Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vasbeslote om Jehovah te dien

Vasbeslote om Jehovah te dien

Lewensverhaal

Vasbeslote om Jehovah te dien

SOOS VERTEL DEUR RAIMO KUOKKANEN

In 1939 het die Tweede Wêreldoorlog in Europa uitgebreek, en die Sowjetunie het my tuisland, Finland, aangeval. My pa het in die Finse leër gaan veg. Weldra het Russiese vegvliegtuie bomme op ons stad afgegooi, en my ma het my gestuur om by my ouma te gaan bly, waar dit veiliger was.

IN 1971 het ek as ’n sendeling in Uganda, Oos-Afrika, gedien. Terwyl ek eendag van deur tot deur getuig het, het ’n klomp vreesbevange mense by my verbygehardloop. Ek het geweerskote gehoor en huis toe begin hardloop. Toe die geweervuur nader kom, het ek in ’n sloot gespring wat al langs die pad geloop het. Terwyl koeëls oor my kop gegons het, het ek huis toe gekruip.

Daar was nie veel wat ek kon doen om die gevolge van die Tweede Wêreldoorlog vry te spring nie, maar waarom het ek en my vrou ons aan onrus in Oos-Afrika blootgestel? Die antwoord hou ten nouste verband met ons vasbeslotenheid om Jehovah te dien.

’n Saadjie van vasbeslotenheid word geplant

Ek is in 1934 in Helsinki, Finland, gebore. My pa was ’n verwer, en op ’n dag moes hy werk by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Finland gaan doen. Die Getuies het hom van hulle gemeentelike vergaderinge vertel. Toe hy by die huis kom, het hy my ma van daardie vergaderinge vertel. Sy het nie op daardie stadium vergaderinge begin bywoon nie, maar het later met ’n werksmaat wat ’n Getuie was, oor Bybelonderwerpe begin praat. My ma het spoedig die dinge wat sy geleer het, ernstig opgeneem, en sy is in 1940 as een van Jehovah se Getuies gedoop.

’n Rukkie tevore het ek tot die einde van die Tweede Wêreldoorlog by my ouma op die platteland gaan bly. My ma het van Helsinki af vir haar ma en jonger suster aangaande die geloofsoortuigings van Jehovah se Getuies begin skryf. Hulle het albei belangstelling getoon en vir my vertel wat hulle geleer het. Reisende verteenwoordigers van Jehovah se Getuies het my ouma se huis besoek en ons aangemoedig, maar ek was nog nie vasbeslote om God te dien nie.

Teokratiese opleiding begin

Toe die oorlog in 1945 tot ’n einde gekom het, het ek na Helsinki teruggekeer, en my ma het my na die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin neem. Ek het partykeer eerder bioskoop toe gegaan as na die vergaderinge. Maar my ma het my dan van die toespraak vertel wat sy by die vergadering gehoor het, en sy het herhaaldelik dié punt vir my beklemtoon: Armageddon is baie naby. Ek het dit eindelik begin glo en het nie meer van vergaderinge af weggebly nie. Namate my waardering vir Bybelwaarheid toegeneem het, het my begeerte sterker geword om aan al die bedrywighede van die gemeente deel te neem.

Ek het dit veral geniet om die byeenkomste by te woon. In 1948 het ek die streekbyeenkoms bygewoon wat naby my ouma se huis gehou is, waar ek my somervakansie deurgebring het. Een van my vriende sou by daardie byeenkoms gedoop word, en hy het my genooi om dit ook te doen. Ek het vir hom gesê dat ek nie my swembroek saamgebring het nie, maar hy het voorgestel dat ek syne gebruik nadat hy gedoop is. Ek het ingestem en is op 27 Junie 1948 gedoop, toe ek 13 jaar oud was.

Ná die byeenkoms het vriende van my ma vir haar gesê dat ek gedoop is. Die volgende keer toe sy my sien, wou sy weet waarom ek so ’n belangrike stap geneem het sonder om met haar daaroor te praat. Ek het verduidelik dat ek basiese Bybelleerstellings verstaan en dat ek weet dat ek teenoor Jehovah aanspreeklik is vir my gedrag.

My vasbeslotenheid neem toe

Die broers in die gemeente het my gehelp om meer vasbeslote te word om Jehovah te dien. Hulle het my in die huis-tot-huis-bediening vergesel en omtrent elke week vir my vergaderingdele gegee (Handelinge 20:20). Toe ek 16 jaar oud was, het ek my eerste openbare toespraak gehou. Kort daarna is ek as Bybelstudiekneg in ons gemeente aangestel. Al hierdie geestelike bedrywighede het my gehelp om geestelik volwasse te word, maar ek moes nog my mensevrees te bowe kom.

In daardie dae het ons die openbare toespraak van die streekbyeenkoms met groot advertensieborde bekend gemaak. Elke advertensiebord het uit twee plakkate bestaan, wat met stroke oor die skouers saamgeheg is en die voor- en agterkant van die liggaam bedek het.

By een geleentheid was ek op ’n stil straathoek met my advertensiebord toe ek ’n groep skoolmaats reguit na my toe sien aankom het. Terwyl hulle verbygeloop het, het die uitdrukking in hulle oë my laat ineenkrimp. Ek het tot Jehovah gebid vir moed en doodstil gestaan met die advertensiebord. Omdat ek daarin geslaag het om mensevrees by daardie geleentheid te bowe te kom, het dit my voorberei vir die groter toets om Christelike neutraliteit te handhaaf.

Later het die regering my en ’n paar ander jong Getuies opgeroep om ons vir militêre diens aan te meld. Ons het na die militêre basis gegaan soos ons beveel is, maar respekvol geweier om die uniform aan te trek. Die amptenare het ons in hegtenis geneem, en kort daarna het ’n hof ons tot ses maande tronkstraf gevonnis. Ons is ook opgesluit vir die verpligte agt maande militêre diens. Gevolglik het ons altesaam 14 maande in die tronk deurgebring weens ons neutrale standpunt.

In die detensiekaserne het ons elke dag bymekaargekom om die Bybel te bespreek. Gedurende daardie maande het baie van ons die Bybel twee keer deurgelees. Toe ons vonnis verstryk het, het die meeste van ons die tronk verlaat met groter vasbeslotenheid as ooit om Jehovah te dien. Tot vandag toe dien baie van daardie groep jong Getuies Jehovah nog getrou.

Nadat ek uit die tronk gekom het, het ek weer by my ouers gaan bly. Kort daarna het ek Veera, ’n ywerige, pas gedoopte Getuie, leer ken. Ons is in 1957 getroud.

’n Aand wat ons lewens verander het

Terwyl ons een aand by verantwoordelike broers van die takkantoor gekuier het, het een van hulle ons gevra of ons graag kringwerk sou wou doen. Nadat ek die hele nag gebid het, het ek die tak gebel en ja gesê. Om die voltydse bediening te betree, het beteken dat ek my goed betaalde werk moes los, maar ons was vasbeslote om die Koninkryk eerste in ons lewe te stel. Ek was 23 jaar oud en Veera was 19 toe ons in Desember 1957 met die reisende werk begin het. Ons het dit geniet om drie jaar lank gemeentes van Jehovah se knegte in Finland te besoek en aan te moedig.

Teen die einde van 1960 het ek ’n uitnodiging na die Wagtoring-Bybelskool Gilead in Brooklyn, New York, ontvang. Drie van ons uit Finland moes ’n spesiale tien maande lange opleidingskursus in takbestuur ontvang. Ons vrouens het agtergebly en by die Finse takkantoor gewerk.

Net voor die einde van die kursus is daar vir my gesê om aan te meld by die kantoor van Nathan H. Knorr, wat destyds toesig gehou het oor die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies. Broer Knorr het vir my en my vrou ’n sendingtoewysing aangebied in die Malgassiese Republiek, wat nou as Madagaskar bekend staan. Ek het vir Veera geskryf en gevra wat sy van die toewysing dink, en sy het dadelik “Ja” geantwoord. Toe ek na Finland teruggekeer het, het ons ons gehaas om alles gereed te kry vir ons lewe in Madagaskar.

Vreugde en teleurstelling

In Januarie 1962 het ons na Antananarivo, die hoofstad van die land, gevlieg, met pelshoede op en dik jasse aan, aangesien dit winter in Finland was. In die tropiese hitte van Madagaskar het ons gou ons kleredrag verander. Ons eerste sendinghuis was ’n huisie met een slaapkamer. ’n Ander sendelingegpaar was alreeds daar, en gevolglik het ek en Veera op die stoep geslaap.

Ons het Frans, ’n amptelike taal van Madagaskar, begin leer. Dit was maar moeilik, aangesien ons twee en ons instruktrise, suster Carbonneau, nie ’n taal in gemeen gehad het nie. Sy het Engels gebruik om ons Frans te leer, maar Veera kon nie Engels praat nie. Gevolglik het ek suster Carbonneau se instruksies vir Veera in Fins vertaal. Toe het ons agtergekom dat Veera tegniese aspekte beter in Sweeds verstaan; dus het ek Franse grammatika vir haar in Sweeds vertaal. Weldra het ons Frans goed gevorder, en ons het Malgassies, die plaaslike taal, begin leer.

My eerste Bybelstudie in Madagaskar was met ’n man wat net Malgassies gepraat het. Ek het Bybelverse in my Finse Bybel nageslaan, en dan het ons daardie verse saam in sy Malgassiese Bybel opgesoek. Ek kon nie eintlik die tekste aan hom verduidelik nie, maar Bybelwaarheid het gou in daardie man se hart gegroei, en hy het tot doop gevorder.

In 1963 het Milton Henschel, van die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, Madagaskar besoek. Kort daarna is ’n nuwe takkantoor in Madagaskar geopen, en ek is as takopsiener aangestel, benewens my werk as kring- en streekopsiener. Deur dit alles heen het Jehovah ons ryklik geseën. Van 1962 tot 1970 het die aantal Koninkryksverkondigers in Madagaskar van 85 tot 469 toegeneem.

Toe ons eendag in 1970 van die openbare bediening af terugkom, het ons ’n nota aan ons deur gevind wat alle sendelinge van Jehovah se Getuies beveel om by die kantoor van die Minister van Binnelandse Sake aan te meld. Daar het ’n beampte vir ons gesê dat die regering beveel het dat ons die land onmiddellik verlaat. Toe ek vra oor watter misdaad ek gedeporteer word, het die beampte gesê: “Monsieur Kuokkanen, jy het niks verkeerds gedoen nie.”

“Ons is al agt jaar lank hier”, het ek gesê. “Dít is ons tuiste. Ons kan nie sommer net so gaan nie.” Ten spyte van ons pogings moes al die sendelinge die land binne ’n week verlaat. Die tak is gesluit, en ’n plaaslike Getuie het na die werk begin omsien. Voordat ons ons dierbare broers in Madagaskar verlaat het, het ons ’n nuwe toewysing ontvang, in Uganda.

’n Nuwe begin

’n Paar dae ná ons vertrek uit Madagaskar het ons in Kampala, die hoofstad van Uganda, aangekom. Ons het onmiddellik Luganda begin leer, ’n taal met ’n pragtige musikale klank, maar wat baie moeilik is om te leer. Ander sendelinge het Veera gehelp om eers Engels te leer, en ons kon toe in daardie taal ’n goeie getuienis gee.

Kampala se warm, vogtige klimaat het Veera se gesondheid aangetas. Gevolglik het ons ’n toewysing in Mbarara, ’n dorp in Uganda met ’n meer gematigde klimaat, ontvang. Ons was die eerste Getuies daar, en op ons eerste dag in die bediening is ons met ’n goeie ondervinding beloon. Ek het met ’n man in sy huis gepraat toe sy vrou uit die kombuis kom. Haar naam was Margaret, en sy het na my aanbieding geluister. Veera het die Bybel met Margaret begin studeer, wat goeie geestelike vooruitgang gemaak het. Sy is gedoop en het ’n ywerige Koninkryksverkondiger geword.

Gevegte op straat

In 1971 het burgeroorlog ’n einde gemaak aan die vrede in Uganda. Eendag het gevegte om ons sendinghuis in Mbarara plaasgevind. Dit was toe dat ek die ondervinding gehad het wat aan die begin van hierdie verhaal beskryf is.

Veera was reeds by die sendinghuis toe ek daar aankom, nadat ek ver in ’n sloot gekruip het, sodat die soldate my nie kon sien nie. Ons het ’n “vesting” uit matrasse en meubels in ’n hoek van die huis gemaak. Ons het ’n week lank binne gebly en na die nuus oor die radio geluister. By tye het koeëls van die mure weggeskram terwyl ons inmekaargehurk in ons vesting gesit het. Snags het ons geen ligte gebruik nie, sodat dit sou lyk of daar niemand in die huis is nie. By een geleentheid het soldate na die voordeur gekom en geskreeu. Ons het gebly net waar ons was en stilletjies tot Jehovah gebid. Nadat die gevegte verby was, het die bure na ons toe gekom en ons vir hulle veiligheid bedank. Hulle het geglo dat Jehovah ons almal beskerm het, en ons het met hulle saamgestem.

Toestande was rustig totdat ons een oggend oor die radio gehoor het dat die Ugandese regering ’n verbod op Jehovah se Getuies geplaas het. Die omroeper het gesê dat alle Getuies van Jehovah na hulle vorige godsdiens moet terugkeer. Ek het ons saak voor regeringsamptenare bepleit, maar tevergeefs. Ek het toe na die kantoor van president Idi Amin gegaan en gevra of ek ’n afspraak met hom kon maak. Die ontvangsdame het vir my gesê dat die president besig is. Ek het dikwels teruggegaan, maar nooit die president gesien nie. Uiteindelik, teen Julie 1973, moes ons Uganda verlaat.

Een jaar word tien

Toe ons ons dierbare Ugandese broers moes verlaat, het ons dieselfde hartseer ervaar as toe ons uit Madagaskar gesit is. Voordat ons na ons nuwe toewysing in Senegal gegaan het, het ons na Finland gereis. Daar is ons Afrika-toewysing gekanselleer en is ons aangesê om in Finland te bly. Dit het gelyk asof ons sendingwerk tot ’n einde gekom het. In Finland het ons as spesiale pioniers gedien en toe weer kringwerk gedoen.

Teen 1990 het teenstand teen die werk in Madagaskar afgeneem, en die hoofkwartier in Brooklyn het ons verras deur te vra of ons vir ’n jaar soontoe sou gaan. Ons wou graag gaan, maar het voor twee groot uitdagings te staan gekom. My bejaarde pa het sorg nodig gehad, en Veera het steeds gesondheidsprobleme ondervind. Ek was hartseer oor die dood van my pa in November 1990, maar die verbetering in Veera se gesondheid het ons die hoop gegee dat ons na die sendingwerk kon terugkeer. Ons het in September 1991 na Madagaskar teruggegaan.

Ons is vir ’n jaar Madagaskar toe gestuur, maar ons het tien jaar daar gebly. Gedurende daardie tyd het die aantal verkondigers van 4 000 tot 11- 600 toegeneem. Ek het dit baie geniet om as ’n sendeling te dien. Tog het ek soms mismoedig gevoel en gewonder of ek die fisiese en emosionele behoeftes van my dierbare vrou verwaarloos. Jehovah het ons albei die krag gegee om te volhard. Eindelik, in 2001, het ons na Finland teruggekeer, waar ons sedertdien by die takkantoor werk. Ons brand steeds van ywer vir die Koninkryk, en ons droom nog steeds van Afrika. Ons is vasbeslote om Jehovah se wil te doen ongeag watter toewysing hy ons gee.—Jesaja 6:8.

[Kaart op bladsy 12]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

FINLAND

EUROPA

[Kaart op bladsy 14]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

AFRIKA

MADAGASKAR

[Kaart op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

AFRIKA

UGANDA

[Prent op bladsy 14]

Op ons troudag

[Prente op bladsy 14, 15]

Van kringwerk in Finland, 1960 . . .

. . . tot sendingwerk in Madagaskar, 1962

[Prent op bladsy 16]

Vandag saam met Veera