Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die stryd behoort aan Jehovah”

“Die stryd behoort aan Jehovah”

“Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense”

“Die stryd behoort aan Jehovah”

TWEE vyandige leërs kom teen mekaar te staan aan weerskante van ’n vallei. Veertig dae lank verkeer die manne van Israel in vrees en word hulle onderwerp aan ’n stortvloed beledigings deur Goliat, die baasvegter van die Filistyne.—1 Samuel 17:1-4, 16.

Goliat daag die Israeliete uit met ’n harde stem en sê: “Kies vir julle ’n man, en laat hom na my toe afkom. As hy teen my kan veg en hy my doodmaak, dan sal ons julle knegte word. Maar as ek teen hom opgewasse is en ek hom doodmaak, dan moet julle ons knegte word, en julle moet ons dien. . . . Ek tart vandag die gevegslinies van Israel uit. Gee my ’n man, en laat ons teen mekaar veg!”—1 Samuel 17:8-10.

In die ou tyd was dit niks ongewoons vir ’n baasvegter om sy leër in ’n tweegeveg te verteenwoordig nie. Die wenner het dan die oorwinning namens sy leër behaal. Maar hierdie man wat Israel uitdaag, is nie ’n gewone soldaat nie. Hy is ’n yslike reus—’n wrede en intimiderende vyand. Maar met sy uittarting van die leër van Jehovah se volk, beseël Goliat sy lot.

Dit is nie bloot ’n militêre stryd nie. Die kragmeting is tussen Jehovah en die gode van die Filistyne. Pleks dat Saul, die koning van Israel, sy leër moedig teen God se vyande lei, is hy verlam van vrees.—1 Samuel 17:11.

’n Jong man vertrou op Jehovah

Op hierdie stadium besoek ’n jong man wat reeds gesalf is om Israel se koning te word, sy broers wat in Saul se leër is. Sy naam is Dawid. Wanneer hy die woorde van Goliat hoor, vra hy: “Wie is hierdie onbesnede Filistyn dat hy die gevegslinies van die lewende God moet uittart?” (1 Samuel 17:26). In Dawid se oë verteenwoordig Goliat die Filistyne sowel as hulle gode. Regverdige verontwaardiging wek by Dawid die begeerte om vir Jehovah en vir Israel teen hierdie heidense reus te veg. Maar koning Saul sê: “Jy kan nie na hierdie Filistyn gaan om teen hom te veg nie, want jy is nog maar ’n seun.”—1 Samuel 17:33.

Hoe verskil die beskouing van Saul en Dawid tog! Saul sien ’n jong herder wat teen ’n geharde reus wil veg. Dawid sien egter ’n man wat die Soewereine Heer Jehovah uittart. Dawid se moed is gegrond op die oortuiging dat God nie sal toelaat dat iemand wat Sy naam en Sy volk spot, ongestraf bly nie. Hoewel Goliat spog met sy krag, stel Dawid sy vertroue in Jehovah en beskou hy die situasie uit God se oogpunt.

“Ek kom na jou toe met die naam van Jehovah”

Dawid se geloof het ’n vaste grondslag. Hy onthou dat God hom gehelp het om sy skape van ’n beer en ’n leeu te red. Die jong herder is seker dat Jehovah hom nou sal help om met hierdie gedugte Filistynse vyand af te reken (1 Samuel 17:34-37). Gewapen met ’n eenvoudige slinger en vyf gladde klippe, gaan Dawid Goliat tegemoet.

Die jong Dawid aanvaar hierdie oënskynlik onmoontlike uitdaging deur op die krag te vertrou wat Jehovah voorsien. Hy sê moedig vir die Filistyn: “Jy kom na my toe met ’n swaard en met ’n spies en met ’n werpspies, maar ek kom na jou toe met die naam van Jehovah van die leërs, die God van die gevegslinies van Israel, wat jy uitgetart het. Vandag sal Jehovah jou in my hand oorlewer . . . Mense van die hele aarde sal weet dat daar ’n God bestaan wat aan Israel behoort. En hierdie hele gemeente sal weet dat Jehovah nie met swaard en ook nie met spies red nie, want die stryd behoort aan Jehovah.”—1 Samuel 17:45-47.

Wat was die uiteinde? Die geïnspireerde verslag sê: “So het Dawid, met ’n slinger en ’n klip, die oorhand oor die Filistyn gekry, en hy het die Filistyn verslaan en hom doodgemaak; en daar was geen swaard in Dawid se hand nie” (1 Samuel 17:50). Daar was geen swaard in Dawid se hand nie, maar hy het die kragtige ondersteuning van Jehovah God gehad. a

Hoe is Dawid se geloof in Jehovah tog in daardie stryd geregverdig! Wanneer ons moet kies of ons mense moet vrees of op Jehovah se reddende krag moet vertrou, is die keuse voor die hand liggend: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:29). En wanneer ons moeilike situasies uit Jehovah God se oogpunt beskou, kan ons selfs oorweldigende probleme in die regte perspektief sien.

[Voetnoot]

a Sien die Kalender van Jehovah se Getuies vir 2006, Mei/Junie.

[Venster/Prent op bladsy 9]

HOE GROOT WAS GOLIAT?

Volgens die verslag in 1 Samuel 17:4-7 was Goliat meer as ses el lank—ongeveer drie meter. ’n Aanduiding van hoe groot en sterk die Filistyn was, is sy geskubde pantser van koper. Dit het 57 kilogram geweeg! Die steel van sy spies was soos ’n houtbalk, en die ysterlem het sewe kilogram geweeg! Goliat se wapenrusting het waarskynlik meer as Dawid self geweeg!