Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verstaan die Bybel—Wat sal jou help?

Verstaan die Bybel—Wat sal jou help?

Verstaan die Bybel—Wat sal jou help?

‘U HET hierdie dinge sorgvuldig vir die wyse en intellektuele mense verberg en dit aan klein kindertjies geopenbaar’ (Lukas 10:21). Hierdie woorde wat Jesus tot sy hemelse Vader gerig het, toon dat ons die regte gesindheid moet hê as ons die Bybel wil verstaan. Jehovah se wysheid is geopenbaar in die feit dat hy ’n boek voorsien het wat net nederige, ontvanklike mense werklik kan verstaan.

Die meeste van ons vind dit moeilik om nederig te wees. Ons het almal ’n oorgeërfde neiging tot trots. Daarbenewens lewe ons in “die laaste dae”, onder mense wat “liefhebbers van hulleself, . . . eiesinnig, opgeblase van trots” is (2 Timoteus 3:1-4). Dit is gesindhede wat ons verhinder om God se Woord te verstaan. Ongelukkig word ons almal in sekere mate deur ons milieu beïnvloed. Hoe kan jy dus die gesindheid aankweek wat nodig is om die Bybel te verstaan?

Berei jou hart en verstand voor

Esra, ’n eertydse leier van God se volk, “het sy hart voorberei om die wet van Jehovah te raadpleeg” (Esra 7:10). Is daar ’n manier waarop ons ons hart kan voorberei? Ja. Ons kan begin deur die regte beskouing van die Skrif te ontwikkel. Die apostel Paulus het aan mede-Christene geskryf: “Toe julle God se woord ontvang het, wat julle by ons gehoor het, het julle dit nie as die woord van mense aangeneem nie maar, soos dit waarlik is, as die woord van God” (1 Tessalonisense 2:13). Hoewel manne gebruik is om die Bybel te skryf, het dit wat hulle geskryf het, van Jehovah af gekom. As ons hierdie belangrike feit erken, sal dit ons ontvankliker maak vir wat ons lees.—2 Timoteus 3:16.

Nog ’n manier waarop ons ons hart voorberei, is deur gebed. Aangesien die Bybel deur heilige gees geïnspireer is, sal ons met die hulp van daardie gees die boodskap daarin kan verstaan. Ons moet bid vir sulke hulp. Let op hoe die psalmis hiervoor gevra het: “Laat my verstaan, sodat ek u wet kan bewaar en sodat ek dit met my hele hart kan onderhou” (Psalm 119:34). Ons moenie net bid vir die verstandelike vermoë om te verstaan wat geskryf is nie, maar ook vir die hartstoestand wat ons sal beweeg om dit te aanvaar. Om die Bybel te verstaan, moet ons ontvanklik wees vir die waarheid.

Terwyl jy peins om in die regte gemoedstoestand te kom, kan jy dink aan wat ’n studie van die Bybel vir jou kan doen. Ons het talle uitstekende redes om God se Woord te lees, maar die belangrikste hiervan is dat dit ons help om nader aan God te kom (Jakobus 4:8). Wanneer ons lees hoe Jehovah op verskillende situasies reageer, hoeveel hy diegene waardeer wat hom liefhet en hoe hy optree teenoor diegene wat hom verlaat, besef ons watter soort persoon hy is. Die vernaamste beweegrede waarmee ons die Bybel lees, moet altyd wees om God beter te leer ken en sodoende ons verhouding met hom te versterk.

Hindernisse tot die regte gesindheid

Wat kan ons verhinder om God se Woord te verstaan? Een hindernis is ’n misplaaste gevoel van lojaliteit. Byvoorbeeld, jy het dalk groot agting vir die oortuigings en menings van sekere mense. Maar sê nou hierdie mense ondersteun of waardeer nie werklik die waarheid van God se Woord nie? Dit kan ’n uitdaging wees om onder sulke omstandighede te verstaan wat die Bybel werklik leer. Die Bybel spoor ons dus aan om die dinge wat ons geleer is, noukeurig te ondersoek.—1 Tessalonisense 5:21.

Jesus se moeder, Maria, het voor so ’n uitdaging te staan gekom. Sy is volgens Joodse tradisie grootgemaak. Sy het die Mosaïese Wet getrou nagekom en ongetwyfeld gereeld na die sinagoge gegaan. Later in haar lewe het sy besef dat die manier van aanbidding wat haar ouers haar geleer het, nie meer vir God aanneemlik was nie. Gevolglik het Maria Jesus se lering aanvaar en was sy onder die eerste lede van die Christengemeente (Handelinge 1:13, 14). Dit was nie weens ’n gebrek aan respek vir haar ouers of hulle tradisie nie; dit was eerder ’n bewys van haar liefde vir God. As ons wil baat vind by die Bybel, moet ons soos Maria lojaliteit aan God bo lojaliteit aan enigiemand anders stel.

Ongelukkig heg baie mense min waarde aan Bybelwaarheid. Party is tevrede om godsdienstradisies te volg wat op leuens gegrond is. Ander toon deur hulle spraak en lewenswyse dat hulle geen eerbied vir waarheid het nie. As ’n mens Bybelwaarheid wil aanneem, gaan dit jou dus iets kos: Dit kan onenigheid veroorsaak tussen jou en jou vriende, bure, werksmaats en selfs jou familie (Johannes 17:14). Die wyse man het nietemin geskryf: “Koop waarheid en moet dit nie verkoop nie” (Spreuke 23:23). As jy waarheid hoogag, sal Jehovah jou help om die Bybel te verstaan.

Nog iets wat ons kan verhinder om die Bybel se boodskap te verstaan, is onwilligheid om toe te pas wat dit sê. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Aan julle word dit gegee om die heilige geheime van die koninkryk van die hemele te verstaan, maar aan daardie mense word dit nie gegee nie. Want die hart van hierdie volk het onontvanklik geword, en met hulle ore het hulle gehoor sonder om te reageer” (Matteus 13:11, 15). Die meeste mense vir wie Jesus getuig het, het nie gereageer nie, hulle was onwillig om te verander. Hoe anders was die reisende koopman tog van wie Jesus in ’n illustrasie gepraat het! Toe die koopman ’n pêrel van groot waarde gevind het, het hy onmiddellik alles verkoop wat hy gehad het sodat hy dit kon koop. Om Bybelwaarheid te verstaan, moet net so kosbaar vir ons wees.—Matteus 13:45, 46.

Die uitdaging om ontvanklik te wees

As ’n mens die Bybel wil verstaan, kom jy voor die uitdaging te staan om ontvanklik te wees. Dit kan moeilik wees om nuwe idees te aanvaar van iemand wat na jou mindere lyk. En tog was die apostels van Jesus Christus “ongeleerde en gewone” mense (Handelinge 4:13). Paulus het verduidelik waarom en geskryf: “Julle sien sy roeping van julle, broers, dat nie baie geroep is wat in vleeslike sin wys is nie, nie baie magtiges nie, nie baie van adellike geboorte nie; maar God het die dwase dinge van die wêreld uitgekies, sodat hy die wyse mense kan beskaam” (1 Korintiërs 1:26, 27). As dit vir jou ’n toets van nederigheid is om deur ’n eenvoudige persoon geleer te word, moet jy onthou dat daardie persoon bloot die middel is waardeur God jou onderrig. Watter groter voorreg kan daar wees as om deur Jehovah, ons “Grootse Onderrigter”, geleer te word?—Jesaja 30:20; 54:13.

Die Siriese leërowerste Naäman was iemand wat dit moeilik gevind het om ’n opdrag van ’n mindere te ontvang. Hy het na Jehovah se profeet Elisa gegaan om van sy melaatsheid genees te word. Maar God se instruksies vir genesing is deur middel van ’n dienaar aan Naäman oorgedra. Die boodskap en die manier waarop dit hom bereik het, het Naäman se nederigheid op die proef gestel, sodat hy aanvanklik geweier het om die woord van God se profeet te gehoorsaam. Later het Naäman sy gesindheid verander en is hy genees (2 Konings 5:9-14). Ons kom voor ’n soortgelyke uitdaging te staan wanneer ons die Bybel bestudeer. Ons leer dalk dat ons ’n nuwe lewenswyse moet volg as ons geestelik en sedelik genees wil word. Sal ons nederig genoeg wees om toe te laat dat iemand ons leer wat ons moet doen? Slegs diegene met ’n ontvanklike gesindheid kan die Bybel verstaan.

Iemand wat ’n goeie gesindheid geopenbaar het, was ’n maghebber onder Kandake, die koningin van die Etiopiërs. Hy was in sy wa op pad terug na Afrika toe die dissipel Filippus langs die wa gehardloop en met hom begin praat het. Filippus het die man gevra of hy verstaan wat hy lees. Die amptenaar was nederig genoeg om te antwoord: “Hoe sou ek tog ooit kon, tensy iemand my lei?” Toe daardie man God se Woord verstaan het, is hy gedoop. Daarna het hy “sy reis met blydskap voortgesit”.—Handelinge 8:27-39.

Jehovah se Getuies is oor die algemeen doodgewone mense. Hulle hou elke week Bybelstudies in die huise van meer as sesmiljoen mense. Aangesien die Bybel ons leer wat die beste lewenswyse is, asook verduidelik wat die enigste betroubare hoop vir die mensdom is en toon hoe ons God kan leer ken, het miljoene gevind dat dit hulle ontsaglike vreugde verskaf om die Bybel te bestudeer en te verstaan. Jy kán dit ook doen.

[Prent op bladsy 7]

Naäman het dit moeilik gevind om instruksies van ’n eenvoudige dienaar te ontvang

[Prent op bladsy 7]

Ons sal gelukkig wees as ons die Bybel verstaan