Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ouers—Stel ’n goeie voorbeeld vir julle kinders

Ouers—Stel ’n goeie voorbeeld vir julle kinders

Ouers—Stel ’n goeie voorbeeld vir julle kinders

“SIELKUNDIGES kan hulle eeu lange soeke na die sleutel tot die grootmaak van ’n goeie kind staak—nie omdat hulle dit gevind het nie, maar omdat dit nie bestaan nie.” Dit is wat die tydskrif Time in ’n resensie van ’n boek oor kinderopvoeding gesê het. Die boek beweer dat kinders hoofsaaklik die waardes van hulle portuurs aanneem, nie dié van hulle ouers nie.

Portuurdruk is ongetwyfeld ’n kragtige invloed waarmee rekening gehou moet word (Spreuke 13:20; 1 Korintiërs 15:33). Die rubriekskrywer William Brown het gesê: “As daar ’n enkele, sekulêre God vir die tiener is, is dit die God van gelykvormigheid. . . . Om anders te wees, is vir tieners ’n erger lot as die dood.” Wanneer ouers versuim om die huislike lewe hartlik en aangenaam te maak of nie genoeg tyd saam met hulle kinders deurbring nie—twee algemene situasies in vandag se besige wêreld—maak hulle in werklikheid die deur oop vir die verwoestende invloed wat portuurs op hulle kinders kan hê.

Daarbenewens word die gesinseenheid gedurende hierdie “laaste dae” bedreig, want soos die Bybel voorspel het, is mense behep met geld, plesier en hulleself. Moet ons dan verbaas wees om te sien dat kinders “ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid” is?—2 Timoteus 3:1-3.

Die uitdrukking “natuurlike geneentheid”, soos dit in die Bybel gebruik word, beskryf liefde tussen gesinslede. Hierdie liefde is ’n natuurlike band wat ouers beweeg om na hulle kinders om te sien en wat kinders beweeg om hulle ouers aan te kleef. Maar wanneer ouers ’n gebrek aan natuurlike geneentheid het, sal kinders elders soek na emosionele ondersteuning—gewoonlik by hulle portuurs, wie se waardes en gesindhede hulle waarskynlik sal aanneem. Maar hierdie situasie kan dikwels vermy word as ouers toelaat dat Bybelbeginsels hulle gesinslewe rig.—Spreuke 3:5, 6.

Die gesin—’n goddelike instelling

Nadat God Adam en Eva as man en vrou verenig het, het hy hulle hierdie opdrag gegee: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde.” Daarna het die gesin—vader, moeder en kinders—in aansyn gekom (Genesis 1:28; 5:3, 4; Efesiërs 3:14, 15). Om mense te help om hulle kinders groot te maak, het Jehovah sekere basiese aspekte van ouerskap instinktief gemaak. Maar anders as diere het mense verdere hulp nodig, en daarom het Jehovah hulle van geskrewe riglyne voorsien. Dit sluit raad in oor sedelike en geestelike sake en oor die gepaste dissiplinering van kinders.—Spreuke 4:1-4.

God het aan vaders in die besonder gesê: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit by jou kind inskerp en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan” (Deuteronomium 6:6, 7; Spreuke 1:8, 9). Let daarop dat ouers God se wet eers in hulle eie hart moes plaas. Waarom was dit belangrik? Omdat die soort onderrigting wat ander werklik motiveer, nie uit die mond kom nie, maar uit die hart. Slegs wanneer ouers uit hulle hart onderrig, sal hulle die hart van hulle kinders bereik. Sulke ouers sal ook ’n goeie voorbeeld stel vir hulle kinders, wat huigelagtigheid gou bespeur.—Romeine 2:21.

Christenouers word beveel om hulle kinders van kleintyd af “die opleiding en dissipline en die raad en vermaning van die Here” te leer (Efesiërs 6:4, The Amplified Bible; 2 Timoteus 3:15). Van kleintyd af? Ja! “Soms besef ons as ouers nie waartoe ons kinders in staat is nie”, het een moeder geskryf. “Ons onderskat hulle vermoëns. Die potensiaal is daar. Ons as ouers moet dit benut.” Ja, kinders is lief om te leer, en wanneer hulle deur godvrugtige ouers onderrig word, sal hulle ook leer om lief te hê. Sulke kinders ervaar ’n gevoel van veiligheid en geborgenheid binne die perke wat vir hulle gestel word. Suksesvolle ouers streef dus daarna om liefdevolle metgeselle, goeie kommunikeerders en geduldige maar ferm onderrigters te wees, wat ’n heilsame milieu voorsien waarin hulle kinders floreer. a

Beskerm jou kinders

In ’n brief aan ouers het ’n besorgde skoolhoof in Duitsland geskryf: “Ons wil julle liewe ouers aanspoor om self ’n groter aandeel aan die opvoeding van julle kinders te probeer hê en nie júlle deel van [die verantwoordelikheid om] hulle persoonlikheid te vorm, aan die televisie of die straat oor te laat nie.”

As iemand sy kind aan die televisie of die straat oorlaat, beteken dit in werklikheid dat hy toelaat dat die gees van die wêreld die kind se opvoeding beïnvloed (Efesiërs 2:1, 2). Hierdie wêreldse gees, wat lynreg in stryd is met God se gees, dra soos ’n sterk wind die saadjies van “aardse, dierlike, demoniese” denke en saai dit mildelik in die verstand en hart van naïewe of dwase persone (Jakobus 3:15). Hierdie onkruidagtige invloede verderf uiteindelik die hart. Jesus het die uitwerking van wat in die hart gesaai word, toegelig deur te sê: “’n Goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is, maar ’n goddelose mens bring uit sy goddelose skat te voorskyn wat goddeloos is; want uit die oorvloed van die hart praat sy mond” (Lukas 6:45). Gevolglik waarsku die Bybel ons: “Bewaak jou hart meer as enigiets anders wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.”—Spreuke 4:23.

Kinders is natuurlik kinders, en party is geneig om dwars te trek, selfs opstandig te wees (Genesis 8:21). Wat kan ouers doen? “Dwaasheid sit vas in die hart van ’n seun; die roede van dissipline sal dit ver van hom af verwyder”, sê die Bybel (Spreuke 22:15). Party beskou dit as wreed en outyds. Maar die Bybel is teen geweld en mishandeling van enige aard. Hoewel die “roede” soms letterlik bedoel word, verteenwoordig dit ouerlike gesag wat op ’n ferm dog liefdevolle en gepaste wyse uitgeoefen word uit besorgdheid oor die kinders se ewige welsyn.—Hebreërs 12:7-11.

Geniet ontspanning saam met julle kinders

Almal weet dat kinders moet speel en afleiding nodig het om behoorlik te ontwikkel. Verstandige ouers maak gebruik van geleenthede om die ouer-kind-verhouding te versterk deur ontspanning saam met hulle kinders te geniet wanneer moontlik. Sodoende kan ouers nie net hulle kinders help om die regte soort ontspanning te kies nie, maar kan hulle ook vir die kinders wys hoeveel hulle hulle geselskap waardeer.

’n Getuievader sê dat hy en sy seun dikwels bal gespeel het wanneer hy ná werk by die huis gekom het. ’n Moeder onthou dat haar kinders baie lief was vir bordspeletjies. ’n Volwasse dogter onthou dat hulle gesin dit geniet het om saam fiets te ry. Al hierdie kinders is nou volwassenes, maar hulle liefde vir hulle ouers—en vir Jehovah—is nog net so sterk, indien nie sterker nie.

Ja, ouers wat deur hulle woorde en dade toon dat hulle vir hulle kinders lief is en saam met hulle wil wees, laat ’n diep, dikwels lewenslange, indruk op hulle kinders. Baie van die gegradueerdes van ’n klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead het byvoorbeeld vertel dat hulle begeerte om voltydse bedienaars te wees, toe te skryf is aan die voorbeeld en aanmoediging van hulle ouers. Wat ’n wonderlike erfenis vir die kinders en wat ’n seën vir die ouers! Dit is wel so dat nie alle kinders in die posisie is om die voltydse bediening te betree wanneer hulle ouer word nie, maar hulle almal sal beslis baat vind by en eer betoon aan godvresende ouers wat hulle intiemste vriende en rolmodelle word.—Spreuke 22:6; Efesiërs 6:2, 3.

Enkelouers kan suksesvol wees

Vandag word baie kinders in enkelouergesinne groot. Hoewel dit moeiliker is om ’n kind in so ’n situasie groot te maak, kan sukses behaal word. Die Bybelse voorbeeld van Eunice, ’n Joodse Christen in die eerste eeu, kan enkelouers moed laat skep. Eunice was met ’n ongelowige getroud en het waarskynlik geen geestelike ondersteuning van haar man gekry nie. Sy het Timoteus nietemin op ’n voorbeeldige manier onderrig. Die goeie invloed wat sy, tesame met Lois, Timoteus se ouma, van kleintyd af op hom gehad het, was kragtiger as enige negatiewe invloed wat moontlik van party van Timoteus se portuurs gekom het.—Handelinge 16:1, 2; 2 Timoteus 1:5; 3:15.

Talle hedendaagse jongmense wat in ’n huis met ’n ongelowige ouer of in ’n enkelouergesin grootgeword het, weerspieël dieselfde goeie eienskappe as wat die jong Timoteus gehad het. Byvoorbeeld, Ryan, wat nou 22 jaar oud en ’n voltydse bedienaar is, het saam met sy ouer broer en suster in ’n enkelouergesin grootgeword. Hulle pa was ’n alkoholis, en hy het die gesin verlaat toe Ryan vier was. “My ma was vasbeslote dat ons gesin sou aanhou om Jehovah te dien”, het Ryan vertel, “en sy het hierdie besluit met haar hele hart deurgevoer.”

“Om maar een ding te noem”, het Ryan gesê, “my ma het seker gemaak dat ons kinders aan goeie portuurdruk blootgestel word. Sy het ons nooit toegelaat om te assosieer met diegene wat deur die Bybel as slegte omgang beskryf word nie, hetsy buite of binne die gemeente. Sy het ook die regte beskouing van sekulêre opvoeding by ons ingeskerp.” Al was Ryan se ma dikwels besig en moeg weens haar werk, het dit haar nie verhinder om liefdevolle belangstelling in haar kinders te toon nie. “Sy wou altyd by ons wees en met ons gesels”, het Ryan gesê. “Sy was ’n geduldige maar streng onderrigter en het haar bes gedoen om te verseker dat ons ’n gereelde gesinsbybelstudie het. Wanneer dit by Bybelbeginsels gekom het, was die woord ‘onderhandelbaar’ nie in haar woordeskat nie.”

Wanneer Ryan terugkyk, besef hy dat die kragtigste menslike invloed in sy lewe, en in dié van sy ouer broer en suster, gekom het van ’n ouer wat God werklik liefgehad het en haar kinders ook liefgehad het. Christenouers, hetsy julle getroud is of julle maat aan die dood afgestaan het, ’n gelowige maat het of nie, moenie swig voor ontmoediging of tydelike terugslae terwyl julle julle kinders probeer onderrig nie. Soms draai party jongmense, soos die verlore seun, hulle rug op die waarheid. Maar wanneer hulle sien hoe leeg en koud die wêreld werklik is, keer hulle dalk terug. Ja, “die regverdige wandel in sy onkreukbaarheid. Gelukkig is sy kinders ná hom.”—Spreuke 20:7; 23:24, 25; Lukas 15:11-24.

[Voetnoot]

a Vir ’n breedvoeriger bespreking van hierdie spesifieke punte, sien bladsye 55-9 van die boek Die geheim van gesinsgeluk, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster/Prente op bladsy 11]

Jesus se ouers—uitgekies deur God

Toe Jehovah sy Seun gestuur het om as ’n mens gebore te word, het hy Jesus se ouers met sorg uitgekies. Interessant genoeg, hy het ’n nederige, geestelikgesinde paartjie uitgekies wat Jesus nie gepamperlang het nie, maar hom God se Woord en die waarde van harde werk en verantwoordelikheid geleer het (Spreuke 29:21; Klaagliedere 3:27). Josef het Jesus geleer om ’n timmerman te wees, en Josef sowel as Maria het Jesus, die eersgeborene, ongetwyfeld versoek om hulle te help met die versorging van hulle ander kinders, waarvan daar ten minste ses was.—Markus 6:3.

Jy kan jou voorstel hoe Josef se gesin gedurende die Pasgatyd saam gewerk het om voor te berei vir hulle jaarlikse reis na Jerusalem—’n heen- en terugreis van 200 kilometer sonder moderne vervoermiddele. ’n Gesin van nege of meer sou beslis goed georganiseerd moes wees vir so ’n lang reis (Lukas 2:39, 41). Ten spyte van die uitdagings het Josef en Maria ongetwyfeld groot waarde geheg aan hierdie geleenthede en dit moontlik benut om hulle kinders te leer van Bybelgebeure wat in die verlede plaasgevind het.

Terwyl Jesus nog in die huis was, het hy “onderdanig gebly” aan sy ouers en deurentyd “toegeneem in wysheid en in grootte en in guns by God en die mense” (Lukas 2:51, 52). Ja, Josef en Maria was Jehovah se vertroue waardig. Wat ’n goeie voorbeeld is hulle tog vir ouers van vandag!—Psalm 127:3.