Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die enigste oplossing!

Die enigste oplossing!

Die enigste oplossing!

’N MAN genaamd Lasarus en sy susters, Marta en Maria, woon in Betanië, ’n dorp sowat drie kilometer buite Jerusalem. Eendag, terwyl hulle vriend Jesus weg is, word Lasarus ernstig siek. Sy susters is baie bekommerd oor hom. Hulle stuur ’n boodskap na Jesus. ’n Ruk nadat hy die nuus ontvang het, vertrek Jesus om Lasarus te besoek. Op pad sê Jesus vir sy dissipels dat hy daarheen reis om Lasarus uit die slaap wakker te maak. Die dissipels verstaan hom eers verkeerd, maar Jesus verduidelik: “Lasarus het gesterf.”—Johannes 11:1-14.

Wanneer Jesus by Lasarus se graf kom, gee hy eerstens opdrag dat die klip voor die ingang van die graf weggeneem word. Hy bid hardop en beveel dan: “Lasarus, kom uit!” En Lasarus kom uit. Die man wat vier dae lank dood was, is opgewek.—Johannes 11:38-44.

Die verslag aangaande Lasarus toon dat die opstanding die gewisse oplossing vir die dood is. Maar het die wonderdadige opstanding van Lasarus werklik plaasgevind? Die Bybel stel dit as ’n feit. As jy die verslag in Johannes 11:1-44 lees, sal jy sien dat die besonderhede lewensgetrou weergegee word. Kan jy ontken dat dit gebeur het? As jy dít doen, laat dit dalk ook twyfel ontstaan oor die waaragtigheid van al die wonderwerke wat in die Bybel opgeteken is, insluitende die opstanding van Jesus Christus self. En “as Christus nie opgewek is nie”, sê die Bybel, “is [jou] geloof nutteloos” (1 Korintiërs 15:17). Die opstanding is ’n grondleerstelling van die Skrif (Hebreërs 6:1, 2). Maar wat beteken die woord “opstanding”?

Wat word bedoel met “opstanding”?

In die Christelike Griekse Geskrifte kom die woord “opstanding” meer as 40 keer voor. Dit is ’n vertaling van ’n Griekse woord wat letterlik beteken “om weer op te staan”. Die ooreenstemmende Hebreeuse uitdrukking beteken “herlewing van die dooies”. Wat word opgewek nadat iemand gesterf het? Dit kan nie die liggaam wees nie, aangesien dit ontbind en tot die stof van die aarde terugkeer. Wat opgewek word, is nie dieselfde liggaam nie, maar wel dieselfde persoon wat gesterf het. Die opstanding behels dus dat die lewenspatroon van die individu herstel word—sy karaktertrekke, sy geskiedenis en al die besonderhede van sy identiteit.

Jehovah God, wat ’n volmaakte geheue het, vind dit glad nie moeilik om die lewenspatroon te onthou van diegene wat gesterf het nie (Jesaja 40:26). Aangesien Jehovah die Bron van die lewe is, kan hy maklik dieselfde persoon in ’n nuutgevormde liggaam opwek (Psalm 36:9). Wat meer is, die Bybel sê dat Jehovah God ’n ‘verlange’—’n opregte begeerte—het om die dooies op te wek (Job 14:14, 15). Hoe bly kan ons tog wees dat Jehovah nie net in staat is om iemand op te wek nie, maar dat hy ook die begeerte het om dit te doen!

Jesus Christus speel ook ’n sleutelrol in die opwekking van die dooies. Net meer as ’n jaar nadat hy met sy bediening begin het, het Jesus gesê: “Net soos die Vader die dooies opwek en hulle lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie hy wil” (Johannes 5:21). Toon die ondervinding van Lasarus nie dat Jesus Christus die mag sowel as die begeerte het om die dooies op te wek nie?

Wat van die idee dat iets binne ons ná die dood voortleef? Die opstandingsleer en die idee dat die mensesiel of -gees onsterflik is, is in werklikheid onverenigbaar. Van watter nut sou die opstanding wees as iets binne ons ná die dood voortleef? Lasarus se suster Marta het nie geglo dat haar broer ná sy dood in ’n geesteryk voortgeleef het nie. Sy het aan die opstanding geglo. Toe Jesus haar verseker het met die woorde: “Jou broer sal opstaan”, het Marta gesê: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan” (Johannes 11:23, 24). En toe Lasarus opgewek is, het hy nie ondervindinge vertel van lewe in ’n hiernamaals nie. Hy was dood. “Wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks”, sê die Bybel. “Daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in Sjeool [die mensdom se gemeenskaplike graf], die plek waarheen jy gaan nie.”—Prediker 9:5, 10.

Volgens die Bybel is die enigste oplossing vir die dood dus die opstanding. Maar wie van die tallose mense wat al gesterf het, gaan opgewek word, en waar?

Wie sal opgewek word?

“Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom”, het Jesus gesê (Johannes 5:28, 29). Volgens hierdie belofte gaan diegene in die gedenkgrafte—diegene wat in Jehovah se geheue is—opgewek word. Maar die vraag is: Wie van al die dooies is nou eintlik in God se geheue en wag op ’n opstanding?

In hoofstuk 11 van die Bybelboek Hebreërs verskyn ’n lys name van manne en vroue wat God getrou gedien het. Hulle, sowel as getroue knegte van God wat in onlangse jare gesterf het, sal onder diegene wees wat opgewek word. Wat van mense wat nie aan God se standaarde van regverdigheid voldoen het nie, moontlik weens ’n gebrek aan kennis? Is hulle ook in God se geheue? Ja, baie van hulle is, want die Bybel belowe dat “daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees”.—Handelinge 24:15.

Maar nie almal wat al gelewe het, sal ’n opstanding kry nie. “As ons moedswillig sonde beoefen nadat ons die juiste kennis van die waarheid ontvang het”, sê die Bybel, “is daar geen offerande vir sondes meer oor nie, maar daar is ’n sekere vreeslike verwagting van oordeel” (Hebreërs 10:26, 27). Party het sondes gepleeg waarvoor daar geen vergifnis is nie. Hulle is nie in Hades (die mensdom se gemeenskaplike graf) nie, maar in Gehenna, ’n simboliese plek van ewige vernietiging (Matteus 23:33). Ons moet egter versigtig wees dat ons nie spekuleer of ’n sekere persoon opgewek sal word of nie. Hierdie oordeel word aan God oorgelaat. Hy weet wie in Hades en wie in Gehenna is. Wat ons betref, ons moet sorg dat ons volgens God se wil lewe.

’n Opstanding tot hemelse lewe—Vir wie?

Die merkwaardigste opstanding was dié van Jesus Christus. Hy is ‘doodgemaak in die vlees, maar lewend gemaak in die gees’ (1 Petrus 3:18). Geen mens het ooit tevore so ’n opstanding gekry nie. Jesus self het gesê: “Geen mens het in die hemel opgevaar nie, behalwe hy wat uit die hemel neergedaal het, die Seun van die mens” (Johannes 3:13). Ja, die Seun van die mens was die eerste een wat as ’n geespersoon opgewek is (Handelinge 26:23). Maar daar sou ook ander wees. Die Skrif sê: “Elkeen in sy eie rangorde: Christus, die eersteling, daarna dié wat aan die Christus behoort gedurende sy teenwoordigheid.”—1 Korintiërs 15:23.

’n Klein groepie mense—“dié wat aan die Christus behoort”—word vir ’n spesiale doel tot hemelse lewe opgewek (Romeine 6:5). Hulle sal saam met Christus as “konings oor die aarde” heers (Openbaring 5:9, 10). Daarbenewens sal hulle as priesters dien in die sin dat hulle ’n aandeel daaraan sal hê om die gevolge van die sonde te verwyder wat die mensdom van die eerste mens, Adam, geërf het (Romeine 5:12). Diegene wat saam met Christus as konings en priesters heers, sal altesaam 144 000 wees (Openbaring 14:1, 3). Watter soort liggaam ontvang hulle wanneer hulle opgewek word? “’n Geestelike liggaam”, sê die Bybel. Dit sal hulle in staat stel om in die hemel te lewe.—1 Korintiërs 15:35, 38, 42-45.

Wanneer vind die hemelse opstanding plaas? “Gedurende [Christus se] teenwoordigheid”, antwoord 1 Korintiërs 15:23. Wêreldgebeure sedert 1914 toon duidelik dat Christus se teenwoordigheid sowel as “die voleinding van die stelsel van dinge” in daardie jaar begin het (Matteus 24:3-7). Daar is dus goeie rede om tot die slotsom te kom dat die opstanding van getroue Christene tot hemelse lewe reeds begin het, hoewel dit natuurlik nie deur mense gesien kan word nie. Dit beteken dat die apostels en die vroeë Christene reeds tot hemelse lewe opgewek is. Wat van Christene wat vandag lewe en die vaste, godgegewe hoop het om saam met Christus in die hemel te heers? Hulle word opgewek “in ’n oogwink”, of onmiddellik nadat hulle sterf (1 Korintiërs 15:52). Aangesien die opstanding van hierdie klein groepie van 144 000 plaasvind voor die opstanding van die groot getal wat tot lewe op die aarde opgewek sal word, word dit “die vroeër opstanding” en “die eerste opstanding” genoem.—Filippense 3:11; Openbaring 20:6.

Wie sal tot lewe op die aarde opgewek word?

Volgens die Skrif gaan die oorgrote meerderheid van dié wat gesterf het, tot lewe op die aarde opgewek word (Psalm 37:29; Matteus 6:10). In ’n beskrywing van sy opwindende visioen van die verresenes het die apostel Johannes gesê: “Die see het die dooies daarin gegee, en die dood en Hades het die dooies in hulle gegee, en elkeen van hulle is volgens hulle dade geoordeel. En die dood en Hades is in die poel van vuur geslinger. Dit beteken die tweede dood, die poel van vuur” (Openbaring 20:11-14). Diegene in Hades, of Sjeool—die mensdom se gemeenskaplike graf—is in God se geheue. Elkeen van hulle sal uit die greep van die dood bevry word (Psalm 16:10; Handelinge 2:31). En elkeen sal geoordeel word volgens die dade wat hy ná sy opstanding verrig. Wat sal dan met die dood en Hades gebeur? Hulle sal in “die poel van vuur” geslinger word. Dit beteken dat die dood wat mense van Adam geërf het, nie meer ’n uitwerking op hulle sal hê nie.

Dink net aan die gelukkige vooruitsig wat die belofte van die opstanding bied vir diegene wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het! Watter blydskap het die weduwee van Nain tog ervaar toe Jesus haar enigste seun opgewek het! (Lukas 7:11-17). En die Bybel sê aangaande die ouers van ’n 12-jarige meisie wat deur Jesus opgewek is: “Dadelik was hulle buite hulleself van groot ekstase” (Markus 5:21-24, 35-42; Lukas 8:40-42, 49-56). In God se beloofde nuwe wêreld sal dit beslis wonderlik wees om geliefdes terug te verwelkom.

Watter uitwerking kan dit nou op ons hê as ons weet wat die waarheid oor die opstanding is? “Die meeste mense is bang vir die dood en probeer om nie daaraan te dink nie”, sê The World Book Encyclopedia. Waarom? Want vir die meeste mense is die dood iets geheimsinnigs—iets onbekends wat gevrees moet word. As ons weet wat die waarheid oor die toestand van die dooies is en die opstandingshoop koester, kan dit ons moed gee as ons voor ‘die laaste vyand, die dood’, te staan kom (1 Korintiërs 15:26). Hierdie kennis maak dit ook makliker om die pyn te verduur wanneer ons ’n hegte vriend of familielid aan die dood afstaan.

Wanneer sal die aardse opstanding begin? Vandag is die aarde gevul met geweld, konflik, bloedvergieting en besoedeling. As die dooies tot lewe op so ’n aarde opgewek sou word, sou enige geluk beslis kortstondig wees. Maar die Skepper het belowe dat hy binnekort ’n einde aan die huidige wêreld onder Satan se beheer gaan maak (Spreuke 2:21, 22; Daniël 2:44; 1 Johannes 5:19). God se voorneme met die aarde gaan binnekort vervul word. Dan, in die vreedsame nuwe wêreld wat God tot stand gaan bring, sal miljarde wat nou in die dood slaap, hulle oë oopmaak.

[Prent op bladsy 7]

Die meeste van die dooies sal opgewek word tot lewe op die aarde