Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Administrasie om God se voorneme te verwesenlik

’n Administrasie om God se voorneme te verwesenlik

’n Administrasie om God se voorneme te verwesenlik

“[God] werk [alles] volgens die raadsbesluit van sy wil.”—EFESIËRS 1:11.

1. Waarom sal al die gemeentes van Jehovah se Getuies op 12 April 2006 vergader?

 OP Woensdagaand 12 April 2006 sal sowat 16 miljoen mense vergader om die Here se Aandmaal te herdenk. In elke vergaderplek sal daar ’n tafel wees met ongesuurde brood, wat Christus se liggaam voorstel, en rooiwyn, wat ’n simbool is van sy vergote bloed. Teen die einde van ’n toespraak wat die betekenis van die Herdenking van Jesus se dood verduidelik, sal hierdie embleme—eers die brood en dan die wyn—omgestuur word by almal wat teenwoordig is. In betreklik min gemeentes van Jehovah se Getuies sal een of meer van die aanwesiges van die embleme gebruik. Maar in baie gevalle sal niemand daarvan gebruik nie. Waarom gebruik net ’n paar Christene, dié wat hoop om in die hemel te lewe, daarvan, terwyl die meerderheid, dié wat hoop om vir ewig op die aarde te lewe, nie daarvan gebruik nie?

2, 3. (a) Hoe het Jehovah ooreenkomstig sy voorneme geskep? (b) Met watter doel het Jehovah die aarde en die mens geskep?

2 Jehovah is ’n God met ’n voorneme. Hy sal sy voorneme verwesenlik deur “alles [te] werk volgens die raadsbesluit van sy wil” (Efesiërs 1:11). Hy het heel eerste sy enigverwekte Seun geskep (Johannes 1:1, 14; Openbaring 3:14). Daarna het Jehovah, deur hierdie Seun, ’n gesin van engeleseuns en uiteindelik die fisiese heelal geskep, met inbegrip van die aarde en die mens daarop.—Job 38:4, 7; Psalm 103:19-21; Johannes 1:2, 3; Kolossense 1:15, 16.

3 Jehovah het nie die aarde as ’n toetsterrein geskep om sy gesin van geesseuns in die hemel te vergroot, soos baie kerke van die Christendom leer nie. Hy het dit met ’n besliste doel geskep, naamlik “om bewoon te word” (Jesaja 45:18). God het die aarde vir die mens geskep en die mens vir die aarde (Psalm 115:16). Die hele aarde sou ’n paradys word, vol regverdige mense wat dit sou bewerk en daarvoor sou sorg. Die vooruitsig om uiteindelik hemel toe te gaan, is nooit aan die eerste mensepaar voorgehou nie.—Genesis 1:26-28; 2:7, 8, 15.

Jehovah se voorneme word teëgestaan

4. Hoe is die manier waarop Jehovah sy soewereiniteit uitoefen, heel aan die begin van die mensegeskiedenis bevraagteken?

4 ’n Geesseun van God het in opstand gekom en Jehovah se voorneme probeer dwarsboom, waardeur hy die goddelike gawe van wilsvryheid misbruik het. Hy het die vrede versteur wat almal geniet wat hulle uit liefde aan Jehovah se soewereiniteit onderwerp. Satan het die eerste mensepaar oorreed om ’n weg van onafhanklikheid van God in te slaan (Genesis 3:1-6). Hy het nie geweier om Jehovah se mag te erken nie, maar hy het die manier waarop Hy sy soewereiniteit uitoefen, en gevolglik Sy reg om te regeer, bevraagteken. Die fundamentele geskil oor Jehovah se soewereiniteit is dus heel aan die begin van die mensegeskiedenis hier op die aarde geopper.

5. Watter sekondêre geskil is geopper, en wie is daarby betrek?

5 ’n Sekondêre geskil wat Satan in die dae van Job geopper het, hou ten nouste verband met hierdie primêre geskil oor universele soewereiniteit. Satan het die beweegrede waarmee Jehovah se skepsele hulle aan Hom onderwerp en Hom dien, in twyfel getrek. Satan het te kenne gegee dat hulle dit om selfsugtige redes doen en dat hulle, as hulle beproef word, teen God sou draai (Job 1:7-11; 2:4, 5). Hoewel hierdie uitdaging met betrekking tot ’n menslike kneg van Jehovah geopper is, is die geesseuns van God, selfs Jehovah se enigverwekte Seun, ook daarby betrek.

6. Hoe het Jehovah in ooreenstemming met sy voorneme en sy naam opgetree?

6 In ooreenstemming met sy voorneme en die betekenis van sy naam het Jehovah homself ’n Profeet en ’n Redder laat word. a Hy het vir Satan gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond” (Genesis 3:15). Deur middel van die Saad van sy “vrou”, of die hemelse deel van sy organisasie, sou Jehovah ’n antwoord op Satan se uitdaging voorsien en aan Adam se nakomelinge hoop op redding en lewe gee.—Romeine 5:21; Galasiërs 4:26, 31.

“Die heilige geheim van sy wil”

7. Watter voorneme het Jehovah deur middel van die apostel Paulus geopenbaar?

7 In sy brief aan Christene in Efese verduidelik die apostel Paulus mooi hoe Jehovah dinge reël om sy voorneme te verwesenlik. Paulus het geskryf: “Hy [het] die heilige geheim van sy wil aan ons bekend gemaak . . . Dit is volgens sy welbehae wat hy in homself voorgeneem het om aan die voleinding van die vasgestelde tye ’n administrasie te hê, naamlik om alles weer byeen te bring in die Christus, die dinge in die hemele en die dinge op die aarde” (Efesiërs 1:9, 10). Jehovah se glorieryke voorneme is om ’n verenigde heelal teweeg te bring wat bewoon word deur skepsele wat hulle uit liefde aan sy soewereiniteit onderwerp (Openbaring 4:11). Sodoende sal sy naam geheilig word, sal daar bewys word dat Satan ’n leuenaar is en sal God se wil geskied, “soos in die hemel, so ook op die aarde”.—Matteus 6:10.

8. Wat beteken die woord wat as “administrasie” vertaal word?

8 Jehovah se “welbehae”, of voorneme, sou deur middel van “’n administrasie” verwesenlik word. Paulus het ’n woord gebruik wat letterlik “huishoudelike bestuur” beteken. Dit verwys nie na ’n regering, soos die Messiaanse Koninkryk nie, maar na ’n manier om dinge te bestuur. b Die wonderlike manier waarop Jehovah dinge sou bewerkstellig om sy voorneme te verwesenlik, het ’n “heilige geheim” behels wat deur die eeue heen progressief bekend gemaak sou word.—Efesiërs 1:10; 3:9, voetnote in NW.

9. Hoe het Jehovah die heilige geheim van sy wil progressief geopenbaar?

9 Jehovah het deur middel van ’n reeks verbonde geleidelik geopenbaar hoe sy voorneme aangaande die Saad wat in Eden belowe is, verwesenlik sou word. Sy verbondsbelofte aan Abraham het geopenbaar dat die beloofde Saad in Abraham se geslagslyn na die aarde toe sou kom en die middel sou wees waardeur “al die nasies van die aarde” hulleself sou seën. Daardie verbond het ook aangedui dat daar ander lede benewens die vernaamste lid van die saad sou wees (Genesis 22:17, 18). Die Wetsverbond wat met vleeslike Israel gesluit is, het Jehovah se voorneme geopenbaar om “’n koninkryk van priesters” te hê (Eksodus 19:5, 6). Die verbond met Dawid het getoon dat die Saad tot onbepaalde tyd die Hoof van ’n Koninkryk sou wees (2 Samuel 7:12, 13; Psalm 89:3, 4). Nadat die Wetsverbond die Jode na die Messias gelei het, het Jehovah verdere aspekte van die verwesenliking van sy voorneme geopenbaar (Galasiërs 3:19, 24). Die mense wat medelede met die vernaamste lid van die saad sou wees, sou die voorspelde “koninkryk van priesters” uitmaak en sou in “’n nuwe verbond” opgeneem word as die nuwe “Israel”, ’n geestelike Israel.—Jeremia 31:31-34; Hebreërs 8:7-9. c

10, 11. (a) Hoe het Jehovah geopenbaar wie die voorspelde Saad is? (b) Waarom het God se enigverwekte Seun na die aarde toe gekom?

10 In ooreenstemming met die uitvoering van God se voorneme het die tyd aangebreek dat die voorspelde Saad op die aarde moes verskyn. Jehovah het die engel Gabriël gestuur om vir Maria te sê dat sy aan ’n seun geboorte sou gee wat Jesus genoem moes word. Die engel het vir haar gesê: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, en hy sal vir ewig as koning oor die huis van Jakob heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie” (Lukas 1:32, 33). So het die identiteit van die beloofde Saad duidelik geword.—Galasiërs 3:16; 4:4.

11 Jehovah se enigverwekte Seun moes na die aarde toe kom en tot die uiterste beproef word. Die volmaakte antwoord op Satan se uitdaging sou in Jesus se hande wees. Sou hy aan sy Vader getrou bly? Dit het ’n heilige geheim behels. Die apostel Paulus het later Jesus se rol verduidelik: “Die heilige geheim van hierdie godvrugtige toegewydheid is inderdaad groot: ‘Hy is openbaar gemaak in die vlees, is regverdig verklaar in die gees, het aan engele verskyn, is onder nasies verkondig, is in die wêreld geglo, is in heerlikheid opgeneem’” (1 Timoteus 3:16). Ja, deur sy onwrikbare onkreukbaarheid tot sy dood het Jesus die beslissende antwoord op Satan se uitdaging voorsien. Maar ander besonderhede van die heilige geheim moes nog onthul word.

“Die heilige geheim van die koninkryk van God”

12, 13. (a) Wat is een aspek van “die heilige geheim van die koninkryk van God”? (b) Wat was nodig sodat ’n beperkte getal mense wat deur Jehovah gekies is, hemel toe kon gaan?

12 Gedurende een van sy predikingsreise deur Galilea het Jesus getoon dat die heilige geheim ten nouste verband hou met sy Messiaanse Koninkryksregering. Hy het vir sy dissipels gesê: “Aan julle word dit gegee om die heilige geheime van die koninkryk van die hemele [“koninkryk van God”, Markus 4:11] te verstaan” (Matteus 13:11). Een aspek van hierdie geheim was dat Jehovah ’n “klein kuddetjie” van 144 000 mense uitgekies het om as deel van die saad saam met sy Seun in die hemel te regeer.—Lukas 12:32; Openbaring 14:1, 4.

13 Aangesien mense geskep is om op die aarde te lewe, was “’n nuwe skepping” deur Jehovah nodig sodat party mense hemel toe kon gaan (2 Korintiërs 5:17). As een van die mense wat gekies is om hierdie uitsonderlike hemelse hoop te hê, het die apostel Petrus geskryf: “Mag die God en Vader van ons Here Jesus Christus geloof word, want ooreenkomstig sy groot barmhartigheid het hy ons ’n nuwe geboorte tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode gegee, tot ’n onverderflike en onbesmette en onverwelklike erfenis. Dit word in die hemele bewaar vir julle.”—1 Petrus 1:3, 4.

14. (a) Hoe was nie-Jode betrokke by “die heilige geheim van die koninkryk van God”? (b) Waarom kan ons hierdie “diep dinge van God” verstaan?

14 Nog ’n deel van die heilige geheim met betrekking tot die toekomstige Koninkryksregering was God se wil om nie-Jode in te sluit onder die klein groepie mense wat gekies sou word om saam met Christus in die hemel te heers. Paulus het hierdie aspek van Jehovah se “administrasie”, of manier om sy voorneme te verwesenlik, soos volg verduidelik: “In ander geslagte is hierdie geheim nie aan die mensekinders bekend gemaak soos dit nou deur gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is nie, naamlik dat mense van die nasies mede-erfgename moet wees en medelede van die liggaam en deelgenote met ons van die belofte in eenheid met Christus Jesus deur middel van die goeie nuus” (Efesiërs 3:5, 6). ’n Begrip van hierdie deel van die heilige geheim is aan die “heilige apostels” geopenbaar. As die heilige gees ons nie gehelp het nie, sou ons ook nie vandag hierdie “diep dinge van God” verstaan het nie.—1 Korintiërs 2:10; 4:1; Kolossense 1:26, 27.

15, 16. Waarom het Jehovah die medeheersers van Christus uit die mensdom gekies?

15 Aangaande “die honderd-vier-en-veertigduisend” wat gesien is waar hulle saam met “die Lam” op die hemelse berg Sion staan, word daar gesê dat hulle “van die aarde gekoop is” en “uit die mensdom gekoop [is] as eerstelinge vir God en vir die Lam”, Christus Jesus (Openbaring 14:1-4). Jehovah het sy eerste hemelse seun gekies om die primêre deel van die saad te word wat in Eden belowe is, maar waarom het hy Christus se metgeselle uit die mensdom gekies? Die apostel Paulus verduidelik dat hierdie beperkte getal geroep is “volgens sy [Jehovah se] voorneme”, “volgens die welbehae van sy wil”.—Romeine 8:17, 28-30; Efesiërs 1:5, 11; 2 Timoteus 1:9.

16 Jehovah se voorneme is om sy groot naam te heilig en sy universele soewereiniteit te regverdig. Deur sy onvergelyklik wyse “administrasie”, of manier om dinge te bestuur, het Jehovah sy eersgebore Seun na die aarde toe gestuur, waar hy tot die uiterste beproef is. Daarbenewens het Jehovah bepaal dat die Messiaanse Koninkryksregering van sy Seun mense sou insluit wat ook Sy soewereiniteit tot die dood ondersteun het.—Efesiërs 1:8-12; Openbaring 2:10, 11.

17. Waarom kan ons bly wees dat Christus en sy medeheersers as mense gelewe het?

17 Jehovah het sy groot liefde vir Adam se nakomelinge getoon deur sy Seun na die aarde toe te laat kom en deur persone uit die mensdom te kies wat die Seun se mede-erfgename in die Koninkryksregering sou wees. Hoe kon ander wat aan Jehovah getrou gebly het, van Abel af, daarby baat vind? Onvolmaakte mense wat in slawerny aan sonde en die dood gebore is, sou in ooreenstemming met Jehovah se oorspronklike voorneme vir die mensdom geestelik en fisies genees en tot volmaaktheid gebring moes word (Romeine 5:12). Hoe vertroostend is dit tog vir almal wat na ewige lewe op die aarde uitsien, om te weet dat hulle Koning liefde en begrip vir hulle sal toon, net soos hy dit gedurende sy aardse bediening vir sy dissipels getoon het! (Matteus 11:28, 29; Hebreërs 2:17, 18; 4:15; 7:25, 26). En hoe gerusstellend is dit tog vir hulle om te besef dat Christus se mede-koning-priesters in die hemel voorheen manne en vroue van geloof was wat self teen persoonlike swakhede gestry het en soos ons die uitdagings van die lewe die hoof moes bied!—Romeine 7:21-25.

Jehovah se onfeilbare voorneme

18, 19. Waarom is Paulus se woorde in Efesiërs 1:8-11 vir ons duideliker, en wat sal in die volgende artikel bespreek word?

18 Ons kan nou die betekenis van Paulus se woorde aan gesalfde Christene in Efesiërs 1:8-11 beter verstaan. Hy het gesê dat Jehovah “die heilige geheim van sy wil” aan hulle bekend gemaak het, dat hulle “as erfgename aangewys” is saam met Christus en dat hulle “voorbestem is ooreenkomstig die voorneme van hom wat alles werk volgens die raadsbesluit van sy wil”. Ons besef dat dit deel uitmaak van Jehovah se wonderlike “administrasie” van dinge om sy voorneme te verwesenlik. Dit help ons ook om te verstaan waarom net ’n paar Christene wat die Here se Aandmaal bywoon, van die embleme gebruik.

19 In die volgende artikel sal ons sien wat die Herdenking van Christus se dood beteken vir Christene wat ’n hemelse hoop het. Ons sal ook sien waarom miljoene wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe, opreg moet belangstel in wat die Gedenkmaal simboliseer.

[Voetnote]

a God se naam beteken letterlik “Hy laat word”. Jehovah kan enigiets word wat nodig is om sy voorneme te verwesenlik.—Eksodus 3:14, voetnoot in NW.

b Paulus se woorde toon dat die “administrasie” in sy dag in werking was, terwyl die Skrif toon dat die Messiaanse Koninkryk eers in 1914 opgerig is.

c Vir ’n uitvoerige bespreking van hierdie verbonde wat by die verwesenliking van God se voorneme betrokke is, sien Die Wagtoring van 1 Februarie 1989, bladsye 10-15.

Ter hersiening

• Waarom het Jehovah die aarde geskep en die mens daarop gesit?

• Waarom was dit nodig dat Jehovah se enigverwekte Seun op die aarde beproef word?

• Waarom het Jehovah die medeheersers van Christus uit die mensdom gekies?

[Studievrae]