Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Bly volkome nugter van verstand”

“Bly volkome nugter van verstand”

“Bly volkome nugter van verstand”

“Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.”—SPREUKE 14:15.

1, 2. (a) Wat leer ons uit Lot se ondervinding in Sodom? (b) Wat beteken die uitdrukking ‘bly nugter van verstand’?

 TOE Abraham vir Lot eerste laat kies het watter deel van die land hy wou hê, is Lot aangetrek deur ’n waterryke gebied wat “soos die tuin van Jehovah” was. Dit moes vir hom na die volmaakte plek gelyk het waar hy saam met sy gesin kon woon, aangesien “Lot vir hom die hele Jordaandistrik gekies” het en sy kamp naby Sodom opgeslaan het. Maar dinge was glad nie soos dit op die oog af gelyk het nie, want daar naby het ‘die manne van Sodom gewoon wat sleg was en wat growwe sondaars teen Jehovah was’ (Genesis 13:7-13). Die uiteinde van die saak was dat Lot en sy gesin baie groot verliese gely het. Hy en sy dogters moes op die ou end in ’n grot woon (Genesis 19:17, 23-26, 30). Wat aanvanklik vir hom na so ’n goeie idee gelyk het, was uiteindelik net die teenoorgestelde.

2 Die verslag van wat met Lot gebeur het, voorsien ’n les vir hedendaagse knegte van God. Wanneer ons voor besluite te staan kom, moet ons let op moontlike gevare en daarteen waak dat ons deur eerste indrukke bedrieg word. Dit is derhalwe gepas dat God se Woord ons vermaan: “Bly volkome nugter van verstand” (1 Petrus 1:13). Volgens die Bybelgeleerde R.C.H. Lenski is nugterheid “’n kalm, bestendige gemoedstoestand wat dinge reg opweeg en beoordeel en ons sodoende in staat stel om die regte besluit te neem”. Kom ons kyk na ’n paar situasies wat nugterheid van verstand vereis.

Wanneer jy ’n sakegeleentheid oorweeg

3. Waarom moet ons versigtig wees wanneer ons ’n sakegeleentheid aangebied word?

3 Sê nou jy word ’n sakegeleentheid aangebied deur iemand wat jy vertrou, dalk ’n medeaanbidder van Jehovah. Hy is geesdriftig oor die vooruitsigte op sukses en moedig jou aan om gou op te tree sodat jy nie die kans deur jou vingers laat glip nie. Jy begin dalk al voor jou geestesoog ’n beter lewe vir jou en jou gesin sien, en jy redeneer moontlik selfs dat dit jou in staat sal stel om meer tyd aan geestelike strewes te wy. Maar Spreuke 14:15 gee hierdie waarskuwing: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.” In die opwinding wat dikwels daarmee gepaardgaan wanneer ’n nuwe onderneming begin word, kan risiko’s onderskat word, gevare oor die hoof gesien word en die onsekerhede van die sakewêreld nie deeglik oorweeg word nie (Jakobus 4:13, 14). Hoe noodsaaklik is dit tog in so ’n situasie om volkome nugter van verstand te bly!

4. Hoe kan ons ‘ag gee op ons voetstappe’ wanneer ons ’n sakeaanbod oorweeg?

4 ’n Verstandige persoon ondersoek ’n sakeaanbod noukeurig voordat hy ’n besluit neem (Spreuke 21:5). So ’n ondersoek bring dikwels verskuilde gevare aan die lig. Dink aan die volgende situasie: Iemand wil by jou geld leen om sy sakeplanne uit te voer en bied jou ’n groot wins aan as jy hom die geld leen. Die aanbod klink miskien aanloklik, maar watter risiko’s is daaraan verbonde? Is die persoon wat die geld wil leen, bereid om dit terug te betaal ongeag hoe die onderneming vaar, of hang terugbetaling van die sukses van die onderneming af? Met ander woorde, loop jy gevaar om jou geld te verloor as die onderneming misluk? Jy kan ook vra: “Waarom word individue genader vir ’n lening? Beskou banke die onderneming as ’n te groot risiko?” As jy tyd neem om die risiko’s te oorweeg, kan dit jou help om die aanbod realisties te beoordeel.—Spreuke 13:16; 22:3.

5. (a) Watter wyse stap het Jeremia geneem toe hy ’n stuk grond gekoop het? (b) Waarom is dit voordelig om alle sakeooreenkomste formeel op skrif te stel?

5 Toe die profeet Jeremia ’n stuk grond gekoop het by sy neef, wat ’n medeaanbidder van Jehovah was, het hy voor getuies ’n skriftelike verslag van die transaksie opgestel (Jeremia 32:9-12). Vandag sal ’n wyse persoon seker maak dat alle sakeooreenkomste wat hy aangaan, insluitende dié met familielede en medegelowiges, formeel op skrif gestel word. a ’n Duidelike, goed opgestelde skriftelike ooreenkoms help om misverstande te voorkom en eenheid te bewaar. Trouens, wanneer sakeprobleme tussen knegte van Jehovah ontstaan, is die rede dikwels dat daar geen skriftelike ooreenkoms opgestel was nie. Ongelukkig kan sulke probleme tot hartseer, bitterheid en selfs ’n verlies van geestelikheid lei.

6. Waarom moet ons waak teen gierigheid?

6 Ons moet ook waak teen gierigheid (Lukas 12:15). Die belofte van groot winste kan ’n mens verblind vir die gevare van ’n onsekere sakeonderneming. Selfs sommige wat groot voorregte in Jehovah se diens geniet het, is al in hierdie strik gevang. God se Woord waarsku ons: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge” (Hebreërs 13:5). Wanneer ’n Christen ’n sakeaanbod oorweeg, moet hy hom afvra: ‘Is dit regtig nodig om betrokke te raak?’ As ons ’n eenvoudige lewe lei wat om ons aanbidding van Jehovah draai, sal dit ons beskerm teen “allerhande skadelike dinge”.—1 Timoteus 6:6-10.

Uitdagings waarvoor ongetroude Christene te staan kom

7. (a) Voor watter uitdagings kom baie ongetroude Christene te staan? (b) Hoe is lojaliteit teenoor God betrokke by ons keuse van ’n huweliksmaat?

7 Baie van Jehovah se knegte wil graag getroud wees, maar het nog nie ’n geskikte maat gevind nie. In party lande word groot druk op mense uitgeoefen om te trou. Maar daar is dalk nie baie geleenthede om ’n potensiële maat onder medegelowiges te ontmoet nie (Spreuke 13:12). Christene besef egter dat gehoorsaamheid aan die Bybelse bevel om “net in die Here” te trou, ’n kwessie van lojaliteit teenoor Jehovah is (1 Korintiërs 7:39). Om standvastig te bly ondanks die druk en versoekings waarvoor hulle te staan kom, moet ongetroude Christene volkome nugter van verstand bly.

8. Watter druk het ’n Sulammitiese meisie ondervind, en hoe kom Christenvroue vandag soms voor ’n soortgelyke uitdaging te staan?

8 In die Hooglied van Salomo trek ’n eenvoudige plattelandse meisie, wat die Sulammitiese meisie genoem word, die koning se aandag. Hy maak haar die hof met ’n indrukwekkende vertoon van rykdom, aansien en sjarme, hoewel sy reeds verlief is op ’n jong man (Hooglied 1:9-11; 3:7-10; 6:8-10, 13). As jy ’n Christenvrou is, bevind jy jou dalk ook in ’n situasie waar jy die voorwerp van iemand se ongevraagde aandag is. Iemand by die werk, dalk iemand in ’n gesagsposisie, begin jou miskien komplimenteer, vir jou gunste doen en na geleenthede soek om in jou geselskap te wees. Wees versigtig vir sulke vleiende aandag. Hoewel sulke persone nie altyd romantiese of onsedelike bedoelings het nie, is dit dikwels die geval. Wees “’n muur”, soos die Sulammitiese meisie (Hooglied 8:4, 10). Verwerp ongevraagde toenaderings ferm. Sê van die begin af vir jou werksmaats dat jy een van Jehovah se Getuies is, en gebruik elke geleentheid om vir hulle te getuig. Dit sal vir jou as ’n beskerming dien.

9. Wat is party gevare wat ’n verhouding met ’n vreemdeling op die Internet inhou? (Sien ook die venster op bladsy 25.)

9 Internetwebwerwe wat opgestel is om ongetroudes te help om ’n huweliksmaat te vind, word al hoe gewilder. Party beskou dit as ’n manier om mense te leer ken wat hulle andersins nie sou ontmoet het nie. Maar om blindelings ’n verhouding met ’n vreemdeling aan te knoop, hou wesenlike gevare in. Op die Internet kan dit moeilik wees om tussen feite en fiksie te onderskei (Psalm 26:4). Nie almal wat beweer dat hulle knegte van Jehovah is, is werklik sy knegte nie. Boonop kan ’n mens in Internetverhoudings gou emosioneel betrokke raak, wat jou oordeel kan belemmer (Spreuke 28:26). Hetsy dit deur die Internet of op ’n ander manier gedoen word, dit is onwys om ’n hegte verhouding te ontwikkel met iemand van wie jy baie min weet.—1 Korintiërs 15:33.

10. Hoe kan ongetroude Christene deur medegelowiges aangemoedig word?

10 Jehovah is “baie teer in geneentheid” vir sy knegte (Jakobus 5:11). Hy weet dat Christene wat nie uit eie keuse ongetroud is nie, voor uitdagings te staan kom wat soms ontmoedigend kan wees, en hy waardeer hulle lojaliteit. Hoe kan ander hulle aanmoedig? Ons moet hulle gereeld prys vir hulle gehoorsaamheid en selfopofferende gees (Rigters 11:39, 40). Ons kan hulle ook insluit wanneer ons tye vir opbouende assosiasie reël. Het jy dit onlangs gedoen? Verder kan ons vir hulle bid en Jehovah vra om hulle te help om hulle geestelike balans te behou en vreugde uit hulle diens aan hom te put. Mag ons, deur ons opregte belangstelling, toon dat hierdie lojale knegte vir ons net so kosbaar is as wat hulle vir Jehovah is.—Psalm 37:28.

Wanneer ons gesondheidsprobleme ondervind

11. Watter uitdagings bied ernstige gesondheidsprobleme?

11 Hoe ontstellend is dit tog wanneer ons of ’n geliefde ernstige gesondheidsprobleme ondervind! (Jesaja 38:1-3). Terwyl ons doeltreffende behandeling probeer vind, is dit noodsaaklik dat ons by skriftuurlike beginsels bly. Christene maak byvoorbeeld seker dat hulle die Bybel se bevel gehoorsaam om hulle van bloed te onthou, en hulle vermy enige diagnostiese of geneeskundige prosedure wat met spiritisme verband hou (Handelinge 15:28, 29; Galasiërs 5:19-21). Dit kan egter vir diegene sonder mediese opleiding verwarrend en oorweldigend wees om opsies met betrekking tot mediese behandeling te oorweeg. Wat kan ons help om volkome nugter van verstand te bly?

12. Hoe kan ’n Christen sy balans behou wanneer hy opsies met betrekking tot behandeling oorweeg?

12 “Die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe” deur navorsing in die Bybel en Christelike publikasies te doen (Spreuke 14:15). In dele van die wêreld waar daar min dokters en hospitale is, is die enigste behandeling wat dalk beskikbaar is, tradisionele geneeskunde wat van kruie gebruik maak. As jy sulke behandeling oorweeg, kan jy nuttige inligting vind in Die Wagtoring van 15 April 1987, bladsye 26-9. Dit maak ons bewus van moontlike gevare. Byvoorbeeld, ons moet dalk die volgende uitvind: Is die tradisionele geneser daarvoor bekend dat hy of sy spiritisme beoefen? Is die behandeling gegrond op die opvatting dat siekte en die dood veroorsaak word deur gode (of die geeste van voorouers) wat gepaai moet word of deur vyande wat toorkuns beoefen? Gaan die voorbereiding of gebruik van die geneesmiddels gepaard met offerandes, towerspreuke of ander spiritistiese rituele? (Deuteronomium 18:10-12). As ons hierdie soort navorsing doen, sal dit ons help om die geïnspireerde raad te volg: “Maak seker van alles; hou vas aan wat goed is” (1 Tessalonisense 5:21). b Dit sal ons help om ons balans te behou.

13, 14. (a) Hoe kan ons redelikheid aan die dag lê wanneer ons aan ons fisiese gesondheid aandag skenk? (b) Waarom moet ons redelik wees wanneer ons gesondheid- en mediese sake met ander bespreek?

13 Redelikheid is nodig op alle gebiede van die lewe, en dit sluit die aandag in wat ons aan ons fisiese gesondheid skenk (Filippense 4:5). As ons in hierdie opsig gebalanseerd bly, toon ons waardering vir die kosbare gawe van lewe. Wanneer ons gesondheidsprobleme ondervind, verdien dit tereg ons aandag. Maar volmaakte gesondheid sal buite ons bereik bly totdat God se tyd aanbreek om “die genesing van die nasies” teweeg te bring (Openbaring 22:1, 2). Ons moet versigtig wees om nie so behep te raak met ons fisiese gesondheid dat ons ons belangriker geestelike behoeftes verwaarloos nie.—Matteus 5:3; Filippense 1:10.

14 Ons moet ook gebalanseerd en redelik wees wanneer ons gesondheid- en mediese sake met ander bespreek. Hierdie onderwerpe moet nie ons gesprekke oorheers wanneer ons vir geestelike assosiasie by Christelike vergaderinge en byeenkomste vergader nie. Daarbenewens behels mediese besluite dikwels Bybelbeginsels, ’n persoon se gewete en sy verhouding met Jehovah. Dit sou dus nie liefdevol wees om ons beskouings op ’n medegelowige af te dwing of druk op hom uit te oefen om die stem van sy gewete te ignoreer nie. Hoewel geestelike ryp persone in die gemeente genader kan word vir hulp, moet elke Christen “sy eie vrag dra” wanneer dit by besluite kom, en “elkeen van ons [sal] vir homself aan God rekenskap gee”.—Galasiërs 6:5; Romeine 14:12, 22, 23.

Wanneer ons stres verduur

15. Hoe kan stresvolle omstandighede ’n uitdaging bied?

15 Stresvolle omstandighede kan selfs lojale knegte van Jehovah onverstandige dinge laat sê of doen (Prediker 7:7). Toe Job swaar beproef is, het hy ietwat ongebalanseerd geraak en moes sy denke reggestel word (Job 35:2, 3; 40:6-8). Hoewel Moses “verreweg die sagmoedigste van al die mense . . . op die oppervlak van die aarde was”, het hy by een geleentheid baie kwaad geword en gepraat sonder om te dink (Numeri 12:3; 20:7-12; Psalm 106:32, 33). Dawid het bewonderenswaardige selfbeheersing geopenbaar deur nie vir koning Saul dood te maak nie, maar toe Nabal hom beledig het en sy manskappe sleggesê het, het Dawid woedend geword en sy goeie oordeel verloor. Eers toe Abigail tussenbeide getree het, het hy tot besinning gekom en naelskraap ’n fout vermy wat tot rampspoed kon gelei het.—1 Samuel 24:2-7; 25:9-13, 32, 33.

16. Wat kan ons help om nie oorhaastig op te tree nie?

16 Ons kom dalk ook voor stresvolle situasies te staan wat ons van ons goeie oordeel kan beroof. As ons, soos Dawid, ander se menings sorgvuldig oorweeg, kan dit ons help om nie oorhaastig op te tree en te sondig nie (Spreuke 19:2). Verder vermaan God se Woord ons: “Wees ontsteld, maar moenie sondig nie. Sê wat julle te sê het in julle hart, op julle bed, en bly stil” (Psalm 4:4). Dit is wys om, waar moontlik, te wag totdat ons kalm is voordat ons optree of besluite neem (Spreuke 14:17, 29). Ons kan ernstig tot Jehovah bid, “en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal [ons] harte en [ons] verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). Hierdie godgegewe kalmte sal help om ons balans te behou en volkome nugter van verstand te bly.

17. Waarom moet ons op Jehovah vertrou as ons volkome nugter van verstand wil bly?

17 Al probeer ons hoe hard om gevare te vermy en verstandig op te tree, ons almal begaan foute (Jakobus 3:2). Ons is dalk heeltemal onbewus daarvan dat ons op die punt staan om ’n misstap te begaan wat rampspoedige gevolge kan hê (Psalm 19:12, 13). Wat meer is, as menseskepsele het ons nie die vermoë of die reg om ons voetstappe onafhanklik van Jehovah te rig nie (Jeremia 10:23). Hoe dankbaar is ons tog dat hy ons verseker: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou” (Psalm 32:8). Ja, met Jehovah se hulp kan ons volkome nugter van verstand bly.

[Voetnote]

a Vir meer inligting oor skriftelike sakeooreenkomste, sien Die Wagtoring van 1 Augustus 1997, bladsye 30-1; 15 November 1986, bladsye 16-17; en die Ontwaak! van 8 Junie 1983, bladsye 13-15, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Hierdie benadering sal ook dié help wat kontroversiële alternatiewe behandelingsmetodes vir die een of ander kwaal oorweeg.

Hoe sal jy antwoord?

Hoe kan ons nugter van verstand bly

• as ons ’n sakegeleentheid aangebied word?

• wanneer ons ’n huweliksmaat soek?

• wanneer ons gesondheidsprobleme ondervind?

• wanneer ons stres verduur?

[Studievrae]

[Venster op bladsy 25]

Kan jy dit vertrou?

Die volgende vrywarings verskyn op webwerwe vir ongetroudes:

“Ons doen ons bes, maar kan geen waarborg van ’n individu se ware identiteit gee nie.”

“Ons waarborg nie die akkuraatheid, volledigheid of waarde van enige inligting op die diens nie.”

“Menings, raad, stellings, aanbiedings of ander inligting of inhoud wat deur [hierdie] diens beskikbaar gestel word, kom van die onderskeie skrywers . . . en moenie noodwendig as betroubaar beskou word nie.”

[Prent op bladsy 23]

“Die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe”

[Prente op bladsy 24, 25]

Hoe kan Christenvroue die Sulammitiese meisie navolg?

[Prent op bladsy 26]

“Maak seker van alles; hou vas aan wat goed is”