Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy “vrymoedigheid van spraak”?

Het jy “vrymoedigheid van spraak”?

Het jy “vrymoedigheid van spraak”?

MEER as sesmiljoen mense in 235 lande geniet wat die Bybel “vrymoedigheid van spraak” noem. Die uitdrukking verskyn 16 keer in die teks van die Christelike Griekse Geskrifte van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif (Filippense 1:20; 1 Timoteus 3:13; Hebreërs 3:6; 1 Johannes 3:21). Wat behels “vrymoedigheid van spraak”? Wat help ons om dit te verkry? Op watter gebiede van kommunikasie stel hierdie vryheid ons in staat om ons vryelik uit te spreek?

Volgens Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words dui die Griekse term vir die uitdrukking “vrymoedigheid van spraak” op “vryheid van spraak, openhartigheid, . . . om moedig en sonder vrees te spreek; gevolglik op selfvertroue, opgeruimde moed, vrymoedigheid, en dit hou nie noodwendig met spraak verband nie”. Maar sulke uitgesprokenheid is nie dieselfde as om kortaf of onbeskof te wees nie. “Laat julle woorde altyd aangenaam wees”, sê die Bybel (Kolossense 4:6). Vrymoedigheid van spraak behels dat ons taktvol bly terwyl ons nie toelaat dat ontstellende omstandighede of mensevrees ons daarvan weerhou om te praat nie.

Is vrymoedigheid van spraak ons inherente reg? Beskou die woorde van die apostel Paulus aan die Christene in Efese. Hy het gesê: “Aan my, iemand wat geringer is as die geringste van alle heiliges, is hierdie onverdiende goedhartigheid gegee, sodat ek die goeie nuus oor die onpeilbare rykdom van die Christus aan die nasies bekend sou maak.” Paulus het bygevoeg dat dit deur middel van Jesus Christus is dat “ons hierdie vrymoedigheid van spraak en toegang met vertroue deur ons geloof in hom het” (Efesiërs 3:8-12). Vrymoedigheid van spraak is nie ’n aangebore reg nie, maar spruit voort uit ons verhouding met Jehovah God wat op geloof in Jesus Christus gegrond is. Kom ons kyk na wat ons kan help om hierdie vryheid te verkry en hoe ons dit aan die dag kan lê wanneer ons getuig, onderrig en bid.

Wat help ons om met vrymoedigheid te getuig?

Jesus Christus is die vernaamste voorbeeld van iemand wat vrymoedigheid van spraak aan die dag gelê het. Sy ywer het hom beweeg om geleenthede aan te gryp om te getuig. Of hy nou gerus het, by iemand se huis geëet het of op die pad geloop het, hy het nooit ’n geleentheid laat verbygaan om van God se Koninkryk te praat nie. Nie bespotting of direkte teenstand kon Jesus intimideer en hom laat stilbly nie. Hy het die valse godsdiensleiers van sy dag eerder moedig aan die kaak gestel (Matteus 23:13-36). Selfs toe Jesus in hegtenis geneem en verhoor is, het hy sonder vrees gepraat.—Johannes 18:6, 19, 20, 37.

Jesus se apostels het dieselfde uitgesprokenheid verkry. Op Pinkster 33 G.J. het Petrus met vrymoedigheid van spraak voor ’n skare van 3 000 mense gepraat. Dit is merkwaardig, aangesien hy net kort tevore teruggedeins het toe ’n diensmeisie hom herken het (Markus 14:66-71; Handelinge 2:14, 29, 41). Toe Petrus en Johannes voor godsdiensleiers gesleep is, het hulle nie ineengekrimp van vrees nie. Sonder om te huiwer, het hulle moedig aangaande die verrese Jesus Christus getuig. Trouens, dit was Petrus en Johannes se uitgesprokenheid wat daartoe gelei het dat die godsdiensleiers hulle herken het as manne wat saam met Jesus was (Handelinge 4:5-13). Wat het hulle in staat gestel om met sulke vrymoedigheid te praat?

Jesus het sy apostels belowe: “Wanneer hulle julle oorlewer, moet julle julle nie kwel oor hoe of wat julle moet sê nie; want wat julle moet sê, sal in daardie uur aan julle gegee word; want dit is nie net julle wat praat nie, maar dit is die gees van julle Vader wat deur julle praat” (Matteus 10:19, 20). Heilige gees het Petrus en ander gehelp om enige skugterheid of vrees te oorkom wat hulle daarvan kon weerhou om hulle vryelik uit te spreek. Die invloed van daardie kragtige gees kan ons op dieselfde wyse help.

Jesus het ook sy volgelinge die opdrag gegee om dissipels te maak. Dit is gepas, aangesien hy die Een is wat “alle gesag in die hemel en op die aarde” ontvang het. En ‘hy is met hulle’ (Matteus 28:18-20). Die vroeë dissipels was bewus van Jesus se ondersteuning, en dit het hulle die moed gegee wanneer hulle voor owerhede te staan gekom het wat daarop uit was om hulle predikingswerk stop te sit (Handelinge 4:18-20; 5:28, 29). As ons daarvan bewus is, kan dit vir ons dieselfde doen.

Paulus identifiseer nog ’n rede vir uitgesprokenheid deur hoop met “groot vrymoedigheid van spraak” te assosieer (2 Korintiërs 3:12; Filippense 1:20). Aangesien die boodskap van hoop te goed was om vir hulleself te hou, moes Christene eenvoudig ander daarvan vertel. Ons hoop gee ons beslis ’n rede om vrymoedigheid van spraak aan die dag te lê.—Hebreërs 3:6.

Getuig met vrymoedigheid

Hoe kan ons met vrymoedigheid getuig selfs onder omstandighede wat ons moontlik kan intimideer? Beskou die voorbeeld van die apostel Paulus. Terwyl hy ’n gevangene in Rome was, het hy medegelowiges gevra om te bid dat ‘die vermoë om te spreek aan hom gegee sal word wanneer hy sy mond oopmaak, sodat hy met vrymoedigheid kan spreek soos hy behoort te spreek’ (Efesiërs 6:19, 20). Is daardie gebede verhoor? Ja! Terwyl Paulus in die gevangenis was, het hy voortgegaan om “die koninkryk van God [te] verkondig . . . met die grootste vrymoedigheid van spraak, sonder enige verhindering”.—Handelinge 28:30, 31.

Ons vrymoedigheid van spraak kan op die proef gestel word wanneer ons geleenthede kry om ’n getuienis te gee by die werk, by die skool of terwyl ons reis. Skugterheid, onsekerheid oor die reaksie wat ons dalk sal kry of ’n gebrek aan vertroue in ons vermoë kan ons laat stilbly. Die apostel Paulus stel weer eens vir ons ’n goeie voorbeeld in dié verband. “Deur middel van ons God [het ons] die vrymoedigheid bymekaargeskraap . . . om met groot worsteling die goeie nuus van God tot julle te spreek” (1 Tessalonisense 2:2). Dit is slegs omdat Paulus op Jehovah vertrou het dat hy in staat was om te doen wat hy nie andersins op sy eie sou kon doen nie.

Gebed het ’n vrou met die naam Sherry gehelp om die vrymoedigheid bymekaar te skraap toe ’n geleentheid vir informele getuieniswerk hom voorgedoen het. Eendag terwyl sy vir haar man gewag het om van ’n afspraak terug te kom, het sy ’n vrou gesien wat ook wag. “Met ’n groot knop in my keel”, het Sherry gesê, “het ek tot Jehovah gebid vir moed.” Net toe Sherry die vrou nader, het ’n Baptistepredikant daar opgedaag. Sherry het nie verwag dat sy ’n geestelike sou teëkom nie. Sy het egter weer gebid en kon ’n getuienis gee. Sy het lektuur by die vrou gelaat en reëlings getref vir ’n herbesoek. Wanneer ons geleenthede aangryp om ’n getuienis te gee, kan ons daarvan seker wees dat vertroue op Jehovah ons sal help om met vrymoedigheid te spreek.

Wanneer ons onderrig

Vrymoedigheid van spraak hou ten nouste verband met onderrigting. Aangaande “die manne wat goed dien” in die gemeente, sê die Bybel: “[Hulle] verwerf vir hulleself ’n goeie reputasie en groot vrymoedigheid van spraak in die geloof in verband met Christus Jesus” (1 Timoteus 3:13). Hulle verkry hierdie vrymoedigheid van spraak deur self die dinge toe te pas wat hulle ander leer. Sodoende word die gemeente beskerm en versterk.

Wanneer ons hierdie soort vrymoedigheid van spraak het, is ons raad doeltreffender en is die kanse groter dat ander dit sal volg. Luisteraars se aandag sal dan nie deur ’n swak voorbeeld afgelei word nie, maar hulle sal eerder aangemoedig word omdat hulle ’n praktiese toepassing sien van wat hulle geleer word. Hierdie vrymoedigheid stel dié wat geestelik bekwaam is, in staat om ‘hulle broer reg te help’ voor ’n probleem vererger (Galasiërs 6:1). In teenstelling hiermee sal iemand wat ’n swak voorbeeld stel, dalk huiwer om raad te gee omdat hy besef dat hy geen reg het om iets te sê nie. Die feit dat die nodige raad nie sonder versuim gegee is nie, kan rampspoedige gevolge hê.

Om met vrymoedigheid te praat, beteken nie dat ons krities, dogmaties of eiewys word nie. Paulus het Filemon “op grond van liefde” vermaan (Filemon 8, 9). En die apostel se woorde het blykbaar ’n gunstige reaksie uitgelok. Ja, liefde moet die dryfkrag agter enige raad wees wat ’n ouer man gee!

Vrymoedigheid van spraak is beslis noodsaaklik wanneer raad gegee moet word. Dit is ook op ander tye belangrik. Paulus het aan die gemeente in Korinte geskryf: “Ek het groot vrymoedigheid van spraak teenoor julle. Ek roem grootliks met betrekking tot julle” (2 Korintiërs 7:4). Paulus het nie gehuiwer om sy broers en susters te prys wanneer dit gepas was nie. Liefde het hom beweeg om op die goeie eienskappe van medegelowiges te konsentreer, al was hy bewus van hulle tekortkominge. Die Christengemeente word vandag ook opgebou wanneer ouer manne hulle broers en susters vryelik prys en aanmoedig.

Alle Christene moet vrymoedigheid van spraak hê as hulle doeltreffend in hulle onderrigting wil wees. Sherry, wat vroeër genoem is, wou haar kinders aanmoedig om by die skool te getuig. “Hoewel ek in die waarheid grootgemaak is”, erken sy, “het ek selde by die skool getuig. En ek getuig omtrent glad nie informeel nie. Ek het my afgevra: ‘Watter soort voorbeeld stel ek vir my kinders?’” Dit het Sherry beweeg om ’n groter poging aan te wend om informeel te getuig.

Ja, ander sien wat ons doen en merk op as ons dade nie met ons woorde strook nie. Laat ons dus vrymoedigheid van spraak verkry deur daarna te streef om ons dade en woorde met mekaar te laat ooreenstem.

In gebed

Vrymoedigheid van spraak is veral belangrik wanneer ons tot Jehovah bid. Ons kan ons hart vryelik voor Jehovah uitstort, in die vertroue dat hy na ons gebede luister en dit sal verhoor. Sodoende geniet ons ’n hartlike, hegte verhouding met ons hemelse Vader. Ons moet nooit huiwer om Jehovah te nader omdat ons dink dat ons te onbelangrik is nie. Sê nou ons voel skuldig oor een of ander tekortkoming of sonde en dit weerhou ons daarvan om ons gevoelens uit te spreek. Kan ons nog steeds die Soewerein van die heelal vryelik nader?

Jesus se verhewe posisie as Hoëpriester gee ons verdere rede om met vertroue te bid. In Hebreërs 4:15, 16 lees ons: “Ons het as ’n hoëpriester nie iemand wat nie met ons swakhede kan simpatiseer nie, maar iemand wat in alle opsigte soos ons op die proef gestel is, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid van spraak tot die troon van onverdiende goedhartigheid nader, sodat ons barmhartigheid kan verkry en onverdiende goedhartigheid kan vind vir hulp op die regte tyd.” Dit is hoe waardevol Jesus se dood en sy rol as Hoëpriester is.

As ons hard probeer om Jehovah te gehoorsaam, het ons alle rede om te verwag dat hy ons gebede sal verhoor. Die apostel Johannes het geskryf: “Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid van spraak teenoor God; en wat ons ook al vra, ontvang ons van hom, omdat ons sy gebooie bewaar en die dinge doen wat in sy oë welbehaaglik is.”—1 Johannes 3:21, 22.

Onbeperkte toegang tot Jehovah in gebed beteken dat ons hom enigiets kan vertel. Ongeag watter vrese, bekommernisse of kwellinge ons mee te kampe het, ons kan hulle na Jehovah in gebed neem, vol vertroue dat hy altyd na ons opregte gebede sal luister. Selfs al het ons ernstig gesondig, as ons opreg berouvol is, hoef skuldgevoelens nie ons gebede te verhinder nie.

Die onverdiende gawe van vrymoedigheid van spraak is beslis kosbaar. Ons kan God daarmee verheerlik in ons predikings- en onderrigtingswerk en steeds nader aan hom kom in gebed. Laat ons nie ons “vrymoedigheid van spraak, wat ’n groot beloning inhou”, naamlik ewige lewe, “weggooi nie”.—Hebreërs 10:35.

[Prent op bladsy 13]

Die apostel Paulus het met vrymoedigheid gespreek

[Prente op bladsy 15]

Vrymoedigheid van spraak is ’n vereiste vir doeltreffende onderrigting

[Prent op bladsy 16]

Vrymoedigheid van spraak in gebed is noodsaaklik