Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Heilsame ontspanning wat verkwik

Heilsame ontspanning wat verkwik

Heilsame ontspanning wat verkwik

“Hetsy julle eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot heerlikheid van God.”—1 KORINTIËRS 10:31.

1, 2. Waarom kan genotvolle aktiwiteite as ’n “gawe van God” beskou word, maar watter duidelike waarskuwing gee die Bybel?

 DIT is net natuurlik dat ons dinge wil doen wat ons genot verskaf. Ons gelukkige God, Jehovah, wil hê dat ons die lewe moet geniet, en hy verskaf ’n oorvloed dinge om dit moontlik te maak (1 Timoteus 1:11; 6:17). Die wyse koning Salomo het geskryf: “Ek het te wete gekom dat daar . . . niks beters is nie as om bly te wees . . . en ook dat elke mens eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk. Dit is die gawe van God.”—Prediker 3:12, 13.

2 Hierdie blydskap wat ’n mens ervaar wanneer jy terugkyk op goeie werk wat jy gedoen het, is inderdaad verkwikkend, veral as dit in die aangename geselskap van familie of vriende is. Dit kan gepas beskou word as ’n “gawe van God”. Maar die feit dat die Skepper ons van so ’n oorvloed voorsien, gee ons natuurlik nie die vryheid om dit op ’n onbeheerste wyse te geniet nie. Die Bybel veroordeel dronkenskap, vraatsug en onsedelikheid en waarsku dat diegene wat sulke dinge beoefen, “God se koninkryk nie sal beërf nie”.—1 Korintiërs 6:9, 10; Spreuke 23:20, 21; 1 Petrus 4:1-4.

3. Wat sal ons help om geestelik wakker te bly en Jehovah se groot dag in gedagte te hou?

3 Soos nog nooit tevore nie, kom Christene in hierdie kritieke laaste dae voor die uitdaging te staan om verstandig te lewe in ’n verdorwe wêreld, sonder om die gebruike daarvan aan te neem (Johannes 17:15, 16). Soos voorspel is, het mense van vandag in so ’n mate “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” geword dat hulle ‘geen ag slaan’ op die bewyse dat die “groot verdrukking” op hande is nie (2 Timoteus 3:4, 5; Matteus 24:21, 37-39). Jesus het sy volgelinge gewaarsku: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie” (Lukas 21:34, 35). As knegte van God is ons vasbeslote om ag te slaan op Jesus se waarskuwing. In teenstelling met diegene in die goddelose wêreld om ons streef ons daarna om geestelik wakker te bly en Jehovah se groot dag in gedagte te hou.—Sefanja 3:8; Lukas 21:36.

4. (a) Waarom is dit moeilik om aanvaarbare ontspanning te vind? (b) Watter raad wat in Efesiërs 5:15, 16 opgeteken staan, wil ons toepas?

4 Dit is nie maklik om die verdorwe gebruike van hierdie wêreld te vermy nie, aangesien die Duiwel dit so begeerlik en maklik beskikbaar gemaak het. Dit is veral moeilik wanneer ons moet besluit oor vermaak of ontspanning. Die meeste van wat die wêreld aanbied, is daarop gemik om “vleeslike begeertes” op te wek (1 Petrus 2:11). Skadelike vermaak is beskikbaar by openbare plekke, maar dit kan ook die privaatheid van ons huis binnedring deur middel van leesstof, TV, die Internet en video’s. Daarom vermaan God se Woord Christene wyslik: “Let . . . voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae boos is” (Efesiërs 5:15, 16). Slegs as ons hierdie raad noukeurig volg, kan ons seker maak dat ons nie deur skadelike vermaak verlok word, daarmee behep raak, ja, selfs toelaat dat dit ons verhouding met Jehovah skaad, wat tot ons vernietiging sal lei nie!—Jakobus 1:14, 15.

5. Wat verskaf ons die grootste verkwikking?

5 Aangesien Christene besige lewens lei, is dit te verstane dat hulle soms ’n behoefte aan ontspanning het. Trouens, Prediker 3:4 sê dat daar “’n tyd [is] om te lag” en “’n tyd om rond te huppel”. Die Bybel beskou ontspanning dus nie as ’n vermorsing van tyd nie. Maar ontspanning moet ons verkwik, nie ons geestelikheid in gevaar stel of inbreuk maak op geestelike bedrywighede nie. Ryp Christene weet uit ondervinding dat dit groter geluk verskaf om te gee. Hulle stel die uitvoering van Jehovah se wil eerste in hulle lewe en geniet ware ‘verkwikking vir hulle siele’ deur Jesus se sagte juk op hulle te neem.—Matteus 11:29, 30; Handelinge 20:35.

Hoe om aanvaarbare ontspanning te kies

6, 7. Wat kan jou help om te besluit watter soort vermaak aanvaarbaar of onaanvaarbaar is?

6 Hoe kan ons seker wees dat ’n sekere vorm van ontspanning aanvaarbaar is vir ’n Christen? Ouers voorsien leiding vir hulle kinders, en ouer manne help wanneer dit nodig is. Maar in werklikheid behoort dit nie vir ander nodig te wees om vir ons te sê dat ’n boek, rolprent, speletjie, dans of musiek onaanvaarbaar is nie. Paulus het gesê dat “volwasse mense . . . se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14; 1 Korintiërs 14:20). Die Bybel gee riglyne in dié verband. Jou gewete, wat deur God se Woord opgelei is, sal jou help as jy daarna luister.—1 Timoteus 1:19.

7 Jesus het gesê: “Aan sy vrugte word die boom geken” (Matteus 12:33). As ’n vorm van ontspanning slegte vrugte voortbring, soos ’n aangetrokkenheid tot geweld, onsedelikheid of spiritisme, moet dit verwerp word. Dit is ook onaanvaarbaar as dit ’n mens se lewe of gesondheid in gevaar stel, finansiële probleme of ontmoediging veroorsaak of ander kan laat struikel. Die apostel Paulus het ons gewaarsku dat ons sondig as ons die gewete van ons broer wond. Paulus het geskryf: “Wanneer julle só teen julle broers sondig en hulle gewete wond wat swak is, sondig julle teen Christus. Daarom, as voedsel my broer laat struikel, sal ek nóóit weer vleis eet nie, sodat ek my broer nie sal laat struikel nie.”—1 Korintiërs 8:12, 13.

8. Watter gevare hou elektroniese speletjies en video’s in?

8 Die winkels is propvol elektroniese speletjies en video’s. Party hiervan verskaf dalk onskadelike pret en ontspanning, maar hierdie vorm van vermaak bevat in toenemende mate dinge wat deur die Bybel veroordeel word. Dit is beslis nie onskuldige pret wanneer ’n speletjie vereis dat die spelers die karakters vermink en doodmaak of growwe onsedelike dade pleeg nie! Jehovah haat dié wat “geweld liefhet” (Psalm 11:5; Spreuke 3:31; Kolossense 3:5, 6). En as ’n speletjie gierigheid of aggressiwiteit in jou wek, jou emosioneel uitput of kosbare tyd verkwis, moet jy die geestelike skade wat dit veroorsaak, erken en gou veranderinge aanbring.—Matteus 18:8, 9.

Heilsame vorme van ontspanning

9, 10. Wat kan oordeelkundige persone doen om in hulle behoefte na ontspanning te voorsien?

9 Soms vra Christene: “Wat is aanvaarbare ontspanning? Soveel van wat die wêreld aanbied, is strydig met Bybelstandaarde.” Wees daarvan verseker dat aangename ontspanning wel beskikbaar is, maar dit verg ’n bietjie moeite om dit te vind. Dit vereis dinkwerk en beplanning, veral deur ouers. Baie vind dat hulle verkwikkende ontspanning as ’n gesin en saam met die gemeente kan geniet. ’n Ontspanne ete terwyl die gebeure van die dag of ’n Bybelonderwerp bespreek word, is aangenaam en opbouend. Pieknieks, gepaste speletjies, kampeeruitstappies of staptoere kan gereël word. Sulke heilsame ontspanning kan genotvol en bevredigend wees.

10 ’n Ouer man en sy vrou wat drie kinders grootgemaak het, sê: “Van kleins af het ons kinders saam met ons besluit waarheen ons met vakansie sou gaan. Soms het ons elke kind toegelaat om ’n goeie vriend saam te nooi, wat die vakansie nog aangenamer gemaak het. Ons het sekere mylpale in ons kinders se lewe erken. Van tyd tot tyd het ons familie en vriende in die gemeente na ons huis toe genooi. Ons het braaivleis gehou en speletjies gespeel. Ons het uitgery berge toe en daar gaan stap en sulke geleenthede gebruik om van Jehovah se skepping te leer.”

11, 12. (a) Wat kan jy doen om ander in te sluit wanneer jy van tyd tot tyd reëlings vir ontspanning tref? (b) Watter soort gesellighede was vir baie ’n onvergeetlike ondervinding?

11 Kan jy as ’n individu of julle as ’n gesin verruim word om ander in te sluit wanneer julle van tyd tot tyd reëlings vir ontspanning tref? Party, soos ’n weduwee, ’n ongetroude persoon of ’n enkelouergesin, het dalk aanmoediging nodig (Lukas 14:12-14). Jy kan ook ’n paar nuwelinge nooi, maar jy moet versigtig wees dat jy ander nie aan enige skadelike invloed blootstel nie (2 Timoteus 2:20, 21). As daar sieklikes is wat dit moeilik vind om uit te gaan, kan reëlings dalk getref word om ’n maaltyd na hulle huis toe te neem en dit daar saam met hulle te geniet.—Hebreërs 13:1, 2.

12 Gesellighede waartydens gaste ’n eenvoudige ete geniet, hoor hoe ander Christene geword het en uitvind wat hulle gehelp het om aan God getrou te bly, is vir baie ’n onvergeetlike ondervinding. Bybelonderwerpe kan bespreek word, en almal aanwesig, ook die kinders, kan genooi word om ’n aandeel te hê. Sulke besprekings kan opbouende geleenthede vir wedersydse aanmoediging wees sonder dat enigiemand ongemaklik of minderwaardig hoef te voel.

13. Hoe het Jesus en Paulus die voorbeeld daarin gestel om gasvryheid te betoon en te aanvaar?

13 Jesus het die regte voorbeeld daarin gestel om gasvryheid te betoon en te aanvaar. Hy het sulke geleenthede altyd gebruik om geestelike seëninge mee te deel (Lukas 5:27-39; 10:42; 19:1-10; 24:28-32). Sy vroeë dissipels het sy voorbeeld nagevolg (Handelinge 2:46, 47). Die apostel Paulus het geskryf: “Ek verlang om julle te sien om julle die een of ander geestelike gawe te kan meedeel sodat julle standvastig gemaak kan word; of liewer, dat daar wedersydse aanmoediging onder julle kan wees, deurdat elkeen aangemoedig word deur middel van die ander een se geloof, julle s’n sowel as myne” (Romeine 1:11, 12). Ons gesellighede moet eweneens ’n atmosfeer vir wedersydse aanmoediging skep.—Romeine 12:13; 15:1, 2.

’n Paar herinneringe en waarskuwings

14. Waarom is dit nie raadsaam om groot gesellighede te reël nie?

14 Dit is nie raadsaam om groot gesellighede te reël nie, aangesien dit dikwels moeilik is om daaroor toesig te hou. ’n Paar gesinne kan besluit om, op ’n tyd wat nie inbreuk sal maak op geestelike bedrywighede nie, saam piekniek te hou of ’n spel te speel wat nie te mededingend is nie. Wanneer party ouer manne, bedieningsknegte of ander ryp Christene by ’n geselligheid teenwoordig is, sal hulle goeie invloed die geleentheid selfs verkwikkender maak.

15. Waarom moet ’n gasheer toesien dat daar behoorlike toesig tydens ’n geselligheid is?

15 Diegene wat gesellighede reël, moenie die belangrikheid van behoorlike toesig oor die hoof sien nie. Jy geniet dit dalk om gasvryheid aan ander te betoon; maar sal jy nie baie sleg voel as jy uitvind dat iets weens jou nalatigheid by jou huis gebeur het wat een van jou gaste laat struikel het nie? Let op die beginsel wat in Deuteronomium 22:8 bespreek word. Die Israeliet wat ’n nuwe huis gebou het, moes ’n muurtjie om die plat dak bou, waar gaste dikwels onthaal is. Waarom? “Sodat jy nie bloedskuld op jou huis bring nie, want iemand wat val, kan daarvan afval.” So ook moet die dinge wat jy doen om jou gaste tydens ’n geselligheid te beskerm—sonder om onredelike beperkings aan ander op te lê—toon dat jy hulle fisiese en geestelike belange op die hart dra.

16. Hoe moet oordeelkundigheid aan die dag gelê word as alkohol by ’n geselligheid bedien word?

16 As alkohol by ’n geselligheid bedien word, moet groot oordeelkundigheid aan die dag gelê word. Talle Christengashere besluit dat hulle alkohol slegs sal bedien as hulle persoonlik toesig kan hou oor wat hulle gaste bedien word of drink. Niks moet toegelaat word wat ander kan laat struikel of iemand in die versoeking kan bring om te veel te drink nie (Efesiërs 5:18, 19). Daar is dalk verskeie redes waarom sommige gaste sal verkies om geen alkohol te drink nie. Op baie plekke is daar ’n minimum wettige ouderdom waarop iemand alkohol kan begin gebruik, en Christene sal die keiser se wette gehoorsaam selfs al lyk daardie regulasies dalk baie beperkend.—Romeine 13:5.

17. (a) Waarom moet die gasheer baie selektief wees as musiek by ’n geselligheid gespeel word? (b) Hoe moet beskeidenheid weerspieël word as daar by ’n geselligheid gedans word?

17 Die gasheer moet seker maak dat enige musiek, dansery en ander vermaak met Christelike beginsels strook. Musieksmaak verskil, en ’n wye verskeidenheid musiek is beskikbaar. Maar baie van vandag se musiek bevorder ’n gees van opstandigheid, onsedelikheid en geweld. Dit is belangrik om selektief te wees. Aanvaarbare musiek hoef nie noodwendig rustige musiek te wees nie, maar dit moet ook nie sensueel of vulgêr wees, baie hard gespeel word en ’n polsende maatslag hê nie. Wees versigtig dat jy nie die keuse van musiek oorlaat aan iemand wat nog nie besef dat dit belangrik is om die klank matig te hou nie. Onbeskeie danse, met erotiese bewegings van die heupe en borste, sal beslis nie gepas wees vir ’n Christen nie.—1 Timoteus 2:8-10.

18. Hoe kan ouers hulle kinders beskerm deur toesig te hou oor hulle sosiale bedrywighede?

18 Christenouers moet uitvind wat beplan word vir ’n geselligheid waarheen hulle kinders genooi is, en dit sal wys wees van hulle om meestal saam met hulle kinders te gaan. Ongelukkig het party ouers hulle kinders toegelaat om partytjies by te woon waar daar geen toesig was nie en waar ’n hele paar van die partytjiegangers verlok is om hulle aan onsedelikheid of aan ander onwelvoeglike gedrag skuldig te maak (Efesiërs 6:1-4). Selfs as jongmense in hulle laat tienerjare is en getoon het dat hulle verantwoordelik kan optree, is dit nog steeds belangrik om hulle te help om te “vlug . . . vir die begeertes wat eie is aan die jeug”.—2 Timoteus 2:22.

19. Watter feit kan ons help om toegespits te bly op wat ons ‘eers moet soek’?

19 Om van tyd tot tyd heilsame en verkwikkende ontspanning en vermaak te geniet, kan die lewe aangenamer maak. Jehovah ontsê ons nie hierdie genot nie, maar as ons realisties is, weet ons dat sulke bedrywighede op sigself ons nie help om enige geestelike skatte in die hemel op te gaar nie (Matteus 6:19-21). Jesus het sy dissipels help besef dat die lewe nie draai om wat ons eet of drink of aantrek, ‘dinge wat die nasies gretig najaag’ nie, maar dat die hoofsaak in ons lewe moet wees “om eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek”.—Matteus 6:31-34.

20. Na watter goeie dinge wat van die Grootse Voorsiener af kom, kan getroue knegte van Jehovah uitsien?

20 Ja, hetsy ons “eet of drink of enigiets anders doen”, ons kan “alles tot heerlikheid van God” doen en die Grootse Voorsiener dank vir al die goeie dinge wat ons in matigheid geniet (1 Korintiërs 10:31). Op sy Paradysaarde wat op hande is, sal daar eindelose geleenthede wees om Jehovah se gasvryheid ten volle te geniet, asook heilsame omgang met almal wat sy regverdige vereistes nakom.—Psalm 145:16; Jesaja 25:6; 2 Korintiërs 7:1.

Onthou jy?

• Waarom is dit vandag vir Christene moeilik om ontspanning te vind wat heilsaam is?

• Watter vorme van ontspanning het Christengesinne genotvol gevind?

• Watter herinneringe en waarskuwings moet ons in gedagte hou wanneer ons heilsame ontspanning geniet?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 18]

Kies ontspanning wat goeie vrugte voortbring

[Prente op bladsy 19]

Watter vorme van ontspanning word deur Christene verwerp?