Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Laat julle hande sterk wees

Laat julle hande sterk wees

Laat julle hande sterk wees

“Laat julle hande sterk wees, julle wat in hierdie dae hierdie woorde uit die mond van die profete hoor.”—SAGARIA 8:9.

1, 2. Waarom verdien die boeke Haggai en Sagaria ons aandag?

 DIE profesieë van Haggai en Sagaria is ongeveer 2 500 jaar gelede geskryf, en tog is dit beslis op jou lewe van toepassing. Die Bybelverslae in hierdie twee boeke is nie net geskiedenis nie. Dit is deel van “alles wat tevore geskryf is . . . tot ons onderrigting” (Romeine 15:4). Baie van die dinge wat ons daarin lees, laat ons dink aan werklike situasies wat ontstaan het sedert die Koninkryk in 1914 in die hemel opgerig is.

2 Met verwysing na gebeure en omstandighede wat God se volk lank tevore ondervind het, het die apostel Paulus gesê: “Hierdie dinge het hulle as voorbeelde bly oorkom, en dit is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het” (1 Korintiërs 10:11). Jy kan dus tereg vra: ‘Van watter nut is die boeke Haggai en Sagaria in ons dag?’

3. Waaraan gee Haggai en Sagaria aandag?

3 Soos die vorige artikel getoon het, het die profesieë van Haggai en Sagaria betrekking gehad op die tyd toe die Jode ná hulle vrylating uit gevangenskap in Babilon na hulle godgegewe land teruggekeer het. Die twee profete het aandag gegee aan die herbouing van die tempel. Die Jode het in 536 v.G.J. die fondament van die tempel gelê. Hoewel party ouer Jode op die verlede gekonsentreer het, was daar oor die algemeen groot “vreugdevolle gejuig”. Maar in ons tyd het daar eintlik iets baie betekenisvoller gebeur. Hoe so?—Esra 3:3-13.

4. Wat het kort ná die Eerste Wêreldoorlog plaasgevind?

4 Kort ná die Eerste Wêreldoorlog is Jehovah se gesalfdes uit gevangenskap aan Babilon die Grote bevry. Dit was ’n belangrike aanduiding van Jehovah se ondersteuning. Vroeër het dit gelyk asof godsdiensleiers en hulle politieke metgeselle ’n einde gemaak het aan die Bybelstudente se openbare predikings- en onderrigtingswerk (Esra 4:8, 13, 21-24). Maar Jehovah God het die struikelblokke in die weg van die predikings- en dissipelmaakwerk verwyder. Gedurende die dekades sedert 1919 het die Koninkrykswerk gefloreer, en niks kon die vooruitgang daarvan stuit nie.

5, 6. Na watter wonderlike prestasie wys Sagaria 4:7?

5 Ons kan seker wees dat die predikings- en onderrigtingswerk wat in ons tyd deur Jehovah se gehoorsame knegte gedoen word, met sy steun sal voortgaan. In Sagaria 4:7 lees ons: “Hy sal beslis die hoofsteen te voorskyn bring. Uitroepe sal daarvoor opgaan: ‘Hoe bekoorlik! Hoe bekoorlik!’” Na watter wonderlike prestasie in ons tyd wys dit?

6 Sagaria 4:7 wys na die tyd wanneer ware aanbidding van die Soewereine Heer tot volmaaktheid gebring sal word in die aardse voorhowe van sy geestelike tempel. Hierdie tempel is Jehovah se reëling om hom op grond van die soenoffer van Christus Jesus in aanbidding te nader. Die groot geestelike tempel bestaan weliswaar al sedert die eerste eeu G.J. Maar ware aanbidding in die aardse voorhof daarvan sal nog tot volmaaktheid gebring word. Miljoene aanbidders dien nou in die aardse voorhof van die geestelike tempel. Hulle en ’n mag der menigte verresenes sal gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus tot volmaaktheid gebring word. Aan die einde van die duisend jaar sal daar net ware aanbidders van God op die gereinigde aarde oorbly.

7. Watter rol speel Jesus daarin om ware aanbidding in ons dag tot volmaaktheid te bring, en waarom moet dit vir ons aanmoedigend wees?

7 Goewerneur Serubbabel en hoëpriester Josua was teenwoordig om die tempel se voltooiing in 515 v.G.J. te aanskou. Sagaria 6:12, 13 het voorspel dat Jesus ’n soortgelyke rol sou speel om ware aanbidding tot volmaaktheid te bring: “Só het Jehovah van die leërs gesê: ‘Hier is die man wie se naam Spruit is. En hy sal uit sy plek uitspruit, en hy sal beslis die tempel van Jehovah bou. En . . . hy sal die waardigheid dra; en hy sal gaan sit en op sy troon heers, en hy sal ’n priester op sy troon word.’” Aangesien Jesus, wat in die hemel is en die Dawidiese koningslyn laat spruit, die Koninkrykswerk by die geestelike tempel steun, dink jy dat enigiemand die vooruitgang daarvan kan verhinder? Glad nie! Moet dit ons nie aanmoedig om vooruit te gaan in ons bediening en nie toe te laat dat ons aandag deur alledaagse sorge afgelei word nie?

Prioriteite

8. Waarom moet ons die werk by die geestelike tempel eerste in ons lewe stel?

8 Om Jehovah se ondersteuning en seën te geniet, moet ons die werk by die geestelike tempel altyd eerste in ons lewe stel. In teenstelling met die Jode wat gesê het: “Die tyd het nie gekom [nie]”, moet ons onthou dat ons in “die laaste dae” lewe (Haggai 1:2; 2 Timoteus 3:1). Jesus het voorspel dat sy getroue volgelinge die goeie nuus van die Koninkryk sou verkondig en dissipels sou maak. Ons moet oppas dat ons nie ons diensvoorreg verwaarloos nie. Die predikings- en onderrigtingswerk wat tydelik deur die wêreld se teenstand stopgesit is, is in 1919 hervat, maar dit is nog nie voltooi nie. Jy kan egter seker wees dat dit beslis voltooi sal word!

9, 10. Waarvan hang Jehovah se seën af, en wat beteken dit vir ons?

9 Na die mate waarin ons aanhou om in alle erns te werk, sal ons geseën word—as ’n volk en as individue. Let op Jehovah se belofte waaruit ons versekering kan put. Toe die Jode tot heelhartige aanbidding teruggekeer en weer in alle erns aan die fondament van die tempel begin werk het, het Jehovah gesê: “Van hierdie dag af sal ek seën” (Haggai 2:19). Hulle sou ten volle in sy guns herstel word. Kyk nou na die seëninge wat in God se belofte gevind word: “Die saad van vrede sal daar wees; die wingerdstok sal sy vrug gee, en die aarde sal sy opbrengs lewer, en die hemel sal sy dou gee; en ek sal die oorblywendes van hierdie volk beslis al hierdie dinge laat beërf.”—Sagaria 8:9-13.

10 Net soos Jehovah daardie Jode geestelik en materieel geseën het, sal hy ons seën wanneer ons die werk wat hy ons gegee het, ywerig en met ’n blymoedige hart doen. Hierdie seëninge sluit vrede onder ons, veiligheid, voorspoed en geestelike groei in. Maar jy kan seker wees dat God se volgehoue seën daarvan afhang dat ons die werk by die geestelike tempel doen op die manier wat Jehovah wil hê dit gedoen moet word.

11. Hoe kan ons onsself ondersoek?

11 Dit is nou die tyd om ‘ons hart op ons weë te rig’ (Haggai 1:5, 7). Ons moet tyd daaraan afstaan om ons prioriteite in die lewe te ondersoek. Vandag hang Jehovah se seën op ons af van die mate waarin ons sy naam verheerlik en in ons werk by sy geestelike tempel vooruitgaan. Jy kan jou afvra: ‘Het my prioriteite verander? Hoe vergelyk my ywer vir Jehovah, sy waarheid en sy werk met die ywer wat ek gehad het toe ek gedoop is? Het ’n begeerte na ’n gerieflike lewe ’n uitwerking op die aandag wat ek aan Jehovah en sy Koninkryk gee? Hou mensevrees—besorgdheid oor wat ander sal dink—my in ’n mate terug?’—Openbaring 2:2-4.

12. Op watter situasie onder die Jode vestig Haggai 1:6, 9 die aandag?

12 Ons wil nie hê dat God sy ryk seën moet terughou omdat ons die werk om sy naam te verheerlik, afskeep nie. Onthou dat die herstelde Jode, nadat hulle goed begin het, ‘rondgehardloop het, elkeen vir sy eie huis’, soos Haggai 1:9 sê. Hulle het behep geraak met hulle eie daaglikse behoeftes en lewenswyse. Gevolglik ‘is min ingebring’; daar was ’n tekort aan goeie kos, drank en warm klere (Haggai 1:6). Jehovah het sy seën van hulle onttrek. Kan ons ’n les hieruit leer?

13, 14. Hoe kan ons die les toepas wat uit Haggai 1:6, 9 geleer word, en waarom is dit belangrik?

13 Stem jy nie saam dat ons, as ons wil aanhou om goddelike seëninge te geniet, daarteen moet stry om ons eie belange ten koste van Jehovah se aanbidding na te streef nie? Dit is die geval, hetsy die bedrywigheid of belangstelling wat ons aandag aflei die najaging van rykdom, kitsrykwordskemas, ambisieuse planne vir gevorderde geleerdheid in ’n strewe na ’n gesogte loopbaan in hierdie stelsel, of programme vir selfvervulling is.

14 Hierdie dinge is moontlik nie op sigself sondes nie. Maar sien jy nie dat dit met betrekking tot die ewige lewe werklik “dooie werke” is nie? (Hebreërs 9:14). In watter sin? Dit is geestelik dood, tevergeefs en vrugteloos. As ’n mens daarmee volhou, kan sulke werke tot geestelike dood lei. Dit het met party gesalfde Christene in die apostels se dag gebeur (Filippense 3:17-19). Dit het met party in ons tyd gebeur. Jy weet dalk van sommige wie se aandag geleidelik van Christelike bedrywighede en van die gemeente afgelei is; nou toon hulle geen begeerte om tot Jehovah se diens terug te keer nie. Ons hoop beslis dat hierdie mense tot Jehovah sal terugkeer, maar die feit is dat die najaging van “dooie werke” die verlies van Jehovah se guns en seën tot gevolg kan hê. Jy kan sien wat ’n jammerlike verwikkeling dit sal wees. Dit sal die verlies beteken van die vreugde en vrede wat deur God se gees voortgebring word. En dink net wat ’n verlies dit sal wees om nie deel van die hartlike Christenbroederskap te wees nie!—Galasiërs 1:6; 5:7, 13, 22-24.

15. Hoe toon Haggai 2:14 wat ’n ernstige saak ons aanbidding is?

15 Dit is ’n baie ernstige saak. Let op in Haggai 2:14 hoe Jehovah die Jode beskou het wat sy huis van aanbidding verwaarloos het ten gunste van die versiering van hulle eie huise, letterlik of figuurlik. “‘So is hierdie volk, en so is hierdie nasie voor my’, is die woord van Jehovah, ‘en so is al die werk van hulle hande en wat hulle ook al daar aanbied. Dit is onrein.’” Ongeag watter vormlike offerandes die halfhartige Jode op die tydelike altaar in Jerusalem gebring het, dit was onaanvaarbaar solank hulle ware aanbidding verwaarloos het.—Esra 3:3.

Versekering van steun

16. Waarvan kon die Jode seker wees op grond van visioene wat Sagaria ontvang het?

16 Gehoorsame Jode wat gehelp het met die herbouing van God se tempel, was verseker van goddelike steun, soos God getoon het deur ’n reeks van agt visioene wat Sagaria ontvang het. Die eerste visioen het die versekering gegee dat die tempel voltooi sou word en dat Jerusalem en Juda voorspoedig sou wees solank die Jode gehoorsaam voortgegaan het met die werk wat hulle moes doen (Sagaria 1:8-17). Die tweede visioen het belowe dat alle regerings wat ware aanbidding teëstaan, tot ’n einde sou kom (Sagaria 1:18-21). Ander visioene het hulle verseker dat die bouwerk goddelike beskerming sou geniet, dat mense uit baie nasies na Jehovah se voltooide huis van aanbidding sou stroom, dat daar ware vrede en veiligheid sou wees, dat skynbaar onoorkomelike struikelblokke in die weg van die godgegewe werk gelykgemaak sou word, dat goddeloosheid uit die weg geruim sou word en dat engele oor hulle sou toesig hou en hulle sou beskerm (Sagaria 2:5, 11; 3:10; 4:7; 5:6-11; 6:1-8). Met hierdie versekerings van goddelike ondersteuning kan jy verstaan waarom gehoorsames hulle lewenstyl verander het en hulle aandag toegespits het op die werk waarvoor God hulle bevry het.

17. Wat moet ons ons afvra in die lig van die versekering wat ons het?

17 Die versekering wat ons het dat ware aanbidding gewis sal seëvier, moet ons eweneens tot optrede aanspoor en ons beweeg om ernstig oor Jehovah se huis van aanbidding te dink. Vra jou af: ‘As ek glo dat dit nou die tyd is om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak, stem my doelwitte en lewenstyl ooreen met my oortuiging? Bestee ek ’n gepaste hoeveelheid tyd daaraan om God se profetiese Woord te bestudeer, daaroor te peins en met mede-Christene sowel as met ander wat ek teëkom, daaroor te praat?’

18. Wat lê nog voor volgens Sagaria hoofstuk 14?

18 Sagaria het verwys na die vernietiging van Babilon die Grote waarop die oorlog van Armageddon sal volg. Ons lees: “Dit sal één dag word waarvan dit bekend is dat dit aan Jehovah behoort. Dit sal nie dag of nag wees nie; en teen die aand sal dit lig word.” Ja, Jehovah se dag sal beslis ’n donker, koue dag vir sy vyande op die aarde wees! Maar dit sal voortdurende lig en guns vir Jehovah se getroue aanbidders beteken. Sagaria het ook beskryf hoe alles in die nuwe wêreld Jehovah se heiligheid sal verkondig. Ware aanbidding by God se groot geestelike tempel sal die enigste vorm van aanbidding op die aarde wees (Sagaria 14:7, 16-19). Wat ’n wonderlike versekering! Ons sal die vervulling beleef van wat voorspel is en sal die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit aanskou. Hoe uniek sal daardie dag tog wees wat aan Jehovah behoort!

Blywende seëninge

19, 20. Waarom vind jy Sagaria 14:8, 9 bemoedigend?

19 Ná daardie verbasende gebeurtenis sal Satan en sy demone in ’n afgrond van onbedrywigheid opgesluit word (Openbaring 20:1-3, 7). Dan sal seëninge gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy na die mensdom vloei. Sagaria 14:8, 9 sê: “In dié dag sal lewende waters uit Jerusalem uitgaan, die helfte daarvan na die oostelike see en die helfte daarvan na die westelike see. In die somer en in die winter sal dit gebeur. En Jehovah sal koning oor die hele aarde word. In dié dag sal Jehovah een wees, en sy naam een.”

20 “Lewende waters”, of “’n rivier van water van die lewe”, wat Jehovah se voorsienings vir lewe afbeeld, sal voortdurend uit die setel van die Messiaanse Koninkryk vloei (Openbaring 22:1, 2). ’n Groot menigte van Jehovah se aanbidders, wat Armageddon oorleef het, sal baat vind deur bevry te word van die veroordeling van Adamitiese dood. Selfs dié wat reeds dood is, sal baat vind deur middel van ’n opstanding. So sal ’n nuwe fase van Jehovah se heerskappy oor die aarde begin. Mense regoor die aarde sal Jehovah erken as die Universele Soewerein, die enigste een wat aanbid moet word.

21. Wat moet ons voorneme wees?

21 Met die oog op alles wat Haggai en Sagaria voorspel het en alles wat reeds vervul is, het ons grondige rede om vooruit te gaan in die werk wat God ons gegee het om in die aardse voorhowe van sy geestelike tempel te doen. Laat ons almal, tot die tyd dat ware aanbidding tot volmaaktheid gebring word, daarna streef om Koninkryksbelange eerste te stel. Sagaria 8:9 spoor ons aan: “Laat julle hande sterk wees, julle wat in hierdie dae hierdie woorde uit die mond van die profete hoor.”

Onthou jy?

• Weens watter geskiedkundige parallel is die boeke Haggai en Sagaria vandag van toepassing?

• Watter les oor prioriteite leer Haggai en Sagaria ons?

• Waarom gee ’n bespreking van Haggai en Sagaria ons rede vir vertroue in verband met die toekoms?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

Haggai en Sagaria het die Jode aangespoor om heelhartig te werk en sodoende ’n seën te ontvang

[Prente op bladsy 27]

‘Hardloop jy rond vir jou eie huis’?

[Prent op bladsy 28]

Jehovah het ’n seën belowe, en hy het dit gegee