Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah lei herders vir sy kudde op

Jehovah lei herders vir sy kudde op

Jehovah lei herders vir sy kudde op

“Jehovah gee wysheid; uit sy mond kom kennis en onderskeidingsvermoë.”—SPREUKE 2:6.

1, 2. Waarom streef gedoopte manne na groter verantwoordelikheid in die gemeente?

 “EK WAS baie bly toe ek as ’n ouer man aangestel is”, sê Nick, wat al sewe jaar as ’n opsiener dien. “Ek het hierdie voorreg beskou as ’n geleentheid om my diens aan Jehovah uit te brei. Ek het gevoel dat ek aan hom dank verskuldig is vir alles wat hy vir my gedoen het. Ek wou ook die gemeentelede soveel as moontlik help, hulle bystaan soos ander ouer manne my bygestaan het.” Maar sy vreugde het ook met ’n mate van besorgdheid gepaardgegaan. “Aangesien ek maar in my laat twintigerjare was toe ek aangestel is”, sê Nick verder, “was ek bekommerd dat ek nie die nodige vaardighede—die onderskeidingsvermoë en wysheid—sou hê om op doeltreffende wyse as herder oor die gemeente toesig te hou nie.”

2 Diegene wat Jehovah aanstel om vir sy kudde te sorg, het baie redes om gelukkig te wees. Die apostel Paulus het die ouer manne van Efese aan een rede herinner toe hy Jesus se woorde aangehaal en gesê het: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Om as ’n bedieningskneg of as ’n ouer man te dien, bied gedoopte manne bykomende maniere om aan Jehovah en aan die gemeente te gee. Bedieningsknegte werk byvoorbeeld saam met die ouer manne. Hierdie knegte sien ook om na talle ander noodsaaklike take wat baie tyd in beslag neem. Hulle word deur liefde vir God en hulle naaste beweeg om waardevolle diens te lewer.—Markus 12:30, 31.

3. Waarom huiwer party dalk om na voorregte in die gemeente te streef?

3 Wat van ’n Christenman wat dalk huiwer om na die voorreg te streef om ’n kneg en uiteindelik ’n ouer man te wees omdat hy onbekwaam voel? Soos Nick, is hy moontlik bekommerd dat hy nie die nodige vaardighede het om ’n bekwame herder te wees nie. Is jy, as ’n gedoopte broer, onder diegene wat so voel? Sulke bekommernisse is nie ongegrond nie. Jehovah hou aangestelde herders aanspreeklik vir die manier waarop hulle die kudde behandel. Jesus het gesê: “Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van die een aan wie mense beheer oor baie gegee het, sal hulle meer as gewoonlik eis.”—Lukas 12:48.

4. Hoe help Jehovah diegene wat hy aanstel om vir sy skape te sorg?

4 Verwag Jehovah van diegene wat hy as knegte en ouer manne aanstel, om die ekstra vrag op hulle eie te dra? Inteendeel, hy voorsien praktiese hulp wat hulle nie net in staat stel om opgewasse vir die taak te wees nie, maar om ook te floreer. Soos in die vorige artikel bespreek is, gee Jehovah hulle sy heilige gees, waarvan die vrug hulle help om met teerheid vir die skape te sorg (Handelinge 20:28; Galasiërs 5:22, 23). Daarbenewens gee Jehovah hulle wysheid, kennis en onderskeidingsvermoë (Spreuke 2:6). Hoe doen hy dit? Kom ons bespreek drie maniere waarop Jehovah persone oplei wat hy aanstel om vir sy skape te sorg.

Opgelei deur ervare herders

5. Waarom was Petrus en Johannes bekwame herders?

5 Toe die apostels Petrus en Johannes voor die Sanhedrin gestaan het, het die wêreldwyse regters van daardie hof die manne voor hulle as “ongeleerde en gewone mense” beskou. Hulle kon wel lees en skryf, maar hulle het geen rabbynse opleiding in die studie van die Skrif ontvang nie. Nietemin was Petrus en Johannes sowel as die ander dissipels bekwame onderrigters, wat baie van die mense wat na hulle geluister het, beweeg het om gelowiges te word. Hoe het hierdie gewone mense sulke uitsonderlike onderrigters geword? Nadat die hof na Petrus en Johannes geluister het, het hulle “hulle begin herken as persone wat saam met Jesus was” (Handelinge 4:1-4, 13). Ja, hulle het heilige gees ontvang (Handelinge 1:8). Maar dit was ook duidelik—selfs vir daardie geestelik blinde regters—dat Jesus daardie manne opgelei het. Terwyl Jesus saam met die apostels op die aarde was, het hy hulle nie net geleer hoe om skaapgeaardes in te samel nie, maar ook hoe om as herders oor hulle toesig te hou nadat hulle deel van die kudde geword het.—Matteus 11:29; 20:24-28; 1 Petrus 5:4.

6. Watter voorbeeld het Jesus en Paulus gestel wat die opleiding van ander betref?

6 Nadat Jesus opgewek is, het hy voortgegaan om diegene op te lei wat as herders aangestel is (Openbaring 1:1; 2:1–3:22). Hy het Paulus byvoorbeeld persoonlik uitgekies en oor sy opleiding toesig gehou (Handelinge 22:6-10). Paulus het die opleiding wat hy ontvang het, waardeer, en wat hy geleer het, het hy aan ander ouer manne oorgedra (Handelinge 20:17-35). Hy het byvoorbeeld baie tyd en moeite daaraan bestee om Timoteus op te lei om “’n werker” in God se diens te wees “wat hom oor niks hoef te skaam nie” (2 Timoteus 2:15). ’n Hegte band het tussen hierdie manne ontstaan. Paulus het vroeër van Timoteus geskryf: ‘Hy het soos ’n kind saam met ’n vader, saam met my soos ’n slaaf gedien ter bevordering van die goeie nuus’ (Filippense 2:22). Paulus het nie Timoteus of enigiemand anders ’n dissipel van hóm probeer maak nie. Hy het medegelowiges eerder aangespoor om ‘navolgers van hom te word, net soos hy dit van Christus was’.—1 Korintiërs 11:1.

7, 8. (a) Watter ondervinding lig die goeie resultate toe wanneer ouer manne Jesus en Paulus navolg? (b) Wanneer moet ouer manne voornemende bedieningsknegte en ouer manne begin oplei?

7 In navolging van Jesus en Paulus neem ervare herders die inisiatief om gedoopte broers op te lei, met net sulke goeie resultate. Kyk byvoorbeeld na Chad se ondervinding. Hy is in ’n godsdienstig verdeelde huis grootgemaak, maar is onlangs as ’n ouer man aangestel. Hy sê: “Deur die jare heen het verskeie ervare ouer manne my gehelp om geestelike vooruitgang te maak. Omdat my pa ’n ongelowige was, het daardie ouer manne spesiale belangstelling in my getoon en soos geestelike vaders vir my geword. Hulle het die tyd geneem om my in die bediening op te lei, en later het een ouer man in die besonder my opgelei om na my toewysings in die gemeente om te sien.”

8 Soos Chad se ondervinding toon, begin herders wat onderskeidingsvermoë het, voornemende bedieningsknegte en ouer manne oplei lank voordat hulle genoeg vordering gemaak het om vir sulke voorregte te kwalifiseer. Waarom? Omdat die Bybel beveel dat bedieningsknegte sowel as ouer manne ’n hoë sedelike en geestelike standaard moet bereik voordat hulle aangestel word om te dien. Hulle moet “eers op die proef gestel word wat hulle geskiktheid betref”.—1 Timoteus 3:1-10.

9. Watter verantwoordelikheid het ervare herders, en waarom?

9 As gedoopte broers op die proef gestel moet word, is dit net regverdig dat hulle eers opgelei word. Ter toeligting: Sal ’n skolier wat gevra word om ’n moeilike eksamen af te lê waarvoor die onderwysers hom nie spesifiek voorberei het nie, daardie toets slaag? Waarskynlik nie. Opleiding is dus nodig. Maar pligsgetroue onderwysers berei leerders nie net voor om ’n toets te slaag nie, maar ook om die kennis wat hulle opdoen, te gebruik. So ook help pligsgetroue ouer manne gedoopte broers om die eienskappe aan te kweek wat van ’n aangestelde man vereis word deur hulle spesifieke opleiding te gee. Hulle doen dit nie net om hierdie broers te help om aangestel te word om te dien nie, maar ook om hulle te help om behoorlik vir die kudde te kan sorg (2 Timoteus 2:2). Gedoopte broers moet natuurlik hulle deel doen en hard werk om te voldoen aan die vereistes wat vir ’n bedieningskneg of ’n ouer man gestel word (Titus 1:5-9). Ervare herders kan nietemin diegene wat na groter verantwoordelikheid in die gemeente streef, help om vinniger vordering te maak deur hulle gewillig op te lei.

10, 11. Hoe kan herders ander vir verdere voorregte oplei?

10 Presies hoe kan ervare herders ander oplei om na voorregte in die gemeente om te sien? Om mee te begin, kan hulle belangstelling toon in die broers in die gemeente—deur gereeld saam met hulle in die veldbediening te werk en hulle te help om meer bedrewe daarin te word om “die woord van die waarheid reg [te] hanteer” (2 Timoteus 2:15). Ryp herders praat met hierdie broers oor die vreugdes wat dit bring om ander te dien en die bevrediging wat dit hulle verskaf om geestelike doelwitte te stel en te bereik. Hulle gee ook vriendelik spesifieke wenke oor hoe ’n broer ’n beter ‘voorbeeld vir die kudde’ kan word.—1 Petrus 5:3, 5.

11 Wanneer ’n broer as ’n bedieningskneg aangestel word, gaan wyse herders voort om hom op te lei. Bruce, wat al dekades as ’n ouer man dien, sê: “Ek hou daarvan om saam met ’n pas aangestelde kneg te gaan sit en die instruksies wat deur die getroue en verstandige slaaf gepubliseer is, met hom te hersien. Ons lees ook enige riglyne in verband met sy spesifieke toewysing, en ek hou daarvan om dan saam met hom te werk totdat hy vertroud is met sy pligte.” Namate ’n kneg ondervinding opdoen, kan hy ook in die herderswerk opgelei word. “Wanneer ek ’n bedieningskneg saam met my na ’n herdersbesoek neem”, sê Bruce verder, “help ek hom om spesifieke tekste te kies wat die persoon of die gesin wat ons gaan besoek, sal aanmoedig en motiveer. Voordat ’n kneg ’n bekwame herder kan word, moet hy leer om die Skrif so te gebruik dat dit die hart raak.”—Hebreërs 4:12; 5:14.

12. Hoe kan ervare herders pas aangestelde ouer manne oplei?

12 Pas aangestelde herders vind ook baie baat by verdere opleiding. Nick, wat vroeër gemeld is, sê: “Die opleiding wat ek veral van twee ouer opsieners ontvang het, het my baie gehelp. Hierdie broers het gewoonlik verstaan hoe sekere sake hanteer moet word. Hulle het altyd geduldig na my geluister en my beskouing ernstig oorweeg—selfs as hulle nie daarmee saamgestem het nie. Ek het baie geleer deur te let op die nederige en respekvolle manier waarop hulle die broers en susters in die gemeente behandel. Hierdie ouer manne het die belangrikheid daarvan by my ingeskerp om die Bybel op bedrewe wyse te gebruik wanneer ’n mens probleme hanteer of ander aanmoedig.”

Opgelei deur God se Woord

13. (a) Wat het ’n broer nodig sodat hy ’n bekwame herder kan wees? (b) Waarom het Jesus gesê: “Wat ek leer, is nie myne nie”?

13 Ja, God se Woord, die Bybel, bevat die wette, beginsels en voorbeelde wat ’n herder nodig het sodat hy “volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Timoteus 3:16, 17). ’n Broer het dalk ’n goeie sekulêre opvoeding, maar dit is sy kennis van die Skrif en hoe hy dit toepas wat help om hom ’n bekwame herder te maak. Beskou Jesus se voorbeeld. Hy het die grootste kennis, onderskeidingsvermoë en wysheid gehad van alle geestelike herders wat daar nog op die aarde was; nogtans het nie eers hy op sy eie wysheid staat gemaak wanneer hy Jehovah se skape onderrig het nie. Hy het gesê: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het.” Waarom het Jesus sy hemelse Vader die eer gegee? Hy het verduidelik: “Hy wat uit homself spreek, soek sy eie heerlikheid.”—Johannes 7:16, 18.

14. Hoe vermy herders dit om hulle eie heerlikheid te soek?

14 Lojale herders vermy dit om hulle eie heerlikheid te soek. Hulle baseer nie hulle raad en aanmoediging op hulle eie wysheid nie, maar op God se Woord. Hulle besef dat dit ’n herder se toewysing is om die skape te help om “die denke van Christus” te verkry, nie die denke van die ouer manne nie (1 Korintiërs 2:14-16). Sê nou byvoorbeeld ’n ouer man wat ’n egpaar met huweliksprobleme help, baseer sy raad op sy eie ondervinding in plaas van op Bybelbeginsels en inligting wat deur “die getroue en verstandige slaaf” gepubliseer is? (Matteus 24:45). Sy raad sal dalk te veel beïnvloed word deur plaaslike gebruike en is beperk omdat hy nie soveel kennis het nie. Dit is so dat sommige gebruike op sigself nie sleg is nie, en die ouer man het dalk lewensondervinding. Maar die skape vind die meeste daarby baat wanneer herders hulle aanspoor om eerder na Jesus se stem en die woorde van Jehovah te luister as om op mense se idees of plaaslike gebruike ag te slaan.—Psalm 12:6; Spreuke 3:5, 6.

Opgelei deur “die getroue en verstandige slaaf”

15. Wat het Jesus “die getroue en verstandige slaaf” beveel om te doen, en wat is een rede waarom die slaafklas suksesvol is?

15 Herders soos die apostels Petrus, Johannes en Paulus was almal deel van die groep wat Jesus beskryf het as “die getroue en verstandige slaaf”. Hierdie slaafklas bestaan uit Jesus se geesgesalfde broers op aarde, wat die hoop het om saam met Christus in die hemel te heers (Openbaring 5:9, 10). Gedurende hierdie laaste dae van dié stelsel neem Christus se broers wat nog op aarde is, noodwendig in getal af. Maar die werk wat Jesus hulle beveel het om te doen—die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk voordat die einde kom—word nou op ’n groter skaal as ooit tevore gedoen. En tog is die slaafklas buitengewoon suksesvol! Waarom? Deels omdat hulle lede van die “ander skape” opgelei het om hulle in die predikings- en onderrigtingswerk te help (Johannes 10:16; Matteus 24:14; 25:40). Vandag word die meeste van die werk deur hierdie lojale groep gedoen.

16. Hoe lei die slaafklas aangestelde manne op?

16 Hoe voorsien die slaafklas hierdie opleiding? In die eerste eeu was verteenwoordigers van die slaafklas gemagtig om opsieners in die gemeentes op te lei en aan te stel, en hulle het op hulle beurt die skape opgelei (1 Korintiërs 4:17). Dieselfde gebeur vandag. Die Bestuursliggaam—die klein groepie gesalfde ouer manne wat die slaafklas verteenwoordig—magtig sy verteenwoordigers om knegte en ouer manne in die tienduisende gemeentes regoor wêreld op te lei en aan te stel. Daarbenewens reël die Bestuursliggaam skole om Takkomiteelede, reisende opsieners, ouer manne en bedieningsknegte opleiding te gee oor hoe hulle die skape die beste sorg kan gee. Verdere leiding word voorsien deur briewe, in artikels in Die Wagtoring en deur middel van ander publikasies, soos Georganiseer om Jehovah se wil te doen. a

17. (a) Hoe het Jesus sy vertroue in die slaafklas getoon? (b) Hoe kan geestelike herders toon dat hulle vertroue in die slaafklas het?

17 Jesus het soveel vertroue in die slaafklas dat hy hulle oor “al sy besittings” aangestel het—dit wil sê al sy geestelike belange op die aarde (Matteus 24:47). Aangestelde herders toon dat hulle ook vertroue in die slaafklas het deur die riglyne te volg wat hulle van die Bestuursliggaam ontvang. Ja, wanneer herders ander oplei, wanneer hulle hulle deur God se Woord laat oplei en wanneer hulle die opleiding toepas wat deur die slaafklas voorsien word, bevorder hulle eenheid onder die kudde. Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah manne opgelei het wat diep besorg is oor elke lid van die Christengemeente!

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe lei ryp geestelike herders ander op?

• Waarom onderrig herders nie op grond van hulle eie idees nie?

• Hoe en waarom toon herders vertroue in die slaafklas?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 23, 25]

Christen- ouer manne lei jonger manne in die gemeente op

[Prente op bladsy 26]

“Die getroue en verstandige slaaf” voorsien baie opleiding vir ouer manne