Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Gaan en maak dissipels, en doop hulle’

‘Gaan en maak dissipels, en doop hulle’

‘Gaan en maak dissipels, en doop hulle’

“Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle . . . , en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”—MATTEUS 28:19, 20.

1. Watter besluit het die nasie Israel aan die voet van die berg Sinai geneem?

 SOWAT 3 500 jaar gelede het ’n hele nasie ’n gelofte aan God gedoen. Die Israeliete was aan die voet van die berg Sinai vergader en het in die openbaar verklaar: “Alles wat Jehovah gespreek het, is ons bereid om te doen.” Van daardie oomblik af het Israel ’n volk geword wat aan God toegewy is, sy “spesiale eiendom” (Eksodus 19:5, 8; 24:3). Hulle het daarna uitgesien om sy beskerming te geniet en van geslag tot geslag in ’n land te woon “wat oorloop van melk en heuning”.—Levitikus 20:24.

2. Watter verhouding kan mense vandag met God geniet?

2 Maar soos die psalmis Asaf erken het, het die Israeliete “die verbond van God nie gehou nie, en in sy wet het hulle geweier om te wandel” (Psalm 78:10). Hulle het nie die gelofte nagekom wat hulle voorvaders aan Jehovah gedoen het nie. Uiteindelik het die nasie daardie unieke verhouding met God verloor (Prediker 5:4; Matteus 23:37, 38). God het derhalwe “sy aandag op die nasies gerig . . . om uit hulle ’n volk vir sy naam te neem” (Handelinge 15:14). En in hierdie laaste dae versamel hy “’n groot menigte, wat geen mens [kan] tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale”, wat met vreugde erken: “Redding is ons verskuldig aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam.”—Openbaring 7:9, 10.

3. Watter stappe moet ’n mens doen om ’n persoonlike verhouding met God te geniet?

3 Om onder diegene te wees wat hierdie kosbare verhouding met God geniet, moet ’n mens jou eers aan Jehovah toewy en dit in die openbaar deur waterdoop simboliseer. Dit is in gehoorsaamheid aan Jesus se direkte opdrag aan sy dissipels: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Die Israeliete het na ’n voorlesing van “die boek van die verbond” geluister (Eksodus 24:3, 7, 8). Hulle het dus hulle verpligtinge teenoor Jehovah verstaan. Net so is juiste kennis van God se wil, soos dit in sy Woord, die Bybel, gevind word, vandag noodsaaklik voordat ’n mens jou laat doop.

4. Wat moet ’n mens doen om aan die vereistes vir doop te voldoen? (Sluit venster hierbo in.)

4 Jesus wou klaarblyklik hê dat sy dissipels ’n vaste grondslag vir hulle geloof moes hê voordat hulle gedoop word. Hy het sy volgelinge opdrag gegee om nie net te gaan en dissipels te maak nie, maar ook om hulle te leer ‘om alles te onderhou wat hy beveel het’ (Matteus 7:24, 25; Efesiërs 3:17-19). Diegene wat aan die vereistes vir doop voldoen, het dus gewoonlik die Bybel maande lank of selfs ’n jaar of twee bestudeer, en gevolglik is hulle besluit nie oorhaastig of oningelig nie. By die doopplegtigheid antwoord die kandidate ja op twee belangrike vrae. Aangesien Jesus beklemtoon het dat ‘ons Ja Ja moet beteken en ons Nee Nee’, sal dit nuttig wees as ons almal die betekenis van hierdie twee doopvrae sorgvuldig hersien.—Matteus 5:37.

Berou en toewyding

5. Watter twee fundamentele stappe word in die eerste doopvraag beklemtoon?

5 Die eerste doopvraag vra die kandidaat of hy berou het oor sy vorige lewenswandel en sy lewe aan Jehovah toegewy het om sy wil te doen. Hierdie vraag beklemtoon twee noodsaaklike stappe wat voor doop gedoen moet word, naamlik berou en toewyding.

6, 7. (a) Waarom is berou noodsaaklik vir alle doopkandidate? (b) Watter veranderinge moet ’n mens maak nadat jy berou getoon het?

6 Waarom moet ’n mens berou hê voordat hy hom vir doop aanbied? Die apostel Paulus verduidelik: “Ons almal [het] ons vroeër in ooreenstemming met die begeertes van ons vlees gedra” (Efesiërs 2:3). Voordat ons tot juiste kennis van God se wil gekom het, het ons in ooreenstemming met die wêreld gelewe, volgens die waardes en standaarde daarvan. Ons lewenswandel was onder die beheer van die god van hierdie stelsel, Satan (2 Korintiërs 4:4). Maar noudat ons God se wil leer ken het, is ons vasbeslote om “nie meer vir die begeertes van mense te lewe nie, maar vir God se wil”.—1 Petrus 4:2.

7 Hierdie nuwe weg bring baie belonings mee. Bowenal maak dit ’n kosbare verhouding met Jehovah moontlik, wat Dawid vergelyk het met ’n uitnodiging om in God se “tent” in te gaan en op sy “heilige berg” te woon—voorwaar ’n groot voorreg (Psalm 15:1). Dit is logies dat Jehovah nie sommer enigiemand sal uitnooi nie, maar slegs diegene wat “onberispelik wandel en regverdigheid beoefen en in [hulle] hart die waarheid spreek” (Psalm 15:2). Afhangende van ons omstandighede voordat ons die waarheid geleer het, sal ons moontlik sekere veranderinge in ons gedrag sowel as in ons persoonlikheid moet maak as ons aan hierdie vereistes wil voldoen (1 Korintiërs 6:9-11; Kolossense 3:5-10). Die motivering vir hierdie veranderinge is berou—innige spyt oor ons vorige lewenswandel en ’n vasbeslotenheid om Jehovah te behaag. Dit lei tot ’n algehele ommekeer—dat jy ’n selfsugtige, wêreldse lewenswyse laat vaar en ’n weg inslaan wat God behaag.—Handelinge 3:19.

8. Hoe maak ons ons toewyding, en hoe hou dit met doop verband?

8 Die tweede deel van die eerste doopvraag vra die kandidate of hulle hulle aan Jehovah toegewy het om sy wil te doen. Toewyding is ’n noodsaaklike stap wat doop moet voorafgaan. Dit word gedoen in ’n gebed waarin ons die begeerte uitspreek om ons lewe deur Christus aan Jehovah te gee (Romeine 14:7, 8; 2 Korintiërs 5:15). Jehovah word dan ons Heer en Eienaar, en, soos Jesus, skep ons behae daarin om God se wil te doen (Psalm 40:8; Efesiërs 6:6). Hierdie plegtige belofte aan Jehovah word net een keer gedoen. Maar aangesien ons toewyding ’n private saak tussen ons en God is, stel ’n openbare bekendmaking op die doopdag almal in kennis dat ons hierdie plegtige toewyding aan ons hemelse Vader gemaak het.—Romeine 10:10.

9, 10. (a) Wat behels dit om God se wil te doen? (b) Hoe het selfs Nazi-offisiere erkenning gegee aan ons toewyding?

9 Wat behels dit om die voorbeeld te volg wat Jesus daarin gestel het om God se wil te doen? Jesus het vir sy dissipels gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg” (Matteus 16:24). Hier het hy drie dinge genoem wat ons moet doen. Eerstens “verloën” ons onsself. Met ander woorde, ons verwerp ons selfsugtige, onvolmaakte neigings en aanvaar God se raad en leiding. Tweedens ‘neem ons ons folterpaal op’. In Jesus se dag was ’n folterpaal ’n simbool van skande en lyding. As Christene aanvaar ons die lyding wat ons ter wille van die goeie nuus verduur (2 Timoteus 1:8). Hoewel die wêreld ons dalk bespot of smaad, ‘verag ons die skande’, soos Christus, verheug in die wete dat ons God behaag (Hebreërs 12:2). Laastens volg ons Jesus “voortdurend”.—Psalm 73:26; 119:44; 145:2.

10 Dit is interessant dat selfs party teenstanders erkenning gee aan die toewyding wat Jehovah se Getuies aan God gemaak het om hom onvoorwaardelik te dien. In die Buchenwald-konsentrasiekamp in Nazi-Duitsland moes Getuies wat geweier het om hulle geloof te verloën, byvoorbeeld die volgende gedrukte verklaring onderteken: “Ek is nog steeds ’n oortuigde Bybelstudent en sal nooit die eed breek wat ek aan Jehovah gesweer het nie.” Dit toon sonder twyfel watter gesindheid alle toegewyde, getroue knegte van God het!—Handelinge 5:32.

Geïdentifiseer as een van Jehovah se Getuies

11. Watter voorreg kry die persoon wat gedoop word?

11 Die tweede vraag vra die kandidaat eerstens of hy verstaan dat sy doop hom as een van Jehovah se Getuies identifiseer. Nadat hy ondergedompel is, word hy ’n geordende bedienaar wat Jehovah se naam dra. Dit is ’n groot voorreg sowel as ’n ernstige verantwoordelikheid. Dit laat die persoon wat gedoop word, ook in aanmerking kom vir ewige redding, mits hy aan Jehovah getrou bly.—Matteus 24:13.

12. Watter verpligting gaan gepaard met die eer om Jehovah se naam te dra?

12 Dit is beslis ’n uitsonderlike eer om die naam van die almagtige God, Jehovah, te dra. Die profeet Miga het gesê: “Wat al die volke betref, elkeen sal in die naam van sy god wandel; maar wat ons betref, ons sal in die naam van Jehovah ons God wandel tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig” (Miga 4:5). Maar hierdie eer gaan gepaard met ’n verpligting. Ons moet daarna streef om ons lewe só te lei dat dit die naam wat ons dra, tot eer strek. Soos Paulus die Christene in Rome herinner het, word die naam van God “gelaster”, of oneer aangedoen, as ’n mens nie in ooreenstemming met jou woorde optree nie.—Romeine 2:21-24.

13. Waarom het toegewyde knegte van Jehovah die verantwoordelikheid om van hulle God te getuig?

13 Wanneer iemand een van Jehovah se Getuies word, aanvaar hy ook die verantwoordelikheid om van sy God te getuig. Jehovah het die toegewyde nasie Israel genooi om sy getuies te wees sodat hulle van sy ewige Godheid kon getuig (Jesaja 43:10-12, 21). Maar die nasie het nie hierdie rol vervul nie, en hulle het uiteindelik Jehovah se guns heeltemal verloor. Vandag is ware Christene trots op hulle voorreg om van Jehovah te getuig. Ons doen dit omdat ons hom liefhet en daarna smag om te sien dat sy naam geheilig word. Hoe kan ons stilbly as ons weet wat die waarheid omtrent ons hemelse Vader en sy voorneme is? Ons voel soos die apostel Paulus gevoel het toe hy gesê het: “Die dwang is my opgelê. Waarlik, wee my as ek die goeie nuus nie bekend maak nie!”—1 Korintiërs 9:16.

14, 15. (a) Watter rol speel Jehovah se organisasie in ons geestelike groei? (b) Watter voorsienings is beskikbaar om ons geestelik te help?

14 Die tweede vraag herinner die kandidaat ook aan sy verantwoordelikheid om met Jehovah se geesgerigte organisasie saam te werk. Ons is nie alleen in ons diens aan God nie, en ons het die hulp, ondersteuning en aanmoediging van “die hele gemeenskap van broers” nodig (1 Petrus 2:17; 1 Korintiërs 12:12, 13). God se organisasie speel ’n noodsaaklike rol in ons geestelike groei. Dit voorsien ’n oorvloed van Bybelpublikasies wat ons help om in juiste kennis toe te neem, verstandig op te tree wanneer ons voor probleme te staan kom en ’n hegte verhouding met God aan te kweek. Soos ’n moeder wat sorg dat haar kind goed gevoed en versorg is, voorsien “die getroue en verstandige slaaf” ’n oorvloed van tydige geestelike voedsel vir ons geestelike vooruitgang.—Matteus 24:45-47; 1 Tessalonisense 2:7, 8.

15 By weeklikse vergaderinge ontvang Jehovah se volk die nodige opleiding en aanmoediging om getroue Getuies van Jehovah te wees (Hebreërs 10:24, 25). Die Teokratiese Bedieningskool leer ons hoe om in die openbaar te praat, en die Diensvergadering lei ons op om ons boodskap doeltreffend aan te bied. By ons vergaderinge sowel as deur ons persoonlike studie van Bybelpublikasies kan ons sien hoe Jehovah se gees sy organisasie daadwerklik rig. Deur middel van hierdie gereelde voorsienings waarsku God ons teen gevare, lei hy ons op om bekwame bedienaars te wees en help hy ons om geestelik wakker te bly.—Psalm 19:7, 8, 11; 1 Tessalonisense 5:6, 11; 1 Timoteus 4:13.

Die rede vir die besluit

16. Wat beweeg ons om ons aan Jehovah toe te wy?

16 Die twee doopvrae herinner die kandidate dus aan die betekenis van waterdoop en die verantwoordelikhede wat dit meebring. Maar wat moet die rede wees vir hulle besluit om gedoop te word? Ons word nie gedoopte dissipels omdat enigiemand ons dwing nie, maar omdat Jehovah ons “trek” (Johannes 6:44). Aangesien ‘God liefde is’, word sy heerskappy oor die heelal gekenmerk deur liefde, nie deur dwang nie (1 Johannes 4:8). Jehovah se pragtige eienskappe en die manier waarop hy met ons handel, trek ons na hom toe aan. Jehovah het sy enigverwekte Seun vir ons gegee en bied ons die beste toekoms moontlik (Johannes 3:16). Op ons beurt word ons daartoe beweeg om ons lewe aan hom te gee—dit aan hom toe te wy.—Spreuke 3:9; 2 Korintiërs 5:14, 15.

17. Waaraan het ons ons nie toegewy nie?

17 Ons wy ons nie toe aan ’n saak of aan ’n werk nie, maar aan Jehovah self. Die werk wat God vir sy volk het, sal verander, maar hulle toewyding aan hom bly dieselfde. Wat hy byvoorbeeld vir Abraham gesê het om te doen, was baie anders as wat hy vir Jeremia gesê het om te doen (Genesis 13:17, 18; Jeremia 1:6, 7). Nogtans het hulle albei die spesifieke taak uitgevoer wat God hulle gegee het omdat hulle Jehovah liefgehad het en sy wil getrou wou doen. Gedurende hierdie tyd van die einde streef alle gedoopte volgelinge van Christus daarna om sy opdrag uit te voer om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak (Matteus 24:14; 28:19, 20). Heelhartige deelname aan hierdie werk is ’n wonderlike manier waarop ons kan toon dat ons ons hemelse Vader liefhet en dat ons werklik aan hom toegewy is.—1 Johannes 5:3.

18, 19. (a) Watter openbare verklaring doen ons deur ons doop? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

18 Doop baan ongetwyfeld die weg vir baie seëninge, maar dit is nie ’n stap wat ligtelik opgeneem moet word nie (Lukas 14:26-33). Dit lewer bewys van ’n besluit wat bo alle ander verantwoordelikhede voorrang geniet (Lukas 9:62). Wanneer ons gedoop word, verklaar ons in werklikheid in die openbaar: “Hierdie God is ons God tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig. Hy sal ons lei totdat ons sterf.”—Psalm 48:14.

19 Die volgende artikel sal verdere vrae ondersoek wat in verband met waterdoop kan ontstaan. Kan daar geldige redes wees waarom iemand sou huiwer om hom te laat doop? Behoort ouderdom ’n faktor te wees? Hoe kan almal tot die waardigheid van die doopgeleentheid bydra?

Kan jy verduidelik?

• Waarom moet elke Christen berou hê voordat hy gedoop word?

• Wat behels toewyding aan God?

• Watter verantwoordelikhede gaan gepaard met die eer om Jehovah se naam te dra?

• Wat moet die rede wees vir ons besluit om gedoop te word?

[Studievrae]

[Venster/Prent op bladsy 22]

Die twee doopvrae

Het jy, op grond van die offerande van Jesus Christus, berou oor jou sondes en het jy jou aan Jehovah toegewy om sy wil te doen?

Verstaan jy dat jou toewyding en doop jou as een van Jehovah se Getuies identifiseer en dat jy met God se geesgerigte organisasie moet saamwerk?

[Prent op bladsy 23]

Toewyding is ’n plegtige belofte wat in gebed aan Jehovah gedoen word

[Prent op bladsy 25]

Ons predikingswerk toon dat ons aan God toegewy is