se Getuies geword het. Hy het onmiddellik voorgestel dat ek na sy kerk toe kom, die een waaraan ek behoort het voordat ek na Perth gegaan het. Ek het verduidelik dat ek dit nie kon doen nie. Ek het hard probeer om sy hoofskap te respekteer en my bes gedoen as ’n Christenvrou. Ek het met hom oor Jehovah en Sy wonderlike beloftes vir die toekoms probeer praat, maar hy was onontvanklik.

Mettertyd het Alec nie net my nuwe lewenswyse aanvaar nie, maar hy het my finansieel begin help sodat ek byeenkomste en die weeklikse vergaderinge kon bywoon. Ek was baie dankbaar toe hy ’n motor aangeskaf het wat ek in die Christelike bediening kon gebruik, aangesien dit ’n nuttige bate in hierdie afgeleë deel van Australië is. Broers en susters, insluitende die kringopsiener, het dikwels ’n hele paar nagte by ons huis oornag. Dit het Alec die geleentheid gegee om verskeie Getuies te leer ken, en dit het gelyk of hy hulle geselskap geniet.

Ek het soos Esegiël gevoel

Ek het die besoeke van die broers en susters geniet, maar ek het voor ’n uitdaging te staan gekom. Ek was die enigste Getuie in Derby. Die naaste gemeente was in Broome, 220 kilometer daarvandaan. Ek het derhalwe besluit om my bes te doen om die goeie nuus te versprei. Met Jehovah se hulp het ek dinge so gereël dat ek van deur tot deur kon begin getuig. Dit was ’n moeilike taak, maar ek het altyd aan die woorde van die apostel Paulus gedink: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Filippense 4:13.

Die geestelikes in die gebied was nie gelukkig met my bedrywighede nie, veral omdat ek onder mede-Aborigines getuig het. Hulle het probeer om my te intimideer en te keer dat ek die predikingswerk doen. Hulle teenkanting het my net meer vasbeslote gemaak om voort te gaan, en ek het gereeld tot Jehovah gebid om my te help. Ek het dikwels gedink aan die aanmoediging wat Esegiël ontvang het: “Kyk! Ek het jou aangesig net so hard soos hulle aangesig gemaak en jou voorkop net so hard soos hulle voorkop. Soos ’n diamant, harder as vuurklip, het ek jou voorkop gemaak. Jy moenie vir hulle bang wees nie, en jy moenie met verskrikking vervul word weens hulle aangesig nie.”—Esegiël 3:8, 9.

Twee mans van ’n kerkgroep het my verskeie kere genader terwyl ek inkopies gedoen het. Hulle het my luidkeels en uitbundig bespot in ’n poging om die aandag van ander mense in die winkel te trek. Ek het hulle geïgnoreer. Terwyl ek eenkeer ’n herbesoek by ’n belangstellende gedoen het, het die predikant van die plaaslike kerk gekom en my daarvan beskuldig dat ek nie in Jesus glo nie. Hy het die Bybel uit my hand gegryp, dit in my gesig geskud en dit toe weer in my hand gedruk. Terwyl ek hom stip in die oë kyk, het ek vriendelik maar ferm gereageer deur Johannes 3:16 aan te haal en hom verseker dat ek wel geloof in Jesus het. Hy was stomgeslaan deur my nadruklike antwoord en het weggeloop sonder om ’n woord te sê.

Ek het dit geniet om vir die Aborigines in die Derby-omgewing te getuig. ’n Plaaslike priester het my probeer keer om mense in ’n sekere gemeenskap te bereik, maar hy is verplaas. Gevolglik kon ek vir hulle die Bybel se boodskap bring. Ek wou altyd ’n sendeling word soos my tante, en nou het ek sendingwerk gedoen deur ander te help om van God se Woord te leer. Baie van die Aborigines het goed gereageer, en ek het heelwat Bybelstudies begin.

Bewus van my geestelike behoefte

Ek was vyf jaar lank die enigste Getuie van Jehovah in Derby. Ek het dit moeilik gevind om geestelik sterk te bly sonder die aanmoediging van gereelde vergaderinge saam met medegelowiges. By een geleentheid was ek baie mismoedig en het ek ’n draai met my motor gaan ry. Toe ek laat daardie middag by die huis kom, het ’n suster en haar sewe kinders daar vir my gewag. Hulle het vir my lektuur van die gemeente in Broome gebring, kilometers daarvandaan. Van toe af het hierdie suster, Betty Butterfield, gereël om een keer per maand Derby toe te kom en ’n naweek by my te bly. Ons het saam in die predikingswerk uitgegaan en daarna Die Wagtoring saam by my huis gestudeer. Ek het weer op my beurt een keer per maand na Broome gereis.

Die broers in Broome was baie behulpsaam en het nou en dan al die pad na Derby gekom om my in die velddiens te help. Hulle het enige broers of susters van ander dorpe wat by Derby sou verbygaan, aangespoor om my te besoek en saam met my in die bediening uit te gaan. Hierdie reisigers het ook vir my bandopnames van openbare toesprake gebring. Party het Die Wagtoring saam met my gestudeer. Hierdie kort besoeke was baie aanmoedigend.

Meer hulp was op pad

Ek het ’n paar jaar lank verdere bystand gekry toe Arthur en Mary Willis, ’n afgetrede egpaar uit die suidelike deel van Wes-Australië, gekom het om my drie maande op ’n slag in die koeler seisoen te help. Broer Willis het die meeste van die vergaderinge gehou en die leiding in die veldbediening geneem. Ons het saam na die meer afgesonderde dele van die Kimberley-plato gereis en die beesplase in daardie afgeleë gebiede besoek. Elke keer as broer en suster Willis weggegaan het, het ek ’n groot leemte in my lewe gevoel.

Uiteindelik, aan die einde van 1983, het ek die goeie nuus ontvang dat ’n gesin—Danny en Denise Sturgeon en hulle vier seuns—in Derby sou kom bly. Ná hulle aankoms het ons gereelde weeklikse vergaderinge gehou en saam aan die velddiens deelgeneem. In 2001 is ’n gemeente gestig. Vandag het Derby ’n sterk gemeente van 24 Koninkryksverkondigers, met twee ouer manne en een bedieningskneg wat geestelik goed na ons omsien. By tye is daar tot 30 by ons vergaderinge.

Wanneer ek op die jare terugkyk, verbly dit my hart om te sien hoe Jehovah my gehelp het om hom te dien. Hoewel my man nog nie by my aangesluit het in die geloof nie, gaan hy voort om my op ander maniere te ondersteun. Vyf van my naaste familielede het gedoopte Getuies geword—my twee dogters, twee kleindogters en ’n niggie. En dan is daar ook nog ander familielede wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer.

Ek is werklik dankbaar dat Jehovah my gehelp het om hom te vind. Ek is vasbeslote om vir ewig aan hom te behoort.—Psalm 65:2.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar tans uit druk.

[Kaart/Prente op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

AUSTRALIË

Wyndham

Kimberley- plato

Derby

Broome

Perth

[Erkennings]

Kangaroe en liervoël: Lydekker; koalabeer: Meyers

[Prent op bladsy 14]

Ek was ’n verpleegster by die Wyndham-hospitaal, 1953

[Prent op bladsy 15]

Derby-gemeente, 2005