Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons het geweet wat reg is en dit gedoen

Ons het geweet wat reg is en dit gedoen

Lewensverhaal

Ons het geweet wat reg is en dit gedoen

SOOS VERTEL DEUR HADYN SANDERSON

Jesus het eenkeer vir sy apostels gesê: “As julle hierdie dinge weet, gelukkig is julle as julle dit doen” (Johannes 13:17). Ja, ons weet dalk wat reg is, maar soms is dit ’n uitdaging om dit te doen! Met meer as 80 jaar se lewensondervinding, waarvan ek 40 in sendingdiens deurgebring het, is ek egter daarvan oortuig dat Jesus se woorde waar is. Om te doen wat God sê, lei werklik tot geluk. Kom ek verduidelik.

IN 1925, toe ek drie jaar oud was, het my ouers ’n Bybeltoespraak in ons tuisdorp Newcastle, Australië, bygewoon. Die toespraak “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie”, het my ma daarvan oortuig dat sy die waarheid gevind het, en sy het Christelike vergaderinge gereeld begin bywoon. My pa het egter gou belangstelling verloor. Hy het beswaar gemaak teen my ma se nuutgevonde geloof en gedreig om haar te verlaat as sy dit nie prysgee nie. My ma was lief vir my pa en wou die gesin bymekaarhou. Nietemin het sy geweet dat gehoorsaamheid aan God eerste kom, en sy was vasbeslote om te doen wat reg is in sy oë (Matteus 10:34-39). My pa het ons verlaat, en daarna het ek hom net nou en dan gesien.

Wanneer ek terugdink, bewonder ek my ma se lojaliteit aan God. Haar besluit het gelei tot ’n lewe van geestelike seëninge vir my en my ouer suster, Beulah. Dit het ons ook ’n belangrike les geleer—wanneer ons weet wat reg is, moet ons hard probeer om dit te doen.

Toetse van geloof

Die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, het hulle onmiddellik oor ons gesin ontferm. My ouma het by ons ingetrek en het ook Bybelwaarheid aangeneem. Sy en my ma het onafskeidelike metgeselle in die predikingswerk geword, en hulle waardige houding en hartlikheid het respek by mense afgedwing.

Intussen het ouer Christenbroers my onder hulle vlerke geneem en my waardevolle opleiding gegee. Ek het kort voor lank geleer om ’n getuieniskaart te gebruik om eenvoudige aanbiedings van huis tot huis te doen. Ek het ook opnames van Bybeltoesprake op ’n draagbare grammofoon gespeel en deelgeneem aan plakkaatwerk in die hoofstraat van die dorp. Dit was moeilik, aangesien mensevrees vir my ’n groot probleem was. Maar ek het geweet wat reg is en was vasbeslote om dit te doen.

Toe ek klaar was met skool, het ek vir ’n bank begin werk, wat behels het dat ek na baie takke van die bank regoor die staat Nieu-Suid-Wallis moes reis. Hoewel daar min Getuies in daardie deel van die land was, het my opleiding gehelp om my geloof lewendig te hou. My ma het aanmoedigende briewe geskryf wat my geestelik versterk het.

Daardie briewe was hulp op die regte tyd. Die Tweede Wêreldoorlog het begin, en ek is vir diensplig opgeroep. Die bankbestuurder was ’n ywerige kerkganger en ’n plaaslike militêre bevelvoerder. Toe ek my neutrale standpunt as ’n Christen verduidelik het, het hy ’n ultimatum aan my gestel—om my godsdiens te verlaat of die bank te verlaat! Die saak het ’n kritieke punt bereik toe ek by die plaaslike werwingskantoor aangemeld het. Die bestuurder was teenwoordig en het met groot belangstelling toegekyk terwyl ek die registrasietafel genader het. Toe ek weier om die werwingsvorms te teken, het die amptenare kwaad geword. Dit was ’n gespanne oomblik, maar ek was vasbeslote om te doen wat reg is. Met Jehovah se hulp het ek kalm en standvastig gebly. Toe ek later uitvind dat ’n paar bullebakke op soek was na my, het ek vinnig my goed gepak en die volgende trein uit die dorp gehaal!

Nadat ek teruggekeer het na Newcastle, moes ek voor die hof verskyn saam met sewe ander broers wat geweier het om militêre diens te doen. Die regter het ons tot drie maande dwangarbeid in die tronk gevonnis. Hoewel tronkstraf ’n onaangename ondervinding was, het dit seëninge meegebring om te doen wat reg is. Ná ons vrylating het een van my selmaats, ’n mede-Getuie met die naam Hilton Wilkinson, my genooi om in sy fotoateljee vir hom te kom werk. Daar het ek my toekomstige vrou, Melody, ontmoet, wat as ’n ontvangsdame by die ateljee gewerk het. Kort ná my vrylating het ek my laat doop om my toewyding aan Jehovah te simboliseer.

Voltydse diens

Nadat ons getroud is, het ek en Melody ons eie fotoateljee in Newcastle oopgemaak. Kort voor lank het ons soveel werk gehad dat ons gesondheid en geestelikheid daaronder begin ly het. Omstreeks daardie tyd het Ted Jaracz, wat destyds by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Australië gedien het en nou ’n lid van die Bestuursliggaam is, met ons gesels oor ons geestelike doelwitte. Ná hierdie bespreking het ons besluit om ons besigheid te verkoop en ons lewe te vereenvoudig. In 1954 het ons ’n klein woonwa gekoop, na die stad Ballarat in die staat Victoria getrek en as pioniers, of voltydse bedienaars, begin dien.

Terwyl ons saam met die klein gemeente in Ballarat gewerk het, het Jehovah ons pogings geseën. Binne 18 maande het die bywoningsyfer by die vergaderinge van 17 tot 70 gestyg. Toe het ons ’n uitnodiging ontvang om die reisende bediening, of kringwerk, te betree in die staat Suid-Australië. Die volgende drie jaar het ons dit geniet om gemeentes te besoek in die stad Adelaide en in die wyn- en sitrusgebiede langs die Murray-rivier. Hoe het ons lewe tog verander! Ons was bly dat ons saam met liefdevolle broers en susters kon dien. Wat ’n beloning was dit tog omdat ons gedoen het wat ons geweet het reg is!

’n Sendingtoewysing

In 1958 het ons die takkantoor van Australië laat weet dat ons later daardie jaar die “Goddelike Wil”- Internasionale Byeenkoms in New York-stad wou bywoon. Hulle het geantwoord deur vir ons aansoekvorms vir die Gileadsendingskool in die Verenigde State te stuur. Aangesien ons in ons middeldertigerjare was, het ons gedink dat ons te oud is om Gilead by te woon. Ons het nietemin ons aansoeke ingestuur en is genooi om die 32ste klas by te woon. Halfpad deur die kursus het ons ons sendingtoewysing ontvang—Indië! Ondanks ons aanvanklike vrees wou ons doen wat reg is en het ons ons toewysing met blydskap aanvaar.

Ons het per skip gereis en vroeg een oggend in 1959 in Bombaai (nou Moembaai) aangekom. Honderde werkers het op die dok gelê en slaap. Die lug was vol vreemde reuke. Toe die son opkom, het ons ’n idee gekry van wat vir ons voorlê. Nog nooit tevore het ons sulke hitte ervaar nie! ’n Sendelingegpaar, Lynton en Jenny Dower, wat saam met ons in Ballarat gepionier het, het ons verwelkom. Hulle het ons geneem na Indië se takkantoor en Bethelhuis, wat ’n beknopte woonstel bo in ’n gebou naby die middestad was. Ses Bethelvrywilligers het in die Bethelhuis gewoon. Broer Edwin Skinner, wat sedert 1926 as ’n sendeling in Indië gedien het, het ons aangeraai om twee seil-reissakke te koop voordat ons na ons toewysing vertrek. Dié soort reissakke was ’n bekende gesig op Indiese treine en het gedurende ons latere reise handig te pas gekom.

Ná ’n twee dae lange treinreis het ons ons toewysing in Tiruchirapalli bereik, ’n stad in die suidelike staat Madras (nou Tamil Nadu). Daar het ons by drie Indiese spesiale pioniers aangesluit wat die getuieniswerk onder ’n bevolking van 250 000 mense gedoen het. Die lewenstoestande was baie eenvoudig. Ons het eenkeer net omtrent R20 oorgehad. Maar toe daardie geld klaar was, het Jehovah ons nie in die steek gelaat nie. ’n Bybelstudent het vir ons geld geleen om ’n huis te huur waarin ons vergaderinge kon hou. Eenkeer toe ons kos begin opraak het, was ’n buurman so gaaf om vir ons tuisgemaakte kerrie te bring. Ek het dit baie geniet, maar dit was so sterk dat dit my laat hik het!

In die veld

Hoewel sommige mense in Tiruchirapalli Engels gepraat het, het die meerderheid Tamil gepraat. Daarom het ons hard probeer om ’n eenvoudige velddiensaanbieding in daardie taal aan te leer. Baie van die plaaslike mense het ons hiervoor gerespekteer.

Ons het die huis-tot-huis-bediening terdeë geniet. Indiërs is van nature gasvry, en die meeste het ons vir verversings ingenooi. Aangesien die temperatuur dikwels ongeveer 40 grade Celsius was, het ons hulle gasvryheid baie waardeer. Dit was beleefd om eers oor persoonlike sake te gesels voordat ons ons aanbieding doen. Huisbewoners het dikwels vir my en my vrou gevra: “Waarvandaan kom julle? Het julle kinders? Waarom nie?” Dan het hulle gewoonlik aangebied om ons na ’n goeie dokter te verwys! Nietemin het hierdie gesprekke ons die geleentheid gegee om ons voor te stel en die belangrikheid van ons Bybelwerk te verduidelik.

Die meeste mense vir wie ons getuig het, het aan die Hindoe-godsdiens behoort—’n geloof wat baie verskil van die Christelike godsdiens. In plaas van oor die komplekse Hindoe-filosofie te redeneer, het ons eerder eenvoudig die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig—en met goeie resultate. Binne ses maande het omtrent 20 die vergaderinge in ons sendinghuis begin bywoon. Een van hulle was ’n siviele ingenieur met die naam Nallathambi. Hy en sy seun, Vijayalayan, het later sowat 50 mense gehelp om knegte van Jehovah te word. Vijayalayan het ook ’n tyd lank by Indië se takkantoor gedien.

Reisende werk

Ons was minder as ses maande in Indië toe ek genooi is om as die land se eerste permanente streekopsiener te dien. Dit het behels dat ons dwarsoor Indië moes reis, byeenkomste moes organiseer en met nege verskillende taalgroepe moes saamwerk. Dit was veeleisende werk. Ons het klere en toerusting vir ses maande in drie bliktrommels en ons staatmaker-seilsakke gepak en per trein van die stad Madras (nou Chennai) vertrek. Aangesien die streek ’n gebied gedek het wat omtrent 6 500 kilometer in omtrek was, was ons gedurig op die pad. By een geleentheid het ons die Sondag ’n byeenkoms in die suidelike stad Bangalore bedien. Daarna het ons noord gereis na Darjeeling in die voetheuwels van die Himalajagebergte om die volgende week ’n ander byeenkoms daar te bedien. Om by Darjeeling te kom, het ’n reis van sowat 2 700 kilometer beteken, en ons moes vyf verskillende treine haal.

Gedurende ons vroeë reise het ons dit geniet om die rolprent The New World Society in Action te vertoon. Hierdie rolprent het mense geleer omtrent die omvang en bedrywighede van Jehovah se aardse organisasie. Dikwels het honderde mense hierdie vertonings bygewoon. By een geleentheid het ons die rolprent gewys vir ’n groep wat langs ’n pad vergader het. Terwyl die rolprent gespeel het, het stormwolke saamgepak en vinnig nader beweeg. Aangesien ’n skare by ’n vorige geleentheid oproerig geraak het toe die rolprent onderbreek is, het ek besluit om die rolprent te laat speel, maar om dit vinniger te laat draai. Gelukkig het die rolprent sonder enige voorval geëindig net toe die eerste reëndruppels begin val het.

In die jare daarna het ek en Melody die meeste dele van Indië besoek. Aangesien elke streek sy eie kos, kleredrag, taal en natuurskoon gehad het, was dit asof ons van een land na ’n ander gereis het. Watter wonderlike verskeidenheid is daar tog in Jehovah se skepping! Dit geld ook vir Indië se natuurlewe. Eenkeer, terwyl ons in die oerwoud van Nepal gekamp het, kon ons ’n yslike tier goed sien. Wat ’n pragtige dier! Hierdie toneel het ons begeerte versterk om in die Paradys te wees, waar daar uiteindelik vrede tussen mens en dier sal wees.

Organisatoriese verbeteringe

Gedurende daardie vroeë dae moes die broers in Indië gehelp word om meer in lyn met Jehovah se organisatoriese reëlings te kom. In sommige gemeentes het die mans aan die een kant van die saal gesit terwyl die vroue aan die ander kant gesit het. Vergaderinge het byna nooit op tyd begin nie. In een plek het ’n harde klok Koninkryksverkondigers na vergaderinge ontbied. In ander gebiede het die posisie van die son bepaal wanneer verkondigers daar aankom. Byeenkomste en besoeke van reisende opsieners was iets ongereelds. Die broers was gewillig om te doen wat reg is, maar hulle het opleiding nodig gehad.

In 1959 het Jehovah se organisasie die Koninkryksbedieningskool ingestel. Hierdie wêreldwye opleidingsprogram het kringopsieners, spesiale pioniers, sendelinge en gemeentelike ouer manne gehelp om hulle skriftuurlike verantwoordelikhede op doeltreffender wyse na te kom. Toe die skool in Desember 1961 in Indië begin het, het ek as ’n klasinstrukteur gedien. Die resultate van hierdie opleiding het geleidelik deurgesypel na gemeentes regoor die land, en hulle het vinnig vooruitgang gemaak. Toe die broers weet wat reg is, het God se gees hulle beweeg om dit te doen.

Groot byeenkomste het ook die broers aangemoedig en verenig. ’n Uitsonderlike byeenkoms was die “Ewige Goeie Nuus”- Internasionale Byeenkoms wat in 1963 in Nieu-Delhi gehou is. Getuies van oor die hele Indië het duisende kilometers gereis om hierdie byeenkoms by te woon, en baie het al hulle spaargeld gebruik om dit te doen. Dit was die eerste keer dat plaaslike Getuies groot getalle besoekende broers kon ontmoet en met hulle kon assosieer, aangesien 583 afgevaardigdes uit 27 ander lande ook teenwoordig was.

In 1961 is ek en Melody genooi om deel van die Bethelgesin in Bombaai te word, waar ek later as ’n lid van die Takkomitee gedien het. Ander voorregte het gevolg. Ek het jare lank as ’n sone-opsiener in dele van Asië en die Midde-Ooste gedien. Aangesien die predikingswerk in baie van hierdie lande beperk was, moes die plaaslike verkondigers “versigtig soos slange en tog onskuldig soos duiwe” wees.—Matteus 10:16.

Uitbreiding en veranderinge

In 1959, toe ons in Indië aangekom het, was daar 1 514 bedrywige verkondigers in die land. Vandag het hierdie getal toegeneem tot meer as 24 000. Weens hierdie toename het die Bethelhuis twee keer na nuwe persele in of naby Bombaai verskuif. Toe, in Maart 2002, het die Bethelgesin weer getrek—hierdie keer na ’n nuwe kompleks wat naby Bangalore, in die suide van Indië, gebou is. Hierdie moderne fasiliteit huisves tans 240 Betheliete, waarvan party Bybellektuur in 20 tale vertaal.

Hoewel ek en Melody gretig daarna uitgesien het om na Bangalore te trek, het swak gesondheid ons in 1999 gedwing om na Australië terug te keer. Ons dien nou as lede van die Bethelgesin in Sydney. Hoewel ons Indië verlaat het, is ons nog altyd baie lief vir ons dierbare vriende en geestelike kinders in daardie land. Hoe geniet ons dit tog om briewe van hulle te ontvang!

Wanneer ek en Melody terugkyk oor meer as 50 jaar in die voltydse diens, voel ons ryklik geseën. In die verlede was dit ons werk om mense se beeld op fotografiese papier te bewaar, maar die werk om mense lewend in God se geheue te bewaar, was ’n baie beter keuse. Watter kosbare ondervindinge het ons tog gehad as gevolg van ons besluit om God se wil eerste in ons lewe te stel! Ja, om te doen wat God sê reg is, bring waarlik geluk mee!

[Kaarte op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

INDIË

Nieu-Delhi

Darjeeling

Bombaai (Moembaai)

Bangalore

Madras (Chennai)

Tiruchirapalli

[Prente op bladsy 13]

Hadyn en Melody in 1942

[Prent op bladsy 16]

Die Bethelgesin in Indië, 1975