Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waar word Christus se leringe vandag toegepas?

Waar word Christus se leringe vandag toegepas?

Waar word Christus se leringe vandag toegepas?

JESUS CHRISTUS word vandag algemeen beskou as een van die grootste mense wat nog geleef het. Baie beskou hom as die grootste mens. Sy leringe het al bykans tweeduisend jaar lank ’n diepgaande invloed op lewens—“geringe, onopvallende lewens van vriendelikheid en goedheid sowel as indrukwekkende liefdadigheidspogings”, skryf die Engelse outeur Melvyn Bragg.

Wat van die Christelike godsdiens?

Wat van die Christelike godsdiens? Dit is al beskryf as “een van die mensdom se grootste geestelike ontwikkelinge”. Een beskouing is uitgespreek deur David Kelso van die Caledoniese Universiteit van Glasgow, Skotland. Hy het geskryf: “Die tweeduisend jaar lange geskiedenis daarvan is vol ongeëwenaarde prestasies op die gebied van kuns, argitektuur, filosofie, musiek en maatskaplike optrede.”

Baie het egter ’n ander beskouing van sake. Hulle het niks teen die Christelike godsdiens soos dit in een woordeboek omskryf word nie: “’n Godsdiens wat gegrond is op die leringe van Jesus Christus en die opvatting dat hy die seun van God was” (Collins Cobuild). Wat hulle wel afstoot, is die gedrag van die godsdiensinstellings en -organisasies wat beweer dat hulle die Christelike godsdiens verteenwoordig.

Dit is laasgenoemde wat die 19de-eeuse Duitse filosoof Friedrich Nietzsche byvoorbeeld beskryf het as “die een onuitwisbare klad op die mensdom”. Dit is, het hy geskryf, “die een groot vloek, die een ontsaglike en diepste verdorwenheid, . . . waarvoor geen middel te venynig, te onderduims, te agteraf en te kleingeestig is nie”. Nietzsche het weliswaar uiterste beskouings gehad, maar ’n aantal redeliker waarnemers het tot soortgelyke gevolgtrekkings gekom. Waarom? Omdat die gedrag van dié wat beweer dat hulle Christene is, deur die eeue heen nie deur die eienskappe van Jesus Christus gekenmerk is nie, maar deur wydverspreide “sedelike verval, afgryslike misdade en godslastering”.

Is Christus in die Christelike godsdiens?

Dit is dus nie onredelik nie om te vra: “Is Christus nog in die Christelike godsdiens?” “Natuurlik is hy!” sal sommige onmiddellik sê. “Het hy nie sy volgelinge beloof dat hy ‘tot aan die voleinding van die wêreld’ met hulle sou wees nie?” (Matteus 28:20, Die Bybel, 1953). Ja, Jesus hét so gesê. Maar het hy bedoel dat hy met elkeen sou wees wat beweer dat hy Sy volgeling is, ongeag die persoon se gedrag?

Onthou dat party godsdiensleiers in Jesus se dag gedink het dat God onvoorwaardelik met hulle was. Aangesien God Israel vir ’n spesiale rol uitgekies het, het party godsdiensleiers gedink dat God hulle nooit sou verlaat nie—ongeag wat hulle doen (Miga 3:11). Maar hulle het hulle verwerping van God se wette en standaarde uiteindelik te ver gedryf. Gevolglik het Jesus Christus reguit vir hulle gesê: “Kyk! Julle huis word vir julle verlate agtergelaat” (Matteus 23:38). ’n Hele godsdiensstelsel het God se goedkeuring verloor. Hy het dit verwerp en toegelaat dat die Romeinse leër die hoofstad, Jerusalem, en die tempel in 70 G.J. vernietig.

Kan iets soortgelyks met die Christelike godsdiens gebeur? Kom ons kyk watter voorwaardes Jesus geheg het aan sy belofte om tot aan “die voleinding van die wêreld” met sy volgelinge te wees.

[Prente op bladsy 2, 3]

Die leringe van Jesus Christus het ’n diepgaande invloed op miljoene mense regoor die wêreld