Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wandel op die pad van toenemende lig

Wandel op die pad van toenemende lig

Wandel op die pad van toenemende lig

“Die pad van die regverdiges is soos die helder lig wat al hoe helderder word totdat dit heeltemal dag is.”—SPREUKE 4:18.

1, 2. Wat het God se volk ondervind as gevolg van toenemende geestelike lig van Jehovah af?

 WIE kan die uitwerking wat die opkomende son op die duisternis van die nag het, beter beskryf as die Bron van lig self, Jehovah God? (Psalm 36:9). ‘Wanneer die oggendlig die eindes van die aarde vasgryp’, sê God, ‘verander die aarde homself soos klei onder ’n seël en neem dinge hulle plek in asof in klere’ (Job 38:12-14). Namate die son al hoe helderder skyn, begin dinge op die aarde vorm aanneem en duideliker word, net soos sagte klei ’n verandering ondergaan wanneer ’n seël se afdruk daarop aangebring word.

2 Jehovah is ook die Bron van geestelike lig (Psalm 43:3). Terwyl die wêreld in digte duisternis verkeer, hou die ware God aan om lig op sy volk te werp. Met watter gevolg? Die Bybel antwoord: “Die pad van die regverdiges is soos die helder lig wat al hoe helderder word totdat dit heeltemal dag is” (Spreuke 4:18). Toenemende lig van Jehovah af verlig steeds die pad van sy volk. Dit verfyn hulle op organisatoriese, leerstellige en sedelike gebied.

Verligting lei tot organisatoriese verfynings

3. Wat word in Jesaja 60:17 beloof?

3 Jehovah het deur die profeet Jesaja voorspel: “In die plek van die koper sal ek goud bring, en in die plek van die yster sal ek silwer bring, en in die plek van die hout koper, en in die plek van die klippe yster” (Jesaja 60:17). Net soos dit op verbetering dui wanneer materiaal van ’n laer gehalte vervang word met dié van ’n hoër gehalte, het Jehovah se Getuies gedurende “die voleinding van die stelsel van dinge”, oftewel “die laaste dae”, verbeteringe in hulle organisatoriese reëlings ondervind.—Matteus 24:3; 2 Timoteus 3:1.

4. Watter reëling is in 1919 ingestel, en wat was die voordeel daarvan?

4 In die vroeë deel van die laaste dae het die gemeentes van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, ouer manne en diakens demokraties verkies. Party ouer manne het egter nie die ware evangelisasiegees gehad nie. Party was nie net teësinnig om self aan die predikingswerk deel te neem nie, maar het ook ander ontmoedig om dit te doen. In 1919 is ’n nuwe amp dus in elke gemeente ingestel—dié van ’n diensleier. Die diensleier is nie deur die gemeente verkies nie, maar is teokraties in sy posisie aangestel deur die takkantoor van God se volk. Die verantwoordelikhede van die aangestelde diensleier het ingesluit dat hy die predikingswerk organiseer, gebied toewys en deelname aan die veldbediening aanmoedig. Gedurende die daaropvolgende jare het die Koninkrykspredikingswerk ’n groot hupstoot gekry.

5. Watter verfyning was daar in die 1920’s?

5 Almal in die gemeente is verder besiel deur die aansporing: “Adverteer, adverteer, adverteer die Koning en sy koninkryk”, wat in 1922 tydens die Bybelstudente se byeenkoms by Cedar Point, Ohio, VSA, gegee is. Teen 1927 was velddiens tot so ’n mate georganiseer dat Sondag aangewys is as die beste dag om die predikingswerk van huis tot huis te doen. Waarom Sondag? Omdat dit die dag was waarop die meeste mense nie gewerk het nie. Jehovah se Getuies openbaar vandag dieselfde gees deur mense te probeer besoek op tye wanneer hulle heel waarskynlik by die huis sal wees, soos oor naweke en in die aand.

6. Watter resolusie is in 1931 aangeneem, en watter uitwerking het dit op die Koninkrykspredikingswerk gehad?

6 Iets wat groot stukrag aan die Koninkrykspredikingswerk verleen het, was ’n resolusie wat op Sondagmiddag 26 Julie 1931 aangeneem is, eers by ’n byeenkoms in Columbus, Ohio, VSA, en daarna regoor die wêreld. Die resolusie het deels gesê: “Ons is knegte van Jehovah God wat beveel is om ’n werk in sy naam te doen, en om in gehoorsaamheid aan sy bevel, van Jesus Christus te getuig en aan die mense bekend te maak dat Jehovah die ware en almagtige God is; daarom neem ons met vreugde die naam aan wat deur die mond van die Here God gespreek is, en ons wil graag bekend staan as en genoem word by die naam Jehovah se getuies” (Jesaja 43:10). Hoe duidelik het daardie nuwe naam tog die vernaamste bedrywigheid beskryf van almal wat daardie naam dra! Ja, Jehovah het werk gehad vir al sy knegte. Die algemene reaksie was een van groot entoesiasme!

7. Watter verandering is in 1932 aangebring, en waarom?

7 Baie ouer manne het hulle nederig toegelê op die predikingswerk. Maar op party plekke het die verkose ouer manne hulle grootliks verset teen die idee dat almal in die gemeente aan die openbare bediening moet deelneem. Verdere verbeteringe het egter voorgelê. In 1932 is die gemeentes deur middel van Die Wagtoring in kennis gestel dat ouer manne en diakens nie meer verkies moes word nie. Hulle moes eerder ’n dienskomitee verkies wat uit geestelike manne bestaan wat aan die openbare predikingswerk deelneem. Toesig is dus toevertrou aan diegene wat aktief aan die bediening deelgeneem het, en die werk het gevorder.

Toenemende lig bring verdere verbeteringe mee

8. Watter verfyning was daar in 1938?

8 Die lig het “al hoe helderder” geword. In 1938 is verkiesings heeltemal afgeskaf. Alle knegte in die gemeente moes teokraties aangestel word onder die toesig van “die getroue en verstandige slaaf” (Matteus 24:45-47). Die verandering is geredelik deur feitlik al die gemeentes van Jehovah se Getuies aanvaar, en die getuieniswerk het vrug bly dra.

9. Watter reëling is in 1972 ingestel, en waarom was dit ’n verbetering?

9 Vanaf 1 Oktober 1972 het nog ’n aanpassing in gemeentelike toesig in werking getree. Die reëling dat ’n liggaam van ouer manne toesig sou hou, en nie meer net een gemeentekneg, of -opsiener, nie, is regoor die wêreld in die gemeentes van Jehovah se Getuies ingestel. Hierdie nuwe reëling was ’n groot aansporing vir geestelik volwasse manne om aan die vereistes te voldoen om die leiding in die gemeente te neem (1 Timoteus 3:1-7). Gevolglik het ’n groter aantal broers ondervinding daarin opgedoen om na gemeentelike verantwoordelikhede om te sien. Watter waardevolle werk het hulle tog as herders gedoen om die talle nuwelinge te help wat Bybelwaarheid aangeneem het!

10. Watter reëling is in 1976 ingestel?

10 Die lede van die Bestuursliggaam is in ses komitees georganiseer, en vanaf 1 Januarie 1976 het al die bedrywighede van die organisasie en van die gemeentes regoor die aarde onder die toesig van hierdie komitees gekom. Wat ’n seën was dit tog om al die aspekte van die Koninkrykswerk deur ’n “veelheid van raadgewers” te laat rig!—Spreuke 15:22; 24:6.

11. Watter verfyning was daar in 1992, en waarom?

11 In 1992 was daar nog ’n verfyning, een wat ooreenkom met wat gebeur het nadat die Israeliete en ander uit ballingskap in Babilon teruggekeer het. Destyds was daar nie genoeg Leviete om tempeldiens te doen nie. Die nie-Israelitiese Netinim is derhalwe meer gegee om te doen om die Leviete te help. In ooreenstemming hiermee het party van die “ander skape” in 1992 groter diensverantwoordelikhede ontvang om “die getroue en verstandige slaaf”-klas te help om na hulle toenemende aardse belange om te sien. Hulle is aangestel as helpers vir die Bestuursliggaam se komitees.—Johannes 10:16.

12. Hoe het Jehovah vrede as ons opsieners aangestel?

12 Wat was die resultaat van dit alles? “Ek sal vrede as jou opsieners aanstel en regverdigheid as jou taakgewers”, sê Jehovah (Jesaja 60:17). Daar is vandag “vrede” onder Jehovah se knegte, en liefde vir “regverdigheid” het hulle ‘taakgewer’ geword—oftewel die krag wat hulle aandryf om God te dien. Hulle is goed georganiseerd om die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk uit te voer.—Matteus 24:14; 28:19, 20.

Jehovah verlig die pad wat leerstellings betref

13. Hoe het Jehovah die pad van sy volk in die 1920’s verlig wat leerstellings betref?

13 Ook wat leerstellings betref, werp Jehovah al hoe meer lig op die pad van sy volk. Openbaring 12:1-9 voorsien ’n voorbeeld hiervan. Die verslag verwys na drie simboliese karakters—“’n vrou” wat swanger is en geboorte gee, ’n “draak” en “’n seun, ’n manlike kind”. Weet jy wat elkeen voorstel? Hulle is geïdentifiseer in ’n artikel met die titel “Geboorte van die nasie”, wat in The Watch Tower van 1 Maart 1925 verskyn het. Daardie artikel het God se volk duideliker insig gegee in die profesieë oor die geboorte van die Koninkryk, insig wat dit duidelik gemaak het dat daar twee onderskeie organisasies bestaan—Jehovah s’n en Satan s’n. Toe, in 1927/28, het God se volk besef dat Kersfees- en verjaarsdagvierings onskriftuurlik is en het hulle opgehou om dit te vier.

14. Watter leerstellige waarhede het in die 1930’s duidelik geword?

14 In die 1930’s is verdere lig op drie leerstellige waarhede gewerp. Die Bybelstudente het jare lank geweet dat die “groot menigte”, wat in Openbaring 7:9-17 genoem word, en die 144 000, wat saam met Christus as konings en priesters sal heers, twee verskillende groepe is (Openbaring 5:9, 10; 14:1-5). Maar die identiteit van die groot menigte het onduidelik gebly. Net soos onherkenbare voorwerpe vorm en kleur aanneem namate die oggendlig helderder word, is die groot menigte in 1935 geïdentifiseer as diegene wat “die groot verdrukking” oorleef, met die vooruitsig om vir ewig op die aarde te lewe. Later in dieselfde jaar is duidelikheid gegee oor ’n saak wat skoolgaande kinders van Jehovah se Getuies in ’n aantal lande geraak het. Terwyl patriotisme regoor die wêreld hoogty gevier het, het die Getuies besef dat vlagsaluering veel meer as net ’n formaliteit is. In die volgende jaar is nog ’n leerstellige waarheid verduidelik, naamlik dat Christus aan ’n folterpaal gesterf het, nie aan ’n kruis nie.—Handelinge 10:39.

15. Wanneer en hoe is die heiligheid van bloed op die voorgrond gebring?

15 Onmiddellik ná die Tweede Wêreldoorlog, waartydens dit die standaardprosedure geword het om gewonde soldate met bloedoortappings te behandel, is daar meer lig op die heiligheid van bloed gewerp. The Watchtower van 1 Julie 1945 het “alle aanbidders van Jehovah wat vir ewig in sy nuwe wêreld van geregtigheid wil lewe, [aangespoor] om die heiligheid van bloed te respekteer en om hulle te onderwerp aan God se regverdige beslissings wat hierdie lewensbelangrike saak betref”.

16. Wanneer is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Engels vrygestel, en wat is twee uitsonderlike kenmerke daarvan?

16 In 1946 is daar besef dat ’n nuwe Bybelvertaling nodig is, een wat van die jongste vakkennis gebruik kon maak en wat nie verderf is deur leerstellings wat op die tradisies van die Christendom gegrond is nie. In Desember 1947 is daar begin met die werk aan hierdie vertaling. In 1950 is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Engels vrygestel. Die Hebreeuse Geskrifte is vanaf 1953 stelselmatig in vyf boekdele in Engels uitgegee. Die laaste boekdeel is in 1960 vrygestel, ’n bietjie meer as 12 jaar nadat die vertaalprojek begin het. Die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif is in 1961 in een boek in Engels uitgegee. Hierdie vertaling, wat nou in baie tale beskikbaar is, het uitsonderlike kenmerke. Dit herstel die goddelike naam, Jehovah, in sy plek. Verder het die letterlike vertaling van die oorspronklike geskrifte dit moontlik gemaak om voortdurend ’n duideliker begrip van goddelike waarheid te verkry.

17. Waarop is toenemende lig in 1962 gewerp?

17 ’n Verduideliking van “die hoër owerhede” van Romeine 13:1 en die mate waartoe ’n Christen aan hulle onderdanig moet wees, is in 1962 gegee. ’n Deeglike studie van die 13de hoofstuk van Romeine en Bybeltekste soos Titus 3:1, 2 en 1 Petrus 2:13, 17 het dit duidelik gemaak dat die uitdrukking “hoër owerhede” nie na Jehovah God en Jesus Christus verwys nie, maar na menslike regeringsowerhede.

18. Watter waarhede het in die 1980’s duideliker geword?

18 In die daaropvolgende jare het die pad van die regverdiges steeds al hoe helderder geword. In 1985 is lig gewerp op wat dit beteken om regverdig verklaar te word “vir die lewe” en regverdig verklaar te word as ’n vriend van God (Romeine 5:18; Jakobus 2:23). Die betekenis van die Christelike Jubeljaar is in 1987 breedvoerig verduidelik.

19. Hoe het Jehovah in onlangse jare meer geestelike lig aan sy volk voorsien?

19 In 1995 is ’n duideliker begrip verkry van die skeiding van “die skape” en “die bokke”. Esegiël se tempelvisioen, waarvan die vervulling reeds plaasvind, is in 1998 in besonderhede verduidelik. In 1999 is meer lig gewerp op wanneer en hoe ‘die walglike ding in ’n heilige plek staan’ (Matteus 24:15, 16; 25:32). En in 2002 is ’n beter begrip verkry van wat dit beteken om God “met gees en waarheid [te] aanbid”.—Johannes 4:24.

20. Op watter ander gebied het God se volk verfynings ondervind?

20 Benewens die organisatoriese en leerstellige verfynings, was daar verfynings ten opsigte van Christelike gedrag. Byvoorbeeld, in 1973 is daar besef dat tabakgebruik ’n “verontreiniging van die vlees” is en dat dit as ’n ernstige oortreding beskou moes word (2 Korintiërs 7:1). ’n Dekade later het Die Wagtoring van 1 Oktober 1983 ons standpunt oor die gebruik van vuurwapens duidelik gemaak. Dit is net ’n paar voorbeelde van die toenemende lig in ons tyd.

Bly wandel op die pad van toenemende lig

21. Watter gesindheid sal ons help om op die pad van toenemende lig te bly wandel?

21 “Wanneer ’n verandering kom, kan dit moeilik wees om dit te aanvaar en jou daarby aan te pas”, erken ’n ouer man wat al jare lank dien. Wat het hom gehelp om die talle verfynings te aanvaar wat hy gesien het in die 48 jaar wat hy al ’n Koninkryksverkondiger is? Hy antwoord: “Die regte gesindheid is die sleutel. As ’n mens weier om ’n verfyning te aanvaar, beteken dit dat jy agterbly terwyl die organisasie vorentoe beweeg. Wanneer ek dit moeilik vind om veranderinge te aanvaar, dink ek na oor Petrus se woorde aan Jesus: ‘Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe.’ Dan vra ek my af: ‘Waarheen sal ek weggaan—na die duisternis van die wêreld daarbuite?’ Dit help my om stewig vas te hou aan God se organisasie.”—Johannes 6:68.

22. Hoe vind ons daarby baat om in die lig te wandel?

22 Die wêreld om ons verkeer beslis in digte duisternis. Namate Jehovah aanhou om lig op sy volk te werp, word die gaping tussen hulle en mense van die wêreld al hoe groter. Wat doen hierdie lig vir ons? Wel, net soos ’n slaggat in ’n donker pad nie verdwyn wanneer ’n mens met ’n lig daarop skyn nie, laat lig uit God se Woord nie valstrikke verdwyn nie. Maar die lig wat God voorsien, help ons beslis om dit te vermy sodat ons kan voortgaan om op die pad van toenemende lig te wandel. Laat ons dan aanhou om aandag te skenk aan Jehovah se profetiese woord, “soos aan ’n lamp wat in ’n donker plek skyn”.—2 Petrus 1:19.

Onthou jy?

• Watter organisatoriese verbeteringe het Jehovah sy volk laat aanbring?

• Tot watter leerstellige verfynings het toenemende lig gelei?

• Watter aanpassings het jy persoonlik gesien, en wat het jou gehelp om dit te aanvaar?

• Waarom wil jy op die pad van toenemende lig bly wandel?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 27]

Die byeenkoms in 1922 by Cedar Point, Ohio, het die Bybelstudente besiel om God se werk te doen

[Prent op bladsy 29]

Die Engelse “Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte” wat in 1950 deur N. H. Knorr vrygestel is

[Foto-erkenning op bladsy 26]

© 2003 BiblePlaces.com