Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Diens saam met ’n anderstalige gemeente

Diens saam met ’n anderstalige gemeente

Diens saam met ’n anderstalige gemeente

“EK HET ’n ander engel in die middel van die hemel sien vlieg”, het die apostel Johannes geskryf, “en hy het ewige goeie nuus gehad om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk” (Openbaring 14:6). Ter vervulling van hierdie profetiese visioen word die goeie nuus van God se Koninkryk regoor die wêreld in verskillende tale verkondig. Baie van hierdie tale word gepraat deur immigrante wat ver van hulle vaderland af woon. Die goeie nuus word ook aan hierdie individue verkondig deur ywerige Getuies van Jehovah wat ’n ander taal aangeleer het.

Is jy een van die Getuies wat in ’n anderstalige gemeente dien? Of oorweeg jy dalk om dit te doen? Om sukses te behaal, moet jy ’n onselfsugtige beweegrede en die regte gesindheid hê. Aangesien dit jou oogmerk is om ander te help om die waarheid van God se Woord te leer, het jy die allerbeste beweegrede—liefde vir God en vir jou naaste (Matteus 22:37-39; 1 Korintiërs 13:1). Die begeerte om ander te help om God te leer ken, is ’n baie kragtiger motivering as ’n blote belangstelling in die geselskap, kos en kultuur van ’n ander nasionaliteit of groep. Klink die idee om ’n ander taal te leer, vir jou oorweldigend? Indien wel, kan die regte beskouing jou help. “Moenie dat die taal jou afskrik nie”, sê James, wat Japannees leer praat het. As jy in gedagte hou dat baie ander dit al reggekry het, kan dit jou help om deur te druk en ’n positiewe gesindheid te behou. Hoe kan jy dus ’n nuwe taal aanleer? Wat sal jou help om aan te pas by ’n gemeente waar daardie taal gepraat word? En wat moet jy doen om geestelik sterk te bly?

Hoe om die taal aan te leer

Daar is baie maniere om ’n taal aan te leer. Studente en onderrigters het verskillende voorkeure. Maar die meeste studente leer vinniger en makliker as hulle ’n paar klasse bywoon wat deur ’n bekwame onderrigter aangebied word. As jy die Bybel en Bybelpublikasies in jou nuwe taal lees en na enige beskikbare opnames luister, sal dit jou help om jou woordeskat uit te brei en meer teokratiese uitdrukkings te leer ken. Gepaste radio-, TV- en videoprogramme kan jou ook aan die taal en kultuur blootstel. Wat die lengte van studiesessies betref, is dit gewoonlik doeltreffender om elke dag ’n bietjie te studeer as om ellelange maar ongereelde studiesessies te hê.

Om ’n taal aan te leer, is soos om te leer swem. Jy kan nie leer swem deur net ’n boek daaroor te lees nie. Jy moet in die water ingaan en probeer swem. Dieselfde met ’n taal. Dit is moeilik om ’n taal aan te leer deur dit net te bestudeer. Jy moet by elke moontlike geleentheid interaksie met mense hê—luister wanneer hulle praat, nader hulle en, die belangrikste, praat! Christelike bedrywighede voorsien die ideale geleentheid hiervoor. Jy kan dikwels wat jy leer onmiddellik in die veldbediening gebruik. “Dit lyk dalk oorweldigend”, sê Midori, wat Chinees leer praat, “maar huisbewoners kan sien dat die Getuies hard probeer. Dit kan hulle harte raak. Ons hoef net in hulle taal te sê: ‘Ek is bly om jou te ontmoet’, en hulle gesig helder op!”

Christelike vergaderinge help ’n mens ook baie. Probeer om by elke vergadering ten minste een keer te antwoord. Al voel jy aan die begin ook hoe skrikkerig, moet jy nie bekommerd wees nie. Die gemeente wil graag hê dat jy sukses moet behaal! Monifa, wat Koreaans leer praat, sê: “Ek is so dankbaar teenoor die suster wat tydens vergaderinge langs my sit en die betekenis van sekere woorde vir my neerskryf. Haar hartlike en geduldige ondersteuning help my regtig.” Namate jou woordeskat uitbrei, kan jy in die nuwe taal begin dink—dit wil sê die woorde regstreeks verbind met die konsep en nie elke woord in jou gedagtes probeer vertaal nie.

Jou eerste doelwit moet wees om “maklik verstaanbare woorde [te] spreek” (1 Korintiërs 14:8-11). Hoewel mense dalk verdraagsaam is, kan foute of ’n swaar aksent hulle aandag aftrek sodat hulle nie na jou boodskap luister nie. As jy van die begin af daarop let om woorde reg uit te spreek en goeie grammatika te gebruik, sal jy nie slegte gewoontes aanleer wat moeilik is om later af te leer nie. Mark, wat Swahili leer praat het, stel voor: “Vra persone wat die taal goed praat, om jou ergste foute uit te wys, en bedank hulle wanneer hulle dit doen!” Jy moet natuurlik bedagsaam wees deur nie te veel tyd en energie in beslag te neem van dié wat jou help nie. Hoewel jy iemand kan vra om jou werk na te gaan, moet jy jou eie toesprake en kommentare probeer voorberei deur woorde te gebruik wat jy alreeds ken en opgesoek het. Dit bespoedig die leerproses en help jou om met vertroue te praat.

Hou aan vorder

“Om ’n ander taal aan te leer, is beslis die moeilikste taak wat ek nog aangepak het”, sê Monifa. “Daar is tye dat ek wil tou opgooi. Maar ek dink aan hoeveel die Bybelstudent dit waardeer om diep geestelike waarhede in my eenvoudige Koreaans te hoor en hoe bly die broers is wanneer ek selfs net ’n bietjie vordering maak.” Die punt is, moenie te gou tou opgooi nie. Jou doelwit is om lewensreddende skriftuurlike waarhede aan ander oor te dra (1 Korintiërs 2:10). Gevolglik verg dit groot en volgehoue inspanning om te leer hoe om mense in ’n ander taal van die Bybel te leer. Terwyl jy vordering maak, moet jy nie jou vooruitgang ongunstig vergelyk met dié van ander nie. Dié wat ’n nuwe taal aanleer, vorder nie ewe vinnig nie en ook nie op dieselfde manier nie. Maar dit is goed om bewus te wees van jou eie vooruitgang (Galasiërs 6:4). “Wanneer dit by taal kom, lyk die leerkurwe soos ’n stel trappies”, sê Joon, wat Chinees leer praat. “Net wanneer jy dink dat jy stilstaan, besef jy skielik dat jy vooruitgang gemaak het.”

Om ’n nuwe taal aan te leer, is ’n lewenslange taak. Geniet dus die ondervinding, en moenie volmaaktheid verwag nie (Psalm 100:2). Foute is onvermydelik. Dit is deel van die leerproses. Toe een Christen in Italiaans begin getuig het, het hy vir ’n huisbewoner gevra: “Weet jy wat die besem van die lewe is?” Hy wou eintlik “die doel van die lewe” gesê het. ’n Getuie wat Pools leer praat het, het die gemeente genooi om die hond te sing in plaas van die lied. En weens ’n effense toonwisseling in sy stem het iemand wat Chinees leer praat het, sy gehoor aangemoedig om geloof in Jesus se boekrak te stel in plaas van in die losprys. Die voordeel daarvan om foute te maak, is dat ’n mens die regte terme daarna nie maklik vergeet nie.

Werk saam met die gemeente

Taalverskille is nie al wat mense verdeel nie. Verskille in kultuur, ras en nasionaliteit verdeel mense dikwels selfs verder. Maar dit is nie onoorkombare skeidsmure nie. ’n Geleerde wat ’n studie van Chineessprekende godsdiensgroepe in Europa gemaak het, het gesê dat Jehovah se Getuies “supranasionaal” is. Onder die Getuies, het hy gesê, “speel etniese agtergrond geen rol nie, en taal is bloot ’n middel om God se woord te verstaan”. Ja, die toepassing van Bybelbeginsels help ware Christene om nasionale verskille te bowe te kom. Vir diegene wat hulle met die ‘nuwe persoonlikheid beklee, is daar nie Griek of Jood of uitlander nie’.—Kolossense 3:10, 11.

Almal in die gemeente moet hulle dus vir eenheid beywer. Dit vereis dat ’n mens jou verstand en hart ontvanklik maak vir nuwe gedagtes, gevoelens en maniere van dinge doen. Jy kan voorkom dat verskille tot verdeeldheid lei deur nie te veel klem op persoonlike voorkeure te lê nie (1 Korintiërs 1:10; 9:19-23). Leer om die beste elemente van alle kulture te geniet. Onthou dat onselfsugtige liefde die sleutel tot goeie verhoudings en ware eenheid is.

Die meeste anderstalige gemeentes begin as klein groepies, en dikwels bestaan hierdie groepies grotendeels uit dié wat die nuwe taal aanleer en ’n paar wat maar onlangs Bybelbeginsels begin leer het. Gevolglik kan misverstande makliker in sulke groepe ontstaan as in ’n groot, gevestigde gemeente. Ryp Christene moet dus daarna streef om ’n stabiliserende invloed te wees. As liefde en goedhartigheid in woord en daad betoon word, help dit om ’n heilsame milieu te skep waarin nuwelinge geestelik kan groei.

Diegene wat aanbied om in ’n anderstalige gemeente te help, moet ook gebalanseerd wees in hulle verwagtinge van ander. Rick, ’n ouer man in so ’n gemeente, verduidelik: “Party nuwer Getuies is dalk nie so goed opgelei in organisatoriese vaardighede as dié in gemeentes wat die plaaslike taal praat nie. Maar waar hulle kortkom in vermoë, vergoed hulle liefde en entoesiasme dikwels daarvoor. En baie belangstellendes kom in die waarheid.” As jy altyd daar is en van jouself gee, sal jy beslis nuttig wees in die gemeente, al leer jy nog die taal aan. Deur saam te werk, kan almal tot die gemeente se geestelike vooruitgang bydra.

Bly geestelik sterk

’n Broer wat redelik nuut was in ’n anderstalige gemeente, het gehoor hoe ’n ma haar kind help om ’n kommentaar voor te berei. “Maar Mammie, kan dit nie korter wees nie?” het die kind gepleit. “Nee, my kind”, het die ma geantwoord. “Ons moet die kort antwoorde los vir dié wat nog die taal aanleer.”

Dit kan verstandelik, emosioneel en geestelik uitputtend wees vir ’n volwassene om maande of selfs jare lank nie goed te kan kommunikeer nie. “Ek het maklik neerslagtig geraak oor my eie beperkings”, sê Janet, wat Spaans nou vlot kan praat. Hiroko, wat Engels leer praat het, onthou dat sy gedink het: ‘Selfs die honde en katte in die gebied verstaan Engels beter as ek.’ En Kathie sê: “Voordat ek na ’n Spaanse gemeente getrek het, het ek ’n hele paar Bybelstudies en ’n notaboek vol herbesoeke gehad, maar in die nuwe gemeente het ek nie een gehad nie. Dit het gevoel of ek niks doen nie.”

Dit is wanneer ’n positiewe gesindheid noodsaaklik is. Wanneer sy ontmoedig gevoel het, het Hiroko by haarself geredeneer: “As ander dit kan doen, kan ek ook.” Kathie sê: “Ek het gedink aan my man wat so goed vorder en soveel in die gemeente doen. Dit het my baie gehelp. Dis nog steeds baie werk, maar ek leer geleidelik om vir ander te getuig en hulle te onderrig, en dit maak my gelukkig.” Haar man, Jeff, voeg by: “Dit kan frustrerend wees om nie alles te verstaan wat in die aankondigings en tydens ouermanvergaderinge gesê word nie. Ek moet dan eerlik en nederig wees en besonderhede vra, maar die broers help graag.”

Om geestelike uitputting te voorkom terwyl jy saam met ’n anderstalige gemeente dien, moet jou eie geestelike gesondheid voorkeur geniet (Matteus 5:3). Kazoejoeki, wat jare lank in die Portugese veld gedien het, sê: “Dit is belangrik dat ons genoeg geestelike voedsel inneem. Daarom doen ons as ’n gesin ons studie en voorbereiding vir vergaderinge in ons eie taal sowel as in Portugees.” Party woon nou en dan vergaderinge in hulle eie taal by. Dit is ook noodsaaklik om genoeg rus te kry.—Markus 6:31.

Bereken die koste

As jy daaraan dink om na ’n gemeente te trek waar ’n ander taal gepraat word, moet jy eers die koste daarvan bereken (Lukas 14:28). Die belangrikste aspekte wat jy in ag moet neem, is jou geestelikheid en jou verhouding met Jehovah. Oorweeg jou situasie biddend. Neem jou huweliksmaat en kinders in ag. Vra jou af: ‘Laat my omstandighede en my geestelike en emosionele krag my toe om so ’n langtermynprojek aan te pak?’ Die wyse weg om te volg, is om te doen wat die beste vir jou en jou gesin se geestelikheid is. Ongeag waar jy as Koninkryksverkondiger dien, daar is baie werk om te doen wat baie vreugde kan verskaf.

Vir diegene wat wel in ’n anderstalige gemeente kan dien, hou dit groot seëninge in. “Dit is een van die gelukkigste ondervindinge in my lewe”, sê Barbara, wat saam met haar man na ’n Spaanse gemeente getrek het. “Dis soos om van nuuts af in die waarheid te kom. Ek is dankbaar vir die geleentheid, veral aangesien ons nie sendelinge in ’n ander land kan wees nie.”

Regoor die wêreld is daar duisende gewone mense van verskillende ouderdomme wat die uitdaging aanvaar het om ’n ander taal aan te leer sodat hulle die goeie nuus kan versprei. As jy een van hulle is, moet jy suiwer beweegredes en ’n positiewe gesindheid behou. Vertrou bowenal op Jehovah om jou pogings te seën.—2 Korintiërs 4:7.

[Prent op bladsy 18]

’n Mens leer vinniger en makliker as jy taalklasse bywoon wat deur ’n bekwame onderrigter aangebied word

[Prent op bladsy 20]

Moenie jou geestelike gesondheid verwaarloos terwyl jy ’n ander taal aanleer nie