Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vroeë bevestiging van die Bybelkanon

Vroeë bevestiging van die Bybelkanon

Vroeë bevestiging van die Bybelkanon

“DIT lyk asof elke reël spesifiek geskryf is om die nuuskierigheid te prikkel van dié wat in die geskiedenis van die vroeë Christelike godsdiens belangstel.” So word ’n eertydse dokument beskryf. Kan jy dink watter dokument dit is?

Dit is een waarvan jy miskien al gehoor het—die Muratori-fragment. Hoe dit ook al sy, jy wonder dalk: ‘Wat is so spesiaal omtrent die Muratori-fragment?’ Dit is die oudste bestaande kanon, of gesaghebbende lys van boeke van die Christelike Griekse Geskrifte.

Jy aanvaar dit moontlik as vanselfsprekend dat sekere boeke in die Bybel hoort. Maar sal dit jou verbaas om uit te vind dat daar ’n tyd was toe daar twyfel bestaan het oor watter individuele boeke deel daarvan moes uitmaak? Die Muratori-fragment, of kanon, bevat ’n lys geskrifte wat as geïnspireerd beskou word. Soos jy jou kan indink, is die presiese inhoud van die Bybel van die allergrootste belang. Wat het hierdie dokument dus onthul omtrent die boeke wat nou die Christelike Griekse Geskrifte vorm? Wel, kom ons kyk eers na ’n bietjie van die agtergrond van die dokument.

Die ontdekking daarvan

Die Muratori-fragment is deel van ’n manuskripkodeks van 76 perkamentvelle, wat elk 27 by 17 sentimeter groot is. Ludovico Antonio Muratori (1672-1750), ’n vername Italiaanse geskiedskrywer, het dit in die Ambrosiaanse Biblioteek, Milaan, Italië, ontdek. Muratori het sy vonds in 1740 gepubliseer, vandaar die naam—Muratori-fragment. Die kodeks is blykbaar in die agtste eeu in die eertydse klooster van Bobbio, naby Piacenza, Noord-Italië, geskryf. Dit is aan die begin van die 17de eeu na die Ambrosiaanse Biblioteek geneem.

Die Muratori-fragment bestaan uit 85 teksreëls wat op bladsye 10 en 11 van die kodeks gevind kan word. Die teks is in Latyn, klaarblyklik oorgeskryf deur ’n kopiïs wat nie baie gesteld was op noukeurigheid nie. Maar party van sy foute is opgespoor toe dit vergelyk is met dieselfde teks wat in vier manuskripte uit die 11de en 12de eeu voorkom.

Wanneer is dit op skrif gestel?

Jy wonder dalk wanneer die inligting in die Muratori-fragment oorspronklik op skrif gestel is. Dit wil voorkom of die oorspronklike Griekse manuskrip eeue voor die Fragment-teks opgestel is, wat ’n Latynse vertaling van die Grieks is. Hier is ’n leidraad wat help met die datering van die oorspronklike. Die Fragment maak melding van ’n nie-Bybelse boek, die Herder, en sê dat ’n man met die naam Hermas dit “redelik onlangs, in ons tyd, in die stad Rome” geskryf het. Volgens geleerdes is die Herder van Hermas tussen 140 en 155 G.J. voltooi. Jy kan dus sien waarom die Griekse oorspronklike van die Latynse Muratori-fragment tussen 170 en 200 G.J. gedateer word.

Die direkte en indirekte verwysings na Rome dui daarop dat dit moontlik in daardie stad op skrif gestel is. Maar die identiteit van die skrywer is onseker. Klemens van Aleksandrië, Melito van Sardis en Polukrates van Efese is al as moontlike skrywers aangegee. Maar volgens die meeste geleerdes was dit Hippolitus, ’n produktiewe skrywer wat in Grieks geskryf en in Rome gewoon het gedurende die tydperk waarin die inhoud van die Muratori-fragment waarskynlik op skrif gestel is. Hoewel jy dit dalk as ’n interessante brokkie inligting beskou, wil jy waarskynlik graag meer weet oor die inhoud daarvan wat dit so waardevol maak.

Die inligting wat dit bevat

Die teks is nie bloot ’n lys van die boeke van die Christelike Griekse Geskrifte nie. Dit bevat ook kommentare oor die boeke en hulle onderskeie skrywers. As jy die teks lees, sal jy sien dat die eerste reëls van die manuskrip nie daar is nie, en dit lyk ook of dit skielik eindig. Dit begin deur die Evangelie van Lukas te noem, en die dokument meld dat die skrywer van hierdie Bybelboek ’n geneesheer was (Kolossense 4:14). Dit sê dat Lukas die derde Evangelie is, wat toon dat die ontbrekende deel aan die begin waarskynlik na die Evangelies van Matteus en Markus verwys het. As jy tot dié slotsom kom, sal jy steun hiervoor vind in die Muratori-fragment, wat sê dat die vierde Evangelie dié van Johannes is.

Die Fragment bevestig dat die boek Handelinge van die Apostels deur Lukas aan die “hoogedele Teofilus” geskryf is (Lukas 1:3; Handelinge 1:1). Daarna gee dit ’n lys van die briewe van die apostel Paulus aan die Korintiërs (twee), aan die Efesiërs, aan die Filippense, aan die Kolossense, aan die Galasiërs, aan die Tessalonisense (twee), aan die Romeine, aan Filemon, aan Titus en aan Timoteus (twee). Die brief van Judas en twee briewe van Johannes word ook onder die geïnspireerde boeke genoem. Daar is reeds indirek verwys na die apostel Johannes se eerste brief, tesame met sy Evangelie. Apokalips, of Openbaring, verskyn laaste op die lys boeke wat as geïnspireerd beskou word.

Dit is interessant dat die Fragment ’n Apokalips van Petrus noem, maar sê dat dit volgens party nie deur Christene gelees moet word nie. Die skrywer waarsku dat ongeïnspireerde geskrifte reeds in sy dag in omloop was. Die Muratori-fragment verduidelik dat dit nie aanvaar moet word nie, “want dit is nie gepas om gal met heuning te meng nie”. Die dokument meld ook ander tekste wat nie onder die heilige geskrifte ingesluit moes word nie. Dit was óf omdat hulle ná die apostoliese tydperk geskryf is, soos die Herder van Hermas, óf omdat hulle geskryf is om dwaalleringe te steun.

Jy het dalk uit die voorgaande gesien dat die brief aan die Hebreërs, Petrus se twee briewe en dié van Jakobus nie in hierdie lys van geïnspireerde Bybelboeke genoem word nie. Maar met verwysing na die gehalte van die werk van die kopiïs wat die manuskrip oorgeskryf het, het dr. Geoffrey Mark Hahneman gesê dat dit “redelik is om aan te voer dat die Fragment moontlik ander verwysings bevat het wat nou verlore is, en dat Jakobus en Hebreërs (en 1 Petrus) dalk onder hulle was”.—The Muratorian Fragment and the Development of the Canon.

Die Muratori-fragment bevestig dus dat die meeste van die boeke wat nou in die Christelike Griekse Geskrifte gevind word, reeds in die tweede eeu G.J. as kanonieke boeke beskou is. Die kanonisiteit van die Bybelboeke—dit wil sê hulle reg om deel van die goddelike biblioteek te wees—hang natuurlik nie daarvan af of dit op ’n sekere lys van die ou tyd verskyn nie. Dit is die inhoud daarvan wat bewys lewer dat die Bybelboeke ’n produk van die heilige gees is. Hulle almal ondersteun die outeurskap van Jehovah God en is in volkome harmonie met mekaar. Die harmonie en konsekwentheid van die 66 kanonieke boeke van die Bybel getuig van hulle eenheid en volkomenheid. Dit sal dus goed wees as jy dit aanneem, soos dit waarlik is, as Jehovah se Woord van geïnspireerde waarheid, wat tot in ons dag bewaar is.—1 Tessalonisense 2:13; 2 Timoteus 3:16, 17.

[Prent op bladsy 13]

Ludovico Antonio Muratori

[Prent op bladsy 14]

Die Ambrosiaanse Biblioteek

[Prent op bladsy 15]

Die Muratori-fragment

[Erkenning]

Diritti Biblioteca Ambrosiana. Vietata la riproduzione. Aut. No. F 157 / 05

[Foto-erkennings op bladsy 13]

Fragmente: Diritti Biblioteca Ambrosiana. Vietata la riproduzione. Aut. No. F 157 / 05; Muratori, gebaseer op lynkuns: © 2005 Brown Brothers