Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bly weg van valse aanbidding!

Bly weg van valse aanbidding!

Bly weg van valse aanbidding!

“‘Gaan . . . onder hulle uit en sonder julle af’, sê Jehovah, ‘en hou op om wat onrein is, aan te raak.’”—2 KORINTIËRS 6:17.

1. In watter geestelike toestand verkeer talle opregte mense?

 TALLE opregte mense weet nie wat die waarheid omtrent God en die toekoms van die mensdom is nie. Omdat hulle nie antwoorde op hulle diepste geestelike kwellinge gevind het nie, is hulle verward en onseker. Miljoene is slawe van bygelowe, rituele en vierings wat ons Skepper aanstoot gee. Jy het waarskynlik bure en familielede wat aan ’n helse vuur, ’n drie-enige God, die onsterflikheid van die siel of ’n ander valse leerstelling glo.

2. Wat het godsdiensleiers gedoen, en met watter gevolg?

2 Wat is verantwoordelik vir hierdie wydverspreide geestelike duisternis? Ironies genoeg, dit is godsdiens—in die besonder die godsdiensorganisasies en -leiers wat idees bevorder wat in stryd is met God se denke (Markus 7:7, 8). Gevolglik is baie mense wysgemaak dat hulle die ware God aanbid, terwyl hulle hom in werklikheid aanstoot gee. Valse godsdiens is regstreeks verantwoordelik vir hierdie droewige situasie.

3. Wie is die vernaamste bevorderaar van valse godsdiens, en hoe word hy in die Bybel beskryf?

3 Daar is ’n onsigbare wese agter valse godsdiens. Met verwysing na hom het die apostel Paulus gesê: “Die god van hierdie stelsel van dinge [het] die verstande van die ongelowiges verblind . . . , sodat die verligting van die glorieryke goeie nuus oor die Christus, wat die beeld van God is, nie sou deurskyn nie” (2 Korintiërs 4:4). “Die god van hierdie stelsel van dinge” is niemand anders nie as Satan die Duiwel. Hy is die vernaamste bevorderaar van valse aanbidding. “Satan self hou aan om hom in ’n engel van lig te verander”, het Paulus geskryf. “Dit is dus niks besonders as sy bedienaars ook aanhou om hulle in bedienaars van regverdigheid te verander nie” (2 Korintiërs 11:14, 15). Satan laat slegte dinge goed lyk en bedrieg mense sodat hulle leuens glo.

4. Wat het God se Wet aan eertydse Israel oor valse profete gesê?

4 Dit is geen wonder dat die Bybel valse godsdiens so sterk veroordeel nie! Die Mosaiese Wet het byvoorbeeld God se uitverkore volk spesifiek teen valse profete gewaarsku. Enigiemand wat valse leringe en die aanbidding van valse gode bevorder het, moes ‘doodgemaak word omdat hy gepraat het van opstand teen Jehovah’. Die Israeliete is beveel ‘om die kwaad uit hulle midde weg te ruim’ (Deuteronomium 13:1-5). Ja, Jehovah beskou valse godsdiens as iets kwaads, of boos.—Esegiël 13:3.

5. Op watter waarskuwings moet ons vandag ag slaan?

5 Jesus Christus en sy apostels het Jehovah se sterk gevoelens oor valse godsdiens weerspieël. Jesus het sy dissipels gewaarsku: “Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle toe kom, maar van binne roofsugtige wolwe is” (Matteus 7:15; Markus 13:22, 23). Paulus het geskryf: “God se gramskap word vanuit die hemel geopenbaar teen alle goddeloosheid en onregverdigheid van die mense wat die waarheid . . . onderdruk” (Romeine 1:18). Hoe noodsaaklik is dit tog dat ware Christene ag slaan op hierdie waarskuwings en wegbly van enigiemand wat die waarheid van God se Woord onderdruk of valse leerstellings versprei!—1 Johannes 4:1.

Vlug uit “Babilon die Grote”

6. Hoe word “Babilon die Grote” in die Bybel uitgebeeld?

6 Kyk hoe die Bybelboek Openbaring valse godsdiens beskryf. Dit word uitgebeeld as ’n dronk prostituut wat mag het oor baie koninkryke en hulle volke. Hierdie figuurlike vrou pleeg hoerery met baie konings en is dronk van die bloed van God se ware aanbidders (Openbaring 17:1, 2, 6, 18). Op haar voorkop is ’n naam geskryf wat by haar vuil en weersinwekkende gedrag pas. Die naam is: “Babilon die Grote, die moeder van die hoere en van die walglike dinge van die aarde.”—Openbaring 17:5.

7, 8. Hoe het valse godsdiens haar aan prostitusie oorgegee, en met watter gevolge?

7 Die skriftuurlike beskrywing van Babilon die Grote pas by die wêreld se valse godsdienste as ’n geheel. Hoewel die duisende godsdienste nie formeel as een wêreldorganisasie verenig is nie, is hulle onlosmaaklik verbind in voorneme en dade. Soos uitgebeeld deur die onsedelike vrou in Openbaring, oefen valse godsdiens ontsaglike invloed oor regerings uit. Net soos ’n vrou wat nie getrou is aan haar huweliksgeloftes nie, het valse godsdiens haar aan prostitusie oorgegee deur bondgenootskappe met die een politieke mag na die ander aan te gaan. “Egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie?” het die dissipel Jakobus geskryf. “Elkeen dan wat ’n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God.”—Jakobus 4:4.

8 Hierdie vermenging van valse godsdiens met die regerings het groot menselyding tot gevolg gehad. ’n Politieke ontleder in Afrika, dr. Xolela Mangcu, het gesê dat die “wêreldgeskiedenis besaai is met voorbeelde van massamoorde wat veroorsaak is deur die vermenging van godsdiens en die politiek”. ’n Koerant het onlangs gesê: “Die bloedigste en gevaarlikste geskille van vandag . . . hou ten nouste met godsdiens verband.” Miljoene lewens is al uitgewis in konflikte wat deur godsdiens ondersteun is. Babilon die Grote het selfs God se ware knegte vervolg en doodgemaak, sodat sy as ’t ware dronk geword het van hulle bloed.—Openbaring 18:24.

9. Hoe word Jehovah se haat vir valse aanbidding in die boek Openbaring getoon?

9 Jehovah se haat vir valse aanbidding blyk duidelik uit wat met Babilon die Grote gebeur. Openbaring 17:16 sê: “Die tien horings wat jy gesien het, en die wilde dier, hulle sal die hoer haat en sal haar verwoes en naak maak, en hulle sal haar vlesige dele opeet en haar heeltemal met vuur verbrand.” Eers verskeur ’n ontsaglike dier haar sodat sy sterf en eet hy haar vlesige dele op. Daarna word enigiets wat van haar oorbly, heeltemal verbrand. In ooreenstemming hiermee gaan die wêreldregerings binnekort so teen valse godsdiens optree. God sal dit laat gebeur (Openbaring 17:17). Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, is tot vernietiging gedoem. “Sy sal nooit weer gevind word nie.”—Openbaring 18:21.

10. Hoe moet ons valse godsdiens beskou?

10 Watter standpunt moet ware aanbidders ten opsigte van Babilon die Grote inneem? Die Bybel beveel uitdruklik: “Gaan uit haar uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie, en as julle geen deel van haar plae wil ontvang nie” (Openbaring 18:4). Dié wat gered wil word, moet uit valse godsdiens uitgaan voordat dit te laat is. Toe Jesus Christus op die aarde was, het hy voorspel dat baie mense in die laaste dae bloot sou beweer dat hulle hom volg (Matteus 24:3-5). Vir sulkes sê hy: “Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my af, julle werkers van wetteloosheid” (Matteus 7:23). Die tans heersende Koning, Jesus Christus, het niks te doen met valse godsdiens nie.

Bly weg daarvan—Hoe?

11. Wat moet ons doen om weg te bly van valse aanbidding?

11 Ware Christene bly weg van valse aanbidding en verwerp valse godsdiensleerstellings. Dit beteken dat ons blootstelling aan godsdiensprogramme oor die radio en televisie vermy, asook godsdienslektuur wat leuens oor God en sy Woord bevorder (Psalm 119:37). Ons neem wyslik ook nie deel aan sosiale geleenthede en ontspanningsbedrywighede wat gereël word deur enige organisasie wat bande met valse godsdiens het nie. Verder ondersteun ons valse aanbidding in geen opsig nie (1 Korintiërs 10:21). Hierdie maatreëls beskerm ons sodat ons nie deur iemand weggevoer word “as sy prooi . . . deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie”.—Kolossense 2:8.

12. Hoe kan ’n mens enige bande met valse godsdiensorganisasies verbreek?

12 Sê nou iemand wat graag een van Jehovah se Getuies wil word, is tans ’n geregistreerde lidmaat van ’n valse godsdiens? In die meeste gevalle dien ’n bedankingsbrief as bewys dat iemand nie langer as ’n lidmaat van ’n valse godsdiens beskou wil word nie. Dit is uiters belangrik dat die persoon daadwerklik optree om enige vorm van geestelike besoedeling deur valse aanbidding heeltemal te vermy. Die dade van iemand wat ’n Getuie wil word, moet vir die godsdiensorganisasie en waarnemers oor die algemeen duidelik toon dat hy sy bande met daardie godsdiens verbreek het.

13. Watter raad gee die Bybel oor die belangrikheid daarvan om weg te bly van valse aanbidding?

13 “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie”, het die apostel Paulus geskryf. “Want watter gemeenskap het regverdigheid en wetteloosheid? Of watter deelgenootskap het lig met duisternis? En watter ooreenstemming is daar tussen Christus en Belial? Of watter aandeel het ’n getroue met ’n ongelowige? En watter ooreenkoms het God se tempel met afgode? . . . ‘Gaan dus onder hulle uit en sonder julle af’, sê Jehovah, ‘en hou op om wat onrein is, aan te raak’” (2 Korintiërs 6:14-17). Ons gee gehoor aan hierdie woorde deur weg te bly van valse aanbidding. Vereis Paulus se raad dat ons ook wegbly van valse aanbidders?

“Gaan voort om in wysheid te wandel”

14. Moet ons diegene wat valse aanbidding beoefen, heeltemal vermy? Verduidelik.

14 Moet ware aanbidders alle kontak vermy met mense wat valse aanbidding beoefen? Moet ons ons heeltemal afsydig hou van diegene wat nie dieselfde godsdiensoortuiging as ons het nie? Die antwoord is nee. Die tweede van die twee grootste gebooie sê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:39). Ons toon beslis liefde vir ons naaste wanneer ons die goeie nuus van die Koninkryk aan hulle verkondig. Ons liefde vir hulle word ook geopenbaar wanneer ons die Bybel met hulle studeer en hulle bewus maak van die belangrikheid daarvan om weg te bly van valse aanbidding.

15. Wat beteken dit om “geen deel van die wêreld” te wees nie?

15 Hoewel ons die goeie nuus aan ons medemens verkondig, is ons as Jesus se volgelinge “geen deel van die wêreld” nie (Johannes 15:19). Die woord “wêreld” verwys hier na die mensegemeenskap wat van God vervreemd is (Efesiërs 4:17-19; 1 Johannes 5:19). Ons is afgeskeie van die wêreld in die sin dat ons gesindhede, spraak en gedrag verwerp wat Jehovah aanstoot gee (1 Johannes 2:15-17). En in ooreenstemming met die beginsel dat ‘slegte omgang nuttige gewoontes bederf’, vermy ons vriendskap met diegene wat nie volgens Christelike standaarde lewe nie (1 Korintiërs 15:33). Om geen deel van die wêreld te wees nie, moet ons ons “sonder vlek van die wêreld” bewaar (Jakobus 1:27). Afgeskeidenheid van die wêreld beteken dus nie dat ons ons fisies onttrek van alle kontak met ander mense nie.—Johannes 17:15, 16; 1 Korintiërs 5:9, 10.

16, 17. Hoe moet Christene diegene behandel wat nie Bybelwaarheid ken nie?

16 Hoe moet ons dan diegene behandel wat nie Bybelwaarhede ken nie? Paulus het aan die gemeente in Kolosse geskryf: “Gaan voort om in wysheid te wandel teenoor dié wat buite is, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop. Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord” (Kolossense 4:5, 6). Die apostel Petrus het geskryf: “Heilig die Christus as Here in julle harte, en wees altyd gereed om julle te verdedig voor elkeen wat van julle ’n rede vir die hoop in julle eis, maar doen dit met sagmoedigheid en diep respek” (1 Petrus 3:15). Paulus het Christene vermaan “om van niemand kwaad te spreek nie, om nie strydlustig te wees nie, om redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê”.—Titus 3:2.

17 As Jehovah se Getuies behandel ons ander nie op ’n hardvogtige of hooghartige wyse nie. Ons gebruik beslis nie neerhalende woorde om mense van ander godsdienste te beskryf nie. Ons is eerder taktvol, selfs as die huisbewoner, ons bure of ons werksmaats onvriendelik of beledigend is.—Kolossense 4:6; 2 Timoteus 2:24.

“Hou voortdurend vas aan die patroon van gesonde woorde”

18. In watter jammerlike geestelike toestand verkeer diegene wat terugval in valse aanbidding?

18 Hoe tragies sal dit tog wees as iemand terugval in valse aanbidding nadat hy Bybelwaarheid geleer het! Die Bybel beskryf die droewige gevolge van so ’n weg wanneer dit sê: “Waarlik, as hulle, nadat hulle deur juiste kennis van die Here en Redder Jesus Christus aan die verontreinigings van die wêreld ontvlug het, weer in hierdie selfde dinge verwikkel raak en oorwin word, het die laaste toestande vir hulle erger geword as die eerste. . . . Oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: ‘Die hond het na sy eie uitbraaksel teruggekeer, en die gewaste sog om in die modder te rol.’”—2 Petrus 2:20-22.

19. Waarom is dit noodsaaklik om op ons hoede te wees vir enigiets wat ons geestelikheid in gevaar kan stel?

19 Ons moet op ons hoede wees vir enigiets wat ons geestelikheid in gevaar kan stel. Sulke gevare bestaan werklik! Die apostel Paulus waarsku: “Die geïnspireerde uiting sê . . . uitdruklik dat party in latere tye van die geloof afvallig sal word en aandag sal skenk aan misleidende geïnspireerde uitinge en leringe van demone” (1 Timoteus 4:1). Ons lewe in “latere tye”. Dié wat nie wegbly van valse aanbidding nie, kan “rondgeslinger word soos deur golwe en hiernatoe en daarnatoe gevoer word deur elke wind van lering deur middel van die bedrieëry van mense, deur middel van listigheid in die versinning van dwaling”.—Efesiërs 4:13, 14.

20. Hoe kan ons ons beskerm teen die skadelike invloed van valse godsdiens?

20 Hoe kan ons ons beskerm teen die skadelike invloed van valse godsdiens? Dink aan alles wat Jehovah voorsien. Ons het God se Woord, die Bybel (2 Timoteus 3:16, 17). Jehovah voorsien ook ’n oorvloed van geestelike voedsel deur “die getroue en verstandige slaaf” (Matteus 24:45). Behoort ons nie, namate ons in die waarheid vooruitgang maak, ’n aptyt te ontwikkel vir ‘vaste voedsel wat vir volwasse mense is’, asook ’n begeerte om te vergader waar ons geestelike waarhede leer nie? (Hebreërs 5:13, 14; Psalm 26:8). Laat ons vasbeslote wees om ten volle gebruik te maak van Jehovah se voorsienings sodat ons “voortdurend [kan vashou] aan die patroon van gesonde woorde” wat ons gehoor het (2 Timoteus 1:13). Sodoende kan ons wegbly van valse aanbidding.

Wat het jy geleer?

• Wat is “Babilon die Grote”?

• Wat moet ons doen om weg te bly van valse godsdiens?

• Watter gevare vir ons geestelikheid moet ons vermy?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 28]

Weet jy waarom “Babilon die Grote” as ’n onsedelike vrou uitgebeeld word?

[Prent op bladsy 29]

“Babilon die Grote” is tot vernietiging gedoem

[Prent op bladsy 31]

Ons openbaar “sagmoedigheid en diep respek” teenoor diegene wat nie dieselfde godsdiensoortuigings as ons het nie