Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Herders wat “voorbeelde vir die kudde” is

Herders wat “voorbeelde vir die kudde” is

Herders wat “voorbeelde vir die kudde” is

“Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is, . . . gewillig . . . , gretig . . . , deur voorbeelde vir die kudde te word.”—1 PETRUS 5:2, 3.

1, 2. (a) Watter voorreg het Jesus aan die apostel Petrus toevertrou, en waarom was Jesus se vertroue nie misplaas nie? (b) Hoe voel Jehovah oor aangestelde herders?

 ’N RUKKIE voor Pinkster 33 G.J. het Petrus en ses ander dissipels ’n ontbyt geëet wat Jesus op die strand van die See van Galilea voorberei het. Dit was nie die eerste keer dat Petrus die verrese Jesus gesien het nie, en hy was ongetwyfeld verheug om te weet dat Jesus lewe. Maar Petrus was dalk ook angstig. Hy het immers net ’n paar dae vroeër in die openbaar ontken dat hy Jesus hoegenaamd ken (Lukas 22:55-60; 24:34; Johannes 18:25-27; 21:1-14). Het Jesus die berouvolle Petrus berispe oor sy gebrek aan geloof? Nee. Hy het eerder aan Petrus die voorreg toevertrou om Jesus se “skapies” te voed en as herder oor hulle toesig te hou (Johannes 21:15-17). Soos die Bybelverslag van die geskiedenis van die eerste-eeuse Christengemeente toon, was Jesus se vertroue in Petrus nie misplaas nie. Gedurende ’n tydperk van kwaai beproewinge en vinnige uitbreiding het Petrus, tesame met die ander apostels en ouer manne in Jerusalem, as herder oor die Christengemeente toesig gehou.—Handelinge 1:15-26; 2:14; 15:6-9.

2 Vandag stel Jehovah deur Jesus Christus bekwame manne aan om as geestelike herders te dien en Sy skape deur die mees kritieke tye van die mensegeskiedenis te lei (Efesiërs 4:11, 12; 2 Timoteus 3:1). Is hierdie vertroue misplaas? Die vreedsame Christenbroederskap wat wêreldwyd bestaan, bewys die teendeel. Soos Petrus, is hierdie herders weliswaar feilbaar (Galasiërs 2:11-14; Jakobus 3:2). Maar Jehovah vertrou dat hulle vir die skape sal sorg wat “hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het” (Handelinge 20:28). Jehovah het innige geneentheid vir hierdie manne en beskou hulle as persone wat “dubbele eer waardig” is.—1 Timoteus 5:17.

3. Hoe behou geestelike herders ’n gewillige en gretige gees?

3 Hoe behou geestelike herders ’n gewillige en gretige gees sodat hulle voorbeelde vir die kudde word? Soos Petrus en die ander eerste-eeuse herders, maak hulle staat op God se heilige gees, wat hulle die nodige krag gee om hulle vrag van verantwoordelikheid te dra (2 Korintiërs 4:7). Die heilige gees bring ook die vrug van die gees in hulle voort—liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22, 23). Kom ons kyk na spesifieke maniere waarop herders ’n voorbeeld daarin kan stel om hierdie vrug te openbaar terwyl hulle as herders toesig hou oor die kudde van God wat onder hulle sorg is.

Wees lief vir die kudde sowel as elke individuele skaap

4, 5. (a) Hoe betoon Jehovah en Jesus liefde teenoor die kudde? (b) Wat is van die maniere waarop geestelike herders liefde vir die kudde openbaar?

4 Die vernaamste eienskap wat deur God se gees voortgebring word, is liefde. Jehovah openbaar sy liefde vir die kudde as ’n geheel wanneer hy hulle van ’n oorvloed geestelike voedsel voorsien (Jesaja 65:13, 14; Matteus 24:45-47). Maar hy voed nie net die kudde nie. Hy is persoonlik geheg aan elke individuele skaap (1 Petrus 5:6, 7). Jesus is ook lief vir die kudde. Hy het afstand gedoen van sy siel ten behoewe van hulle, en hy ken elke skaap persoonlik, ‘by name’.—Johannes 10:3, 14-16.

5 Geestelike herders volg Jehovah en Jesus na. Hulle openbaar liefde vir God se kudde as ’n geheel deur hulle “toe te lê op [die] onderrigting” van die gemeente. Hulle Bybeltoesprake help om die kudde te voed en te beskerm, en hulle harde werk in hierdie verband kan deur almal gesien word (1 Timoteus 4:13, 16). Wat nie altyd gesien word nie, is die tyd wat hulle daaraan bestee om verslae op datum te hou, korrespondensie te hanteer, roosters op te stel en na talle ander besonderhede om te sien sodat gemeentelike vergaderinge en ander bedrywighede “welvoeglik en volgens reëling” geskied (1 Korintiërs 14:40). Baie van hierdie werk vind agter die skerms plaas en ontvang moontlik min erkenning. Dit is waarlik ’n liefdeswerk.—Galasiërs 5:13.

6, 7. (a) Wat is een manier waarop herders die skape beter leer ken? (b) Waarom is dit soms goed om met ’n ouer man oor ons gevoelens te praat?

6 Liefdevolle Christenherders probeer persoonlike belangstelling in elke skaap in die gemeente toon (Filippense 2:4). Een manier waarop herders individuele skape beter leer ken, is deur in die openbare predikingswerk sy aan sy saam met hulle te werk. Jesus se volgelinge was dikwels saam met hom in die predikingswerk, en hy het sulke geleenthede gebruik om hulle aan te moedig (Lukas 8:1). ’n Ervare Christenherder sê: “Ek vind dat een van die beste maniere om ’n broer of ’n suster te leer ken en aan te moedig, is om saam met hom of haar in die veldbediening te werk.” As jy nie onlangs die geleentheid gehad het om saam met een van die ouer manne in die veldbediening te werk nie, kan jy gerus reël om dit binnekort te doen.

7 Liefde het Jesus beweeg om in die lief en leed van sy volgelinge te deel. Toe 70 van sy dissipels byvoorbeeld met vreugde van hulle predikingswerk af teruggekeer het, het Jesus begin “oorloop van vreugde” (Lukas 10:17-21). Maar toe hy sien watter uitwerking Lasarus se dood op Maria en haar familielede en vriende het, het Jesus “trane gestort” (Johannes 11:33-35). Vandag sonder liefdevolle herders hulle eweneens nie emosioneel van die skape af nie. Liefde beweeg hulle om ‘bly te wees saam met mense wat bly is’ en om te “huil saam met mense wat huil” (Romeine 12:15). As jy vreugde of hartseer in jou lewe ervaar, kan jy gerus met Christenherders oor jou gevoelens praat. Dit sal hulle bemoedig as jy hulle van jou vreugdes vertel (Romeine 1:11, 12). As hulle van jou beproewinge weet, kan hulle jou versterk en vertroos.—1 Tessalonisense 1:6; 3:1-3.

8, 9. (a) Hoe het een ouer man liefde teenoor sy vrou betoon? (b) Hoe belangrik is dit dat ’n herder liefde vir sy gesin openbaar?

8 ’n Herder se liefde vir die kudde kan veral gesien word in die manier waarop hy sy eie gesin behandel (1 Timoteus 3:1, 4). As hy getroud is, is die liefde en eer wat hy aan sy vrou betoon, ’n voorbeeld vir ander getroude mans om na te volg (Efesiërs 5:25; 1 Petrus 3:7). Beskou byvoorbeeld die kommentaar van ’n Christenvrou genaamd Linda. Haar man het voor sy dood meer as 20 jaar lank as ’n opsiener gedien. Sy sê: “My man was altyd baie besig om na die gemeente om te sien. Maar hy het my laat voel dat ek deel van ’n span is. Hy het dikwels waardering vir my ondersteuning uitgespreek, en hy het sy vrye tyd saam met my deurgebring. Gevolglik het ek geliefd gevoel en was ek nie jaloers oor die tyd wat hy daaraan bestee het om die gemeente te dien nie.”

9 As ’n Christenherder kinders het, is die manier waarop hy hulle liefdevol dissiplineer en gereeld prys ’n voorbeeld vir ander ouers om na te volg (Efesiërs 6:4). Trouens, die liefde wat hy teenoor sy gesin betoon, lewer voortdurend bewys dat hy die vertroue verdien wat op grond van sy aanstelling deur heilige gees in hom gestel word.—1 Timoteus 3:4, 5.

Bevorder vreugde en vrede deur te kommunikeer

10. (a) Wat kan ’n negatiewe uitwerking op die vreugde en vrede van die gemeente hê? (b) Watter geskil het die vrede van die eerste-eeuse gemeente bedreig, en hoe is daardie geskil uit die weg geruim?

10 Die heilige gees kan vreugde en vrede voortbring in die hart van ’n individuele Christen, onder ’n liggaam van ouer manne en in die gemeente as ’n geheel. Maar ’n gebrek aan openhartige kommunikasie kan ’n negatiewe uitwerking op hierdie vreugde en vrede hê. Salomo van ouds het gesê: “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie” (Spreuke 15:22). Daarenteen bevorder respekvolle en openhartige kommunikasie vreugde en vrede. Toe die geskil oor die besnydenis byvoorbeeld gedreig het om die vrede van die eerste-eeuse gemeente te versteur, het die bestuursliggaam in Jerusalem die leiding van die heilige gees gesoek. Hulle het ook hulle verskillende menings oor die onderwerp gelug. Ná ’n lewendige bespreking het hulle tot ’n besluit gekom. Toe hulle hulle eenparige besluit aan die gemeentes bekend gemaak het, was die broers “bly oor die aanmoediging” (Handelinge 15:6-23, 25, 31; 16:4, 5). Vreugde en vrede is bevorder.

11. Hoe kan ouer manne vreugde en vrede in die gemeente bevorder?

11 Net so bevorder herders vandag vreugde en vrede in die gemeente deur goeie kommunikeerders te wees. Wanneer probleme die vrede van die gemeente bedreig, kom hulle bymekaar en spreek hulle hulle gevoelens op ’n openhartige wyse uit. Hulle luister respekvol na wat hulle medeherders sê (Spreuke 13:10; 18:13). Nadat hulle vir heilige gees gebid het, grond hulle hulle besluite op Bybelbeginsels en op riglyne wat deur “die getroue en verstandige slaaf” gepubliseer is (Matteus 24:45-47; 1 Korintiërs 4:6). Wanneer die liggaam van ouer manne ’n besluit geneem het wat op die Skrif gegrond is, onderwerp elke ouer man hom aan die leiding van die heilige gees deur daardie besluit te ondersteun, al het die meerderheid nie met sy persoonlike mening saamgestem nie. Sulke beskeidenheid bevorder vreugde en vrede en stel ’n goeie voorbeeld vir die skape van hoe hulle met God moet wandel (Miga 6:8). Ondersteun jy op beskeie wyse die Bybelse besluite wat deur die herders in die gemeente geneem word?

Wees lankmoedig en goedhartig

12. Waarom moes Jesus lankmoedig en goedhartig wees in sy handelinge met die apostels?

12 Jesus was lankmoedig en goedhartig in sy handelinge met die apostels, ondanks die feit dat hulle herhaaldelik te kort geskiet het. Jesus het byvoorbeeld keer op keer die belangrikheid daarvan om nederig te wees by hulle probeer inskerp (Matteus 18:1-4; 20:25-27). Tog het daar op die laaste aand van Jesus se aardse lewe, kort nadat hy hulle ’n les in nederigheid geleer het deur hulle voete te was, “ook ’n driftige woordewisseling onder hulle ontstaan oor wie van hulle blykbaar die grootste was” (Lukas 22:24; Johannes 13:1-5). Het Jesus die apostels oor die kole gehaal? Nee, hy het op goedhartige wyse met hulle geredeneer en gesê: “Watter een is groter: die een wat aan tafel is of die een wat bedien? Is dit nie die een wat aan tafel is nie? Maar ek is in julle midde soos die een wat bedien” (Lukas 22:27). Jesus se lankmoedigheid en goedhartigheid—tesame met sy goeie voorbeeld—het uiteindelik die apostels se harte geraak.

13, 14. Veral wanneer moet herders goedhartig wees?

13 ’n Geestelike herder moet iemand dalk ook herhaaldelik raad gee oor ’n sekere tekortkoming. Die herder kan geïrriteerd raak met die persoon. Maar omdat hy sy eie tekortkominge in gedagte hou terwyl hy ‘die wanordelikes vermaan’, is hy in staat om lankmoedigheid en goedhartigheid teenoor sy broer te betoon. Sodoende volg hy Jesus en Jehovah na, wat hierdie eienskappe teenoor alle Christene betoon—insluitende herders.—1 Tessalonisense 5:14; Jakobus 2:13.

14 Soms moet herders iemand wat ’n ernstige sonde gepleeg het, streng vermaan. As die persoon onberouvol is, moet die herders die oortreder uit die gemeente verwyder (1 Korintiërs 5:11-13). Nietemin toon die manier waarop hulle daardie persoon behandel dat hulle die sonde haat, nie die sondaar nie (Judas 23). As die herders ’n skaap wat afdwaal, met goedhartigheid behandel, sal dit dalk vir hom makliker wees om uiteindelik na die kudde terug te keer.—Lukas 15:11-24.

Goeie dade spruit voort uit geloof

15. Wat is een manier waarop herders Jehovah se goedheid navolg, en wat beweeg hulle om dit te doen?

15 “Jehovah is goed vir almal”, selfs vir diegene wat nie waardeer wat hy vir hulle doen nie (Psalm 145:9; Matteus 5:45). Jehovah se goedheid kan veral gesien word in die feit dat hy sy knegte stuur om die “goeie nuus van die koninkryk” te verkondig (Matteus 24:14). Herders weerspieël God se goedheid deur die leiding in hierdie predikingswerk te neem. Waaruit spruit hulle onvermoeide pogings voort? Sterk geloof in Jehovah en in sy beloftes.—Romeine 10:10, 13, 14.

16. Hoe kan herders “goed doen” aan die skape?

16 Behalwe dat herders “aan almal goed doen” deur middel van die predikingswerk, het hulle ook die verantwoordelikheid om goed te doen “veral aan dié wat in die geloof aan [hulle] verwant is” (Galasiërs 6:10). Een manier waarop hulle dit doen, is deur middel van aanmoedigende herdersbesoeke. “Ek geniet dit om herdersbesoeke te doen”, sê een ouer man. “Dit gee my die geleentheid om die broers en susters te prys vir hulle pogings en hulle te help om te besef dat hulle harde werk waardeer word.” Soms gee herders wenke oor hoe iemand sy diens aan Jehovah kan verbeter. Wanneer hulle dit doen, volg wyse herders die apostel Paulus na. Kyk na die manier waarop hy die broers in Tessalonika aangespoor het: “Ons het vertroue in die Here aangaande julle, dat julle die dinge wat ons beveel, doen en sal aanhou doen” (2 Tessalonisense 3:4). Sulke woorde van vertroue spreek tot die goeie neigings van die skape en maak dit vir hulle makliker om ‘gehoorsaam te wees aan dié wat die leiding neem’ (Hebreërs 13:17). Wanneer jy ’n aanmoedigende herdersbesoek ontvang, sal dit goed wees as jy waardering daarvoor uitspreek.

Sagmoedigheid verg selfbeheersing

17. Watter les het Petrus by Jesus geleer?

17 Jesus was saggeaard, selfs wanneer hy uitgetart is (Matteus 11:29). Toe hy verraai en in hegtenis geneem is, het Jesus sagmoedigheid en groot selfbeheersing aan die dag gelê. Petrus het impulsief sy swaard getrek en een van die manne aangeval. Maar Jesus het vir hom gesê: “Dink jy dat ek nie ’n beroep op my Vader kan doen om op hierdie oomblik meer as twaalf legioene engele aan my beskikbaar te stel nie?” (Matteus 26:51-53; Johannes 18:10). Petrus het die les ter harte geneem en Christene later herinner: “Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg. . . . Toe hy uitgeskel is, het hy nie terug uitgeskel nie. Toe hy gely het, het hy nie gedreig nie.”—1 Petrus 2:21-23.

18, 19. (a) Veral wanneer moet herders sagmoedigheid en selfbeheersing aan die dag lê? (b) Watter vrae sal volgende bespreek word?

18 Bekwame herders is eweneens saggeaard selfs wanneer hulle onregverdig behandel word. Byvoorbeeld, party wat hulle in die gemeente probeer help, reageer dalk nie gunstig nie. As die een wat hulp nodig het, geestelik swak of siek is, sal hy moontlik “onnadenkend praat soos met swaardsteke” wanneer hy raad gegee word (Spreuke 12:18). Maar soos Jesus, reageer herders nie met venynige woorde of wraaksugtige dade nie. Hulle lê eerder selfbeheersing aan die dag en betoon nog steeds meegevoel, wat moontlik ’n seën sal wees vir die een wat hulp nodig het (1 Petrus 3:8, 9). Leer jy uit die voorbeeld van die ouer manne en lê jy sagmoedigheid en selfbeheersing aan die dag wanneer jy raad ontvang?

19 Jehovah en Jesus waardeer ongetwyfeld die harde werk van die duisende herders wat gewillig na die wêreldwye kudde omsien. Jehovah en sy Seun het ook innige geneentheid vir die duisende bedieningsknegte wat die ouer manne bystaan om ‘die heiliges te dien’ (Hebreërs 6:10). Waarom huiwer sommige gedoopte broers dan om na hierdie “voortreflike werk” te streef? (1 Timoteus 3:1). En hoe lei Jehovah diegene op wat hy as herders aanstel? Ons sal hierdie vrae in die volgende artikel bespreek.

Onthou jy?

• Wat is van die maniere waarop herders liefde teenoor die kudde betoon?

• Hoe kan almal in die gemeente vreugde en vrede bevorder?

• Waarom is herders lankmoedig en goedhartig wanneer hulle raad gee?

• Hoe openbaar ouer manne goedheid en geloof?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 18]

Ouer manne word deur liefde beweeg om die gemeente te dien

[Prente op bladsy 18]

Hulle bring ook tyd saam met hulle gesin deur wanneer hulle ontspanning geniet . . . 

. . . en aan die bediening deelneem

[Prent op bladsy 20]

Goeie kommunikasie onder die ouer manne bevorder vreugde en vrede in die gemeente