Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verstaan die Bybel—Jy kán dit doen

Verstaan die Bybel—Jy kán dit doen

Verstaan die Bybel—Jy kán dit doen

DIE Bybel bevat kosbare waarhede wat van God af kom. Dit vertel ons van die doel van die lewe, die oorsaak van menselyding sowel as die toekoms van die mensdom. Dit leer ons hoe om geluk te vind, hoe om vriende te maak en hoe om probleme op te los. Wat meer is, ons leer aangaande ons Skepper en hemelse Vader, Jehovah. Hierdie kennis verskaf ons vreugde en maak ons lewe betekenisvol.

Om kennis van God in te neem, word in die Bybel daarmee vergelyk om kos te eet. Jesus het gesê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom” (Matteus 4:4; Hebreërs 5:12-14). Net soos ons elke dag voedsame kos moet eet om aan die lewe te bly, moet ons God se Woord gereeld lees om baat te vind by God se belofte van die ewige lewe.

Ons geniet dit om te eet omdat ons gemaak is om dit te geniet en omdat dit in ’n basiese behoefte voorsien. Maar ons het ’n ander basiese behoefte wat ons moet bevredig as ons gelukkig wil wees. Jesus het gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Ons kan gelukkig wees omdat daardie behoefte bevredig sal word as ons God se Woord verstaan.

Dit is wel vir party moeilik om die Bybel te verstaan. Byvoorbeeld, jy het dalk hulp nodig om tekste te verstaan wat na onbekende gebruike verwys of wat figuurlike uitdrukkings gebruik. Dan is daar profesieë wat in simboliese taal geskryf is en slegs verstaan kan word deur te verwys na ander Bybeltekste wat oor dieselfde onderwerp handel (Daniël 7:1-7; Openbaring 13:1, 2). Hoe dit ook al sy, jy kán die Bybel verstaan. Hoe kan jy daarvan seker wees?

Almal kan dit doen

Die Bybel is die Woord van God. Daarin verklaar God sy wil aan ons. Sou God ’n boek voorsien wat onmoontlik is om te verstaan of wat net deur hooggeleerde mense verstaan kon word? Nee, Jehovah sou nie so onregverdig wees nie. Christus Jesus het gesê: “Watter vader onder julle sal, as sy seun ’n vis vra, hom miskien ’n slang in plaas van ’n vis gee? Of as hy ook ’n eier vra, hom ’n skerpioen gee? As julle, hoewel julle goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!” (Lukas 11:11-13). Jy kan dus daarvan seker wees dat dit wel vir jou moontlik is om die Bybel te verstaan en dat God jou die nodige hulp sal gee om dit te doen as jy hom opreg vra. Trouens, selfs kinders kan basiese Bybelleringe verstaan!—2 Timoteus 3:15.

Hoewel dit inspanning verg om die Bybel te verstaan, kan dit ’n kragtige, besielende uitwerking op ons hê. Ná sy opstanding het Jesus aan twee van sy dissipels verskyn en met hulle oor Bybelprofesieë gepraat. Lukas se verslag sê: “Hy het by Moses en al die Profete begin en vir hulle dinge in die hele Skrif uitgelê wat op hom betrekking het.” Met watter gevolg? Daardie aand, terwyl hulle nagedink het oor wat hulle geleer het, het die dissipels vir mekaar gesê: “Het ons hart nie gebrand toe hy op die pad met ons gepraat het, toe hy die Skrif ten volle vir ons geopen het nie?” (Lukas 24:13-32). Hulle was verheug om God se Woord te verstaan omdat dit hulle geloof in God se beloftes versterk het en hulle ’n positiewe beskouing van die toekoms gegee het.

Dit is nie ’n onaangename taak om die Woord van God te leer verstaan nie, dit is eerder interessant en nuttig, so aangenaam soos om ’n heerlike maaltyd te eet. Wat moet jy doen om dit reg te kry? Die volgende artikel toon hoe jy “die kennis van God” kan vind.—Spreuke 2:1-5.

[Prent op bladsy 4]

Soos ’n liefdevolle vader, gee Jehovah heilige gees om ons te help om die Bybel te verstaan