Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ware voorspoed in God se nuwe wêreld

Ware voorspoed in God se nuwe wêreld

Ware voorspoed in God se nuwe wêreld

DAVID, a ’n Christeneggenoot en -vader, het na die Verenigde State verhuis, oortuig daarvan dat dit die regte besluit is. Hoewel hy nie daarvan gehou het om sy vrou en kinders agter te laat nie, was hy seker dat hy vir hulle almal ’n beter lewe sou kon gee as hy net meer geld gehad het. Hy het dus ’n uitnodiging van familielede in New York aanvaar en het kort voor lank daar werk gekry.

Namate die maande verbygegaan het, het David se optimisme egter begin afneem. Hy het min tyd aan geestelike bedrywighede bestee. Op een stadium het hy amper geloof in God verloor. Eers toe hy voor ’n sedelike versoeking geswig het, het hy uiteindelik tot besinning gekom. Sy fokus op materiële voorspoed het hom geleidelik weggelei van alles wat werklik vir hom saak gemaak het. Iets moes verander.

Soos David, emigreer baie mense elke jaar uit arm lande in die hoop dat hulle hulle ekonomiese situasie sal verbeter. Maar alte dikwels ly hulle ’n groot verlies op geestelike gebied. Sommige het al gewonder: ‘Kan ’n Christen materiële rykdom najaag en terselfdertyd ryk wees teenoor God?’ Gewilde skrywers en predikers sê dat dit moontlik is. Maar soos David en ander geleer het, kan dit moeilik wees om die een te bekom sonder om die ander te verloor.—Lukas 18:24.

Geld is nie ’n euwel nie

Geld is natuurlik ’n menslike uitvinding. Soos baie ander uitvindings, is dit nie op sigself sleg of verkeerd nie. Dit is eintlik maar net ’n ruilmiddel. Wanneer dit dus reg gebruik word, kan dit nuttig wees. Die Bybel erken byvoorbeeld dat “geld as ’n beskerming dien”, veral teen die probleme wat met armoede gepaardgaan (Prediker 7:12). Maar dit lyk, ten minste vir sommige mense, asof “geld die oplossing is vir alles”.—Prediker 10:19, New International Version.

Die Skrif veroordeel luiheid en spoor ons aan om hard te werk. Ons moet vir ons gesin sorg, en as daar ’n bietjie oor is, het ons “iets . . . om uit te deel aan iemand wat gebrek het” (Efesiërs 4:28; 1 Timoteus 5:8). Verder moedig die Bybel ons aan om ons besittings te geniet, dit bevorder nie selfverloëning nie. Daar word vir ons gesê om ons “deel weg te dra” en die vrug van ons arbeid te geniet (Prediker 5:18-20). Trouens, daar is etlike voorbeelde in die Bybel van getroue manne en vroue wat ryk was.

Getroue manne wat ryk was

Abraham, ’n getroue kneg van God, het baie vee, baie silwer en goud en ’n groot huishouding met honderde diensknegte gehad (Genesis 12:5; 13:2, 6, 7). Die regverdige Job was ook baie ryk—wat vee, diensknegte, goud en silwer betref het (Job 1:3; 42:11, 12). Hierdie manne was ryk selfs volgens vandag se standaarde, maar hulle was ook ryk teenoor God.

Die apostel Paulus noem Abraham “die vader . . . van almal wat geloof het”. Abraham was nie suinig of behep met sy besittings nie (Romeine 4:11; Genesis 13:9; 18:1-8). En Job is deur God self as ‘onberispelik en regskape’ beskryf (Job 1:8). Hy was altyd bereid om die armes en die geteisterdes te help (Job 29:12-16). Abraham sowel as Job het eerder op God vertrou as op hulle rykdom.—Genesis 14:22-24; Job 1:21, 22; Romeine 4:9-12.

Koning Salomo is nog ’n voorbeeld. As erfgenaam van God se troon in Jerusalem, is Salomo nie net met goddelike wysheid geseën nie, maar ook met oorvloedige rykdom en heerlikheid (1 Konings 3:4-14). Vir die grootste deel van sy lewe was hy getrou. Maar in latere jare was Salomo se “hart . . . nie volkome met Jehovah” nie (1 Konings 11:1-8). Sy droewige ondervinding lig in werklikheid toe wat party van die algemene slaggate van materiële voorspoed is. Kyk na ’n paar.

Slaggate van materiële voorspoed

Die ernstigste gevaar is dat ’n mens lief kan word vir geld en wat dit kan koop. Rykdom wek by sommige mense ’n begeerte wat nooit bevredig word nie. Vroeg in sy heerskappy het Salomo hierdie neiging in ander opgelet. Hy het geskryf: “Iemand wat silwer liefhet, sal nie genoeg kry van silwer nie, ook nie iemand wat rykdom liefhet, van inkomste nie. Ook dit is nietigheid” (Prediker 5:10). Jesus sowel as Paulus het Christene later teen hierdie verraderlike liefde gewaarsku.—Markus 4:18, 19; 2 Timoteus 3:2.

Wanneer ons lief word vir geld en ons dit nie meer beskou as net ’n middel waarmee ons dinge gedoen kan kry nie, verswak ons weerstand teen allerhande sedelike versoekings, insluitende leuens, diefstal en bedrog. Judas Iskariot, een van Christus se apostels, het sy heer vir net 30 silwerstukke verraai (Markus 14:11; Johannes 12:6). Sommige het selfs tot die uiterste gegaan en geld eerder as God die eintlike voorwerp van hulle toegewydheid gemaak (1 Timoteus 6:10). Christene moet dus altyd eerlik probeer wees oor die werklike rede waarom hulle meer geld wil maak.—Hebreërs 13:5.

Die najaging van rykdom hou ook ander subtieler gevare in. Eerstens, groot rykdom lei dikwels daartoe dat mense op hulleself vertrou. Jesus het hierna verwys toe hy van “die bedrieglike krag van rykdom” gepraat het (Matteus 13:22). Die Bybelskrywer Jakobus het Christene eweneens gemaan om God nie buite rekening te laat selfs wanneer hulle sakebedrywighede beplan nie (Jakobus 4:13-16). Aangesien geld ons blykbaar ’n mate van onafhanklikheid gee, bestaan daar altyd die gevaar dat diegene wat dit het, eerder op hulle geld sal vertrou as op God.—Spreuke 30:7-9; Handelinge 8:18-24.

Tweedens, soos David, wat vroeër genoem is, uitgevind het, neem die najaging van rykdom dikwels soveel van ’n mens se tyd en energie in beslag dat dit jou geleidelik van geestelike strewes af weglok (Lukas 12:13-21). Vir die rykes is daar ook die voortdurende versoeking om hulle middele hoofsaaklik vir plesier of persoonlike strewes te gebruik.

Was Salomo se geestelike agteruitgang dalk in sekere mate te wyte aan ’n luukse lewe wat sy sinne afgestomp het? (Lukas 21:34). Hy het geweet dat God huweliksverbintenisse met ander nasies uitdruklik verbied het. Tog het hy uiteindelik ’n harem van omtrent ’n duisend vrouens gehad (Deuteronomium 7:3). Hy was gretig om sy uitlandse vrouens te behaag, en daarom het hy ter wille van hulle ’n soort geloofsvermenging probeer beoefen. Soos vroeër genoem is, het dit Salomo se hart geleidelik van Jehovah laat afwyk.

Hierdie voorbeelde toon duidelik die waarheid van Jesus se raad: “Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie” (Matteus 6:24). Hoe kan ’n Christen dan die ekonomiese uitdagings waarvoor die meeste mense deesdae te staan kom, met welslae die hoof bied? Nog belangriker, watter hoop is daar vir ’n beter lewe in die toekoms?

Ware voorspoed op hande

Anders as die aartsvaders Abraham en Job en die nasie Israel, het Jesus se volgelinge die opdrag ontvang om “dissipels [te maak] van mense van al die nasies” (Matteus 28:19, 20). Om hierdie opdrag uit te voer, verg tyd en inspanning wat andersins aan sekulêre strewes gewy kon word. Die sleutel tot sukses lê dus daarin om te doen wat Jesus vir ons gesê het om te doen: “Hou dan aan om eers [God se] koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matteus 6:33.

Nadat David amper sy gesin en sy geestelikheid verloor het, het hy uiteindelik weer sy lewe in orde gekry. Toe David Bybelstudie, gebed en die bediening weer die eerste plek in sy lewe begin gee het, het ander dinge ook begin regkom, net soos Jesus belowe het. Sy verhouding met sy vrou en kinders is geleidelik herstel. Hy het weer vreugde en vergenoegdheid ondervind. Hy werk nog steeds hard. Hy het nie ryk geword nie. Nogtans het hy ’n paar waardevolle lesse uit sy pynlike ondervinding geleer.

David het besef dat dit dalk nie so verstandig was om na die Verenigde State te trek nie, en hy het hom voorgeneem om nooit weer toe te laat dat geld sy besluite oorheers nie. Hy weet nou dat die kosbaarste dinge in die lewe—’n liefdevolle gesin, goeie vriende en ’n verhouding met God—nie met geld gekoop kan word nie (Spreuke 17:17; 24:27; Jesaja 55:1, 2). Trouens, sedelike beginselvastheid is baie waardevoller as materiële rykdom (Spreuke 19:1; 22:1). David is vasbeslote om saam met sy gesin die belangriker dinge eerste te stel.—Filippense 1:10.

Mensepogings om ’n gemeenskap te bou wat werklik voorspoedig is en nogtans goeie sedes handhaaf, het herhaaldelik misluk. Maar God het belowe dat sy Koninkryk die materiële en geestelike dinge wat ons nodig het om ’n goeie lewe te geniet, in oorvloed sal voorsien (Psalm 72:16; Jesaja 65:21-23). Jesus het ons geleer dat ware voorspoed van geestelikheid afhang (Matteus 5:3). Hetsy ons dus materieel ryk of arm is, die beste manier waarop enigeen van ons ons kan voorberei vir God se nuwe wêreld wat op hande is, is om nóú geestelike belange eerste te stel (1 Timoteus 6:17-19). Daardie wêreld sal uit ’n waarlik voorspoedige gemeenskap bestaan, materieel sowel as geestelik.

[Voetnote]

a Die naam is verander.

[Prente op bladsy 5]

Job het op God vertrou, nie op sy rykdom nie

[Prente op bladsy 7]

Die kosbaarste dinge in die lewe kan nie met geld gekoop word nie