Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Armoede—die situasie vandag

Armoede—die situasie vandag

Armoede—Die situasie vandag

VICENTE a kan dikwels gesien word waar hy ’n swaar gelaaide waentjie deur die strate van São Paulo, Brasilië, trek. Hy maak karton, afvalmetaal en plastiek bymekaar. Wanneer dit begin donker word, sit hy ’n stuk karton onder sy waentjie en gaan lê en slaap hy. Dit lyk asof hy onbewus is van die geraas van die motors en busse in die besige straat waar hy die nag deurbring. Hy het vroeër ’n werk, ’n huis en ’n gesin gehad—maar hy het dit alles verloor. Nou maak hy ’n karige bestaan op straat.

Ongelukkig lewe miljoene mense regoor die wêreld, soos Vicente, in volslae armoede. In ontwikkelende lande bly baie mense noodgedwonge op straat of in plakkersdorpe. Bedelaars—kreupeles, blindes, sogende moeders—is ’n algemene gesig. By verkeersligte hardloop kinders tussen die stilstaande motors deur en probeer lekkers verkoop in die hoop om ’n bietjie geld in die hande te kry.

Dit is moeilik om sulke armoede te regverdig. Die Britse tydskrif The Economist het gesê: “Die mensdom was nog nooit ryker of beter toegerus met die nodige mediese kennis, tegnologiese vaardigheid en intellektuele vermoë om armoede te oorwin nie.” Baie het beslis uit hierdie kennis voordeel getrek. Die strate van die groot stede in ’n aantal ontwikkelende lande is vol blink, nuwe motors. Winkelsentrums is vol van die jongste toestelle, en daar is geen tekort aan kopers nie. Twee winkelsentrums in Brasilië het ’n spesiale reklameveldtog gehad. Hulle het van 23 tot 24 Desember 2004 heelnag oopgebly. Een van die sentrums het samba-dansers gehuur om voornemende kopers te vermaak. Die geleentheid het byna 500 000 klante gelok!

Baie mense vind egter nie baat by die rykdom wat sommige geniet nie. Die skerp kontras tussen die welgesteldes en die armes het baie tot die slotsom laat kom dat armoede dringend bestry moet word. Die Brasiliaanse tydskrif Veja het gesê: “Die stryd teen armoede behoort vanjaar [2005] heel boaan die wêreld se agenda te staan.” Veja het ook berig gelewer oor ’n nuwe Marshall Plan wat voorgelê is met die doel om die armste lande te help, veral in Afrika. b Maar hoewel sulke voorstelle die indruk skep dat vooruitgang gemaak word, het dieselfde tydskrif bygevoeg: “Daar is ook baie redes om die resultate in twyfel te trek. As die meeste lande nie ’n bydrae wil maak nie, is dit omdat die geld selde die mense bereik vir wie dit bedoel is.” Weens korrupsie en burokrasie bereik baie van die geld wat regerings, internasionale agentskappe en individue voorsien, ongelukkig nooit die mense wat dit werklik nodig het nie.

Jesus het geweet dat armoede ’n voortdurende probleem sou wees. Hy het gesê: “Julle het die armes altyd by julle” (Matteus 26:11). Beteken dit dat armoede altyd deel van die wêreldtoneel sal wees? Kan niks gedoen word om die situasie te verbeter nie? Wat kan Christene doen om die armes te help?

[Voetnote]

a Naam is verander.

b Die Marshall Plan was ’n program wat deur Amerika geborg is en bedoel was om die ekonomiese herstel van Europa ná die Tweede Wêreldoorlog aan te help.