Jehovah gee om vir die nederiges
Jehovah gee om vir die nederiges
NEDERIGHEID is iets waaraan Jehovah groot waarde heg. Hoewel God die mensdom niks verskuldig is nie, is hy, weens sy onverdiende goedhartigheid, gewillig om barmhartigheid en guns te bewys aan diegene wat hulle voor hom verneder. Sulke mense toon dat hulle nie op hulleself vertrou of oor hulleself roem nie, maar dat hulle op hom vertrou en sy wil wil doen. Soos die geïnspireerde Christenskrywer Jakobus sê: “God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges.”—Jakobus 4:6.
Selfs mense wat voorheen dinge gedoen het wat baie sleg is, kan hulle voor Jehovah verneder en hom om genade smeek, en hy sal na hulle luister. Koning Manasse het byvoorbeeld die inwoners van Juda en Jerusalem verlei “om erger dinge te doen as die nasies wat Jehovah voor die kinders van Israel uit verdelg het”. Maar nadat Jehovah toegelaat het dat die koning van Assirië hom as ’n gevangene wegvoer, het Manasse “hom grootliks bly verneder weens die God van sy voorvaders. En hy het tot Hom bly bid, sodat Hy sy dringende versoek aangehoor het en Hy sy versoek om guns gehoor en hom in Jerusalem in sy koningskap herstel het; en Manasse het te wete gekom dat Jehovah die ware God is.” So het Manasse nederigheid geleer.—2 Kronieke 33:9, 12, 13.
Voordele van nederigheid
Iemand wat hom voor God verneder, kan verwag om deur God gelei te word. Terwyl die profeet Daniël ’n balling in Babilon was, was hy grootliks begunstig toe ’n engel met ’n visioen van God af aan hom verskyn het, omdat Daniël hom voor God verneder het in sy soeke na leiding en begrip.—Daniël 10:12.
Aan die ander kant sal die hoogmoedige wat heerlikheid soek, onsuksesvol wees, soos in die geval van koning Ussia van Juda, wat verwaand geword het en priesterlike pligte wederregtelik vir homself toegeëien het: “Net toe hy sterk geword het, het sy hart so hoogmoedig geword dat dit verderf aangerig het, sodat hy ontrou gehandel het teenoor Jehovah sy God en in die tempel van Jehovah ingegaan het om reukwerk op die reukaltaar te brand.” Toe hy woedend geword het vir die priesters omdat hulle hom tereggewys het, is hy met melaatsheid getref.—2 Kronieke 26:16-21.
Nederigheid kan ’n mens baie help om teëspoed die hoof te bied. As ’n mens deur rampspoed getref word, stel nederigheid jou in staat om te volhard en God te bly dien. Koning Dawid het baie teëspoed ondervind. Koning Saul het hom as ’n voëlvryverklaarde vervolg. Maar hy het nooit teen God gespreek of hom bo Jehovah se gesalfde verhef nie (1 Samuel 26:9, 11, 23). Toe hy teen Jehovah gesondig het deur met Batseba egbreuk te pleeg en God se profeet Natan hom baie streng tereggewys het, het hy hom voor God verneder.—2 Samuel 12:9-23.
’n Godvrugtige eienskap
Jehovah God openbaar self nederigheid deur barmhartigheid en groot medelye teenoor nietige sondaars te betoon. Die feit dat hy hoegenaamd aan sondaars aandag skenk en sy Seun as ’n offerande vir die mensdom se sondes gegee het, is ’n blyk van sy nederigheid. Hy het deur onverdiende goedhartigheid aan Adam se nakomelinge barmhartigheid betoon en hulle die geleentheid gegee om vir ewig te lewe.—Romeine 8:20, 21.
Koning Dawid het hierdie eienskap van God raakgesien en waardeer. Nadat Jehovah hom uit die hand van al sy vyande verlos het, het hy gesing: “U sal my u skild van redding gee, en u nederigheid maak my groot” (2 Samuel 22:36). Hoewel Jehovah met groot waardigheid in sy verhewe plek in die hoogste hemele sit, kan daar nietemin van hom gesê word: “Wie is soos Jehovah ons God, hy wat sy woonplek in die hoogte maak? Hy buig hom neer om na die hemel en die aarde te kyk, en hy rig die geringe uit die stof op; hy verhef die arme uit die asput, om hom by edeles te laat sit, by die edeles van sy volk.”—Psalm 113:5-8.
Jesus Christus se nederigheid
Toe Jesus Christus op die aarde was, het hy die beste voorbeeld as ’n nederige kneg van God gestel. Op die aand voor sy dood het Jesus ’n handdoek om hom vasgemaak en sy 12 apostels se voete gewas en afgedroog, ’n taak wat gewoonlik deur diensknegte of slawe gedoen is (Johannes 13:2-5, 12-17). Hy het vir sy dissipels gesê: “Elkeen wat hom verhef, sal verneder word, en elkeen wat hom verneder, sal verhef word” (Matteus 23:12). Die apostel Petrus, wat daardie aand teenwoordig was, het Jesus se uitstekende voorbeeld onthou en medegelowiges later vermaan: “Omgord julle almal met ootmoed teenoor mekaar . . . Verneder julle dan onder die magtige hand van God, sodat hy julle op die bestemde tyd kan verhef.”—1 Petrus 5:5, 6.
Die apostel Paulus spoor Christene aan om dieselfde geestesgesindheid as Jesus Christus te hê; hy vestig die aandag op die hoë posisie wat die Seun van God in sy voormenslike bestaan in die hemele saam met sy Vader Jehovah gehad het, sy gewilligheid om homself te ontledig deur ’n slaaf se gedaante aan te neem en aan die mens gelyk te word. Paulus voeg by: “Wat meer is, toe hy [Jesus] hom in gestalte as ’n mens bevind het, het hy homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal.” Jesus se eie woorde in verband met die beloning vir nederigheid word in sy eie geval op kragtige wyse gestaaf, soos die apostel se volgende woorde toon: “Juis daarom het God hom ook tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is.”—Filippense 2:5-11.
Wat selfs indrukwekkender is, is die feit dat Christus, ten spyte van so ’n hoë posisie as die een wat “alle gesag in die hemel en op die aarde” uitoefen om God se wil met betrekking tot die aarde te volbring, teen die einde van sy Duisendjarige Heerskappy nog net so nederig sal wees (Matteus 28:18; 6:10). Daarom sê die Skrif vir ons: “Wanneer alles aan hom onderwerp is, dan sal die Seun self hom ook onderwerp aan die Een wat alles aan hom onderwerp het, sodat God alles vir elkeen kan wees.”—1 Korintiërs 15:28.
Christene moet nederigheid aankweek
Toe die apostel Paulus mede-Christene vermaan het om hulle met die persoonlikheid te beklee wat “vernuwe word na die beeld van die Een wat dit geskep het”, het hy gesê: “Beklee julle dan, as God se uitverkorenes, heilig en gelief, met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid” (Kolossense 3:10, 12). Hy sê ook: “Julle moet dieselfde gesindheid teenoor ander hê as teenoor julleself; moenie hoë dinge bedink nie, maar word saam met die nederige dinge gelei. Moenie in julle eie oë verstandig word nie.”—Romeine 12:16.
Nederigheid bevorder vrede. Iemand wat nederig is, baklei nie met sy Christenbroers om sy veronderstelde persoonlike “regte” te bevestig nie. Die apostel het geredeneer dat hy, hoewel hy die vryheid het om alle dinge te doen, slegs sou doen wat opbouend is, en as ’n broer se gewete gepla word deur wat hy doen, hy hom daarvan sou weerhou.—Romeine 14:19-21.
Dit verg ook nederigheid om die vrede te bewaar deur Jesus se raad toe te pas om diegene wat teen ons sondig, te vergewe (Matteus 6:12-15). En wanneer iemand ’n ander persoon te na kom, is dit ’n toets van sy nederigheid om die bevel te gehoorsaam om na die persoon te gaan, die fout te erken en om vergifnis te vra (Matteus 5:23, 24). Of wanneer die een wat te na gekom is, na hom toe kom, sal slegs liefde gekoppel met nederigheid hom beweeg om die fout te erken en onmiddellik op te tree om sake reg te stel (Matteus 18:15). Maar die resultate wat sulke nederigheid tot gevolg het, naamlik vrede vir die individu en vir die organisasie, oortref verreweg die gevoel van vernedering; daarbenewens word hierdie voortreflike eienskap, nederigheid, verder ontwikkel en versterk deur die persoon se nederige optrede.
Nederigheid sal die Christen help om vergenoeg te wees met die dinge wat hy het, en dit sal hom help om sy vreugde en balans te behou. Diegene wat nederig is, kan hulle verheug, al het trotse, hoogmoedige mense hulle al onderdruk en mishandel. Hulle kan vertroosting put uit die woorde: “Soek Jehovah, alle sagmoediges van die aarde, wat Sy regterlike beslissing uitgevoer het. Soek regverdigheid, soek sagmoedigheid. Moontlik sal julle verberg word in die dag van Jehovah se toorn.”—Sefanja 2:3.