Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Voldoen aan die vereistes vir Christelike doop

Voldoen aan die vereistes vir Christelike doop

Voldoen aan die vereistes vir Christelike doop

“Wat verhinder my om gedoop te word?”—HANDELINGE 8:36.

1, 2. Hoe het Filippus ’n gesprek met ’n Etiopiese amptenaar aangeknoop, en wat getuig van die geestelike ingesteldheid van hierdie man?

 ’N JAAR of twee ná Jesus se dood het ’n regeringsamptenaar in ’n suidelike rigting op die pad van Jerusalem na Gasa gereis. ’n Uitputtende reis van sowat 1 500 kilometer het voorgelê. Hierdie vroom man het al die pad van Etiopië af na Jerusalem gekom om Jehovah te aanbid. Op die lang terugreis het hy sy tyd wyslik gebruik deur die Woord van God te lees—só gelowig was die man. Jehovah het hierdie opregte man gesien, en deur middel van ’n engel het Hy die dissipel Filippus gestuur om vir hom te preek.—Handelinge 8:26-28.

2 Filippus het dit maklik gevind om ’n gesprek aan te knoop, aangesien die Etiopiese amptenaar hardop gelees het, soos dit destyds die gebruik was. Filippus kon dus hoor dat hy uit die boek Jesaja lees. ’n Eenvoudige vraag van Filippus het die man se belangstelling geprikkel: “Verstaan u werklik wat u lees?” Dit het tot ’n bespreking van Jesaja 53:7, 8 gelei. Daarna het Filippus “die goeie nuus oor Jesus aan hom bekend gemaak”.—Handelinge 8:29-35.

3, 4. (a) Waarom het Filippus die Etiopiër sonder versuim gedoop? (b) Watter vrae gaan ons nou bespreek?

3 Binne ’n kort tydjie het die Etiopiër Jesus se rol in God se voorneme verstaan, en ook dat dit nodig was om ’n gedoopte dissipel van Christus te word. “Wat verhinder my om gedoop te word?” het hy vir Filippus gevra toe hy ’n geskikte poel water sien. Dit was natuurlik spesiale omstandighede. Hier was ’n man van geloof wat God reeds as ’n Joodse proseliet aanbid het. Hy sou waarskynlik nie gou weer die geleentheid kry om gedoop te word nie. Nog belangriker, hierdie man het verstaan wat God van hom vereis, en hy wou sonder voorbehoud reageer. Filippus het sy versoek met graagte toegestaan, en nadat die Etiopiër gedoop is, het hy “sy reis met blydskap voortgesit”. Hy het ongetwyfeld ’n geesdriftige verkondiger van die goeie nuus in sy tuisland geword.—Handelinge 8:36-39.

4 Hoewel die stappe van toewyding en doop nie ligtelik opgeneem of oorhaastig gedoen moet word nie, toon die voorbeeld van die Etiopiese amptenaar dat daar al gevalle was waar mense gedoop is kort nadat hulle die waarheid van God se Woord gehoor het. a Dit is dus gepas om die volgende vrae te bespreek: Watter soort voorbereiding moet doop voorafgaan? In watter mate moet ouderdom ’n faktor wees? Watter geestelike vooruitgang moet waarneembaar wees voordat iemand gedoop word? Bowenal, waarom vereis Jehovah dat sy knegte hierdie stap doen?

’n Plegtige belofte

5, 6. (a) Hoe het God se volk in die verlede op Jehovah se liefde gereageer? (b) Watter hegte verhouding met God kan ons geniet wanneer ons gedoop is?

5 Nadat Jehovah die Israeliete uit Egipte verlos het, het hy aangebied om hulle as sy “spesiale eiendom” aan te neem, om hulle lief te hê en te beskerm en hulle “’n heilige nasie” te maak. Om sulke seëninge te ontvang, moes die volk egter op ’n waarneembare wyse op God se liefde reageer. Hulle het dit gedoen deur in te stem om “alles wat Jehovah gespreek het”, te doen en ’n verbond met hom aan te gaan (Eksodus 19:4-9). In die eerste eeu het Jesus sy volgelinge beveel om dissipels van mense van al die nasies te maak, en diegene wat sy leringe aangeneem het, is gedoop. ’n Goeie verhouding met God het afgehang van geloof in Jesus Christus wat deur doop gevolg is.—Matteus 28:19, 20; Handelinge 2:38, 41.

6 Hierdie skriftuurlike verslae toon dat Jehovah diegene seën wat ’n plegtige belofte aflê om hom te dien en daarby hou. Vir Christene is toewyding en doop noodsaaklike stappe wat tot Jehovah se seën lei. Ons is vasbeslote om sy weë te volg en sy leiding te soek (Psalm 48:14). Op sy beurt neem Jehovah ons in figuurlike sin aan die hand en lei hy ons in die weg waarop ons moet wandel.—Psalm 73:23; Jesaja 30:21; 41:10, 13.

7. Waarom moet toewyding en doop ’n persoonlike besluit wees?

7 Die rede waarom ons hierdie stappe doen, behoort liefde vir Jehovah te wees en ’n begeerte om hom te dien. Niemand moet gedoop word bloot omdat iemand vir hom sê dat hy lank genoeg gestudeer het of omdat sy vriende gedoop word nie. Ouers en ander ryp Christene kan ’n persoon dalk aanmoedig om aan toewyding en doop te dink. Die apostel Petrus het diegene wat hom op Pinkster gehoor het, aangespoor om ‘gedoop te word’ (Handelinge 2:38). Ons toewyding is nietemin ’n persoonlike saak, en niemand anders kan dit namens ons doen nie. Ons moet self besluit om God se wil te doen.—Psalm 40:8.

Voldoende voorbereiding vir doop

8, 9. (a) Waarom is kinderdoop volgens die Skrif onaanvaarbaar? (b) Watter geestelike vooruitgang moet jongmense maak voordat hulle gedoop kan word?

8 Het kinders die vermoë om ’n intelligente besluit ten opsigte van toewyding te neem? Die Skrif stel geen ouderdomsbeperking op doop nie. Maar babatjies kan beslis nie gelowiges word, geloof beoefen of hulle aan God toewy nie (Handelinge 8:12). Aangaande eerste-eeuse Christene skryf die geskiedskrywer Augustus Neander in sy boek General History of the Christian Religion and Church: “Aanvanklik is slegs volwassenes gedoop, aangesien mense gewoonlik doop en geloof ten nouste met mekaar verbind het.”

9 Party jongmense ontwikkel betreklik vroeg ’n mate van geestelikheid, terwyl ander langer neem. Maar voordat ’n jong persoon gedoop word, moet hy ’n persoonlike verhouding met Jehovah asook ’n deeglike begrip van die grondleerstellings van die Skrif hê, en hy moet, net soos ’n volwassene, duidelik verstaan wat toewyding behels.

10. Watter stappe moet toewyding en doop voorafgaan?

10 Jesus het sy dissipels die opdrag gegee om nuwelinge alles te leer wat hy beveel het (Matteus 28:20). Die nuwelinge moet dus eerstens juiste kennis van die waarheid opdoen, wat hulle dan in staat sal stel om geloof in Jehovah en in sy Woord op te bou (Romeine 10:17; 1 Timoteus 2:4; Hebreërs 11:6). Dan, wanneer skriftuurlike waarheid ’n persoon se hart bereik, beweeg dit hom om berou te toon en hom van sy vorige lewenswyse te bekeer (Handelinge 3:19). Uiteindelik bereik die persoon die punt waar hy hom aan Jehovah wil toewy en gedoop wil word, soos Jesus beveel het.

11. Waarom is dit belangrik dat ons gereeld aan die predikingswerk deelneem voordat ons gedoop word?

11 Nog ’n belangrike stap op die weg na doop is deelname aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk. Dit is die vernaamste werk wat Jehovah gedurende hierdie laaste dae aan sy volk gegee het (Matteus 24:14). Ongedoopte verkondigers kan dus die vreugde hê om met ander oor hulle geloof te praat. As hulle aan hierdie werk deelneem, rus dit hulle ook toe vir gereelde en ywerige deelname aan die veldbediening nadat hulle gedoop is.—Romeine 10:9, 10, 14, 15.

Verhinder iets jou om gedoop te word?

12. Waarom huiwer party dalk om gedoop te word?

12 Sekere persone huiwer om gedoop te word omdat hulle onwillig is om die verantwoordelikheid wat dit meebring, te aanvaar. Hulle besef dat hulle groot veranderinge in hulle lewe sal moet maak om aan Jehovah se standaarde te voldoen. Of hulle is dalk bang dat hulle dit moeilik sal vind om God se vereistes na te leef nadat hulle gedoop is. Party redeneer dalk selfs: “Miskien doen ek eendag iets verkeerds en word ek uit die gemeente gesit.”

13. Wat het party in Jesus se dag verhinder om sy volgelinge te word?

13 In Jesus se dag het party toegelaat dat persoonlike belange en gesinsbande hulle verhinder om sy dissipels te word. Een skrifgeleerde het gesê dat hy Jesus sou volg waar Hy ook al gaan. Maar Jesus het hom daarop gewys dat hy dikwels nie eers ’n plek gehad het om te oornag nie. Toe Jesus iemand anders wat na hom geluister het, nooi om sy volgeling te wees, het dié man geantwoord dat hy eers sy vader moes “begrawe”. Hy het waarskynlik verkies om by die huis te bly en te wag totdat sy vader sterf, eerder as om Jesus te volg en daardie gesinsverantwoordelikheid na te kom wanneer die tyd daarvoor aangebreek het. Laastens het ’n derde persoon gesê dat hy van sy huishouding moes ‘afskeid neem’ voordat hy Jesus kon volg. Jesus het sulke uitstellery beskryf as ‘om te kyk na die dinge wat agter is’. Dit lyk dus asof diegene wat nie hulle Christelike verantwoordelikheid wil nakom nie, altyd verskonings sal vind om dit te ontduik.—Lukas 9:57-62.

14. (a) Hoe het Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes gereageer toe Jesus hulle genooi het om vissers van mense te word? (b) Waarom moet ons nie huiwer om Jesus se juk te aanvaar nie?

14 Die voorbeeld van Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes vorm ’n skerp teenstelling hiermee. Toe Jesus hulle genooi het om hom te volg en vissers van mense te word, het hulle, volgens die Bybel, “dadelik . . . die nette laat staan en hom gevolg” (Matteus 4:19-22). Omdat hulle daardie besluit sonder aarseling geneem het, het hulle persoonlik ondervind waarvan Jesus hulle later vertel het: “Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig” (Matteus 11:29, 30). Hoewel doop ’n juk van verantwoordelikheid meebring, verseker Jesus ons dat dit ’n sagte en draaglike juk is wat ons grootliks sal verkwik.

15. Hoe toon die voorbeelde van Moses en Jeremia dat ons kan vertrou dat God ons sal ondersteun?

15 Gevoelens van onbekwaamheid is natuurlik normaal. Moses sowel as Jeremia het aanvanklik onbevoeg gevoel om die toewysings wat Jehovah hulle gegee het, uit te voer (Eksodus 3:11; Jeremia 1:6). Hoe het God hulle gerusgestel? ‘Ek sal met jou wees’, het hy vir Moses gesê. “Ek is met jou om jou te verlos”, het hy vir Jeremia belowe (Eksodus 3:12; Jeremia 1:8). Ons kan ook op God se ondersteuning vertrou. Liefde vir God en vertroue op hom kan ons help om nie gedurig te twyfel aan ons vermoë om ons toewyding na te leef nie. “Daar is geen vrees in die liefde nie”, het die apostel Johannes geskryf, “maar volmaakte liefde werp vrees uit” (1 Johannes 4:18). ’n Klein seuntjie is dalk bang as hy alleen moet loop, maar as hy hand aan hand met sy pa loop, is hy vol vertroue. As ons eweneens met ons hele hart op Jehovah vertrou, belowe hy om ‘ons paaie reguit te maak’ terwyl ons met hom wandel.—Spreuke 3:5, 6.

’n Waardige geleentheid

16. Waarom behels doop algehele onderdompeling in water?

16 Die doop self word gewoonlik voorafgegaan deur ’n skriftuurlike toespraak wat die betekenis van Christelike doop verduidelik. Aan die einde van hierdie toespraak word kandidate gevra om ’n openbare bekendmaking van hulle geloof te doen deur die twee doopvrae te beantwoord. (Romeine 10:10; sien die venster op bladsy 22.) Die kandidate word dan onder die water gedompel, volgens die voorbeeld wat Jesus gestel het. Die Bybel toon dat Jesus, nadat hy gedoop is, “uit die water opgekom” het (Matteus 3:16; Markus 1:10). Dit is duidelik dat Johannes die Doper Jesus heeltemal ondergedompel het. b Algehele onderdompeling is ’n gepaste simbool van die dramatiese verandering wat ons in ons lewe gemaak het—ons sterf in figuurlike sin ten opsigte van ons vorige lewenswyse en begin ’n nuwe lewe in God se diens.

17. Hoe kan die doopkandidate sowel as die waarnemers tot die waardigheid van die geleentheid bydra?

17 Doop is ’n ernstige sowel as ’n vreugdevolle geleentheid. Die Bybel toon dat Jesus gebid het toe Johannes hom in die Jordaanrivier ondergedompel het (Lukas 3:21, 22). In ooreenstemming met hierdie voorbeeld moet doopkandidate hulle vandag met die gepaste waardigheid gedra. En aangesien die Bybel ons maan dat ons kleredrag in ons daaglikse lewe beskeie moet wees, hoeveel te meer moet ons op ons doopdag ag slaan op hierdie raad! (1 Timoteus 2:9). Waarnemers kan ook gepaste respek toon deur aandagtig na die dooptoespraak te luister en deur die gebeurtenis ordelik waar te neem.—1 Korintiërs 14:40.

Seëninge wat gedoopte dissipels geniet

18, 19. Watter voorregte en seëninge bring doop mee?

18 Wanneer ons ons aan God toegewy het en gedoop is, word ons deel van ’n unieke gesin. In die eerste plek word Jehovah ons Vader en ons Vriend. Voor ons doop was ons van God vervreemd; nou het ons met hom versoen geraak (2 Korintiërs 5:19; Kolossense 1:20). Deur Christus se offerande het ons nader aan God gekom en kom hy nader aan ons (Jakobus 4:8). Die profeet Maleagi beskryf hoe Jehovah aandag skenk en luister na diegene wat sy naam gebruik en dra, en hy sluit hulle name in sy gedenkboek in. “Hulle sal beslis myne word”, sê God, “en ek sal medelye met hulle betoon, soos ’n man medelye met sy seun betoon wat hom dien.”—Maleagi 3:16-18.

19 Doop stel ons ook in staat om ’n deel te word van ’n wêreldwye broederskap. Toe die apostel Petrus gevra het watter seëninge Christus se dissipels sou ontvang vir die opofferinge wat hulle gemaak het, het Jesus belowe: “Elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of landerye ter wille van my naam verlaat het, sal baie keer soveel ontvang en die ewige lewe beërf” (Matteus 19:29). Jare later het Petrus geskryf van “die hele gemeenskap van broers” wat “in die wêreld” ontwikkel het. Petrus het persoonlik die ondersteuning en seëninge van ’n liefdevolle broederskap ondervind, en ons kan ook.—1 Petrus 2:17; 5:9.

20. Watter geseënde vooruitsig bied doop?

20 Verder het Jesus getoon dat diegene wat hom volg, “die ewige lewe [sal] beërf”. Ja, toewyding en doop bied die vooruitsig om “’n stewige houvas op die werklike lewe [te] kry”—op ewige lewe in God se nuwe wêreld (1 Timoteus 6:19). Watter beter fondament vir die toekoms kan ons moontlik vir ons en ons gesin lê? Hierdie geseënde vooruitsig sal ons in staat stel om “in die naam van Jehovah ons God [te] wandel tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig”.—Miga 4:5.

[Voetnote]

a Die drieduisend Jode en proseliete wat op Pinkster na Petrus se toespraak geluister het, het hulle ook sonder versuim laat doop. Soos die Etiopiese eunug, was hulle natuurlik reeds bekend met die basiese leringe en beginsels van God se Woord.—Handelinge 2:37-41.

b Die Griekse woord vir doop wys volgens Vine se Expository Dictionary of New Testament Words op “die indompeling, onderdompeling en opkoms”.

Kan jy verduidelik?

• Hoe en waarom moet ons op Jehovah se liefde reageer?

• Watter geestelike vooruitgang moet doop voorafgaan?

• Waarom moet ons nie toelaat dat vrees vir mislukking of onwilligheid om verantwoordelikheid te aanvaar, ons laat huiwer om gedoop te word nie?

• Watter unieke seëninge kan gedoopte dissipels van Jesus Christus geniet?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

“Wat verhinder my om gedoop te word?”

[Prente op bladsy 29]

Doop is ’n ernstige sowel as ’n vreugdevolle geleentheid