Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg Jehovah se geduld na

Volg Jehovah se geduld na

Volg Jehovah se geduld na

“Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte . . . nie, maar hy is geduldig.”—2 PETRUS 3:9.

1. Watter onvergelyklike gawe bied Jehovah mense aan?

 JEHOVAH bied ons iets aan wat niemand anders ons kan aanbied nie. Dit is iets besonder aantreklik en kosbaar, maar dit kan nie gekoop of verdien word nie. Wat hy aanbied, is die ewige lewe—vir die meeste van ons, eindelose lewe op ’n paradysaarde (Johannes 3:16). Wat ’n genot sal dit tog wees! Die dinge wat soveel droefheid veroorsaak—konflikte, geweld, armoede, misdaad, siekte en selfs die dood—sal iets van die verlede wees. Mense sal in volmaakte vrede en eenheid onder die liefdevolle heerskappy van God se Koninkryk lewe. Hoe smag ons tog na daardie Paradys!—Jesaja 9:6, 7; Openbaring 21:4, 5.

2. Waarom het Jehovah nog nie Satan se stelsel van dinge uit die weg geruim nie?

2 Jehovah sien ook uit na die tyd wanneer hy die Paradys op die aarde tot stand sal bring. Hy het immers regverdigheid en geregtigheid lief (Psalm 33:5). Hy skep geen behae daarin om na ’n wêreld te kyk wat onverskillig of vyandig staan teenoor regverdige beginsels, ’n wêreld wat sy gesag verwerp en sy knegte vervolg nie. Nietemin is daar goeie redes waarom hy nog nie opgetree het om Satan se goddelose stelsel van dinge uit die weg te ruim nie. Daardie redes het te doen met morele geskille waarby sy soewereiniteit betrokke is. Terwyl Jehovah hierdie geskille besleg, openbaar hy ’n besonder aantreklike eienskap, ’n eienskap wat baie mense vandag nie het nie—geduld.

3. (a) Wat is die betekenis van die Griekse en Hebreeuse woorde wat in die Bybel met “geduld” vertaal word? (b) Watter vrae sal ons nou bespreek?

3 Daar is ’n Griekse woord wat in die Nuwe Wêreld-vertaling drie keer met “geduld” vertaal word. Dit beteken letterlik “lankheid van gees” en word dus dikwels met “lankmoedigheid” en een keer met “beoefening van geduld” vertaal. Die gedagte van verdraagsaam te wees en nie gou toornig te word nie, lê opgesluit in die Griekse sowel as die Hebreeuse woorde vir “geduld”. Hoe vind ons baat by Jehovah se geduld? Watter lesse kan ons leer uit die geduld en verdraagsaamheid van Jehovah en sy getroue knegte? Hoe weet ons dat Jehovah se geduld perke het? Kom ons kyk.

Beskou Jehovah se geduld

4. Wat het die apostel Petrus aangaande Jehovah se geduld geskryf?

4 Aangaande Jehovah se geduld het die apostel Petrus geskryf: “Laat hierdie een feit . . . nie julle aandag ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by Jehovah soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag. Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:8, 9). Let asseblief op twee gedagtes wat hier uitgebring word en ons kan help om Jehovah se geduld te verstaan.

5. Watter uitwerking het Jehovah se beskouing van tyd op sy optrede?

5 Die eerste gedagte is dat Jehovah nie tyd beskou soos ons dit beskou nie. Vir die Een wat vir ewig lewe, is duisend jaar soos een dag. Hy word nie deur tyd beperk of daardeur onder druk geplaas nie, maar hy is nie traag om op te tree nie. Weens sy onbeperkte wysheid weet Jehovah presies wanneer dit die beste tyd is om op te tree tot voordeel van alle betrokkenes, en hy wag geduldig vir daardie tyd om aan te breek. Ons moet egter nie tot die slotsom kom dat Jehovah ongevoelig is vir die lyding wat sy knegte dalk intussen verduur nie. Hy is ’n God van “tere medelye”, die verpersoonliking van liefde (Lukas 1:78; 1 Johannes 4:8). Hy is in staat om enige skade wat hierdie tydelike toelating van lyding dalk veroorsaak het, heeltemal en permanent ongedaan te maak.—Psalm 37:10.

6. Tot watter slotsom moet ons nie kom aangaande God nie, en waarom nie?

6 Dit is natuurlik nie maklik om te wag vir iets waarna ’n mens smag nie (Spreuke 13:12). Wanneer mense hulle beloftes nie gou nakom nie, kan ander dus tot die slotsom kom dat hulle nie van plan is om dit te doen nie. Hoe onverstandig sal dit tog wees om dit van God te dink! As ons God se geduld verkeerdelik as traagheid beskou, kan die verloop van tyd ons maklik laat toegee aan twyfelgedagtes en ontmoediging, en ons kan die gevaar loop om geestelik lomerig te raak. Nog erger, ons kan mislei word deur diegene waarteen Petrus vroeër gewaarsku het—spotters, diegene sonder geloof. Sulke persone sê spottenderwys: “Waar is sy beloofde teenwoordigheid dan? Van die dag af dat ons voorvaders ontslaap het, bly alles dan net soos van die begin van die skepping af.”—2 Petrus 3:4.

7. Hoe hou Jehovah se geduld verband met sy begeerte dat mense berou toon?

7 ’n Tweede gedagte wat uit Petrus se woorde na vore kom, is dat Jehovah geduldig is omdat hy wil hê dat almal tot berou moet kom. Diegene wat hardnekkig weier om hulle verkeerde weë te laat vaar, sal deur Jehovah vernietig word. Maar God skep geen behae in die dood van die goddelose nie. Hy is eerder verheug as hy sien dat mense berou toon, hulle verkeerde weë laat vaar en bly lewe (Esegiël 33:11). Daarom beoefen hy geduld en laat hy toe dat die goeie nuus oor die hele aarde verkondig word sodat mense die geleentheid kan hê om te lewe.

8. Hoe word God se geduld gesien in sy handelinge met die nasie Israel?

8 Die geduld van God kan ook gesien word in sy handelinge met die eertydse nasie Israel. Hy het hulle ongehoorsaamheid eeue lank geduld. Deur middel van sy profete het hy hulle keer op keer aangespoor: “Keer julle van julle slegte weë af en onderhou my gebooie, my insettinge, volgens die hele wet wat ek julle voorvaders beveel het en wat ek deur middel van my knegte, die profete, aan julle gestuur het.” Watter uitwerking het dit op hulle gehad? Ongelukkig het die volk “nie geluister nie”.—2 Konings 17:13, 14.

9. Hoe het Jesus sy Vader se geduld weerspieël?

9 Eindelik het Jehovah sy Seun gestuur, wat die Jode herhaaldelik gesmeek het om met God versoen te raak. Jesus het sy Vader se geduld volmaak weerspieël. Hoewel hy goed geweet het dat hy binnekort doodgemaak sou word, het Jesus bedroef gesê: “Jerusalem, Jerusalem, wat die profete doodmaak en dié stenig wat na haar gestuur is—hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak, soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak! Maar julle wou nie” (Matteus 23:37). Hierdie roerende woorde is nie dié van ’n hardvogtige regter wat gretig is om iemand te straf nie, maar eerder dié van ’n liefdevolle vriend wat geduldig is met mense. Jesus, soos sy Vader in die hemel, wou hê dat mense tot berou kom en ’n ongunstige oordeel vryspring. Party het wel gunstig gereageer op Jesus se waarskuwings en die verskriklike oordeel vrygespring wat in 70 G.J. oor Jerusalem gebring is.—Lukas 21:20-22.

10. Hoe het ons by God se geduld baat gevind?

10 Bewonder ons nie God se geduld nie? Ten spyte van die omvang van mense se ongehoorsaamheid het Jehovah toegelaat dat elkeen van ons, tesame met miljoene ander mense, die geleentheid kry om hom te leer ken en die hoop op redding aan te neem. “Beskou die geduld van ons Here as redding”, het Petrus aan mede-Christene geskryf (2 Petrus 3:15). Is ons nie dankbaar dat Jehovah se geduld dit vir ons moontlik maak om redding te ontvang nie? Bid ons nie dat Jehovah steeds geduldig met ons sal wees terwyl ons hom dag na dag dien nie?—Matteus 6:12.

11. Wat sal ’n begrip van Jehovah se geduld ons beweeg om te doen?

11 Wanneer ons verstaan waarom Jehovah geduldig is, help dit ons om geduldig te wag op die redding wat hy gaan bring en om nooit tot die gevolgtrekking te kom dat hy traag is om sy beloftes na te kom nie (Klaagliedere 3:26). Terwyl ons aanhou bid dat God se Koninkryk moet kom, vertrou ons dat God weet wat die beste tyd is om daardie gebed te verhoor. Verder word ons beweeg om Jehovah na te volg deur godvrugtige geduld te beoefen in ons handelinge met ons broers en dié vir wie ons getuig. Ons wil self ook nie hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar ons wil graag sien dat hulle berou toon en saam met ons die hoop op die ewige lewe koester.—1 Timoteus 2:3, 4.

Beskou die geduld van die profete

12, 13. Hoe het die profeet Jesaja, in ooreenstemming met Jakobus 5:10, geduld beoefen?

12 ’n Ondersoek van Jehovah se geduld help ons om daardie eienskap te waardeer en dit aan te kweek. Dit is nie maklik vir onvolmaakte mense om geduld aan te kweek nie, maar dit kan gedoen word. Ons leer by God se knegte van ouds. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Broers, neem die profete, wat in die naam van Jehovah gespreek het, as ’n voorbeeld van die lyding van kwaad en die beoefening van geduld” (Jakobus 5:10). Dit is vertroostend en bemoedigend om te weet dat ander dieselfde probleme waarvoor ons nou te staan kom, met welslae die hoof gebied het.

13 Byvoorbeeld, die profeet Jesaja het beslis geduld nodig gehad in sy toewysing. Jehovah het dit te kenne gegee deur vir hom te sê: “Gaan, en jy moet vir hierdie volk sê: ‘Hoor keer op keer, maar moenie verstaan nie; en sien keer op keer, maar moenie enige kennis verkry nie.’ Maak die hart van hierdie volk onontvanklik en maak hulle ore ongevoelig en plak hulle oë toe, sodat hulle nie met hulle oë sien en met hulle ore hoor nie, en sodat hulle hart nie verstaan nie en sodat hulle nie terugdraai en vir hulle genesing verkry nie” (Jesaja 6:9, 10). Ten spyte van die volk se onverskilligheid, het Jesaja Jehovah se waarskuwingsboodskappe minstens 46 jaar lank geduldig verkondig! Geduld sal ons eweneens help om te volhard in ons werk om die goeie nuus te verkondig, al is baie onontvanklik.

14, 15. Wat het Jeremia gehelp om teëspoed en ontmoediging die hoof te bied?

14 Die profete het natuurlik nie net voor onverskilligheid te staan gekom terwyl hulle hulle bediening uitgevoer het nie; hulle het ook vervolging verduur. Jeremia is in die blok gesit, in “die gevangenis” opgesluit en in ’n reënput gegooi (Jeremia 20:2; 37:15; 38:6). Hy is mishandel deur dieselfde mense wat hy wou help. Nietemin het Jeremia nie verbitterd geraak of hulle met gelyke munt terugbetaal nie. Hy het dekades lank geduldig volhard.

15 Vervolging en bespotting het Jeremia nie stilgemaak nie, en vandag maak dit ons ook nie stil nie. Ons voel natuurlik soms mismoedig. Jeremia het mismoedig gevoel. “Die woord van Jehovah het vir my die hele dag ’n oorsaak van smaad en van bespotting geword”, het hy geskryf. “En ek het gesê: ‘Ek sal nie van hom melding maak nie, en ek sal nie meer in sy naam spreek nie.’” Wat het toe gebeur? Het Jeremia ophou getuig? Hy het verder gesê: “In my hart was [die woord van God] soos ’n brandende vuur, opgesluit in my gebeente; en ek het moeg geword om dit in te hou, en ek kon dit nie verduur nie” (Jeremia 20:8, 9). Let op dat hy sy vreugde verloor het toe hy sy aandag op die bespotting van die mense toegespits het. Maar toe hy sy aandag vestig op hoe wonderlik en hoe belangrik die boodskap is, het hy sy vreugde herwin. Daarbenewens was Jehovah met Jeremia “soos ’n verskriklike magtige”, en hy het hom versterk om die woord van God met ywer en vrymoedigheid te verkondig.—Jeremia 20:11.

16. Hoe kan ons ons vreugde behou in ons werk om die goeie nuus te verkondig?

16 Het die profeet Jeremia vreugde geput uit sy werk? Beslis! Hy het vir Jehovah gesê: “U woorde is gevind en ek het hulle opgeëet; en u woord word vir my die verheuging en die blydskap van my hart; want u naam is oor my uitgeroep, o Jehovah” (Jeremia 15:16). Jeremia het hom verheug in sy voorreg om die ware God te verteenwoordig en sy woord te verkondig. Ons kan ons ook verheug. Wat meer is, net soos die engele in die hemel, is ons verheug omdat soveel mense regoor die wêreld die Koninkryksboodskap aanneem, berou toon en op die weg na die ewige lewe kom.—Lukas 15:10.

“Die volharding van Job”

17, 18. Hoe het Job volhard, en wat was die uiteinde van die saak?

17 Nadat die dissipel Jakobus kommentaar gelewer het oor die profete van ouds, het hy geskryf: “Julle het gehoor van die volharding van Job en het gesien hoe Jehovah dit laat afloop het, dat Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartig is” (Jakobus 5:11). Die Griekse woord wat hier met “volharding” vertaal is, het ’n soortgelyke betekenis as die woord wat Jakobus in die vorige vers vir “geduld” gebruik het. Een geleerde het die verskil tussen die twee woorde so beskryf: “Eersgenoemde is geduld wanneer mense ons vervolg, laasgenoemde is moedige volharding wanneer ons dinge ervaar wat vir ons benoudheid veroorsaak.”

18 Job het verskriklike benoudhede ondervind. Hy is finansieel geruïneer, het sy kinders aan die dood afgestaan en moes ’n pynlike siekte verduur. Hy moes boonop luister na valse aantygings dat Jehovah hom straf. Job het nie in stilte gely nie; hy het sy situasie betreur en selfs te kenne gegee dat hy regverdiger is as God (Job 35:2). Maar hy het nooit sy geloof verloor nie, en hy het ook nie sy onkreukbaarheid prysgegee nie. Hy het God nie vervloek soos Satan gesê het hy sou nie (Job 1:11, 21). Wat was die uiteinde van die saak? Jehovah “het die einde van Job meer geseën as sy begin” (Job 42:12). Jehovah het Job weer gesond gemaak, sy rykdom verdubbel en hom met ’n vol, gelukkige lewe saam met sy geliefdes geseën. Job se getroue volharding het hom ook in staat gestel om Jehovah beter te leer ken.

19. Wat leer ons uit die geduldige volharding van Job?

19 Wat leer ons uit die geduldige volharding van Job? Soos Job, verduur ons dalk siekte of ander ontberinge. Ons verstaan dalk nie heeltemal waarom Jehovah toelaat dat ons ’n sekere beproewing ondergaan nie. Nietemin kan ons hiervan seker wees: As ons getrou bly, sal ons geseën word. Jehovah beloon altyd diegene wat hom ernstig soek (Hebreërs 11:6). Jesus het gesê: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word.”—Matteus 10:22; 24:13.

‘Jehovah se dag sal kom’

20. Waarom kan ons seker wees dat Jehovah se dag sal kom?

20 Hoewel Jehovah geduldig is, is hy ook regverdig en sal hy goddeloosheid nie vir ewig duld nie. Sy geduld het perke. Petrus het geskryf dat God “hom nie daarvan weerhou het om ’n eertydse wêreld te straf nie”. Hoewel Noag en sy gesin behoue gebly het, is daardie goddelose wêreld met ’n watervloed vernietig. Jehovah het ook oordeel aan Sodom en Gomorra voltrek deur hulle tot as te verbrand. Hierdie oordele dien “vir goddelose mense [as] ’n voorbeeld van toekomstige dinge”. Ons kan hiervan seker wees: ‘Jehovah se dag sal kom.’—2 Petrus 2:5, 6; 3:10.

21. Hoe kan ons ons geduld en volharding openbaar, en watter onderwerp sal ons in die volgende artikel bespreek?

21 Laat ons dan Jehovah se geduld navolg deur ander te help om tot berou te kom sodat hulle gered kan word. Laat ons ook die profete navolg deur geduldig die goeie nuus te verkondig ten spyte van die onverskilligheid van diegene vir wie ons getuig. En ons kan daarvan seker wees dat Jehovah ons ryklik sal seën as ons, soos Job, beproewinge verduur en ons onkreukbaarheid handhaaf. Ons het alle rede om ons te verheug in ons bediening wanneer ons sien hoe Jehovah die pogings van sy knegte om die goeie nuus oor die hele aarde te verkondig, ryklik seën. Dit sal ons in die volgende artikel sien.

Onthou jy?

• Waarom beoefen Jehovah geduld?

• Wat leer ons uit die geduld van die profete?

• Hoe het Job volharding aan die dag gelê, en wat was die uiteinde van die saak?

• Hoe weet ons dat Jehovah se geduld perke het?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 18]

Jesus het sy Vader se geduld volmaak weerspieël

[Prente op bladsy 20]

Hoe het Jehovah Jeremia se geduld beloon?

[Prente op bladsy 21]

Hoe het Jehovah Job se volharding beloon?