Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Ons het die Messias gevind”

“Ons het die Messias gevind”

“Ons het die Messias gevind”

“ONS het die Messias gevind.” “Ons het die een gevind van wie Moses, in die Wet, en die Profete geskryf het.” Twee getroue eerste-eeuse Jode het hierdie verbasende stellings gemaak. Die verwagte Messias het uiteindelik gekom. Hulle was daarvan oortuig!—Johannes 1:35-45.

Wanneer ’n mens die geskiedkundige en godsdiensagtergrond van daardie tyd in ag neem, is hulle oortuiging selfs betekenisvoller. ’n Aantal sogenaamde bevryders het hulle verskyning te midde van groot vertoon en beloftes gemaak, maar verwagtinge is gou verydel toe hierdie manne nie daarin geslaag het om die Jode van die Romeinse juk te bevry nie.—Handelinge 5:34-37.

Maar daardie twee Jode—Andreas en Filippus—het nooit gewankel in hulle oortuiging dat hulle die ware Messias gevind het nie. In die daaropvolgende jare het hulle vertroue eerder toegeneem namate hulle self die kragtige werke gesien het wat hierdie man ter vervulling van profesieë oor die Messias se rol gedoen het.

Waarom het hierdie twee en baie ander geloof in hom gestel, in die vaste oortuiging dat hy nie net ’n valse Messias of ’n teleurstellende bedrieër is nie? Watter kwalifikasies het oortuigende bewys gelewer dat hy die ware Messias is?

Volgens die geskiedenisverslag het Andreas en Filippus Jesus van Nasaret, die voormalige timmerman, as die beloofde en langverwagte Messias geïdentifiseer (Johannes 1:45). ’n Noulettende geskiedkundige van daardie tyd, Lukas, sê dat hierdie koms van die Messias “in die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius” plaasgevind het (Lukas 3:1-3). Die 15de jaar van Tiberius se bewind het in September 28 G.J. begin en in September 29 G.J. geëindig. Lukas sê verder dat die Jode op dié stadium “in afwagting verkeer het” van die Messias se koms (Lukas 3:15). Waarom het hulle hom op daardie spesifieke tyd verwag? Ons sal sien.

Kwalifikasies van die Messias

Aangesien die Messias ’n lewensbelangrike rol speel, is dit te verstane dat die Skepper, Jehovah, duidelike leidrade sou voorsien om waaksame en getroue mense te help om die beloofde Messias te identifiseer. Waarom? Want sodoende sou versigtige persone nie deur valse Messiasse bedrieg word, soos met baie mense gebeur het nie.

Wanneer ’n ambassadeur hom aan ’n ander regering voorstel, word daar van hom verwag om sy aanstelling met die nodige geloofsbriewe te bevestig. Net so het Jehovah lank voor die tyd die vereistes waaraan die Messias sou voldoen, op skrif laat stel. Wanneer “die Hoofbewerker” dus sou verskyn, sou dit wees asof hy met dokumentasie, of geloofsbriewe, kom, wat sy identiteit bevestig.—Hebreërs 12:2.

Die kwalifikasies, of vereistes, waaraan hy sou moes voldoen, is uiteengesit in baie Bybelprofesieë wat eeue tevore opgeteken is. Dit het in fyn besonderhede voorspel hoe die Messias sou kom, die aard van sy bediening, sy lyding deur die toedoen van ander en hoe hy sou sterf. Jy sal dalk daarin belangstel om te weet dat hierdie betroubare profesieë ook sy opstanding voorspel het, sowel as sy verheffing tot die regterhand van God en die uiteindelike seëninge wat sy toekomstige Koninkryksheerskappy sal bring. Op hierdie manier het Bybelprofesieë ’n unieke patroon voorsien wat vergelyk kan word met ’n vingerafdruk, wat net een persoon kan identifiseer.

Toe Jesus in 29 G.J. op die toneel verskyn het, is nie al die Messiaanse profesieë natuurlik onmiddellik vervul nie. Hy was byvoorbeeld nog nie doodgemaak en opgewek nie. Andreas, Filippus en baie ander het nietemin geloof in Jesus gestel as gevolg van wat hy geleer en gedoen het. Hulle het oorvloedige bewyse gesien dat hy inderdaad die Messias is. As jy destyds gelewe en die bewyse eerstehands en onbevooroordeeld kon ondersoek het, sou jy waarskynlik ook daarvan oortuig gewees het dat Jesus die Messias is.

’n Saamgestelde beeld

Wat sou jou gehelp het om tot dié slotsom te kom? Bybelprofete het oor die eeue heen spesifieke vereistes voorsien waaraan die Messias moes voldoen, wat hom onmiskenbaar sou identifiseer. Namate die profete hierdie besonderhede oor die eeue heen voorsien het, het ’n beeld van die Messias geleidelik vorm aangeneem. Henry H. Halley het gesê: “Gestel ’n aantal mans van verskillende lande, wat mekaar nog nooit gesien het of enigsins met mekaar gekommunikeer het nie, stap ’n vertrek binne en sit elkeen ’n stuk gesnyde marmer neer en die stukke vorm ’n volmaakte standbeeld wanneer hulle saamgevoeg word—hoe sou ’n mens dit andersins kan verklaar as dat een spesifieke persoon die spesifikasies daarvoor opgestel het en vir elke man sy deel gestuur het?” Dan vra hy: “Hoe kan hierdie verbasende saamgestelde beeld van Jesus se lewe en werk, wat lank voordat Jesus gekom het deur verskillende skrywers van verskillende eeue saamgestel is, op enige ander manier verklaar word as dat EEN BOMENSLIKE VERSTAND die opskrifstelling daarvan gerig het?” Halley se slotsom was: “Die wonderwerk van die eeue!”

Hierdie “wonderwerk” het in die eerste boek van die Bybel begin. Benewens die eerste Bybelprofesie, wat op die rol van die Messias gedui het, het die skrywer van Genesis ook opgeteken dat die Messias deur Abraham se geslagslyn sou kom (Genesis 3:15; 22:15-18). Nog ’n leidraad het geopenbaar dat die Messias van die stam Juda sou wees (Genesis 49:10). God het deur Moses vir die Israeliete vertel dat die Messias ’n groter woordvoerder en verlosser as selfs Moses sou wees.—Deuteronomium 18:18.

Gedurende die tyd van koning Dawid het profesieë geopenbaar dat die Messias ’n erfgenaam van die troon van Dawid sou wees en dat Sy koninkryk “tot onbepaalde tyd stewig gevestig [sou] word” (2 Samuel 7:13-16). Die boek Miga het aan die lig gebring dat die Messias in Dawid se dorp, Betlehem, gebore sou word (Miga 5:2). Jesaja het voorspel dat Hy uit ’n maagd gebore sou word (Jesaja 7:14). Die profeet Maleagi het voorspel dat Sy koms deur iemand soos Elia aangekondig sou word.—Maleagi 4:5, 6.

Nog ’n bepalende besonderheid oor die Messias het in die boek Daniël verskyn. Die profesie wys die spesifieke jaar aan waarin die Messias sou verskyn en sê: “Jy moet weet en die insig hê dat daar vanaf die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou tot op Messias die Leier sewe weke sal wees, ook twee-en-sestig weke. Dit sal terugkeer en herbou word, met ’n openbare plein en grag, maar in tye van benoudheid.”—Daniël 9:25.

Die Persiese koning Artasasta het in die 20ste jaar van sy bewind “die woord” gegee om Jerusalem te herstel en te herbou. Sy bewind het in 474 v.G.J. begin; sy 20ste jaar sou derhalwe 455 v.G.J. wees (Nehemia 2:1-8). ’n Tydperk van 69 (7 plus 62) profetiese weke sou dus verloop vanaf die bevel om Jerusalem te herstel en te herbou tot die verskyning van die Messias. Nege-en-sestig letterlike weke is natuurlik gelyk aan net 483 dae, of minder as twee jaar. Maar wanneer die vaste profetiese reël van “’n dag vir ’n jaar” toegepas word, openbaar dit dat die Messias 483 jaar later sou verskyn, in 29 G.J.—Esegiël 4:6. a

Hoewel ’n aantal mense wat beweer het dat hulle die Messias is, op verskillende tye verskyn het, het net Jesus van Nasaret in 29 G.J. op die wêreldtoneel verskyn (Lukas 3:1, 2). In daardie selfde jaar het Jesus na Johannes die Doper gegaan en is hy in water gedoop. Jesus is toe met heilige gees as die Messias gesalf. Later het Johannes, die voorspelde voorloper soos Elia, Jesus aan Andreas en nog ’n dissipel bekend gestel en hom “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”, genoem.—Johannes 1:29; Lukas 1:13-17; 3:21-23.

Geslagsregisters en die Messias se identiteit

Die geïnspireerde profesieë het die Messias met spesifieke Joodse families verbind. Dit is dus net redelik dat die alwetende Skepper die Messias se koms sou reël op ’n tyd toe die geslagsregisters beskikbaar was om sy afkoms te bevestig.

McClintock en Strong se Cyclopedia sê: “Daar bestaan min twyfel dat die geslagsregisters van die Joodse stamme en families met die vernietiging van Jerusalem [in 70 G.J.] vergaan het en nie vroeër nie.” Daar is duidelike aanduidings dat Matteus en Lukas hulle evangelies voor 70 G.J. geskryf het. Hulle kon dus hierdie registers raadpleeg toe hulle hulle verslae van Jesus se geslagslyn saamgestel het (Matteus 1:1-16; Lukas 3:23-38). En wanneer dit by so ’n uiters belangrike geskil kom, sou baie van hulle tydgenote tog sekerlik Jesus se geslagslyn vir hulleself wou bevestig.

’n Toevallige vervulling in Jesus?

Is dit nogtans moontlik dat Jesus se vervulling van Messiaanse profesieë bloot toevallig was? ’n Geleerde het tydens ’n onderhoud geantwoord: “Dit is buite die kwessie. Die kanse is só skraal dat dit so ’n moontlikheid uitsluit. Iemand het berekeninge gedoen en uitgewerk dat die waarskynlikheid dat net agt profesieë vervul word, een uit honderdduisendbiljoen is.” Om dit te illustreer, het hy gesê: “As jy soveel silwerdollars neem, sou dit die staat Texas [’n gebied van 690 000 vierkante kilometer] tot ’n diepte van twee voet [60 sentimeter] bedek. As jy dan een van die silwerdollars merk en iemand wat geblinddoek is, deur die hele staat laat stap en hom een muntstuk laat optel, wat sou die kanse wees dat hy die een kies wat gemerk is?” Toe het hy gesê dat dit “net so onwaarskynlik is dat enigiemand in die geskiedenis selfs net agt van die [Messiaanse] profesieë kon vervul”.

Tog het Jesus gedurende sy drie en ’n half jaar lange bediening nie net agt nie, maar baie Bybelprofesieë vervul. In die lig van sulke oorweldigende bewyse het daardie geleerde tot die slotsom gekom: “Jesus—en net Jesus in die ganse geskiedenis—het daarin geslaag.”

Die Messias se “koms”

Dit is duidelik dat die Messias in 29 G.J. gekom het in die persoon van Jesus van Nasaret. Hy het destyds gekom as ’n nederige Verlosser wat lyding verduur het. Hy het nie gekom as ’n allesverowerende Koning om die onderdrukkende juk van die Romeine te verbreek, soos die meeste Jode en selfs sy volgelinge blykbaar verwag het nie (Jesaja hoofstuk 53; Sagaria 9:9; Handelinge 1:6-8). Daar is egter voorspel dat sy toekomstige koms met krag en groot gesag sou wees.—Daniël 2:44; 7:13, 14.

’n Sorgvuldige studie van Bybelprofesieë het denkende mense regoor die wêreld oortuig dat die Messias in die eerste eeu gekom het en dat hy sou terugkeer. Die bewyse bevestig dat sy voorspelde terugkeer, die begin van sy “teenwoordigheid”, in 1914 plaasgevind het (Matteus 24:3-14). b In daardie jaar is Jesus onsigbaar in die hemel as die Koning van God se Koninkryk gekroon. Hy sal weldra optree om die aarde van die gevolge van die opstand in Eden te bevry. Sy daaropvolgende Duisendjarige Heerskappy sal seëninge meebring vir almal wat geloof in hom stel as die beloofde Saad, die Messias, wat “die sonde van die wêreld wegneem”.—Johannes 1:29; Openbaring 21:3, 4.

Jehovah se Getuies sal graag hierdie bewyse met jou bespreek en uit die Bybel toon wat die Messias se heerskappy vir jou en jou geliefdes kan beteken.

[Voetnote]

a Vir meer besonderhede oor Daniël 9:25, sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 899-904, en Gee ag op Daniël se profesie!, bladsye 186-191, albei uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Vir meer besonderhede, sien hoofstukke 10 en 11 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Diagram/Prente op bladsy 6, 7]

455 v.G.J., “die woord te herstel” om Jerusalem

29 G.J., die Messias kom

483 jaar (69 profetiese weke)—Daniël 9:25

1914, die Messias word in die hemel gekroon

Die Messias sal binnekort goddeloosheid beëindig en die aarde ’n paradys maak