Melito van Sardis—Verdediger van Bybelwaarhede?
Melito van Sardis—Verdediger van Bybelwaarhede?
ELKE jaar herdenk ware Christene die Here se Aandmaal op die datum wat met 14 Nisan op die Hebreeuse kalender ooreenstem. Hulle gehoorsaam Jesus se opdrag: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.” Dit was juis op daardie dag in 33 G.J. dat Jesus, nadat hy die Pasga gevier het, die Herdenking van sy offerdood ingestel het. Sy dood het plaasgevind voordat daardie dag tot ’n einde gekom het.—Lukas 22:19, 20; 1 Korintiërs 11:23-28.
Gedurende die tweede eeu G.J. het party die tyd van die herdenking en die wyse waarop dit gehou is, begin verander. In Klein-Asië is die datum van Jesus se dood nog gebruik. Maar volgens een naslaanwerk was “dit die gewoonte in Rome en Aleksandrië om die opstanding op die volgende Sondag te herdenk”, en dit is die Opstandingspasga genoem. ’n Groep wat as die Quartodecimane (Veertienders) bekend gestaan het, het die gebruik verdedig om Jesus Christus se dood op 14 Nisan te herdenk. Melito van Sardis het met hulle saamgestem. Wie was Melito? Op watter manier het hy hierdie en ander Bybelwaarhede verdedig?
’n ‘Groot lig’
Volgens Eusebius van Sesarea se Kerkgeskiedenis het Polukrates van Efese teen die einde van die tweede eeu ’n brief na Rome gestuur ter verdediging van die herdenking van “die veertiende dag van die Pasga volgens die Evangelie, sonder afwyking, maar volgens die reël van die geloof”. Volgens hierdie brief was Melito—die biskop van Sardis, in Lidië—een van dié wat 14 Nisan voorgestaan het as die datum waarop die herdenking moes plaasvind. Die brief het gesê dat Melito se tydgenote hom beskou het as een van die ‘groot ligte wat ontslaap het’. Polukrates het gesê dat Melito nooit getrou het nie en dat hy “heeltemal in die Heilige Gees gelewe het en in Sardis lê en wag vir die besoek uit die hemel, wanneer hy uit die dode sal opstaan”. Dit kan beteken dat Melito onder dié was wat geglo het dat die opstanding nie voor Christus se terugkeer sou plaasvind nie.—Openbaring 20:1-6.
Dit wil dus voorkom of Melito ’n moedige
en vasbeslote man was. Trouens, hy het ’n Apologie vir die Christene geskryf—een van die eerstes wat op skrif gestel is—wat gerig was tot Markus Aurelius, die Romeinse keiser van 161 tot 180 G.J. Melito was nie bang om die Christelike geloof te verdedig en goddelose en gierige mense te veroordeel nie. Sulke mense het verskeie keiserlike opdragte probeer verkry as voorwendsels om Christene te vervolg en onregverdig te laat veroordeel sodat hulle hulle besittings kon steel.Melito het moedig aan die keiser geskryf: “Ons rig net hierdie een versoek aan u, dat u self diegene wat hierdie onenigheid meebring [die Christene], ondersoek en regverdig oordeel of hulle die dood en straf of veiligheid en vrystelling verdien. Maar as hierdie plan en nuwe verordening, wat nie eers teen onbeskaafde vyande toegepas behoort te word nie, nie van u afkomstig is nie, smeek ons u des te meer om nie van ons te vergeet te midde van hierdie wettelose plundery deur die gepeupel nie.”
Hy gebruik die Skrif om die Christelike godsdiens te verdedig
Melito het groot belangstelling in die studie van die Heilige Skrif getoon. Ons het nie die volledige lys van sy werke nie, maar van die titels weerspieël die belangstelling wat hy in Bybelonderwerpe getoon het. Party is Oor die Christelike lewe en die profete, Oor die geloof van die mens, Oor die skepping, Oor doop en waarheid en geloof en Christus se geboorte, Oor gasvryheid, Die Sleutel en Oor die Duiwel en die Openbaring van Johannes.
Melito het persoonlik na Bybellande gereis om na te vors presies hoeveel boeke daar in die Hebreeuse Geskrifte was. In verband hiermee het hy geskryf: “Toe ek oos gereis het en in die plek was waar hierdie dinge verkondig en toegepas is, en nadat ek die boeke van die Ou Testament akkuraat leer ken het en die feite opgeskryf het, het ek dit dus aan jou gestuur.” Hierdie lys meld nie die boeke Nehemia en Ester nie, maar dit is die oudste katalogus van die kanonieke boeke van die
Hebreeuse Geskrifte waarna verklaarde Christene in hulle werke verwys.Gedurende hierdie navorsing het Melito ’n reeks verse uit die Hebreeuse Geskrifte saamgestel wat profesieë oor Jesus bevat. Melito se werk wat Uittreksels genoem is, toon dat Jesus die langverwagte Messias was en dat die Mosaïese Wet en die Profete na Christus vooruitgewys het.
Die waarde van die losprys verdedig
Daar was ’n sterk Joodse teenwoordigheid in die vername stede van Klein-Asië. Die Jode van Sardis, waar Melito gewoon het, het die Hebreeuse Pasga op 14 Nisan herdenk. Melito het ’n preek met die titel Die Pasga geskryf wat die regmatigheid van die Pasga onder die Wet getoon het en die Christelike herdenking van die Here se Aandmaal op 14 Nisan verdedig het.
Nadat Melito kommentaar gelewer het oor Eksodus hoofstuk 12 en getoon het dat die Pasga Christus se offer voorafgeskadu het, het hy verduidelik waarom dit vir Christene geen sin maak om die Pasga te vier nie. Dit was omdat God die Mosaïese Wet afgeskaf het. Hy het toe getoon waarom Christus se offerande nodig was: God het Adam in ’n paradys geplaas sodat hy ’n gelukkige lewe kon lei. Maar die eerste man het die opdrag verontagsaam om nie van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet nie. Daar het dus ’n behoefte aan ’n losprys ontstaan.
Melito het herhaal dat Jesus na die aarde gestuur is en aan ’n folterpaal gesterf het om die gelowige mensdom van sonde en die dood los te koop. Interessant genoeg, Melito het die Griekse woord xulon, wat “hout” beteken, gebruik toe hy oor die folterpaal geskryf het waaraan Jesus gesterf het.—Handelinge 5:30; 10:39; 13:29.
Melito was ook buite Klein-Asië bekend. Tertullianus, Klemens van Aleksandrië en Origines was met sy werke vertroud. Maar geskiedkundige Raniero Cantalamessa sê: “Die afname van Melito se gewildheid, wat gaandeweg tot die verdwyning van sy werke gelei het, het begin toe die beskouing ontstaan het—ná die oorwinning van die gebruik van die Sondagpasga—dat die Quartodecimane ketters is.” Uiteindelik het Melito se werke byna heeltemal verlore gegaan.
’n Slagoffer van afvalligheid?
Ná die dood van die apostels het ’n voorspelde afvalligheid die ware Christelike godsdiens binnegedring (Handelinge 20:29, 30). Dit is duidelik dat dit Melito beïnvloed het. Die ingewikkelde styl van sy werke weerspieël blykbaar dié van werke van die Griekse filosofie en die Romeinse wêreld. Dalk is dit waarom Melito die Christelike geloof “ons filosofie” genoem het. Hy het ook die opname van die sogenaamde Christelike godsdiens in die Romeinse Ryk “die grootste bewys . . . van sukses” genoem.
Melito het definitief nie ag geslaan op hierdie raad van die apostel Paulus nie: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie.” Derhalwe het Melito, hoewel hy Bybelwaarhede tot ’n beperkte mate verdedig het, dit ook in baie opsigte die rug toegekeer.—Kolossense 2:8.
[Prent op bladsy 18]
Jesus het die Here se Aandmaal op 14 Nisan ingestel