Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die vreugdes wat ’n weg van onkreukbaarheid meebring

Die vreugdes wat ’n weg van onkreukbaarheid meebring

Die vreugdes wat ’n weg van onkreukbaarheid meebring

“Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie.”—SPREUKE 10:22.

1, 2. Waarom moet ons versigtig wees om nie te behep te raak met die toekoms nie?

 “’N BEHEPTHEID met die toekoms . . . verhinder dat ons die hede sien soos dit is”, het een Amerikaanse filosoof gesê. Dit is waar van kinders wat so behep is met die voorregte wat volwassenheid bring, dat hulle die voordele van hulle kinderjare miskyk totdat dit te laat is.

2 Selfs Jehovah se aanbidders is nie immuun teen hierdie denkpatroon nie. Dink net wat kan gebeur. Ons smag na die vervulling van God se belofte om ’n paradys op die aarde tot stand te bring. Ons wag gretig op ’n lewe vry van siekte, veroudering, pyn en lyding. Dit is wel goed om hierdie dinge te verwag, maar sê nou ons raak so behep met toekomstige fisiese seëninge dat ons blind is vir ons huidige geestelike seëninge? Wat ’n jammerte sal dit tog wees! Ons kan maklik mismoedig raak en ‘in ons hart siek voel omdat ons verwagtinge uitgestel is’, langer as wat ons gedink het (Spreuke 13:12). Weens probleme en moeilikhede in die lewe raak ons dalk vasgevang in mismoedigheid of selfbejammering. Pleks van moeilike situasies te hanteer, kan ’n klaende gees in ons ontstaan. Dit alles kan voorkom word as ons met waardering oor ons teenswoordige seëninge peins.

3. Waarop sal ons in hierdie artikel ons aandag vestig?

3 “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie”, sê Spreuke 10:22. Is die geestelik voorspoedige toestand van Jehovah se hedendaagse knegte nie ’n seëning om oor bly te wees nie? Kom ons kyk na ’n paar aspekte van ons geestelike voorspoed en sien wat dit vir ons persoonlik beteken. As ons die tyd neem om na te dink oor die gunste wat Jehovah uitstort op ‘die regverdige wat in sy onkreukbaarheid wandel’, sal dit ons inderdaad meer vasbeslote maak om aan te hou om ons hemelse Vader met vreugde te dien.—Spreuke 20:7.

‘Seëninge wat ons nou ryk maak’

4, 5. Watter Bybelleerstelling waardeer jy besonder baie, en waarom?

4 Juiste kennis van Bybelleerstellings. Die godsdienste van die Christendom beweer oor die algemeen dat hulle die Bybel glo. Maar hulle stem nie saam oor wat dit leer nie. Selfs lede van dieselfde godsdiensgroep het dikwels verskillende beskouings van wat die Skrif werklik leer. Hoe anders is hulle toestand tog as dié van Jehovah se knegte! Ongeag ons nasionale, kulturele of etniese agtergrond aanbid ons die God wie se naam ons ken. Hy is nie die een of ander raaiselagtige drie-enige god nie (Deuteronomium 6:4; Psalm 83:18; Markus 12:29). Ons weet ook dat die allerbelangrikste geskil, naamlik die geskil oor God se universele soewereiniteit, binnekort besleg gaan word en dat elkeen van ons Jehovah se kant van daardie geskil ondersteun deurdat ons ons onkreukbaarheid teenoor hom handhaaf. Ons weet wat die waarheid is omtrent die dooies en is vry van die sieklike vrees vir ’n God wat mense, soos daar geglo word, in die helse vuur pynig of hulle na die vaevuur stuur.—Prediker 9:5, 10.

5 En wat ’n vreugde is dit tog om te weet dat ons nie die toevallige produk van blinde evolusie is nie! Ons is eerder God se skepping, wat na sy beeld gemaak is (Genesis 1:26; Maleagi 2:10). “Ek sal u prys, omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is”, het die psalmis tot sy God gesing. “U werke is wonderbaar, soos my siel alte goed weet.”—Psalm 139:14.

6, 7. Watter veranderinge in jou lewe of in die lewe van ander wat jy ken, was ’n seëning?

6 Bevryding van skadelike gewoontes en gebruike. Waarskuwings oor die gevare van rook, oormatige drinkery en seksuele promiskuïteit is volop in die media. Die meeste van hierdie waarskuwings word verontagsaam. Maar wat gebeur wanneer ’n opregte persoon leer dat die ware God sulke dinge veroordeel en bedroef word deur diegene wat dit beoefen? Hy sal tog sekerlik beweeg word om sulke gebruike uit sy lewe uit te sluit! (Jesaja 63:10; 1 Korintiërs 6:9, 10; 2 Korintiërs 7:1; Efesiërs 4:30). Hoewel hy dit hoofsaaklik doen om Jehovah God te behaag, hou dit ook vir hom ander voordele in—beter gesondheid en gemoedsrus.

7 Dit is vir baie mense besonder moeilik om slegte gewoontes af te leer. Nogtans doen tienduisende dit elke jaar. Hulle wy hulle aan Jehovah toe en ondergaan waterdoop, waardeur hulle bekend maak dat hulle die gebruike wat God mishaag, uit hulle lewe verwyder het. Wat ’n aanmoediging is dit tog vir ons almal! Ons vasbeslotenheid om vry te bly van slawerny aan sondige en skadelike gedrag word versterk.

8. Watter Bybelse raad dra by tot gesinsgeluk?

8 ’n Gelukkige gesinslewe. In talle lande gaan gesinslewe agteruit. Baie huwelike loop op egskeiding uit, wat dikwels die kinders met pynlike letsels laat. In party Europese lande maak eenouergesinne byna 20 persent van alle huishoudings uit. Hoe het Jehovah ons gehelp om in hierdie opsig op die weg van onkreukbaarheid te wandel? Lees asseblief Efesiërs 5:22–6:4, en let op die goeie raad wat God se Woord aan mans, vrouens en kinders gee. Die toepassing van wat daar en op ander plekke in die Skrif gesê word, versterk beslis die huweliksband, help ouers om kinders reg groot te maak en dra by tot ’n gelukkige gesinslewe. Is dit nie ’n seëning om oor bly te wees nie?

9, 10. Hoe verskil ons vooruitsig op die toekoms van die wêreld s’n?

9 Die versekering dat wêreldprobleme binnekort opgelos gaan word. Ondanks wetenskaplike en tegnologiese kennis en die opregte pogings van sekere leiers, bly ernstige probleme van die hedendaagse lewe onopgelos. Klaus Schwab, die stigter van die Wêreld- Ekonomiese Forum, het onlangs opgemerk dat “die lys uitdagings waarmee die wêreld te kampe het, al hoe langer word en die tyd om daarvan werk te maak, al hoe korter word”. Hy het gepraat van “gevare, soos terrorisme, omgewingsagteruitgang en finansiële onstabiliteit, wat oor nasionale grense strek”. Schwab se slotsom was: “Die wêreld staan nou, meer as ooit tevore, voor werklikhede wat gesamentlike en besliste optrede vereis.” Namate die 21ste eeu vorder, lyk die algemene vooruitsig op die mens se toekoms nog steeds droewig.

10 Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat Jehovah ’n reëling ingestel het wat al die mensdom se probleme kan oplos—die Messiaanse Koninkryk van God! Deur middel daarvan sal die ware God ‘oorloë laat ophou’ en ‘oorvloedige vrede’ teweegbring (Psalm 46:9; 72:7). Die gesalfde Koning, Jesus Christus, ‘sal die arme, die geteisterde en die geringe van onderdrukking en van geweld verlos’ (Psalm 72:12-14). Onder die Koninkryksheerskappy sal daar geen tekort aan voedsel wees nie (Psalm 72:16). Jehovah “sal elke traan van [ons] oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Die Koninkryk is reeds in die hemel opgerig en sal binnekort die nodige stappe doen om elke probleem op die aarde op te los.—Daniël 2:44; Openbaring 11:15.

11, 12. (a) Bring die najaging van genot blywende geluk mee? Verduidelik. (b) Wat lei tot ware geluk?

11 Kennis van wat ware geluk bring. Wat bring ware geluk? Een sielkundige het gesê dat geluk uit drie elemente bestaan—genot, deelname (betrokkenheid by dinge soos werk en gesin) en betekenis (om jou in te span ter wille van ’n groter doel as jyself). Van die drie het hy genot beskryf as van die minste belang en gesê: “Dit is nuuswaardig omdat soveel mense hulle lewe om die najaging van genot bou.” Wat is die Bybel se beskouing hiervan?

12 Koning Salomo van eertydse Israel het gesê: “Ek, ja ek, het in my hart gesê: ‘Kom tog nou, laat ek jou met blydskap op die proef stel. Sien ook die goeie.’ En kyk! ook dit was nietigheid. Ek het vir gelag gesê: ‘Waansin!’ en vir blydskap: ‘Wat doen dit?’” (Prediker 2:1, 2). Volgens die Skrif is enige geluk wat genot bied, ten beste tydelik. Wat van betrokkenheid by werk? Ons het die sinvolste werk om by betrokke te raak—die werk om die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak (Matteus 24:14; 28:19, 20). Deur met ander te praat oor die boodskap van redding wat in die Bybel uiteengesit is, neem ons deel aan ’n werk wat tot ons eie redding kan lei sowel as tot die redding van diegene wat na ons luister (1 Timoteus 4:16). As “God se medewerkers” ondervind ons dat ‘dit groter geluk verskaf om te gee as om te ontvang’ (1 Korintiërs 3:9; Handelinge 20:35). Hierdie werk maak ons lewe sinvoller en voorsien die Skepper van ’n antwoord op die een wat hom uittart, Satan die Duiwel (Spreuke 27:11). Ja, Jehovah het vir ons gewys dat godvrugtige toegewydheid tot ware en blywende geluk lei.—1 Timoteus 4:8.

13. (a) In watter opsig is die Teokratiese Bedieningskool ’n seëning waaroor ons ons kan verbly? (b) Hoe het jy by die Teokratiese Bedieningskool baat gevind?

13 ’n Belangrike en doeltreffende opleidingsprogram. Gerhard dien as ’n ouer man in ’n gemeente van Jehovah se Getuies. Wanneer hy aan sy jeug terugdink, sê hy: “As ’n jong persoon was dit vir my baie moeilik om te praat. Wanneer ek onder druk was, kon ek skaars ’n woord uitkry en het ek begin hakkel. Ek het minderwaardig gevoel en ’n kompleks ontwikkel. My ouers het gereël dat ek ’n kursus in die spreekkuns volg, maar hulle pogings was tevergeefs. My probleem was sielkundig, nie fisies nie. Daar was egter ’n wonderlike voorsiening van Jehovah—die Teokratiese Bedieningskool. Toe ek by hierdie skool aangesluit het, het dit my nuwe moed gegee. Ek het my bes gedoen om toe te pas wat ek geleer het. En dit het gewerk! Ek het vlotter gepraat, my kompleks verloor en baie moediger geword in die bediening. Nou hou ek selfs openbare toesprake. Ek is werklik dankbaar teenoor Jehovah, wat vir my deur middel van hierdie skool ’n nuwe lewe gegee het.” Is die manier waarop Jehovah ons oplei om sy werk te doen, nie ’n rede om vreugdevol te wees nie?

14, 15. Watter hulp is geredelik beskikbaar in tye van benoudheid? Lig toe.

14 ’n Persoonlike verhouding met Jehovah en die ondersteuning van die verenigde internasionale broederskap. Katrin, wat in Duitsland woon, was baie ontsteld toe sy gehoor het van ’n ernstige aardbewing en die gepaardgaande tsoenami in Suidoos-Asië. Haar dogter was ten tye van die ramp in Thailand. Hierdie moeder het 32 uur lank nie geweet of haar dogter lewe en of sy onder die slagoffers was, wat elke uur in getal toegeneem het nie. Hoe verlig was Katrin tog toe sy uiteindelik ’n telefoonoproep gekry het wat haar verseker het dat haar dogter veilig is!

15 Wat het Katrin gedurende hierdie angstige ure gehelp? Sy skryf: “Ek het amper die hele tyd tot Jehovah gebid. Ek het keer op keer besef hoeveel krag en gemoedsrus dit my gegee het. Boonop het liefdevolle geestelike broers my besoek en my bygestaan” (Filippense 4:6, 7). Hoeveel erger sou haar situasie tog gewees het as sy daardie angswekkende ure sonder die voordeel van gebed tot Jehovah en die vertroosting van die liefdevolle geestelike broederskap moes deurmaak! Ons intieme verhouding met Jehovah en sy Seun tesame met ons noue omgang met die Christenbroederskap is ’n unieke seëning, te kosbaar om as vanselfsprekend aan te neem.

16. Vertel ’n ondervinding wat die waarde van die opstandingshoop toelig.

16 Die hoop om afgestorwe dierbares weer te sien (Johannes 5:28, 29). ’n Jong man met die naam Matthias is as een van Jehovah se Getuies grootgemaak. Maar hy het sy seëninge nie waardeer nie en het as tiener van die Christengemeente af weggedryf. Nou skryf hy: “Ek het nooit regtig diep besprekings met my pa gehad nie. Oor die jare het ons baie gestry. Maar my pa wou altyd die beste vir my hê. Hy was baie lief vir my, iets wat ek destyds nie besef het nie. Terwyl ek in 1996 langs sy bed gesit, sy hand vasgehou en bitterlik gehuil het, het ek vir hom gesê hoe jammer ek was oor alles wat ek gedoen het en dat ek hom baie liefgehad het. Maar hy kon my nie hoor nie. Ná ’n kort siekbed het hy gesterf. As ek lewe om my pa in die opstanding te sien, sal ons vergoed vir die verlede. En hy sal sekerlik bly wees om te hoor dat ek nou ’n ouer man is en dat ek en my vrou die voorreg het om as pioniers te dien.” Wat ’n seëning is die opstandingshoop tog vir ons!

“Hy voeg daar geen pyn by nie”

17. Watter uitwerking moet dit op ons hê wanneer ons oor Jehovah se seëninge peins?

17 Van sy hemelse Vader het Jesus Christus gesê: ‘Hy laat sy son opgaan oor goddeloses en goeies en laat dit reën op regverdiges en onregverdiges’ (Matteus 5:45). As Jehovah God selfs op die onregverdiges en die goddeloses seëninge uitstort, hoeveel te meer op diegene wat in die weg van onkreukbaarheid wandel! “Jehovah sal niks goeds terughou van dié wat in onberispelikheid wandel nie”, sê Psalm 84:11. Hoe swel ons harte tog van dankbaarheid en vreugde wanneer ons peins oor die spesiale besorgdheid en belangstelling wat hy geopenbaar het teenoor diegene wat hom liefhet!

18. (a) Waarom kan daar gesê word dat Jehovah geen pyn by sy seën voeg nie? (b) Waarom ly baie van God se lojale knegte?

18 “Die seën van Jehovah”—dit is wat geestelike voorspoed vir sy volk gebring het. En ons word daarvan verseker dat ‘hy geen pyn daarby voeg nie’ (Spreuke 10:22). Waarom kom beproewinge dan oor baie van God se lojale knegte, wat hulle baie pyn en lyding besorg? Moeilikhede en probleme kom om drie hoofredes oor ons. (1) Ons eie sondige neigings (Genesis 6:5; 8:21; Jakobus 1:14, 15). (2) Satan en sy demone (Efesiërs 6:11, 12). (3) Die goddelose wêreld (Johannes 15:19). Hoewel Jehovah toelaat dat slegte dinge met ons gebeur, is hy nie die oorsaak daarvan nie. Trouens, “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van bo, want dit daal neer van die Vader van die hemelse ligte” (Jakobus 1:17). Jehovah se seëninge is sonder pyn.

19. Wat wag vir diegene wat in onkreukbaarheid wandel?

19 Om geestelike voorspoed te geniet, beteken altyd dat ons nader aan God moet kom. Wanneer ons ’n intieme verhouding met hom aankweek, ‘bewaar ons veilig as ’n skat vir onsself ’n goeie fondament vir die toekoms, sodat ons ’n stewige houvas kan kry op die werklike lewe’—ewige lewe (1 Timoteus 6:12, 17-19). In die toekomstige nuwe wêreld wat God tot stand gaan bring, sal ons geestelike rykdom met fisiese seëninge gepaardgaan. Almal wat “na die stem van Jehovah . . . bly luister”, sal dan die werklike lewe geniet (Deuteronomium 28:2). Laat ons met groter vasbeslotenheid voortgaan om in onkreukbaarheid te wandel.

Wat het jy geleer?

• Waarom is dit onverstandig om te behep te wees met die toekoms?

• Watter seëninge geniet ons nou?

• Waarom ly God se getroue knegte?

[Studievrae]