Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dinge in die hemel en dinge op die aarde word byeengebring

Dinge in die hemel en dinge op die aarde word byeengebring

Dinge in die hemel en dinge op die aarde word byeengebring

“Dit is volgens sy welbehae . . . om alles weer byeen te bring in die Christus, die dinge in die hemele en die dinge op die aarde.”—EFESIËRS 1:9, 10.

1. Wat is Jehovah se “welbehae” vir die hemel en die aarde?

 UNIVERSELE VREDE! Dít is die glorieryke voorneme van Jehovah, “die God van vrede” (Hebreërs 13:20). Hy het die apostel Paulus geïnspireer om te skryf dat dit Sy “welbehae” is “om alles weer byeen te bring in die Christus, die dinge in die hemele en die dinge op die aarde” (Efesiërs 1:9, 10). Waarop dui die werkwoord wat in hierdie vers met “weer byeen te bring” vertaal word? Die Bybelgeleerde J. B. Lightfoot sê: “Die uitdrukking dui op die algehele harmonie van die heelal, wat nie meer vreemde en verdelende elemente sal bevat nie, maar waarvan al die dele Christus as middelpunt sal hê en in hom verenig sal wees. Sonde en die dood, droefheid en mislukking en lyding sal uit die weg geruim word.”

“Dinge in die hemele”

2. Wie is “die dinge in die hemele” wat byeengebring moet word?

2 Die apostel Petrus het die wonderlike hoop van ware Christene opgesom toe hy geskryf het: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:13). Die “nuwe hemele” wat hier belowe word, verwys na die nuwe regeringsowerheid, die Messiaanse Koninkryk. “Die dinge in die hemele” wat Paulus in sy brief aan die Efesiërs noem, moet “in die Christus” byeengebring word. Hulle is die beperkte getal mense wat gekies is om saam met Christus in die hemele te heers (1 Petrus 1:3, 4). Hierdie 144 000 gesalfde Christene is “van die aarde gekoop”, “uit die mensdom gekoop”, om mede-erfgename met Christus in sy hemelse Koninkryk te wees.—Openbaring 5:9, 10; 14:3, 4; 2 Korintiërs 1:21; Efesiërs 1:11; 3:6.

3. Waarom kan daar gesê word dat die gesalfdes ‘in die hemelse plekke sit’, selfs terwyl hulle op die aarde is?

3 Gesalfde Christene word deur die heilige gees voortgebring, of weer gebore, om Jehovah se geestelike kinders te word (Johannes 1:12, 13; 3:5-7). Aangesien Jehovah hulle as “kinders” aanneem, word hulle Jesus se broers (Romeine 8:15; Efesiërs 1:5). As sodanig word daar gesê dat hulle, selfs terwyl hulle op die aarde is, ‘opgewek is en saam sit in die hemelse plekke in eenheid met Christus Jesus’ (Efesiërs 1:3; 2:6). Hulle beklee hierdie verhewe geestelike posisie omdat hulle “met die beloofde heilige gees verseël [is], wat ’n vooruitgegewe pand van [hulle] erfenis is” wat in die hemele vir hulle bewaar word (Efesiërs 1:13, 14; Kolossense 1:5). Hulle is dus “die dinge in die hemele” waarvan die volle getal wat deur Jehovah voorbestem is, byeengebring moes word.

Daar word begin om hulle byeen te bring

4. Wanneer en hoe is daar begin om “die dinge in die hemele” byeen te bring?

4 In ooreenstemming met Jehovah se “administrasie”, of manier om dinge te bestuur, moes daar “aan die voleinding van die vasgestelde tye” begin word om “die dinge in die hemele” byeen te bring (Efesiërs 1:10). Hierdie vasgestelde tyd het op Pinkster 33 G.J. aangebreek. Daardie dag is heilige gees op die apostels en ’n groep dissipels, manne en vroue, uitgestort (Handelinge 1:13-15; 2:1-4). Dit het bewys gelewer dat die nuwe verbond in werking getree het en het getoon dat die Christengemeente en die nuwe nasie van geestelike Israel, “die Israel van God”, tot stand gekom het.—Galasiërs 6:16; Hebreërs 9:15; 12:23, 24.

5. Waarom het Jehovah ’n nuwe “nasie” geskep om vleeslike Israel te vervang?

5 Die Wetsverbond wat met vleeslike Israel gesluit is, het nie “’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie” voortgebring wat vir ewig in die hemel sou dien nie (Eksodus 19:5, 6). Jesus het vir die Joodse godsdiensleiers gesê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring” (Matteus 21:43). Hierdie nasie, geestelike Israel, bestaan uit gesalfde Christene wat in die nuwe verbond opgeneem is. Die apostel Petrus het aan hulle geskryf: “Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit, sodat julle die voortreflikhede alom bekend sou maak’ van die een wat julle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het. Want julle was eens nie ’n volk nie, maar is nou God se volk” (1 Petrus 2:9, 10). Vleeslike Israel was nie meer Jehovah se verbondsvolk nie (Hebreërs 8:7-13). Soos Jesus voorspel het, is die voorreg om deel van die Messiaanse Koninkryk uit te maak, van hulle af weggeneem en aan die 144- 000 lede van geestelike Israel gegee.—Openbaring 7:4-8.

In die Koninkryksverbond opgeneem

6, 7. Watter spesiale verbond het Jesus met sy geesverwekte broers gesluit, en wat beteken dit vir hulle?

6 Die aand toe Jesus die Herdenking van sy dood ingestel het, het hy vir sy getroue apostels gesê: “Julle is . . . dié wat in my beproewinge altyddeur by my gebly het; en ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk, sodat julle aan my tafel in my koninkryk kan eet en drink en op trone kan sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:28-30). Jesus het hier verwys na ’n spesiale verbond wat hy gesluit het met sy 144 000 geesverwekte broers wat “tot in die dood getrou” sou bly en sou bewys dat hulle ‘oorwinnaars’ is.—Openbaring 2:10; 3:21.

7 Die lede van hierdie beperkte groep sien af van enige hoop om vir ewig as mense van vlees en bloed op die aarde te lewe. Hulle sal saam met Christus in die hemel heers en op trone sit om die mensdom te oordeel (Openbaring 20:4, 6). Kom ons ondersoek nou ander tekste wat net op hierdie gesalfdes van toepassing is en wat toon waarom die “ander skape” nie van die Gedenkmaalembleme gebruik nie.—Johannes 10:16.

8. Wat toon die gesalfdes deur van die brood te eet? (Sien venster op bladsy 23.)

8 Die gesalfdes is deelgenote in die lyding van Christus en is bereid om hulle aan ’n dood soos syne te onderwerp. As een van daardie groep het Paulus gesê dat hy bereid is om enige opoffering te maak sodat hy ‘Christus kan wen, om hom te ken en die krag van sy opstanding en die deelgenootskap in sy lyding’. Ja, Paulus was bereid om hom “aan ’n dood soos syne” te onderwerp (Filippense 3:8, 10). Baie gesalfde Christene het in hulle vleeslike liggaam “die dodelike behandeling [verduur] wat Jesus ontvang het”.—2 Korintiërs 4:10.

9. Watter liggaam stel die Gedenkmaalbrood voor?

9 Toe Jesus die Here se Aandmaal ingestel het, het hy gesê: “Dit beteken my liggaam” (Markus 14:22). Hy het na sy letterlike liggaam verwys, wat kort daarna geslaan sou word totdat die bloed loop. Brood sonder suurdeeg was ’n gepaste simbool van daardie liggaam. Waarom? Omdat suurdeeg in die Bybel sonde of goddeloosheid kan beteken (Matteus 16:4, 11, 12; 1 Korintiërs 5:6-8). Jesus was volmaak, en sy menseliggaam was sonder sonde. Hy sou daardie volmaakte liggaam as ’n soenoffer bring (Hebreërs 7:26; 1 Johannes 2:2). Hierdie daad sou voordele vir alle getroue Christene meebring, hetsy hulle die hoop het om in die hemel te lewe of om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe.— Johannes 6:51.

10. Hoe het diegene wat van die Gedenkmaalwyn drink, “deelgenootskap in die bloed van die Christus”?

10 Paulus het die volgende geskryf oor die wyn waarvan gesalfde Christene by die Gedenkmaal drink: “Die beker van seën wat ons seën, is dit nie deelgenootskap in die bloed van die Christus nie?” (1 Korintiërs 10:16). Hoe het diegene wat van die wyn drink, “deelgenootskap in die bloed van die Christus”? Hulle het beslis nie ’n aandeel daaraan om die losprysoffer te voorsien nie, want hulle het self verlossing nodig. Weens hulle geloof in die loskoopkrag van Christus se bloed word hulle sondes vergewe en word hulle regverdig verklaar vir lewe in die hemel (Romeine 5:8, 9; Titus 3:4-7). Die 144 000 mede-erfgename van Christus word deur middel van Christus se vergote bloed “geheilig”, afgesonder, gereinig van sonde sodat hulle “heiliges” kan wees (Hebreërs 10:29; Daniël 7:18, 27; Efesiërs 2:19). Ja, Christus het met sy vergote bloed “mense uit elke stam en taal en volk en nasie vir God gekoop, en [hy] het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle gaan as konings oor die aarde heers”.—Openbaring 5:9, 10.

11. Wat toon die gesalfdes deur van die Gedenkmaalwyn te drink?

11 Toe Jesus die Herdenking van sy dood ingestel het, het hy die beker wyn vir sy getroue apostels gegee en gesê: “Drink almal daaruit; want dit beteken my ‘bloed van die verbond’, wat vir baie uitgestort sal word tot vergifnis van sondes” (Matteus 26:27, 28). Soos die bloed van bulle en bokke die Wetsverbond tussen God en die nasie Israel bekragtig het, het Jesus se bloed die nuwe verbond bekragtig wat Jehovah van Pinkster 33 G.J. af met geestelike Israel gesluit het (Eksodus 24:5-8; Lukas 22:20; Hebreërs 9:14, 15). Deur van die wyn te drink wat die “bloed van die verbond” simboliseer, toon die gesalfdes dat hulle in die nuwe verbond opgeneem is en die voordele daarvan ontvang.

12. Hoe word die gesalfdes in Christus se dood gedoop?

12 Die gesalfdes word ook aan iets anders herinner. Jesus het vir sy getroue dissipels gesê: “Die beker wat ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee ek gedoop word, sal julle gedoop word” (Markus 10:38, 39). Die apostel Paulus het later gesê dat Christene “in [Christus se] dood gedoop is” (Romeine 6:3). Die gesalfdes lei ’n lewe van opoffering. Hulle dood is ’n offerande in die sin dat hulle afsien van enige hoop op ewige lewe op die aarde. Hierdie gesalfde Christene se doop in Christus se dood is voltooi wanneer hulle, nadat hulle getrou gesterf het, as geesskepsele opgewek word en saam met Christus in die hemel “as konings heers”.—2 Timoteus 2:10-12; Romeine 6:5; 1 Korintiërs 15:42-44, 50.

Die gebruik van die embleme

13. Waarom gebruik diegene met ’n aardse hoop nie van die Gedenkmaalembleme nie, maar waarom woon hulle die Gedenkmaal by?

13 Aangesien die gebruik van die brood en wyn wat gedurende die Gedenkmaal omgestuur word, dit alles behels, sal dit natuurlik vir diegene met ’n aardse hoop ongepas wees om daarvan te gebruik. Hulle besef dat hulle nie gesalfde lede van die liggaam van Christus is nie, en hulle is ook nie in die nuwe verbond wat Jehovah gesluit het met diegene wat saam met Jesus Christus sal heers nie. Aangesien “die beker” die nuwe verbond voorstel, gebruik net diegene in die nuwe verbond van die embleme. Diegene wat na ewige lewe in menslike volmaaktheid op die aarde onder die Koninkryk uitsien, is nie in Jesus se dood gedoop nie en is ook nie geroep om saam met hom in die hemel te heers nie. As hulle van die embleme sou gebruik, sou dit iets te kenne gee wat in hulle geval nie waar is nie. Hulle gebruik dus nie van die embleme nie, maar hulle woon wel die Gedenkmaal as eerbiedige waarnemers by. Hulle is dankbaar vir alles wat Jehovah deur middel van sy Seun vir hulle doen, met inbegrip van die vergifnis wat hy op grond van Christus se vergote bloed skenk.

14. Hoe word die gesalfdes geestelik versterk deur van die brood en die wyn te gebruik?

14 Die finale verseëling van die betreklik min Christene wat gekies is om saam met Christus in die hemel te heers, is byna voltooi. Tot die einde van hulle lewe van opoffering op die aarde word die gesalfdes geestelik versterk deur van die Gedenkmaalembleme te gebruik. Hulle voel ’n band van eenheid met hulle broers en susters as lede van Christus se liggaam. Wanneer hulle van die embleme, die brood en die wyn, gebruik, herinner dit hulle aan hulle verantwoordelikheid om tot die dood getrou te bly.—2 Petrus 1:10, 11.

“Dinge op die aarde” word byeengebring

15. Wie is aan die kant van gesalfde Christene byeengebring?

15 Sedert die middel-1930’s het al hoe meer van die “ander skape”, wat nie van die “klein kuddetjie” is nie en wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe, hulle aan die kant van die gesalfdes geskaar (Johannes 10:16; Lukas 12:32; Sagaria 8:23). Hulle het die lojale metgeselle van Christus se broers geword en verleen waardevolle hulp om “hierdie goeie nuus van die koninkryk” as ’n getuienis vir al die nasies te verkondig (Matteus 24:14; 25:40). Omdat hulle dit doen, het hulle die vooruitsig om deur Christus as sy “skape” beskou te word wat aan sy “regterhand” van guns gesit sal word wanneer hy kom om die nasies te oordeel (Matteus 25:33-36, 46). Weens hulle geloof in Christus se bloed sal hulle die “groot menigte” uitmaak wat “die groot verdrukking” sal oorleef.—Openbaring 7:9-14.

16. Wie sal “die dinge op die aarde” insluit, en hoe sal hulle almal die geleentheid hê om “kinders van God” te word?

16 Ná die finale verseëling van die 144 000 sal die “winde” van vernietiging teen Satan se goddelose stelsel van dinge op die aarde losgelaat word (Openbaring 7:1-4). Gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus en sy mede-koning-priesters sal tallose verresenes by die groot menigte gevoeg word (Openbaring 20:12, 13). Hulle sal die geleentheid hê om vir altyd aardse onderdane van die Messiaanse Koning, Christus Jesus, te wees. Aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy sal al hierdie “dinge op die aarde” aan ’n laaste toets onderwerp word. Dié wat getrou bly, sal as aardse “kinders van God” aangeneem word.—Efesiërs 1:10; Romeine 8:21; Openbaring 20:7, 8.

17. Hoe sal Jehovah se voorneme verwesenlik word?

17 Jehovah sal dus deur middel van sy oneindig wyse “administrasie”, of manier om dinge te bestuur, sy voorneme verwesenlik het “om alles weer byeen te bring in die Christus, die dinge in die hemele en die dinge op die aarde”. Al die intelligente skepsele in die hemel en op die aarde sal in universele vrede byeengebring wees en hulle met vreugde onderwerp aan die regverdige soewereiniteit van die Groot Voornemer, Jehovah.

18. Hoe sal die gesalfdes sowel as hulle metgeselle daarby baat vind as hulle die Gedenkmaal bywoon?

18 Hoe geloofversterkend sal dit tog vir die klein groepie gesalfdes en hulle miljoene metgeselle, die ander skape, wees om op 12 April 2006 te vergader! Hulle sal Christus se dood herdenk, soos Jesus beveel het: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen” (Lukas 22:19). Almal wat die Gedenkmaal bywoon, moet dink aan wat Jehovah deur sy geliefde Seun, Christus Jesus, vir hulle gedoen het.

Ter hersiening

• Wat is Jehovah se voorneme met die dinge in die hemel en die dinge op die aarde?

• Wie is “die dinge in die hemele”, en hoe is hulle byeengebring?

• Wie is “die dinge op die aarde”, en watter hoop het hulle?

[Studievrae]

[Venster op bladsy 23]

“Die liggaam van die Christus”

In 1 Korintiërs 10:16, 17 het Paulus “liggaam” in ’n spesiale sin gemeld toe hy bespreek het watter besondere betekenis die brood vir die geesgesalfde broers van Christus het. Hy het gesê: “Die brood wat ons breek, is dit nie deelgenootskap in die liggaam van die Christus nie? Omdat daar een brood is, is ons, hoewel baie, een liggaam, want ons het almal deel aan daardie een brood.” Wanneer gesalfde Christene van die Gedenkmaalbrood eet, maak hulle hulle eenheid in die gemeente van gesalfdes bekend, wat soos ’n liggaam is met Christus as die Hoof.—Matteus 23:10; 1 Korintiërs 12:12, 13, 18.

[Prente op bladsy 23]

Waarom gebruik net die gesalfdes van die brood en die wyn?

[Prent op bladsy 25]

Al die skepsele in die hemel en op die aarde sal deur Jehovah se administrasie verenig word