Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Teen watter drie gevare het Jesus in Matteus 5:22 gewaarsku?

In sy Bergpredikasie het Jesus Christus sy volgelinge gewaarsku: “Ek sê . . . vir julle dat elkeen wat toornig bly op sy broer, aan die geregshof rekenskap sal moet gee; maar elkeen wat sy broer met ’n onuitspreeklike woord van minagting aanspreek, sal aan die Hoogste Geregshof rekenskap moet gee; terwyl elkeen wat sê: ‘Jou veragtelike dwaas!’ aan die vurige Gehenna blootgestel sal wees.”—Matteus 5:22.

Jesus het dinge gebruik waarmee die Jode bekend was—die geregshof, die Hoogste Geregshof en die vurige Gehenna—om die volgende punt tuis te bring: hoe ernstiger die sonde wat gepleeg word, hoe swaarder is die straf wat opgelê word.

Eerstens het Jesus gesê dat almal wat toornig bly op sy broer, aan “die geregshof”, die plaaslike hof, rekenskap sal moet gee. Volgens oorlewering is hierdie howe opgestel in stede waar die volwasse manlike bevolking 120 of meer was (Matteus 10:17; Markus 13:9). Die regters van so ’n hof het die gesag gehad om oordeel te vel, selfs oor moordsake (Deuteronomium 16:18; 19:12; 21:1, 2). Jesus het dus getoon dat ’n persoon wat smeulende toorn teenoor sy broer koester, ’n ernstige sonde pleeg.

Daarna het Jesus gesê dat iemand wat “sy broer met ’n onuitspreeklike woord van minagting aanspreek, . . . aan die Hoogste Geregshof rekenskap [sal] moet gee”. Die Griekse woord rha·kaʹ (voetnoot in NW), wat vertaal word as “’n onuitspreeklike woord van minagting”, beteken “leeg” of “leeghoofdig”. Volgens The New Thayer’s Greek-English Lexicon of the New Testament was daardie woord “’n skelwoord wat deur die Jode in die tyd van Christus gebruik is”. Jesus het dus gewaarsku dat dit ’n ernstige oortreding is om haat teenoor jou medemens met ’n neerhalende woord van minagting uit te spreek. Jesus het as ’t ware gesê dat iemand wat so ’n woord gebruik, nie net deur die plaaslike hof geoordeel sou word nie, maar deur die Hoogste Geregshof, die hele Sanhedrin—die regterlike liggaam in Jerusalem wat bestaan het uit die hoëpriester en 70 ouer manne en skrifgeleerdes.—Markus 15:1.

Laastens het Jesus verduidelik dat iemand wat ’n ander met die woorde: “Jou veragtelike dwaas!” aanspreek, aan die vurige Gehenna blootgestel sou wees. Die woord “Gehenna” kom van die Hebreeuse woorde geh hin·nomʹ, wat die “vallei van Hinnom” beteken, wat na die weste en suide van eertydse Jerusalem geleë was. In Jesus se dag het dit ’n plek geword waar vullis verbrand is, insluitende die lyke van verfoeilike misdadigers wat nie ’n behoorlike begrafnis waardig geag is nie. Die woord “Gehenna” was dus ’n gepaste simbool van algehele vernietiging.

Wat het die uitdrukking “veragtelike dwaas” dan beteken? Die woord wat hier gebruik is, het baie geklink soos ’n Hebreeuse term wat “opstandig” of “oproerig” beteken. Dit beskryf iemand wat sonder inbors is, ’n afvallige en iemand wat teen God in opstand kom. Die persoon wat sy broer ’n “veragtelike dwaas” noem, sê dus in werklikheid dat sy broer ’n straf moet ontvang wat gepas is vir iemand wat teen God in opstand kom, dit wil sê ewige vernietiging. Uit God se oogpunt verdien die een wat so ’n veroordeling teen ’n ander uitspreek, moontlik self daardie swaar straf—ewige vernietiging.—Deuteronomium 19:17-19.

Gevolglik het Jesus ’n hoër standaard vir sy volgelinge gestel as die beginsels waarop die Mosaïese Wet gegrond was. Hoewel mense geglo het dat ’n moordenaar “aan die geregshof rekenskap [sal] moet gee”, het Jesus dit ’n stap verder geneem. Hy het geleer dat sy volgelinge nie eers gevoelens van vyandigheid teenoor hulle broers moet koester nie.—Matteus 5:21, 22.