Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Het Josef, ’n getroue kneg van Jehovah, ’n spesiale silwerbeker gebruik om voortekens te lees, soos Genesis 44:5 skynbaar aandui?

Daar is geen rede om te glo dat Josef enige vorm van waarsêery gebruik het nie.

Die Bybel openbaar wat Josef se eintlike beskouing was van die gebruik van toorkunste om die toekoms te voorspel. Toe hy vroeër gevra is om Farao se drome uit te lê, het Josef herhaaldelik benadruk dat slegs God toekomstige gebeure kan “aankondig”. Gevolglik het Farao self begin glo dat die God wat Josef aanbid—die ware God, nie okkulte magte nie—vir Josef kennis oor die toekoms gegee het (Genesis 41:16, 25, 28, 32, 39). In die Wet wat later aan Moses gegee is, het Jehovah die gebruik van die toorkuns of waarsêery verbied en sodoende bevestig dat Hy alleen die toekoms voorspel.—Deuteronomium 18:10-12.

Waarom het Josef dan deur middel van sy kneg die indruk geskep dat hy ’n silwerbeker gebruik om “met groot bedrewenheid voortekens [te] lees”? a (Genesis 44:5). Ons moet kyk na die omstandighede waaronder hierdie stelling gemaak is.

As gevolg van ’n baie swaar hongersnood het Josef se broers na Egipte gereis om kos te koop. Jare tevore het hierdie selfde broers Josef as ’n slaaf verkoop. Nou het hulle, sonder dat hulle dit geweet het, hulp van hulle eie broer gevra, wat intussen die voedseladministrateur van Egipte geword het. Josef het nie aan hulle bekend gemaak wie hy werklik is nie. Hy het eerder besluit om hulle te toets. Josef wou heel gepas uitvind hoe eg hulle berou was. Hy wou ook uitvind of—en in watter mate—hulle hulle broer Benjamin liefgehad het sowel as hulle vader, Jakob, wat veral geheg aan Benjamin was. Daarom het Josef van ’n slim plan gebruik gemaak.—Genesis 41:55–44:3.

Josef het een van sy knegte beveel om sy broers se sakke met voedsel te vul, elkeen se geld terug te sit in die opening van sy sak en om Josef se silwerbeker in die opening van Benjamin se sak te sit. In dit alles het Josef hom voorgedoen as ’n administrateur van ’n heidense land. Hy het hom, sy optrede en sy taal aangepas by wat sy niksvermoedende broers van so ’n administrateur sou verwag.

Toe Josef sy broers konfronteer, het hy met sy toneelspel volgehou en vir hulle gevra: “Het julle nie geweet dat ’n man soos ek met groot bedrewenheid voortekens kan lees nie?” (Genesis 44:15). Die beker was dus klaarblyklik net deel van sy plan. Josef het die beker net so min gebruik om voortekens te lees, as wat Benjamin dit gesteel het.

[Voetnoot]

a Die boek The Holy Bible, With an Explanatory and Critical Commentary, onder redaksie van F. C. Cook, beskryf hierdie eertydse gebruik soos volg: “Dit is gedoen deur goud, silwer of juwele in die water te gooi en dan die voorwerpe se voorkoms te bestudeer; of deur eenvoudig in die water te kyk soos ’n mens in ’n spieël kyk.” Die Bybelkommentator Christopher Wordsworth sê: “Partykeer is die beker met water gevul, en die antwoord is verkry deur middel van die beelde wat die son op die water in die beker gevorm het.”