Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bolivia se afgeleë dorpe hoor goeie nuus

Bolivia se afgeleë dorpe hoor goeie nuus

Bolivia se afgeleë dorpe hoor goeie nuus

ONGEVEER 20 van ons kom op die strand bymekaar en sien gretig uit na ons dagreis stroomop om dorpies langs die rivier te besoek. Ons is aan die voet van die Andes, waar die Beni-rivier die uitgestrekte vlaktes van die Amasone-bekken bereik. Die natuurskoon is uitsonderlik.

Ons is egter nie toeriste nie. Party van ons is plaaslike inwoners; ’n hele paar van ons het van verafgeleë stede gekom om hier in Rurrenabaque te kom woon, ’n pragtige klein dorpie met blombome, grasdakhuise en strate waarin daar net nou en dan ’n motorfietstaxi ry. Waarom onderneem ons hierdie reis?

Wat hier gebeur, is kenmerkend van verwikkelinge in baie ander dele van Bolivia. Jehovah se Getuies uit die stede en uit ander lande neem die goeie nuus van God se Koninkryk na die kleiner dorpies.—Matteus 24:14.

Bolivia is in die middel van Suid-Amerika. Die land is twee keer so groot soos Frankryk, maar het net ’n bietjie meer as ’n tiende van Frankryk se bevolking. Die meeste van Bolivia se bewoners bly óf in stede en myndorpe op asemrowende hoogtes óf in die landbousentrums van die valleie. In die tropiese laaglande word dorpe egter deur uitgestrekte woude afgesonder.

In die 1950’s en 1960’s het moedige sendelinge, soos Betty Jackson, Elsie Meynberg, Pamela Moseley en Charlotte Tomaschafsky die aanvoorwerk in talle afgesonderde dorpe gedoen. Hulle het Bybelwaarheid aan opregte mense geleer en klein gemeentes help stig. Gedurende die 1980’s en 1990’s het Jehovah se Getuies, hoofsaaklik in die stede, sesvoudig toegeneem. Nou is daar gemeentes in elke buurt. Jy kan hulle in die welvarende gebiede vind, waar mense in hoë kantoorgeboue werk, in spoggerige huise woon en by supermarkte inkopies doen. Daar is egter ook gemeentes in die buitewyke, waar mense in kleihuisies woon, by opelugmarkte inkopies doen en kleurvolle tradisionele klere dra. Maar wat kan gedoen word om meer mense in die afgesonderde gebiede te help om Jehovah te leer ken?

Hulle het die gemak van die stadslewe prysgegee

Tydens die afgelope twee dekades het baie mense van Bolivia se myndorpe en platteland na die stede getrek. Dit is ongewoon dat mense in die teenoorgestelde rigting—van die stede na die dorpies—trek. Baie dorpies het net een telefoon en het net ’n paar uur per dag elektrisiteit. Getuies wat in hierdie klein dorpies woon, sien medegelowiges moontlik net by jaarlikse byeenkomste, en dit kan duur, gevaarlik en vermoeiend wees om na hierdie byeenkomste te reis. Dorpskole bied net basiese skoolopleiding. Wat beweeg etlike Getuies van Jehovah dan om van die stede na die dorpies te trek?

“Ek het die geleentheid gehad om ’n loopbaan in die stad La Paz te hê”, het Luis onlangs gesê. “Maar my ouers het altyd die dissipelmaakwerk as die beste loopbaan voorgehou. Ek het dus ’n kort kursus in konstruksiemetodes gevolg. Gedurende ’n vakansie in Rurrenabaque het ek opgelet dat die mense baie gretig is om na die goeie nuus te luister. Toe ek sien hoe min broers daar is, het ek gevoel dat ek eenvoudig moes kom help. Ek hou nou 12 Bybelstudies. Ek studeer byvoorbeeld met ’n jong man en sy vrou wat vier kinders het. In die verlede het hy baie gedrink en gedobbel, maar hy het dit alles laat staan en het sy vriende begin vertel wat hy omtrent Jehovah leer. Hy berei altyd sy les voor. Hy hou nie daarvan wanneer hy drie of vier dae in die woud moet gaan hout kap nie, want hy wil nie van enige Christelike bedrywighede wegbly nie. Wanneer ek hulle almal by die Christelike vergaderinge sien, voel ek dat die opoffering om hiernatoe te kom, die moeite werd was.”

Juana is ’n enkelouer. “Ek het as ’n huisbediende in La Paz gewerk”, sê sy. “Toe my seun klein was, het ek in die stad met die voltydse bediening begin. Tydens ’n besoek aan Rurrenabaque het ek besef hoeveel meer ek kon doen deur hiernatoe te trek. Ons het dus gekom, en ek het werk as ’n huisbediende gekry. Aanvanklik was die hitte en die insekte moeilik om te verduur. Maar ons is nou al sewe jaar lank hier. Ek hou elke week baie Bybelstudies, en baie studente toon waardering deur na die vergaderinge toe te kom.” Juana en haar seun is onder dié wat op die boot klim om met die rivier op te gaan. Jy is welkom om saam te kom.

Die reis met die rivier op

Die buiteboordmotor brul terwyl ons koers kry na die nou kloof tussen die berge. ’n Swerm papegaaie protesteer met ’n gekras teen ons teenwoordigheid. Die modderige water van die berge maal onstuimig om ons terwyl die stuurman die boot bedrewe stroomop stuur. Teen die middel van die oggend klim ons by ’n klein dorpie af. Daar ontmoet ons ’n opsiener van die Rurrenabaque-gemeente, en hy wys ons waar om die predikingswerk te doen.

Die dorpsbewoners ontvang ons gasvry, hetsy in die skaduwee van ’n boom of in ’n huis wat met bamboes gebou en met palmtakke bedek is. Ons ontmoet kort voor lank ’n jong egpaar wat suikerriet fyndruk in ’n houtpers wat plaaslik gemaak is. Die sap stroom in ’n koperbak in. Later sal hulle die sap kook totdat dit donker melasse word, wat in die dorp verkoop kan word. Hulle nooi ons in hulle huis in en vra baie vrae oor die Bybel.

Ons reis verder met die rivier op en getuig van dorpie tot dorpie. Baie is bly om te hoor wat die Bybel aangaande die einde van siekte en die dood sê (Jesaja 25:8; 33:24). Hier, waar dit moeilik is om mediese sorg te kry, het die meeste gesinne die smart ervaar van ’n kind se dood. Die lewe as bestaansboere en -vissermanne is moeilik en onseker. Baie vind dus God se belofte in Psalm 72 oor ’n regering wat armoede uit die weg sal ruim, baie interessant. Maar dink jy dat belangstellendes in sulke afgesonderde gebiede die moeite sal doen om Christelike vergaderinge by te woon? Dit is ’n vraag wat opgekom het by Eric en Vicky, wat voltydse bedienaars is in Santa Rosa, ’n rit van nog drie uur verder in die Amasone-bekken in.

Sal die belangstellendes kom?

Eric en Vicky het 12 jaar gelede van Kalifornië, VSA, na Bolivia gekom. ’n Reisende opsiener het voorgestel dat hulle na Santa Rosa verhuis. “In die dorp is daar net twee telefone en geen toegang tot die Internet nie”, sê Vicky. “Daar is baie wilde diere. Ons sien dikwels alligators, volstruise en groot slange terwyl ons die buitegebiede op ons motorfietse besoek. Die mense is egter interessanter as die diere. Ons studeer die Bybel met die Vaca’s, ’n jong egpaar wat vier kinders het. Hulle bly ongeveer 26 kilometer buite die dorp. Die pa was ’n dronkaard, maar hy het nou verander. Hy bring elke week sy hele gesin en sy jonger suster na die Koninkryksaal. Hy vervoer sy vrou en baba op die drarak van sy groot fiets. Die negejarige neem sy sustertjie saam op ’n ander fiets, en die agtjarige ry op sy eie. Dit neem hulle drie uur om daar te kom.” Die gesin is werklik lief vir Jehovah en doen alles in hulle vermoë om met die gemeente te assosieer.

Binne net 18 maande het 3 persone aan die vereistes voldoen om gedoop te word, en omtrent 25 woon die vergaderinge by die nuwe Koninkryksaal in Santa Rosa by. Hoewel baie mense die Bybel wil studeer, het talle van hulle groot struikelblokke wat hulle moet oorkom om Jehovah te dien.

Die uitdaging om huwelike te wettig

Marina en Osni, sendelinge wat in ’n afgesonderde dorp naby die grens tussen Bolivia en Brasilië dien, verduidelik dat baie van die mense hier die huwelik nie as ’n permanente verbintenis beskou nie. Hulle gaan van die een maat na die ander. “Dit is ’n probleem wat geestelike vooruitgang verhinder”, sê Osni. “Wanneer mense ware Christene wil word, is dit ’n ingewikkelde en duur proses. Party moet vorige verhoudings beëindig en dan wettig trou. Maar omdat hulle besef dat dit ’n skriftuurlike vereiste is om hulle huwelik behoorlik te registreer, het sommige baie hard gewerk om die nodige geld vir die regskoste te verdien.”—Romeine 13:1, 2; Hebreërs 13:4.

Marina vertel die ondervinding van Norberto. “Hy het saam met verskeie vroue gebly voordat hy by ’n vrou ingetrek het wat ’n bakster is. Sy was ongeveer 35 jaar jonger as hy en het ’n seun gehad wat Norberto aangeneem het. Toe die seun ouer word, wou Norberto vir hom ’n beter voorbeeld stel. Toe ’n Getuie dus by die bakkery inkom en gratis tuisbybelstudies aanbied, het Norberto ’n studie aanvaar, hoewel hy nie kon lees nie en alreeds oor die 70 was. Toe Norberto en sy vriendin leer wat Jehovah se vereistes is, is hulle wettig getroud en daarna gedoop. Die seun het ’n verantwoordelike jong Christen geword—net soos sy stiefpa gehoop het hy sou. Norberto het leer lees, en hy het al selfs toesprake by gemeentelike vergaderinge gehou. Ondanks die feit dat hy weens sy ouderdom redelik swak is, is hy ’n ywerige bedienaar van die goeie nuus.”

Krag gegee deur Jehovah se gees

Jesus het vir sy vroeë volgelinge gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8). Hoe aanmoedigend is dit tog om te sien hoe God se gees Christenmans en -vroue beweeg om na afgeleë gebiede te trek! Byvoorbeeld, in 2004 het ongeveer 30 ywerige Christene tydelike toewysings as spesiale pioniers in afgesonderde gebiede aanvaar. Hulle waardeer die voorbeeld van die bykans 180 uitlanders wat na Bolivia gekom het om as pioniers, kringopsieners, Bethelvrywilligers of sendelinge te dien. Die 17 000 Koninkryksverkondigers in Bolivia hou sowat 22 000 Bybelstudies in die huise van belangstellendes.

Die wete dat hulle deur Jehovah se gees gelei word, verskaf al hierdie broers groot vreugde. Robert en Kathy het byvoorbeeld ’n toewysing as sendelinge in Camiri aanvaar. Camiri, wat langs ’n rivier tussen golwende groen heuwels geleë is, was nog altyd ’n afgesonderde dorp. “Dit lyk asof ons op net die regte tyd gekom het”, sê Robert. “Binne twee jaar het sowat 40 mense verkondigers van die goeie nuus geword.”

’n Dronkaard en dobbelaar luister

Baie dorpsmense is beïndruk deur die veranderinge wat dié wat die Bybel bestudeer, maak. Byvoorbeeld, op ’n dag omtrent vier jaar gelede was ’n dronk man met die naam Ariel in die bed met ’n babbelas. Hoewel sy dobbelary hom gewild gemaak het, het hy hom bekommer oor sy skuld wat ophoop, sy ongelukkige huwelik en sy verwaarloosde dogters. Sy gedagtes is onderbreek deur een van Jehovah se Getuies wat besig was om van huis tot huis te gaan. Ariel het aandagtig geluister terwyl die broer die tekste verduidelik het. Kort daarna was Ariel weer terug in die bed, besig om te lees oor ’n gelukkige gesinslewe, die Paradys en diens aan God. Later het hy ingestem om die Bybel te studeer.

Teen die tyd dat die sendelinge in Camiri aangekom het, het Ariel se vrou, Arminda, ook gestudeer—maar met min geesdrif. “Ek sal enigiets probeer om hom te laat ophou drink”, het sy gesê. “Maar ek twyfel of dit sal werk. Daar’s geen hoop vir hom nie.” Die Bybelstudie was egter interessanter as wat sy verwag het. Binne ’n jaar is sy gedoop en het sy vir haar familie begin getuig. Kort voor lank het ’n hele paar van haar familielede hulle lewe aan Jehovah toegewy.

Maar vir Ariel was dit ’n stryd om op te hou drink, rook en dobbel. Hy het ’n keerpunt bereik toe hy al sy kennisse na die Herdenking van Jesus se dood genooi het. Hy het besluit: “Met dié wat nie kom nie, gaan ek nie meer assosieer nie. Met dié wat kom, sal ek die Bybel studeer.” Hy het drie Bybelstudies so begin. Selfs voordat Ariel ’n lid van die gemeente geword het, het hy die Bybel gestudeer met ’n familielid wat vordering gemaak het en op dieselfde dag as Ariel gedoop is. Arminda sê: “Dit is asof die Ariel van vroeër nie meer bestaan nie.”

Robert sê: “Toe ons laas getel het, het 24 lede van dié familie die vergaderinge gereeld bygewoon. Tien is gedoop, en agt ander is ongedoopte verkondigers. Sommige wat gesien het hoe hulle gedrag verander het, het ook begin om die Bybel te studeer en gemeentelike vergaderinge by te woon. Die bywoningsyfer het van 100 tot 190 gestyg. Ek en Kathy hou omtrent 30 Bybelstudies, en hulle almal woon die vergaderinge by. Ons is bly dat ons hier is.”

Wat in Bolivia se afgeleë dorpe gebeur, is maar net een voorbeeld van die wêreldwye insameling wat voorspel is in Openbaring hoofstuk 7, wat vertel van ’n insameling gedurende “die dag van die Here” van diegene wat die groot verdrukking sal oorleef (Openbaring 1:10; 7:9-14). Nog nooit tevore in die mensegeskiedenis is miljoene uit alle nasies in die aanbidding van die enigste ware God verenig nie. Watter opwindende bewys is dit tog dat God se beloftes binnekort vervul gaan word!

[Prent op bladsy 9]

Betty Jackson

[Prent op bladsy 9]

Elsie Meynberg

[Prent op bladsy 9]

Pamela Moseley

[Prent op bladsy 9]

Charlotte Tomaschafsky, heel regs

[Prent op bladsy 10]

Eric en Vicky het kom dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is

[Prent op bladsy 10]

Die Vaca-gesin reis elke week drie uur lank op fietse na die Koninkryksaal

[Prent op bladsy 11]

Dorpsmense naby die Beni-rivier luister aandagtig na die goeie nuus

[Prent op bladsy 12]

Robert en Kathy dien as sendelinge in Camiri