Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Vertel ons nog!”

“Vertel ons nog!”

“Vertel ons nog!”

IN Nezlobnaja, Rusland, het hoërskoolleerlinge die werke van die Russiese skrywer Michail Boelgakof in hulle letterkundeklas bestudeer. Een van die werke was ’n roman wat Jesus Christus op ’n neerhalende manier beskryf, terwyl Satan as ’n held uitgebeeld word. Ná die klasbespreking het die onderwyseres die klas ’n toets oor die roman laat skryf. Een van die leerlinge, ’n 16-jarige Getuie van Jehovah genaamd Andrei, het egter beleefd gevra om nie die toets te skryf nie omdat sy gewete hom nie toelaat om hierdie soort literatuur te bestudeer nie. Hy het aangebied om eerder ’n opstel te skryf en te verduidelik hoe hy Jesus Christus beskou. Die onderwyseres het ingestem.

In sy opstel het Andrei verduidelik dat hy die menings van ander respekteer, maar dat hy gevind het dat die beste manier om van Jesus te leer, is om een van die vier Evangelieverslae te lees. Sodoende “sal jy van Jesus se lewe en leringe uit die verslae van ooggetuies leer”. Andrei het bygevoeg: “Nog iets wat my pla, is die manier waarop Satan uitgebeeld word. Party mense geniet dit om ’n boek te lees waarin Satan ’n held is, maar ek geniet dit nie.” Hy het verduidelik dat Satan in werklikheid ’n magtige en bose geesskepsel is wat sy rug op God gekeer het en goddeloosheid, smart en lyding oor die mensegesin gebring het. Andrei het sy opstel met hierdie woorde afgesluit: “Ek glo nie dat ek daarby sal baat vind om hierdie boek te lees nie. Ek het natuurlik niks teen Boelgakof nie. Maar ek sou liewer die Bybel lees om die geskiedkundige waarheid omtrent Jesus Christus te leer.”

Andrei se onderwyseres was so beïndruk met die opstel dat sy hom gevra het om ’n mondelinge verslag oor Jesus Christus voor te berei. Andrei het geredelik ingestem. Tydens die volgende letterkundeklas het Andrei sy verslag vir die hele klas gelees. Hy het verduidelik waarom hy meen dat Jesus die grootste mens is wat nog geleef het. Toe het hy ’n hoofstuk oor Jesus se dood uit die Bybelboek Matteus gelees. Aangesien die tyd waarin hy die verslag moes aanbied, amper verstreke was, wou Andrei afsluit, maar sy klasmaats het gesê: “Vertel ons nog! Wat het toe gebeur?” Hy het dus verder uit Matteus se verslag oor Jesus se opstanding gelees.

Toe Andrei klaar was, het sy klasmaats hom baie vrae oor Jesus en Jehovah gevra. “Ek het tot Jehovah gebid vir wysheid, en hy het my gebed verhoor”, sê Andrei. “Ek kon al hulle vrae beantwoord!” Ná die periode het Andrei vir sy onderwyseres ’n eksemplaar van die boek Die grootste mens wat nog geleef het a gegee, wat sy graag geneem het. Andrei het gesê: “Sy het my goeie punte vir my verslag gegee en my geprys omdat ek my eie oortuigings het en my nie daarvoor skaam nie. Sy het ook gesê dat sy saamstem met van die dinge wat ek glo.”

Andrei is verheug dat hy besluit het om sy Bybelopgeleide gewete te volg en leesstof te vermy wat Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, oneer aandoen. Hierdie standpunt het hom nie net beskerm teen onskriftuurlike beskouings nie, maar het hom ook die wonderlike geleentheid gebied om met ander oor lewensbelangrike Bybelwaarhede te praat.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.