Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Wat beteken die pers driehoek?”

“Wat beteken die pers driehoek?”

“Wat beteken die pers driehoek?”

“’N PAAR dae gelede het ek ’n eksemplaar van Die Wagtoring by een van Jehovah se Getuies gekry”, het ’n staatsamptenaar geskryf wat by die Departement van Justisie in Seoel, Republiek van Korea, werk. Hy het verder gesê: “Toe ek dit lees, het ek ’n paar dinge omtrent die vervolging van Jehovah se Getuies onder die Nazi- en Kommunistiese regime uitgevind. Maar ek het ’n vraag. Op die voorbladfoto is daar Getuies van Jehovah met ’n omgekeerde pers driehoek op die linkerkant van hulle baadjies. Wat beteken die pers driehoek?”

Onder die Nazi-regime in Duitsland het Jehovah se Getuies geweier om “Heil Hitler” te sê, en hulle het hulle neutraliteit in politieke en militêre aangeleenthede gehandhaaf. Die Nazi’s het hulle dus wreed vervolg en sowat 12 000 Getuies vir verskillende tydperke na tronke en konsentrasiekampe gestuur. Ongeveer 2 000 van hulle het gesterf, waarvan honderde tereggestel is.

Wat het die pers driehoek op hulle gevangenisklere beteken? “Die verskillende kategorieë van gevangenes in die [Nazi-]kampe het elk ’n spesiale onderskeidende kenteken gehad”, verduidelik die boek Anatomy of the SS State. “Die eenvormige identifiseringstelsel wat voor die oorlog ingestel is, het behels dat ’n driehoekige stukkie materiaal aan elke gevangene se uniform vasgewerk word, en die kleur daarvan het van [die gevangene] se kategorie afgehang: rooi vir politieke gevangenes, pers vir Jehovah se Getuies, swart vir diegene wat anti-sosiaal was, groen vir misdadigers, pienk vir homoseksuele en blou vir emigrante. Joodse gevangenes het buiten die gekleurde driehoek ook ’n geel driehoek gehad wat op so ’n manier bo-op die gekleurde driehoek vasgewerk is dat dit die sespuntige Dawidster gevorm het.”

“As die morele betekenis daarvan in die toekoms deur baie mense onthou word”, het professor John K. Roth in sy boek Holocaust Politics geskryf, “kan die pers driehoek ’n skild teen rampspoed word, ’n driehoekige skild wat ons bewus maak van die belangrikheid daarvan om ons op ’n manier te gedra wat die grootste respek verdien.” Jehovah se Getuies het die bekroonde dokumentêre film Jehovah’s Witnesses Stand Firm Against Nazi Assault vervaardig. Jy kan gerus een van Jehovah se Getuies vra om te reël dat jy na hierdie video kyk.