Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die hart van ’n kind word bereik

Die hart van ’n kind word bereik

Die hart van ’n kind word bereik

HET jy al ooit hartseer gevoel wanneer jy ’n kind oorlogspeletjies sien speel? Dit het selfs onder klein kindertjies algemeen geword, aangesien die vermaaklikheidswêreld deurtrek is van geweld. Hoe sou jy ’n kind help om oorlogspeelgoed te ruil vir speelgoed waarmee hy vreedsame speletjies kan speel? Waltraud, wat al lank as ’n sendeling van Jehovah se Getuies in Afrika dien, het ’n manier gevind om ’n seuntjie te help om juis dit te doen.

Waltraud moes die land waar sy gewoon het, weens oorlog verlaat en na ’n ander land in Afrika verhuis. Daar het sy die Bybel met die ma van ’n vyfjarige seuntjie begin studeer. Elke keer wanneer sy die ma besoek het, het die seuntjie met ’n plastiekgeweertjie gespeel, die enigste speelding wat hy gehad het. Waltraud het nooit gesien dat hy dit op enige teiken rig nie, maar hy het dit altyd oop- en toegemaak asof hy dit herlaai.

Waltraud het vir die seuntjie gesê: “Werner, weet jy waarom ek in julle land woon? Dit is weens oorlog—ek moes uit my land vlug om weg te kom van gevaarlike mans wat mense geskiet het met gewere wat soos joune lyk. Dink jy sulke skietery is goed?”

“Nee, dit is nie”, het Werner droewig geantwoord.

“Jy is heeltemal reg”, het Waltraud gesê. Toe het sy gevra: “Weet jy waarom ek jou en jou ma elke week besoek? Dit is omdat Jehovah se Getuies ander wil help om vrede met God en met hulle medemens te geniet.” Met die goedkeuring van Werner se ma het Waltraud vir hom gesê: “As jy jou geweer vir my gee, sal ek dit weggooi, en ek sal seker maak dat jy ’n speelgoedvragmotor met vier wiele kry.”

Werner het sy speelgoedgeweer vir haar gegee. Hy moes vier weke lank wag, maar toe het sy nuwe speelding gekom—’n speelgoedvragmotor van hout, wat hy met ’n groot glimlag ontvang het.

Neem jy tyd om met jou kinders te praat en hulle hart te probeer bereik sodat hulle ontslae sal raak van speelgoed wat soos oorlogswapens lyk? Indien wel, sal jy hulle ’n les leer wat hulle lewenslank tot voordeel sal strek.