Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg die Christus na wanneer jy gesag uitoefen

Volg die Christus na wanneer jy gesag uitoefen

Volg die Christus na wanneer jy gesag uitoefen

’N PAAR jaar gelede het ’n eksperiment in mensegedrag interessante resultate opgelewer. Die mense wat daaraan deelgeneem het, is in twee groepe verdeel. Een groep is as wagte aangestel oor die ander groep, wat as gevangenes aangewys is. Wat het gebeur?

“Binne ’n paar dae”, is daar berig, “het die meeste van [die wagte] begin om die ander sleg te behandel, oor hulle baas te speel en dikwels straf uit te deel, terwyl die gevangenes bang en onderdanig geword het.” Die navorsers het tot hierdie slotsom gekom: Feitlik enigiemand kan in die strik trap om sy gesag te misbruik.

Die gepaste en ongepaste uitoefening van gesag

As gesag behoorlik uitgeoefen word, kan dit natuurlik ’n krag ten goede wees. Gepaste leiding kan daardeur voorsien word, en dit kan fisiese, emosionele en geestelike voordele inhou (Spreuke 1:5; Jesaja 48:17, 18). Maar soos die bogenoemde eksperiment getoon het, bestaan die gevaar altyd dat ’n mens onredelik kan word wanneer dit by die uitoefening van gesag kom. Die Bybel meld hierdie gevaar en sê: “Wanneer ’n goddelose heers, sug die volk.”—Spreuke 29:2; Prediker 8:9.

Dit is skadelik om ’n mens se gesag te misbruik, al word dit met ’n goeie beweegrede gedoen. Onlangs het ’n godsdienstige onderwysorde in Ierland byvoorbeeld in die openbaar verskoning gevra vir die manier waarop party onderwysers hulle gesag oor kinders in hulle sorg misbruik het. Baie van hierdie onderwysers het ongetwyfeld goeie bedoelings gehad, maar die metodes wat party gebruik het, was uiters skadelik. ’n Koerant het berig dat “baie kinders op die een of ander manier skade berokken [is] deur die buitensporige geweld en uitermate streng benadering van baie van die onderwysbroeders” (The Irish Times). Hoe kan jy dus jou gesag uitoefen sodat jy eerder die beste in ander uitbring as om hulle te vervreem of seer te maak deur wat jy sê of doen?—Spreuke 12:18.

“Alle gesag” is aan Jesus Christus gegee

Kyk na die voorbeeld van Jesus Christus. Kort voordat hy na die hemel opgevaar het, het hy vir sy dissipels gesê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee” (Matteus 28:18). Het dit die dissipels met vrees vervul? Het hulle gedink dat Jesus van toe af dieselfde gees sou weerspieël as die keisers van Rome, wat daarvoor bekend was dat hulle afwykende menings of opstande met geweld onderdruk het?

Die Bybelverslag antwoord nadruklik nee! Jesus Christus oefen gesag uit op dieselfde manier as sy Vader. Hoewel Jehovah tereg die almagtige Universele Soewerein is, wil hy hê dat sy onderdane hom eerder met ’n gewillige hart moet dien as om hom blindelings, uit vrees of slaafs te gehoorsaam (Matteus 22:37). Jehovah misbruik nooit sy gesag nie. Dit word getoon in ’n treffende visioen wat aan die profeet Esegiël gegee is.

In hierdie visioen het Esegiël vier engeleskepsele gesien wat God se soewereiniteit ondersteun. Elkeen het vier gesigte gehad. Esegiël skryf: “Só het hulle gesigte gelyk: al vier het die gesig van ’n mens gehad met die gesig van ’n leeu aan die regterkant, en al vier het die gesig van ’n bul aan die linkerkant gehad; al vier het ook die gesig van ’n arend gehad” (Esegiël 1:10). Hierdie vier gesigte stel die vier hoofeienskappe van God voor wat in volmaakte ewewig is. Volgens God se Woord is hierdie eienskappe: liefde, wat deur die mens se gesig voorgestel word; geregtigheid, wat deur die leeu se gesig voorgestel word, en wysheid, wat deur die arend se gesig voorgestel word. Hierdie drie eienskappe werk saam met die vierde—krag, wat deur die bul se gesig voorgestel word. Wat beteken dit alles? Die visioen toon dat Jehovah altyd sy onbeperkte krag en gesag in ooreenstemming met sy ander hoofeienskappe uitoefen.

In navolging van sy Vader het Jesus Christus altyd sy gesag uitgeoefen op ’n manier wat in volkome ooreenstemming met liefde, wysheid en geregtigheid is. Jesus se dissipels het dit baie verkwikkend gevind om onder hom te dien (Matteus 11:28-30). Die een eienskap wat Jehovah God sowel as Jesus Christus meer as enige ander eienskap kenmerk, is liefde, nie krag of gesag nie!—1 Korintiërs 13:13; 1 Johannes 4:8.

Hoe oefen jy jou gesag uit?

Hoe vaar jy in hierdie verband? Beheer jy byvoorbeeld sake in die gesin deur jou gesag af te dwing, al beteken dit dat jy op jou persoonlike giere of voorkeure aandring? Onderwerp die ander in die gesin hulle uit vrees of uit liefde aan jou besluite? Is groter krag die beslissende faktor? Dit is vrae waaroor gesinshoofde kan nadink sodat hulle teokratiese orde in die gesinsreëling kan handhaaf.—1 Korintiërs 11:3.

Sê nou jy het ’n mate van gesag in die Christengemeente? Om uit te vind of jy dit behoorlik uitoefen, kan jy kyk of jy die volgende beginsels toepas wat deur Jehovah God geïnspireer is en waarin Jesus Christus die voorbeeld gestel het.

“’n Slaaf van die Here . . . moet teer wees teenoor almal, . . . iemand wat hom onder die kwaad in bedwang hou, wat dié wat nie gunstiggesind is nie, met sagmoedigheid onderrig.”—2 Timoteus 2:24, 25.

Party persone in die vroeë Christengemeente het groot gesag uitgeoefen. Timoteus kon byvoorbeeld selfs “sekere persone . . . beveel om nie ’n ander leer te verkondig nie” (1 Timoteus 1:3). Maar ons kan seker wees dat Timoteus godvrugtige eienskappe geopenbaar het in alles wat hy gedoen het, want hy het ongetwyfeld Paulus se raad gevolg om “met sagmoedigheid” te onderrig en om “teer [te] wees teenoor almal” terwyl hy as Christenopsiener gedien het. Omdat hy betreklik jonk was, moes hy teenoor ouer persone soos ’n eerbiedige seun optree en teenoor jonger persone soos ’n liefdevolle broer (1 Timoteus 5:1, 2). Onder sulke liefdevolle sorg weerspieël die Christengemeente die gees van ’n hartlike, liefdevolle gesin, nie dié van ’n kil, ongevoelige sakeonderneming nie.—1 Korintiërs 4:14; 1 Tessalonisense 2:7, 8.

“Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel en die groot manne oor hulle gesag uitoefen. Onder julle is dit nie so nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.”—Matteus 20:25, 26.

Wêreldse tiranne ‘speel baas oor’ ander deur hulle wil aan hulle op te dring, daarop aan te dring dat hulle dinge op ’n sekere manier doen en hulle met strafmaatreëls te dreig as hulle ongehoorsaam is. Maar Jesus Christus het beklemtoon dat ’n mens ander eerder moet dien as om druk op hulle uit te oefen (Matteus 20:27, 28). Hy het sy dissipels altyd op ’n liefdevolle manier behandel. Wanneer jy Jesus se voorbeeld volg, is dit vir ander baie makliker om jou hulle samewerking te gee (Hebreërs 13:7, 17). Dit maak dit ook vir hulle baie makliker om, as hulle kan, meer te doen as wat van hulle verwag word, en om dit gewillig te doen en nie omdat hulle op die een of ander manier gedwing word nie.—Matteus 5:41.

“Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is, . . . nie as persone wat baasspeel oor dié wat God se erfenis is nie, maar deur voorbeelde vir die kudde te word.”—1 Petrus 5:2, 3.

Hedendaagse opsieners besef dat hulle vir die geestelike welsyn van almal in die gemeente aanspreeklik is. Hulle neem hierdie verantwoordelikheid ernstig op. Hulle streef daarna om gewillig, gretig en op ’n liefdevolle manier vir die kudde van God te sorg. Soos die apostel Paulus, werk hulle hard om die geloof van diegene onder hulle sorg op te bou en te versterk en om nie as meesters oor hulle geloof op te tree nie.—2 Korintiërs 1:24.

Wanneer dit nodig is om gepaste raad te gee, doen ouer manne dit in ’n gees van sagmoedigheid om ’n oortreder reg te help of ’n mede-Christen te help om geestelik vooruitgang te maak. Hulle hou die apostel Paulus se herinnering in gedagte: “Broers, selfs al begaan iemand die een of ander misstap voordat hy daarvan bewus is, moet julle wat geestelik bekwaam is, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid probeer reghelp, terwyl jy op jouself let, sodat jy nie ook versoek word nie.”—Galasiërs 6:1; Hebreërs 6:1, 9-12.

“Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe . . . Beklee julle . . . met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.”—Kolossense 3:13, 14.

Hoe behandel jy diegene wat dalk nie Christelike standaarde volmaak nakom nie? Neem jy, soos Jehovah en Jesus Christus, hulle tekortkominge in aanmerking? (Jesaja 42:2-4). Of dring jy altyd daarop aan dat die letter van die wet toegepas moet word? (Psalm 130:3). Onthou, dit is gepas om mense sagkens te behandel wanneer moontlik en om ferm te wees net wanneer dit nodig is. As jy met liefde optree, sal dit help om sterk bande van wedersydse vertroue te smee tussen jou en diegene oor wie jy gesag uitoefen.

As enige gesag aan jou toevertrou is, moet jy hard probeer om Jehovah God en Jesus Christus na te volg wanneer jy dit uitoefen. Dink aan die wonderlike beskrywing wat die psalmis gegee het van die manier waarop Jehovah sy gesag oor sy volk uitoefen. Dawid het gesing: “Jehovah is my Herder. Niks sal my ontbreek nie. In grasryke weivelde laat hy my neerlê; by waterryke rusplekke bring hy my. My siel verkwik hy. Hy lei my in die spore van regverdigheid ter wille van sy naam.” Ons lees ook van Jesus: “Ek is die goeie herder, en ek ken my skape en my skape ken my, net soos die Vader my ken en ek die Vader ken; en ek doen afstand van my siel ten behoewe van die skape.” Watter beter voorbeelde van die liefdevolle uitoefening van gesag kan ons moontlik hê?—Psalm 23:1-3; Johannes 10:14, 15.

[Lokteks op bladsy 18]

Jehovah gebruik sy krag altyd in volkome ooreenstemming met sy geregtigheid, wysheid en liefde

[Prent op bladsy 18]

Ouer manne moet soms liefdevolle raad aan oortreders gee

[Prent op bladsy 19]

Paulus het Timoteus vermaan om soos ’n eerbiedige seun en ’n liefdevolle broer op te tree

[Prent op bladsy 20]

Jesus Christus oefen sy gesag uit op ’n verstandige, regverdige en liefdevolle manier