Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het ons ’n Messias nodig?

Het ons ’n Messias nodig?

Het ons ’n Messias nodig?

JY HET dalk ook al gevra: “Het ons ’n Messias nodig?” Ja, dit is redelik om te wonder of ’n Messias enige wesenlike uitwerking op jou sal hê.

Sommige mense wie se mening jy dalk respekteer, sal jou verseker dat die antwoord duidelik en onbetwisbaar is: Jy het beslis ’n Messias nodig, net soveel soos alle ander mense. ’n Eerste-eeuse kenner van die Joodse wet het omtrent die Messias geskryf: “Ongeag hoeveel beloftes van God daar is, hulle het deur middel van hom Ja geword.” Sodoende het hy die sleutelrol beklemtoon wat die Messias speel in ons Skepper se voorneme om al die nasies van die aarde te seën (2 Korintiërs 1:20). Die Messias se rol is so belangrik dat sy koms en lewe die middelpunt van Bybelprofesieë vorm. In ’n handboek wat oor die afgelope 70 jaar deur miljoene gebruik is, het Henry H. Halley aangevoer: “Die Ou Testament is geskryf om afwagting te skep en die weg te baan vir die Koms van [die Messias].” Maar is sy koms nodig? Waarom moet dit vir jou van belang wees?

“Messias” beteken eintlik “Gesalfde” en is die ekwivalent van die welbekende term “Christus”. Hierdie persoon, na wie die Encyclopædia Britannica, uitgawe van 1970, as “die ware verlosser” verwys, moes kom weens die oneerbiedige dade van die eerste mensepaar, Adam en Eva. Hulle is volmaak geskep, met die wonderlike vooruitsig op ewige lewe in die Paradys, maar hulle het daardie vooruitsig verbeur. ’n Opstandige engel, wat later as Satan die Duiwel bekend geword het, het beweer dat hulle Skepper te streng is en dat hulle beter sou vaar as hulle self besluit wat goed is en wat kwaad is.—Genesis 3:1-5.

Eva is bedrieg en het hierdie leuen geglo. Adam, wat sy vrou se vriendskap blykbaar belangriker geag het as lojaliteit teenoor God, het ’n medepligtige geword in dié opstand wat deur die Duiwel aangestig is (Genesis 3:6; 1 Timoteus 2:14). Deur hulle dade het hulle nie net hulle eie vooruitsig op ewige lewe in ’n paradysagtige omgewing verbeur nie. Hulle het ook sonde en die gevolg daarvan, die dood, nagelaat aan hulle ongebore nageslag.—Romeine 5:12.

Ons Skepper, Jehovah, het onmiddellik ’n manier gevind om die slegte gevolge van die reeks gebeurtenisse wat deur die opstand aan die gang gesit is, ongedaan te maak. Hy sou ’n versoening bewerkstellig deur middel van wat later ’n wetlike beginsel van die Mosaïese Wet sou wees—gelyke vergelding (Deuteronomium 19:21; 1 Johannes 3:8). Daar moes aan hierdie wetlike beginsel voldoen word om dit moontlik te maak vir enige van Adam en Eva se ongelukkige nakomelinge om die ewige lewe op ’n paradysaarde te ontvang, soos die Skepper se voorneme vir die mensdom was. Dit lei ons na die Messias.

Toe Jehovah God die Duiwel gevonnis het, het hy in die eerste Bybelprofesie gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond” (Genesis 3:15). Een Bybelgeleerde het gesê dat “die verhaal van die Messiaanse beloftes soos dit in die Skrif uiteengesit word, met [hierdie] verklaring begin”. ’n Ander het gesê dat die Messias God se middel is wat “al die rampspoed van die sondeval ongedaan sal maak” en sodoende seëninge oor die mensdom sal bring.—Hebreërs 2:14, 15.

Maar jy sien moontlik dat die mensdom glad nie vandag geseënd is nie. Mense is eerder in wanhoop gedompel. The World Book Encyclopedia sê dus dat “baie Jode nog steeds verwag dat ’n Messias sal kom” en dat hy “onregte sal regstel en die vyande van die volk sal verslaan”. Die Bybel sê egter dat die Messias alreeds gekom het. Is daar rede om te glo wat die Bybel sê? Die volgende artikel sal dit beantwoord.