Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan jy besluite neem in ooreenstemming met God se wil?

Hoe kan jy besluite neem in ooreenstemming met God se wil?

Hoe kan jy besluite neem in ooreenstemming met God se wil?

’N MAN in die Verenigde State het met ’n tjek van $25 000 (R163 000) by ’n bank ingegaan. Hy wou die geld as ’n termyndeposito belê. Maar die bankbestuurder het hom aangeraai om dit in die effektemark te belê en gesê dat die effektemark op die lange duur nooit sy waarde verloor nie. Die man het besluit om die raad te aanvaar. Nie lank daarna nie het sy belegging baie van sy waarde verloor.

Hierdie ondervinding lig toe dat dit ’n uitdaging is om verstandige besluite te neem. Wat van ander soort besluite wat ons in die lewe moet neem? Baie besluite kan die verskil beteken tussen welslae en mislukking—en vroeër of later tussen lewe en dood. Hoe kan ons dan seker wees dat ons verstandige besluite neem?

“Dit is die weg”

Ons neem elke dag besluite oor wat om te eet, wat om aan te trek, waarheen om te gaan, ensovoorts. Party besluite lyk miskien onbelangrik, maar dit kan ernstige gevolge hê. Die besluit om die eerste keer ’n sigaret aan te steek, kan byvoorbeeld tot ’n lewenslange rookgewoonte lei. Ons moet nooit die belangrikheid van oënskynlik onbelangrike besluite onderskat nie.

Waar kan ons na leiding soek wanneer ons besluite neem, selfs oënskynlik onbelangrike besluite? Hoe wonderlik sou dit tog wees om ’n betroubare raadgewer te hê wanneer ons ’n moeilike besluit moet neem! Jy kan so ’n raadgewer vind. ’n Boek uit die ou tyd met ’n boodskap vir vandag het die volgende te sê: “Jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: ‘Dit is die weg. Wandel daarop’, ingeval julle regs sou gaan of ingeval julle links sou gaan” (Jesaja 30:21). Wie se woorde is dit? En hoe kan jy seker wees dat sy leiding betroubaar is?

Die versekering hierbo word in die Bybel gevind, wat al deur miljoene mense bestudeer is en hulle tot die besef laat kom het dat dit deur Jehovah God, die Skepper, geïnspireer is (2 Timoteus 3:16, 17). Jehovah ken ons samestelling, en daarom is hy die beste bron van leiding. Hy kan ook vooruitsien wat in die toekoms sal gebeur, want hy is die Een “wat van die begin af die uiteinde verkondig, en van ouds af die dinge wat nog nie gedoen is nie; wat sê: ‘My besluit sal bly staan’” (Jesaja 46:10). ’n Psalmis het sy vertroue in Jehovah se Woord soos volg uitgespreek: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Psalm 119:105). Maar hoe help Jehovah ons om ’n veilige koers te volg deur die onstuimige waters van vandag se wêreld? Hoe kan ons besluite neem in ooreenstemming met God se wil?

Pas Bybelbeginsels toe

Jehovah God het Christene goddelike beginsels gegee sodat hulle goeie besluite kan neem. Om Bybelbeginsels te leer en toe te pas, is soos om ’n taal aan te leer en te praat. Wanneer jy die taal goed kan praat, kan jy dikwels hoor wanneer iemand taalfoute maak, want wat hy sê, klink nie heeltemal reg nie. Jy kan miskien nie sê presies wat taalkundig verkeerd is met die stelling nie, maar jy weet dat dit verkeerd is. Wanneer jy Bybelbeginsels so goed ken dat dit deel van jou is, weet jy gewoonlik wanneer ’n sekere besluit ongepas, in stryd met goddelike beginsels, is.

Dink byvoorbeeld aan die besluit wat ’n jong man moontlik moet neem wanneer hy ’n haarstyl kies. Geen Bybelgebod veroordeel uitdruklik ’n sekere haarstyl nie. Maar kyk na ’n Bybelbeginsel. Die apostel Paulus het geskryf: “Ek [wil] hê dat die vroue hulle met goed versorgde kleredrag moet versier, met beskeidenheid en gesonde verstand, nie met haarvlegtery en goud of pêrels of baie duur klere nie, maar soos dit vroue betaam wat bely dat hulle God vereer, naamlik deur goeie werke” (1 Timoteus 2:9, 10). Paulus skryf hier oor vroue, maar die beginsel is op mans sowel as vroue van toepassing. Wat is die beginsel? Ons voorkoms moet beskeidenheid en gesonde verstand weerspieël. Die jong man kan hom dus afvra: ‘Sal my haarstyl die beskeidenheid weerspieël wat ’n Christen betaam?’

En watter nuttige beginsel kan ’n jongmens uit die volgende woorde van die dissipel Jakobus leer? “Egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie? Elkeen dan wat ’n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God” (Jakobus 4:4). Christene verfoei die gedagte om ’n vriend te wees van die wêreld, wat in vyandskap met God lewe. Sal die soort haarstyl waarvan sy portuurs hou, hom soos ’n vriend van God of ’n vriend van die wêreld laat lyk? Die jong man wat oor ’n haarstyl moet besluit, kan sulke Bybelbeginsels gebruik om ’n verstandige besluit te neem. Ja, goddelike beginsels help ons om besluite te neem. En wanneer ons daaraan gewoond raak om besluite op grond van goddelike beginsels te neem, word dit makliker om verstandige gevolgtrekkings te maak wat nie slegte gevolge het nie.

Ons kan baie beginsels in God se Woord vind. Ons sal dalk nie ’n teks vind wat spesifiek van ons situasie praat nie. Maar ons kan lees hoe party mense God se leiding gehoorsaam het en hoe ander God se waarskuwings verontagsaam het (Genesis 4:6, 7, 13-16; Deuteronomium 30:15-20; 1 Korintiërs 10:11). As ons sulke verslae lees en oor die gevolge nadink, sal ons goddelike beginsels onderskei wat ons kan help om besluite te neem wat God behaag.

Kyk byvoorbeeld na ’n kort gesprek wat Jesus Christus met sy apostel Petrus gehad het. Die manne wat die twee dragmas belasting ingevorder het, wou by Petrus weet: “Betaal julle leermeester nie die twee dragmas belasting nie?” Petrus het geantwoord: “Ja.” Kort daarna het Jesus Petrus gevra: “Van wie ontvang die konings van die aarde heffings of hoofbelasting? Van hulle seuns of van die vreemdelinge?” Toe Petrus sê: “Van die vreemdelinge”, het Jesus vir hom gesê: “Dan is die seuns mos vrygestel van belasting. Maar sodat ons hulle nie laat struikel nie, gaan na die see toe, gooi ’n vishoek in en neem die eerste vis wat opkom, en wanneer jy sy bek oopmaak, sal jy ’n statermunt vind. Neem dit en gee dit aan hulle vir my en vir jou” (Matteus 17:24-27). Watter goddelike beginsels kan ons in hierdie verslag vind?

Jesus het Petrus se denke reggestel deur ’n reeks vrae te vra. As die Seun van God was Jesus vrygestel van belasting. Hoewel Petrus aanvanklik nie hierdie gedagte gesnap het nie, het Jesus hom vriendelik gehelp om dit te verstaan. Wanneer ander ’n fout maak, kan ons besluit om Jesus na te volg en hulle eerder medelydend te behandel as om hulle streng op hulle fout te wys of te veroordeel.

Petrus kon toe sien waarom die hoofbelasting betaal moes word—om ander nie te laat struikel nie. Hier is nog ’n beginsel wat ons uit hierdie verslag kan leer. Dit is belangriker om ander se gewete in ag te neem as om op ons regte aan te dring.

Wat beweeg ons om besluite te neem wat sal toon dat ons ander se gewete in ag neem? Liefde vir ons naaste. Jesus Christus het mense geleer dat slegs die gebod om God met ons hele siel lief te hê, belangriker is as dié om ons naaste soos onsself lief te hê (Matteus 22:39). Maar ons lewe in ’n selfsugtige wêreld, en omdat ons sondige mense is, is ons geneig tot selfsug. As iemand sy naaste soos homself wil liefhê, moet hy dus sy verstand hervorm.—Romeine 12:2.

Baie het hierdie veranderinge aangebring, en hulle neem ander in ag wanneer hulle besluite neem, hetsy dit belangrike of onbelangrike besluite is. Paulus het geskryf: “Julle is natuurlik tot vryheid geroep, broers; moet net nie hierdie vryheid as ’n aanleiding vir die vlees gebruik nie, maar dien mekaar soos slawe deur liefde” (Galasiërs 5:13). Hoe kan ons dit doen? Kyk na die voorbeeld van ’n jong meisie wat na ’n plattelandse dorp getrek het om mense te help om van God se Woord te leer. In haar gesprekke met mense het sy agtergekom dat haar klere nogal opspraak wek, hoewel dit beskeie was in vergelyking met stadsmodes. Haar klere en persoonsversorging was beskeie, en tog het sy besluit om stemmiger klere te dra “sodat die woord van God nie gesmaad [sou] word nie”.—Titus 2:5.

Hoe sou jy gereageer het as jy die een of ander besluit moes neem oor jou persoonsversorging of iets anders waarby persoonlike smaak betrokke is? Jy kan seker wees dat dit Jehovah sal behaag wanneer jou besluite jou besorgdheid oor die gewete van ander weerspieël.

’n Langtermynbeskouing

Wat benewens Bybelbeginsels en die gewete van ander moet ons in aanmerking neem wanneer ons besluite neem? Hoewel die pad van Christene ongelyk en nou is, gee God hulle baie vryheid binne sy vasgestelde perke (Matteus 7:13, 14). Ons moet dink hoe ons besluite ons geestelike, verstandelike, emosionele en liggaamlike welsyn in die toekoms sal raak.

Gestel jy oorweeg dit om ’n werk te aanvaar. Miskien is daar niks onsedeliks of ongepas omtrent die aard van die werk nie. Jy sal Christelike vergaderinge en byeenkomste kan bywoon. Die salaris sal meer wees as wat jy ooit verwag het. Die werkgewer stel jou vaardighede hoog op prys en wil jou ten volle gebruik. Boonop hou jy van die soort werk. Moet enigiets jou daarvan weerhou om die aanbod te aanvaar? Wel, gestel jy besef dat jy te lief kan raak vir die werk. Daar word vir jou gesê dat jy nie gedwing sal word om oortyd te werk nie. Maar sal jy, om ’n projek te voltooi, jouself onnodig dryf? Sal jy dalk later dikwels oortyd werk? Kan dit jou wegneem van jou gesin en uiteindelik van geestelike bedrywighede waarvan jy beslis nie moet wegbly nie?

Kyk byvoorbeeld na hoe Jim ’n belangrike besluit oor sy werk geneem het. Hy het onvermoeid gewerk en die korporatiewe leer geklim. Uiteindelik het hy die besturende direkteur van sy maatskappy in die Ooste, die hoofbestuurder van die sustermaatskappy in die Verenigde State en ’n lid van die bestuur van die Europese werksaamhede geword. Maar ’n ekonomiese afswaai in Japan het hom laat besef hoe vergeefs dit is om geld en mag na te jaag. Sy swaar verdiende geld het gou verdwyn. Dit het vir hom gevoel of hy nie meer ’n doel in die lewe het nie. ‘Wat sal ek oor tien jaar doen?’ het hy hom afgevra. Toe het hy besef dat sy vrou en kinders sinvoller doelwitte in die lewe het. Hulle het deur die jare heen met Jehovah se Getuies omgegaan. Jim wou ook so gelukkig en tevrede soos sy gesin wees. Hy het dus die Bybel begin studeer.

Jim kon gou sien dat sy lewenswyse hom verhinder om ’n sinvolle lewe as ’n Christen te lei. Hy het gedurig tussen Asië, die Verenigde State en Europa gereis en het nie genoeg tyd gehad om die Bybel te bestudeer en met medegelowiges om te gaan nie. Hy moes ’n besluit neem: ‘Sal ek aanhou om die lewe te lei wat ek al die afgelope 50 jaar lei, of sal ek ’n nuwe lewenswyse volg?’ Hy het die langtermyngevolge van sy besluit biddend oorweeg en besluit om uit al sy betrekkings behalwe een te bedank sodat hy tyd vir geestelike strewes sou hê (1 Timoteus 6:6-8). Sy besluit het hom gelukkiger gemaak en hom die geleentheid gegee om met Christelike bedrywighede besig te bly.

Hetsy jou besluite belangrik of onbelangrik is, dit maak saak. ’n Besluit wat jy vandag neem, kan in die toekoms die verskil tussen welslae en mislukking, selfs lewe en dood, beteken. Jy kan verstandige besluite neem as jy Bybelbeginsels, die gewete van ander en die langtermyngevolge van jou optrede in aanmerking neem. Neem besluite in ooreenstemming met God se wil.

[Prent op bladsy 13]

Oënskynlik onbelangrike besluite kan ernstige gevolge hê

[Prent op bladsy 14]

Hoe kan Bybelbeginsels haar help om ’n verstandige besluit te neem?

[Prent op bladsy 15]

Jesus het medelydend met Petrus gepraat