Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

God se voorneme met die aarde sal binnekort vervul word

God se voorneme met die aarde sal binnekort vervul word

God se voorneme met die aarde sal binnekort vervul word

TOE Adam en Eva nog in die Paradys was, het hulle hierdie godgegewe opdrag ontvang: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit, en die visse van die see en die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees.”—Genesis 1:28.

Om die aarde te onderwerp, het meer behels as om net na ’n klein deeltjie daarvan om te sien. Adam en Eva en hulle nakomelinge moes die Paradys uitbrei totdat dit oor die hele aarde gestrek het. Die eerste mensepaar het egter gesondig en is uit die tuin van Eden uitgedryf (Genesis 3:23, 24). Maar dit het nie beteken dat die aarde nooit onderwerp sou word nie.

Omdat gehoorsame mense deur God geseën gaan word, sal hulle die aarde kan onderwerp. Wanneer die eertydse nasie Israel God se seën geniet het, het hulle landerye ryk oeste gelewer en hulle boorde pragtige vrugte gedra. Soortgelyke toestande sal heers wanneer ons planeet geleidelik in ’n paradys omskep word. Soos beloof word in God se geïnspireerde Woord, die Bybel, sal “die aarde . . . beslis sy opbrengs lewer; God, ons God, sal ons seën” (Psalm 67:6). Die aarde se grasvlaktes en berge, bome en blomme, riviere en oseane sal hulle as ’t ware verbly (Psalm 96:11-13; 98:7-9). Ons planeet sal vol geil plantegroei, kleurvolle voëls, pragtige diere en goedhartige mense wees.

Binnekort—’n nuwe wêreld!

Ons staan nou op die drumpel van ’n nuwe wêreld wat Jehovah God beloof het. “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag”, het die apostel Petrus geskryf, “en daarin sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:13). Nadat hulle hierdie woorde van Petrus gelees het, kom party dalk tot die slotsom dat hierdie planeet nooit ’n paradys sal word nie. Hulle meen moontlik dat die fisiese hemele en aarde vervang sal word. Kan dit wees?

Wat is die “nuwe hemele”? Dit is nie die fisiese hemele wat deur God geskep is nie (Psalm 19:1, 2). Petrus het in die vorige verse verwys na simboliese “hemele”—menseregerings wat verhef is bo hulle onderdane (2 Petrus 3:10-12). Hierdie “hemele” het misluk in hulle pogings om oor die mensdom te heers en sal tot niet gaan (Jeremia 10:23; Daniël 2:44). Hulle sal vervang word deur die “nuwe hemele”, God se Koninkryk wat bestaan uit die koning Jesus Christus en sy 144 000 mede-erfgename wat tot hemelse lewe opgewek word.—Romeine 8:16, 17; Openbaring 5:9, 10; 14:1, 3.

Die “nuwe aarde” waarvan Petrus melding gemaak het, is nie ’n nuwe planeet nie. Jehovah het die aarde volmaak gemaak vir die mens om vir ewig daarop te lewe (Psalm 104:5). Soms praat die Bybel van “die aarde” wanneer dit na mense verwys (Genesis 11:1). Die aarde wat binnekort vernietig sal word, bestaan uit mense wat hulleself deel van hierdie goddelose wêreld gemaak het. Op dieselfde wyse is ’n wêreld van goddelose mense in die Vloed van Noag se dag vernietig (2 Petrus 3:5-7). Wat is die “nuwe aarde” dan? Dit is ’n nuwe mensegemeenskap—God se ware aanbidders wat “opreg is in hulle hart” (Psalm 125:4; 1 Johannes 2:17). Alle wette vir die “nuwe aarde” sal van die “nuwe hemele” af kom. Getroue manne op aarde sal toesien dat hierdie opdragte uitgevoer word.

Nuwe en wonderlike dinge!

Jehovah het ons beslis ’n wonderlike tuiste gegee toe hy die aarde vir menselewe voorberei het. Hy het self gesê dat al sy werk op die aarde “baie goed” was (Genesis 1:31). Satan die Duiwel het Adam en Eva in opstand laat kom (Genesis 3:1-5; Openbaring 12:9). Maar God sal binnekort toesien dat die regskapenes “die werklike lewe” geniet. Dit is die “ewige lewe” onder volmaakte toestande in die Paradys (1 Timoteus 6:12, 19). Kom ons kyk nou na ’n paar van die seëninge wat mense gedurende daardie tyd sal geniet.

Gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy sal Satan aan bande gelê word en sal hy nie weë oor die mensdom kan bring nie. Die apostel Johannes sê: “Ek het ’n engel [die aartsengel Migael, of Jesus Christus] uit die hemel sien neerdaal met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp, die oorspronklike slang, wat die Duiwel en Satan is, en hom vir duisend jaar gebind. En hy het hom in die afgrond geslinger en dit gesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou mislei totdat die duisend jaar geëindig het nie” (Openbaring 20:1-3; 12:12). Terwyl Satan in die afgrond is, sal die mensdom nie net vry wees van sy invloed nie, maar hulle sal ook baie ander seëninge onder Koninkryksheerskappy geniet.

Goddeloosheid, geweld en oorlog sal iets van die verlede wees. Die Bybel beloof: “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede. Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon” (Psalm 37:10, 11, 29). Jehovah God sal ‘oorloë laat ophou tot aan die einde van die aarde’ (Psalm 46:9). Watter wonderlike versekering van veiligheid en vrede tog!

Daar sal ’n oorvloed gesonde en heerlike voedsel wees. “Daar sal volop graan op die aarde wees”, het die psalmis gesing. “Op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees” (Psalm 72:16). Niemand sal dan meer knaende hongerpyne hoef te verduur nie.

Niemand sal deur siektes en kwale geteister word nie. Trouens, “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jesaja 33:24; 35:5, 6). Toe Jesus Christus op die aarde was, het hy melaatses, kreupeles en blindes genees (Matteus 9:35; Markus 1:40-42; Johannes 5:5-9). Stel jou voor wat hy in die nuwe wêreld gaan doen! Dink aan hoe gelukkig almal sal wees wanneer die blindes, die dowes, die kreupeles en die stommes genees word.

Namate gehoorsame mense tot menslike volmaaktheid gebring word, sal die probleme wat met veroudering gepaardgaan, ongedaan gemaak word. Brille, kieries, krukke, rolstoele, hospitale en medisyne sal iets van die verlede wees. Dink net aan die veranderinge wat daar sal wees wanneer ons ons jeugdige krag herwin! (Job 33:25). Ons sal elke oggend wakker word ná ’n goeie nagrus, verkwik en gereed vir nog ’n dag van genotvolle werk.

Die opstanding van geliefdes en ander sal ons hart laat oorloop van vreugde (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Hoe opwindend sal dit tog wees om Abel, Noag, Abraham, Sara, Job, Moses, Rut, Dawid, Elia, Ester en nog baie meer te verwelkom! Miljoene ander sal ook opgewek word. Die meeste van hulle het nog nooit van Jehovah geleer nie, maar hulle sal verwelkom word deur mense wat gretig is om hulle omtrent God, sy voornemens en sy Seun, Jesus Christus, te leer. Wanneer verresenes hulle Skepper leer ken, sal die aarde waarlik vol wees van die kennis van Jehovah.

Die beste van alles is dat ons die enigste ware God vir ewig sal kan aanbid. Ons sal die voorreg hê om ‘Jehovah met blydskap te dien’, en ons sal harmonies saamwerk terwyl ons pragtige huise bou, die grond bewerk en uiteindelik die hele aarde onderwerp (Psalm 100:1-3; Jesaja 65:21-24). Wat ’n genot sal dit tog wees om vir ewig te lewe op ’n vrugbare, vreedsame en pragtige paradys wat eer aan Jehovah se heilige naam bring!—Psalm 145:21; Johannes 17:3.

’n Finale toets vir die mensdom

Gedurende sy Duisendjarige Heerskappy sal Jesus die voordele van sy losprysoffer ten behoewe van elke gehoorsame mens aanwend. Sodoende sal alle sonde mettertyd uit die weg geruim word, en die mensdom sal tot menslike volmaaktheid verhef word (1 Johannes 2:2; Openbaring 21:1-4). Wanneer die gevolge van Adam se sonde heeltemal uitgewis is, sal volmaakte mense aan God se fisiese, verstandelike, sedelike en geestelike standaarde voldoen. Hulle sal dus ‘lewend word’ in die volste sin van die woord wanneer hulle sondelose volmaaktheid bereik (Openbaring 20:5). Hoe sal hierdie toestand en die Paradysaarde Jehovah tog verheerlik!

Nadat Christus se Duisendjarige Heerskappy tot ’n einde gekom het, sal Satan die Duiwel en sy demone, of goddelose engele, vir ’n kort tydjie vrygelaat word uit die afgrond waarin hulle sowat tien eeue vroeër gegooi is (Openbaring 20:1-3). Hulle sal toegelaat word om ’n finale poging aan te wend om mense van God af te keer. Hoewel party mense aan verkeerde begeertes sal toegee, sal hierdie opstand misluk. Jehovah sal die selfsugtiges tesame met Satan en al sy demone vernietig. Goddeloosheid sal nooit weer kop uitsteek nie. Alle kwaaddoeners sal vir ewig van die toneel verdwyn, en die regverdiges sal die ewige lewe beërf.—Openbaring 20:7-10.

Sal jy daar wees?

Ewige geluk wag op diegene wat Jehovah God liefhet. Niks omtrent die ewige lewe in die Paradys sal vervelig wees nie. Trouens, die lewe sal met verloop van tyd al hoe interessanter word, want Jehovah God besit onbeperkte kennis (Romeine 11:33). Jy sal altyd iets nuuts kan leer, en jy sal oorgenoeg tyd hê om kennis in te neem. Waarom? Omdat jy nie net 70 of 80 jaar lank sal lewe nie, maar vir ewig.—Psalm 22:26; 90:10; Prediker 3:11.

As jy God liefhet, sal jy altyd groot vreugde daaruit put om sy wil te doen. Die apostel Johannes het geskryf: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Laat niks dus in jou pad staan om Jehovah God te behaag deur te doen wat regverdig is nie. Hou die wonderlike hoop in gedagte wat God se Woord, die Bybel, vir jou in die vooruitsig stel. Wees vasbeslote om Jehovah se wil te doen, en moet nooit van daardie weg afsien nie. Dan sal jy daar wees wanneer God se voorneme met die aarde vervul word en ons aardse tuiste ’n ewige paradys geword het.

[Prent op bladsy 4]

Met God se seën het Israel se landerye ryk oeste gelewer

[Prent op bladsy 7]

Watter seëninge hoop jy om in die Paradys te geniet?