Die reg om ’n naam te hê
Die reg om ’n naam te hê
ELKE mens het die reg om ’n naam te hê. In Tahiti word daar selfs aan ’n pasgebore baba wat deur sy ouers weggegooi is, ’n naam gegee. Die registrasiekantoor gee die kind ’n voornaam en van.
Tog is daar iemand wat in sekere sin hierdie basiese reg ontsê is, ’n reg wat aan feitlik alle mense gegee word. Hy is, verbasend genoeg, “die Vader, aan wie elke familie in die hemel en op die aarde sy naam te danke het”! (Efesiërs 3:14, 15). Baie mense weier in werklikheid om die Skepper se naam te gebruik soos dit in die Bybel verskyn. Hulle verkies om dit te vervang met titels soos “God”, “die Here” of “die Ewige”. Wat is sy naam dan? Die psalmis beantwoord daardie vraag: “U, wie se naam Jehovah is, u alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde.”—Psalm 83:18.
In die eerste helfte van die 19de eeu, toe die sendelinge van die Londense Sendinggenootskap in Tahiti aangekom het, het Polinesiese mense etlike gode aanbid. Elkeen het sy onderskeidende naam gehad, soos die vernaamste gode Oro en Taaroa. Om die God van die Bybel van ander gode te onderskei, het daardie sendelinge nie gehuiwer om die goddelike naam, wat in Tahitiaans as Iehova getranslitereer is, dikwels te gebruik nie.
Daardie naam het baie bekend geword en is algemeen gebruik in gesprekke en korrespondensie. Koning Pomare II van Tahiti, wat in die vroeë 19de eeu geheers het, het dit dikwels in sy persoonlike korrespondensie gebruik. Hierdie feit word bewys in die brief waarvan ’n afskrif hier verskyn. Dit is in Engels geskryf en word in die Museum van Tahiti en sy Eilande uitgestal. Hierdie brief toon dat daar destyds geen vooroordeel teen die gebruik van die goddelike naam was nie. Wat meer is, God se persoonlike naam verskyn duisende kere in die eerste uitgawe van die Tahitiaanse Bybel, wat in 1835 voltooi is.
[Prent op bladsy 32]
Koning Pomare II
[Foto-erkenning op bladsy 32]
Koning en brief: Collection du Musée de Tahiti et de ses Îles, Punaauia, Tahiti