Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dien Christus, die Koning, lojaal

Dien Christus, die Koning, lojaal

Dien Christus, die Koning, lojaal

“Aan hom is heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk gegee, sodat al die volke, volksgroepe en tale hóm sou dien.”—DANIËL 7:14.

1, 2. Hoe weet ons dat Christus nie in 33 G.J. volle Koninkryksmag aangeneem het nie?

 WATTER heerser kan sy lewe vir sy onderdane aflê en tog weer lewe om as koning te regeer? Watter koning kan op die aarde lewe, vertroue en lojaliteit by sy onderdane inboesem en dan later vanuit die hemel regeer? Die enigste persoon wat dit—en meer—kan doen, is Jesus Christus (Lukas 1:32, 33). Op Pinkster 33 G.J., ná Christus se dood, opstanding en hemelvaart, het God “hom hoof oor alles gemaak met betrekking tot die gemeente” (Efesiërs 1:20-22; Handelinge 2:32-36). So het Christus begin regeer, maar in beperkte sin. Sy eerste onderdane was geesgesalfde Christene, wat geestelike Israel, “die Israel van God”, uitgemaak het.—Galasiërs 6:16; Kolossense 1:13.

2 Amper 30 jaar ná daardie Pinkster in 33 G.J. het die apostel Paulus bevestig dat Christus nog nie volle Koninkryksmag aangeneem het nie, maar hy was “aan die regterhand van God . . . , en hy wag van toe af totdat sy vyande ’n voetbank vir sy voete gemaak word” (Hebreërs 10:12, 13). Toe, na aan die einde van die eerste eeu G.J., het die bejaarde apostel Johannes in ’n visioen vooruitgesien dat die Universele Soewerein, Jehovah, Christus Jesus as Koning van die pas opgerigte hemelse Koninkryk kroon (Openbaring 11:15; 12:1-5). Vanuit ons posisie in die geskiedenis kan ons die oorweldigende bewyse hersien wat bevestig dat Christus in 1914 in die hemel as Messiaanse Koning begin regeer het. a

3. (a) Watter nuwe aspek het die goeie nuus van die Koninkryk sedert 1914 aangeneem? (b) Watter vrae kan ons ons afvra?

3 Ja, sedert 1914 het die goeie nuus van die Koninkryk ’n opwindende nuwe aspek aangeneem. Christus regeer nou as Koning van God se hemelse Koninkryk, hoewel dit “te midde van [sy] vyande” is (Psalm 110:1, 2; Matteus 24:14; Openbaring 12:7-12). Daarbenewens onderwerp sy lojale onderdane regoor die aarde hulle gretig aan sy gesag deur deel te neem aan ’n wêreldwye Bybelonderrigtingsprogram sonder gelyke in die mensegeskiedenis (Daniël 7:13, 14; Matteus 28:18). Geesgesalfde Christene, “kinders van die koninkryk”, dien as “ambassadeurs wat as plaasvervangers vir Christus optree”. Hulle word lojaal ondersteun deur ’n florerende menigte van Christus se “ander skape”, wat as gesante van God se Koninkryk optree (Matteus 13:38; 2 Korintiërs 5:20; Johannes 10:16). Nietemin moet ons noukeurig ondersoek of ons as individue werklik Christus se gesag erken. Is ons onwrikbaar lojaal aan hom? Hoe kan ons lojaliteit betoon aan ’n Koning wat in die hemel regeer? Maar kom ons bespreek eers watter redes ons het om lojaal te wees aan Christus.

’n Koning wat lojaliteit inboesem

4. Wat het Jesus as die aangewese Koning gedurende sy aardse bediening gedoen?

4 Ons lojaliteit aan Christus is gegrond op waardering vir wat hy gedoen het sowel as vir sy uitsonderlike eienskappe (1 Petrus 1:8). Terwyl Jesus op die aarde was, het hy as die aangewese Koning op ’n klein skaal getoon wat hy op God se bestemde tyd as heersende Koning op ’n wêreldwye skaal sal doen. Hy het dié wat honger was, gevoed. Hy het die siekes, die blindes, die gebreklikes, die dowes en die stommes genees. Hy het selfs party uit die dode opgewek (Matteus 15:30, 31; Lukas 7:11-16; Johannes 6:5-13). Kennis van Jesus se lewe op die aarde stel ons ook in staat om sy eienskappe as die aarde se toekomstige Heerser te leer ken—in die besonder sy selfopofferende liefde (Markus 1:40-45). In hierdie verband het Napoleon Bonaparte volgens berig gesê: “Ek, Aleksander, Caesar en Karel die Grote het ryke gestig, maar waarop het ons ons geniale skeppings gegrond? Op geweld. Slegs Jesus Christus het sy koninkryk op liefde gegrond, en vandag is daar miljoene mense wat vir hom sal sterf.”

5. Waarom was Jesus se persoonlikheid so aantreklik?

5 Omdat Jesus saggeaard en nederig van hart was, is diegene wat onder druk en laste gebuk gegaan het, verkwik deur sy opbouende leringe en liefdevolle persoonlikheid (Matteus 11:28-30). Kinders het op hulle gemak gevoel by hom. Nederige, skerpsinnige mans het met graagte sy dissipels geword (Matteus 4:18-22; Markus 10:13-16). Sy bedagsame en respekvolle houding het hom die lojaliteit van talle godvresende vroue laat wen, onder wie ’n aantal hulle tyd, energie en materiële besittings gebruik het om vir hom te sorg terwyl hy sy bediening uitgevoer het.—Lukas 8:1-3.

6. Watter tere gevoelens het Jesus geopenbaar toe Lasarus gesterf het?

6 Christus het van sy teerste gevoelens geopenbaar toe sy geliefde vriend Lasarus gesterf het. Hy is so diep geroer deur Maria en Marta se smart dat hy nie ’n bedroefde kreun kon onderdruk nie, en hy “het trane gestort”. Hy het “verontrus geword”—oorweldig deur groot hartseer en droefheid—al het hy geweet dat hy Lasarus binnekort sou opwek. Toe het Jesus, beweeg deur liefde en medelye, sy godgegewe gesag gebruik en Lasarus uit die dode opgewek.—Johannes 11:11-15, 33-35, 38-44.

7. Waarom is Jesus ons lojaliteit waardig? (Sien ook die venster op bladsy 31.)

7 Jesus se sterk liefde vir wat reg is en sy afsku van huigelary en goddeloosheid vervul ons met ontsag. Hy het twee keer moedig opgetree deur gierige handelaars uit die tempel te verwyder (Matteus 21:12, 13; Johannes 2:14-17). Verder is hy as ’n mens op die aarde blootgestel aan allerhande ontberinge, wat hom persoonlike insig gegee het in die druk en probleme wat ons ervaar (Hebreërs 5:7-9). Jesus het ook geweet hoe dit voel om die slagoffer van haat en onregverdigheid te wees (Johannes 5:15-18; 11:53, 54; 18:38–19:16). Uiteindelik het hy hom moedig aan ’n wrede dood onderwerp om sy Vader se wil te volbring en sy onderdane die ewige lewe te gee (Johannes 3:16). Beweeg hierdie eienskappe van Christus jou nie om hom lojaal te bly dien nie? (Hebreërs 13:8; Openbaring 5:6-10). Maar wat is die vereistes om ’n onderdaan van Christus, die Koning, te wees?

Die vereistes om ’n onderdaan te wees

8. Wat word van onderdane van Christus vereis?

8 Dink aan hierdie vergelyking: As iemand ’n burger van ’n ander land wil word, beteken dit gewoonlik dat hy aan sekere basiese vereistes moet voldoen. Daar word moontlik van voornemende burgers vereis om ’n goeie karakter te hê en aan sekere gesondheidstandaarde te voldoen. Onderdane van Christus moet eweneens hoë sedelike standaarde en goeie geestelike gesondheid handhaaf.—1 Korintiërs 6:9-11; Galasiërs 5:19-23.

9. Hoe kan ons toon dat ons lojaal is aan Christus?

9 Jesus Christus vereis ook tereg dat sy onderdane lojaal aan hom en sy Koninkryk moet wees. Hulle betoon hierdie lojaliteit deur te lewe in ooreenstemming met wat hy mense geleer het toe hy as die aangewese Koning op die aarde was. Byvoorbeeld, hulle stel Koninkryksbelange en God se wil bo materiële strewes (Matteus 6:31-34). Hulle lê hulle ook daarop toe om ’n Christelike persoonlikheid te weerspieël, selfs onder die moeilikste omstandighede (1 Petrus 2:21-23). Verder volg Christus se onderdane sy voorbeeld deur die inisiatief te neem om aan ander goed te doen.—Matteus 7:12; Johannes 13:3-17.

10. Hoe kan lojaliteit aan Christus betoon word in (a) die gesin en (b) die gemeente?

10 Jesus se volgelinge betoon ook hulle lojaliteit aan hom deur sy eienskappe in die gesin te weerspieël. Byvoorbeeld, mans betoon lojaliteit aan hulle hemelse Koning deur die Christelike manier waarop hulle hulle vrou en kinders behandel (Efesiërs 5:25, 28-30; 6:4; 1 Petrus 3:7). Vrouens betoon lojaliteit aan Christus deur hulle kuis gedrag en deur “die stille en sagmoedige gees” te openbaar (1 Petrus 3:1-4; Efesiërs 5:22-24). Kinders is lojaal aan Christus wanneer hulle sy voorbeeld van gehoorsaamheid navolg. As ’n jong seun het Jesus onderdanig gebly aan sy ouers, al was hulle onvolmaak (Lukas 2:51, 52; Efesiërs 6:1). Christus se onderdane streef lojaal daarna om hom na te volg deur ‘meegevoel te betoon en broederlike geneentheid en tere medelye te hê’. Hulle probeer om soos Christus te wees deur “nederig van verstand” te wees en “nie kwaad met kwaad of uitskellery met uitskellery [te] vergeld nie”.—1 Petrus 3:8, 9; 1 Korintiërs 11:1.

Wetsgehoorsame onderdane

11. Aan watter wette onderwerp Christus se onderdane hulle?

11 Net soos voornemende burgers van ’n land die wette van hulle nuwe land gehoorsaam, onderwerp Christus se onderdane hulle aan “die wet van die Christus” deur hulle lewe in ooreenstemming te bring met alles wat Jesus geleer en beveel het (Galasiërs 6:2). In die besonder lewe hulle lojaal volgens “die koninklike wet” van liefde (Jakobus 2:8). Wat behels hierdie wette?

12, 13. Hoe onderwerp ons ons lojaal aan “die wet van die Christus”?

12 Christus se onderdane is nie sonder onvolmaakthede en tekortkominge nie (Romeine 3:23). Daarom moet hulle aanhou om “ongeveinsde broederlike geneentheid” aan te kweek sodat hulle “mekaar intens [kan] liefhê uit die hart” (1 Petrus 1:22). “As iemand rede tot klagte teen ’n ander het”, pas Christene lojaal die wet van die Christus toe deur “mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe”. Gehoorsaamheid aan hierdie wet help hulle om aan te hou om onvolmaakthede oor die hoof te sien en om redes te vind om mekaar lief te hê. Waardeer jy dit nie om saam met diegene te wees wat hulle, in lojale onderdanigheid aan ons liefdevolle Koning, beklee met liefde, die “volmaakte band van eenheid”, nie?—Kolossense 3:13, 14.

13 Daarbenewens het Jesus verduidelik dat die liefde waarin hy die voorbeeld gestel het, verder gegaan het as die liefde wat mense oor die algemeen vir mekaar toon (Johannes 13:34, 35). As ons net dié liefhet wat ons liefhet, sal ons niks doen “wat buitengewoon is” nie. In dié geval sal ons liefde onvolkome en gebrekkig wees. Jesus het ons aangespoor om sy Vader se liefde na te volg deur beginselvaste liefde te hê selfs vir vyande wat ons haat en vervolg (Matteus 5:46-48). Hierdie liefde beweeg onderdane van die Koninkryk ook om lojaal te volhard in hulle vernaamste werk. Wat is dit?

Lojaliteit word getoets

14. Waarom is die predikingswerk so belangrik?

14 Onderdane van God se Koninkryk het nou die lewensbelangrike werk om “deeglik aangaande die koninkryk van God te getuig” (Handelinge 28:23). Dit is noodsaaklik omdat die Messiaanse Koninkryk Jehovah se universele soewereiniteit sal regverdig (1 Korintiërs 15:24-28). Wanneer ons die goeie nuus verkondig, gee dit diegene wat dit hoor, die geleentheid om onderdane van God se Koninkryk te word. Verder voorsien die manier waarop mense op hierdie boodskap reageer, ’n toetssteen, of standaard, waarvolgens Christus, die Koning, die mensdom kan oordeel (Matteus 24:14; 2 Tessalonisense 1:6-10). ’n Vername manier waarop ons dus ons lojaliteit aan Christus betoon, is deur sy bevel te gehoorsaam om ander van die Koninkryk te vertel.—Matteus 28:18-20.

15. Waarom word Christene se lojaliteit getoets?

15 Satan staan natuurlik die predikingswerk op elke moontlike manier teë, en menseheersers erken nie Christus se godgegewe gesag nie (Psalm 2:1-3, 6-8). Daarom het Jesus sy dissipels gewaarsku: “’n Slaaf is nie groter as sy heer nie. As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Johannes 15:20). Christus se volgelinge bevind hulle dus in ’n geestelike oorlog wat hulle lojaliteit toets.—2 Korintiërs 10:3-5; Efesiërs 6:10-12.

16. Hoe betaal onderdane van die Koninkryk ‘aan God terug wat aan God behoort’?

16 Nietemin bly onderdane van God se Koninkryk lojaal aan hulle onsigbare Koning sonder om oneerbiedig teenoor menseowerhede te wees (Titus 3:1, 2). Jesus het gesê: “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Markus 12:13-17). Christus se onderdane gehoorsaam dus regeringswette wat nie met God se wette bots nie (Romeine 13:1-7). Maar toe die Joodse Hoë Raad in stryd met God se wette opgetree het deur Jesus se dissipels te beveel om op te hou preek, het hulle ferm maar respekvol gesê dat hulle “eerder aan God as heerser gehoorsaam [moet] wees as aan mense”.—Handelinge 1:8; 5:27-32.

17. Waarom kan ons toetse van lojaliteit met moed die hoof bied?

17 Dit verg natuurlik groot moed van Christus se onderdane om te midde van vervolging lojaal te bly aan hulle Koning. Tog het Jesus gesê: “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my. Wees bly en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele” (Matteus 5:11, 12). Die vroeë volgelinge van Christus het uitgevind hoe waar hierdie woorde is. Selfs toe hulle geslaan is omdat hulle voortgegaan het om van die Koninkryk te getuig, was hulle bly “omdat hulle waardig geag is om ter wille van sy naam oneer te ly. En hulle het elke dag in die tempel en van huis tot huis sonder ophou voortgegaan om te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak” (Handelinge 5:41, 42). Jy moet geprys word wanneer jy dieselfde lojale gees openbaar terwyl jy ontberinge, siekte, die dood van ’n geliefde of teenstand verduur.—Romeine 5:3-5; Hebreërs 13:6.

18. Wat toon Jesus se woorde aan Pontius Pilatus?

18 Toe Jesus nog die aangewese Koning was, het hy aan die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus verduidelik: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie. As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie” (Johannes 18:36). Onderdane van die hemelse Koninkryk neem dus nie die wapen teen enigiemand op of kies nie kant in enige menslike konflik nie. Uit lojaliteit aan die “Vredevors” bly hulle heeltemal neutraal in die verdelende aangeleenthede van die wêreld.—Jesaja 2:2-4; 9:6, 7.

Ewige beloninge vir lojale onderdane

19. Waarom kan Christus se onderdane die toekoms met vertroue tegemoetgaan?

19 Lojale onderdane van Christus, die “Koning van die konings”, gaan die toekoms met vertroue tegemoet. Hulle sien gretig uit na sy naderende vertoning van bonatuurlike koninklike krag (Openbaring 19:11–20:3; Matteus 24:30). Die oorblyfsel van lojale, geesgesalfde “kinders van die koninkryk” sien uit na hulle kosbare erfenis as konings saam met Christus in die hemel (Matteus 13:38; Lukas 12:32). Christus se lojale “ander skape” wag gretig op hulle Koning se woorde van goedkeuring: “Kom, julle wat deur my Vader geseën is, beërf die [Paradys, die aardse deel van die] koninkryk wat van die grondlegging van die wêreld af vir julle berei is” (Johannes 10:16; Matteus 25:34). Mag alle onderdane van die Koninkryk gevolglik vasbeslote wees om Christus, die Koning, lojaal te bly dien.

[Voetnoot]

a Sien Redenering uit die Skrif , “Waarom sê Jehovah se Getuies dat God se Koninkryk in 1914 opgerig is?” bladsye 209-11, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

Kan jy verduidelik?

• Waarom verdien Christus ons lojaliteit?

• Hoe betoon Christus se onderdane hulle lojaliteit aan hom?

• Waarom wil ons lojaal wees aan Christus, die Koning?

[Studievrae]

[Venster op bladsy 31]

NOG UITSONDERLIKE EIENSKAPPE VAN CHRISTUS

OnpartydigheidJohannes 4:7-30.

MedelyeMatteus 9:35-38; 12:18-21; Markus 6:30-34.

Selfopofferende liefdeJohannes 13:1; 15:12-15.

LojaliteitMatteus 4:1-11; 28:20; Markus 11:15-18.

EmpatieMarkus 7:32-35; Lukas 7:11-15; Hebreërs 4:15, 16.

RedelikheidMatteus 15:21-28.

[Prent op bladsy 29]

Deur liefde vir mekaar te toon, onderwerp ons ons lojaal aan “die wet van die Christus”

[Prente op bladsy 31]

Beweeg Christus se eienskappe jou om hom lojaal te dien?