Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jy voorbereid vir oorlewing?

Is jy voorbereid vir oorlewing?

Is jy voorbereid vir oorlewing?

“Gaan in die ark in, jy en jou hele huisgesin, want jy, het ek gesien, is regverdig voor my in hierdie geslag.”—GENESIS 7:1.

1. Watter voorsiening vir oorlewing het Jehovah in die dae van Noag gemaak?

 IN DIE dae van Noag het Jehovah “’n watervloed oor ’n wêreld van goddelose mense gebring”, maar Hy het ook voorsiening gemaak vir oorlewing (2 Petrus 2:5). Die ware God het die regverdige man Noag duidelike opdragte gegee oor hoe om ’n ark te bou vir die behoud van lewe deur ’n wêreldwye vloed heen (Genesis 6:14-16). Soos ons van ’n pligsgetroue kneg van Jehovah sou verwag, het “Noag . . . gedoen volgens alles wat God hom beveel het”. Trouens, “hy het net so gedoen”. Die feit dat ons vandag lewe, is deels te danke aan Noag se gehoorsaamheid.—Genesis 6:22.

2, 3. (a) Hoe het Noag se tydgenote op sy werk gereageer? (b) Met watter vertroue het Noag in die ark ingegaan?

2 Dit was geen geringe taak om die ark te bou nie. Baie mense was heel waarskynlik verbaas oor wat Noag en sy familie uitgerig het. Maar dit was nie genoeg om hulle te oortuig dat redding daarvan afgehang het dat hulle in die ark ingaan nie. Eindelik het God se geduld met daardie goddelose wêreld opgeraak.—Genesis 6:3; 1 Petrus 3:20.

3 Ná dekades van veeleisende werk deur Noag en sy gesin het Jehovah vir Noag gesê: “Gaan in die ark in, jy en jou hele huisgesin, want jy, het ek gesien, is regverdig voor my in hierdie geslag.” Met geloof en vertroue in Jehovah se woord het “Noag . . . ingegaan, en sy seuns en sy vrou en sy seuns se vrouens . . . saam met hom”. Jehovah het die deur toegemaak om sy aanbidders te beskerm. Toe die Vloed oor die aarde gekom het, was die ark God se betroubare voorsiening vir oorlewing.—Genesis 7:1, 7, 10, 16.

Hedendaagse parallelle met Noag se dag

4, 5. (a) Waarmee het Jesus die tyd van sy teenwoordigheid vergelyk? (b) Watter parallelle bestaan tussen Noag se dag en ons tyd?

4 “Net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees” (Matteus 24:37). Met hierdie woorde het Jesus getoon dat die tyd van sy onsigbare teenwoordigheid soortgelyk aan die dae van Noag sou wees, en dit is ook so. Veral sedert 1919 word ’n waarskuwingsboodskap wat soortgelyk is aan die een wat Noag verkondig het, aan die mense van al die nasies bekend gemaak. Oor die algemeen is hulle reaksie soortgelyk aan dié van mense in Noag se dag.

5 Deur middel van die Vloed het Jehovah opgetree teen ’n wêreld “vol geweld” (Genesis 6:13). Almal kon duidelik sien dat Noag en sy gesin geen deel gehad het aan daardie geweld nie, maar dat hulle vreedsaam voortgegaan het met die werk om ’n ark te bou. Hier sien ons ook ’n parallel met ons dag. Opregte mense kan nou “die onderskeid sien tussen ’n regverdige en ’n goddelose, tussen iemand wat God dien en iemand wat hom nie gedien het nie” (Maleagi 3:18). Die eerlikheid, goedhartigheid, vreedsaamheid en ywer wat Jehovah se Getuies aan die dag lê, word deur onbevooroordeelde waarnemers bewonder, en hierdie eienskappe onderskei God se volk van die wêreld oor die algemeen. Die Getuies verwerp alle vorme van geweld en laat hulle deur Jehovah se gees aandryf. Daarom word hulle geseën met vrede en volg hulle ’n regverdige weg.—Jesaja 60:17.

6, 7. (a) Wat het mense in Noag se dag nie besef nie, en hoe is dit vandag ook die geval? (b) Watter voorbeelde toon dat Jehovah se Getuies oor die algemeen as anders beskou word?

6 Noag se tydgenote het nie besef dat Noag goddelike ondersteuning gehad het en onder God se leiding opgetree het nie. Hulle het dus nie sy prediking ernstig opgeneem en op sy waarskuwingsboodskap ag geslaan nie. Wat van vandag? Hoewel die werk en gedrag van Jehovah se Getuies baie mense beïndruk, neem die meeste nie die goeie nuus en die Bybel se waarskuwings ernstig op nie. Bure, werkgewers of familielede praat moontlik met lof van die goeie eienskappe van ware Christene, maar kla dan: “As hulle maar net nie Jehovah se Getuies was nie!” Wat hierdie waarnemers oor die hoof sien, is dat die Getuies eienskappe soos liefde, vrede, goedhartigheid, goedheid, sagmoedigheid en selfbeheersing aan die dag lê omdat hulle deur God se heilige gees gelei word (Galasiërs 5:22-25). Dit behoort hulle boodskap selfs geloofwaardiger te maak.

7 In Rusland, byvoorbeeld, het Jehovah se Getuies ’n Koninkryksaal gebou. ’n Man wat gestop het om met een van die werkers te praat, het gesê: “Wat ’n vreemde bouterrein—niemand rook nie, niemand vloek nie, en almal is nugter! Is julle dalk Jehovah se Getuies?” Die werker het vir hom gevra: “As ek gesê het ons is nie, sou jy my glo?” Die man het gou geantwoord: “Nie regtig nie.” In ’n ander Russiese stad was die burgemeester baie beïndruk toe hy sien hoe die Getuies hulle nuwe Koninkryksaal bou. Hy het gesê dat hy aanvanklik gedink het alle godsdiensgroepe is dieselfde, maar noudat hy die opregte onselfsugtigheid van Jehovah se Getuies in aksie gesien het, dink hy nie meer so nie. Dit is maar net twee voorbeelde wat toon dat Jehovah se knegte anders is as dié wat nie by Bybelstandaarde bly nie.

8. Waarvan hang ons oorlewing van die einde van hierdie goddelose wêreld af?

8 Gedurende die laaste dae van die “eertydse wêreld” wat in die Vloed vergaan het, was Noag ’n getroue “prediker van geregtigheid” (2 Petrus 2:5). In hierdie laaste dae van die teenswoordige stelsel van dinge maak Jehovah se volk God se regverdige standaarde bekend en verkondig hulle die goeie nuus oor die moontlikheid om tot in die nuwe wêreld behoue te bly (2 Petrus 3:9-13). Soos in die geval van Noag en sy godvresende gesin wat in die ark bewaar is, hang die oorlewing van individue vandag af van hulle geloof en lojale omgang met die aardse deel van Jehovah se universele organisasie.

Geloof nodig vir redding

9, 10. Waarom is geloof noodsaaklik as ons die einde van Satan se stelsel van dinge wil oorleef?

9 Wat moet ’n mens doen om die naderende vernietiging van hierdie wêreld, wat in Satan se mag lê, te oorleef? (1 Johannes 5:19). Hy moet eerstens besef dat beskerming nodig is. Dan moet hy van daardie beskerming gebruik maak. Die mense van Noag se dag het hulle daaglikse lewe gelei op die manier waaraan hulle gewoond was en het glad nie die nodigheid gesien vir enige beskerming teen naderende gevaar nie. Hulle het iets anders kortgekom—geloof in God.

10 Aan die ander kant het Noag en sy gesin besef dat hulle beskerming en redding nodig het. Hulle het ook geloof beoefen in die Universele Soewerein, Jehovah God. “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir [Jehovah] welbehaaglik te wees”, het die apostel Paulus geskryf, “want hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.” Paulus het bygevoeg: “Deur geloof het Noag, nadat hy ’n goddelike waarskuwing gegee is oor dinge wat nog nie gesien is nie, godvrugtige vrees aan die dag gelê en ’n ark gebou tot redding van sy huisgesin; en deur hierdie geloof het hy die wêreld veroordeel, en hy het ’n erfgenaam geword van die regverdigheid wat volgens geloof is.”—Hebreërs 11:6, 7.

11. Wat kan ons leer uit hoe Jehovah in die verlede beskerming voorsien het?

11 Om die einde van die teenswoordige goddelose stelsel van dinge te oorleef, moet ons meer doen as om net te glo dat dit vernietig gaan word. Ons moet geloof beoefen en God se voorsienings vir oorlewing ten volle benut. Ons moet natuurlik geloof beoefen in die losprysoffer van God se Seun, Jesus Christus (Johannes 3:16, 36). Dit sal egter goed wees om te onthou dat slegs dié wat binne-in Noag se ark was, die Vloed oorleef het. Net so het die vrystede in eertydse Israel alleenlik beskerming voorsien aan die onopsetlike moordenaar as hy onmiddellik na een van hierdie stede gevlug het en dan tot die dood van die hoëpriester binne-in die stad gebly het (Numeri 35:11-32). In die tiende plaag oor Egipte in Moses se dag is die eersgeborenes van die Egiptenaars doodgemaak, maar dié van die Israeliete is gespaar. Waarom? Jehovah het vir Moses gesê: “Hulle [die Israeliete] moet van die bloed [van die Pasgalam] neem en die twee deurposte en die boonste deel van die deuropening van die huise waarin hulle dit sal eet, daarmee bespat. . . . En niemand van julle mag tot die oggend toe by die ingang van sy huis uitgaan nie” (Eksodus 12:7, 22). Watter eersgeborene onder die Israeliete sou dit waag om sulke godgegewe instruksies te ignoreer en by ’n huis uit te gaan wat gemerk was met die bloed wat teen die twee deurposte en die boonste deel van die deuropening gespat is?

12. Watter vraag moet elkeen van ons ons afvra, en waarom?

12 Ons het gevolglik goeie rede om goed na te dink oor ons persoonlike situasie. Kan ons werklik sê dat ons as ’t ware binne-in Jehovah se reëling vir geestelike beskerming is? Wanneer die groot verdrukking aanbreek, sal diegene wat hierdie beskerming gesoek het, trane van vreugde en dankbaarheid stort. Vir ander sal daar net trane van droefheid en spyt wees.

Progressiewe aanpassings berei ons voor

13. (a) Wat is deur organisatoriese aanpassings bereik? (b) Verduidelik party van die progressiewe verfynings.

13 Jehovah het progressiewe aanpassings in die aardse deel van sy organisasie teweeggebring. Dit het sy reëling vir ons geestelike beskerming aantreklik gemaak, gestabiliseer en versterk. Van die 1870’s af tot 1932 is ouer manne en diakens deur lede van die gemeente in hulle amp verkies. In 1932 is die verkose ouer manne vervang deur ’n dienskomitee wat deur die gemeente verkies is om ’n aangestelde diensleier by te staan. Gedurende 1938 is reëlings getref om alle knegte in die gemeente teokraties aan te stel. Onder leiding van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies word daar sedert 1972 aanbevelings gemaak en, as dit goedgekeur word, ontvang die gemeentes briewe waardeur opsieners en bedieningsknegte teokraties aangestel word. Deur die jare heen het die rol wat die Bestuursliggaam speel, uitgebrei, en veranderinge is gemaak om hulle met hulle werk te help.

14. Watter opleidingsprogram het in 1959 begin?

14 In 1950 het ’n noukeurige ondersoek van Psalm 45:16 aanleiding gegee tot ’n voortdurende opleidingsprogram. Daardie teks sê: “In die plek van u voorvaders sal u seuns wees, wat u as vorste op die hele aarde sal aanstel.” Ouer manne wat nou in die gemeente die leiding neem, word opgelei om nou, sowel as ná Armageddon, teokratiese pligte na te kom (Openbaring 16:14, 16). Die Koninkryksbedieningskool is in 1959 gestig. ’n Maand lange opleidingskursus is aangebied, hoofsaaklik vir gemeenteknegte, soos presiderende opsieners destyds genoem is. Hierdie skool is nou uitgebrei om alle opsieners en bedieningsknegte te onderrig. Hierdie broers neem op hulle beurt die leiding daarin om individuele Getuies van Jehovah in hulle onderskeie gemeentes op te lei. Almal word dus geestelik gehelp en ontvang ook hulp om bekwamer te word in hulle bediening as verkondigers van die goeie nuus van die Koninkryk.—Markus 13:10.

15. Wat is twee maniere waarop die reinheid van die Christengemeente bewaar word?

15 Individue wat ’n deel van die Christengemeente wil word, moet aan sekere vereistes voldoen. Logieserwys word hedendaagse spotters buite gehou, net soos daar geen plek vir sulke persone in Noag se ark was nie (2 Petrus 3:3-7). Veral van 1952 af het Jehovah se Getuies al hoe meer ondersteuning gegee aan ’n reëling wat help om die gemeente te beskerm—naamlik die uitsetting van onberouvolle sondaars. Oortreders wat werklik berouvol is, word natuurlik liefdevol gehelp “om reguit paaie vir [hulle] voete te maak”.—Hebreërs 12:12, 13; Spreuke 28:13; Galasiërs 6:1.

16. Wat is die geestelike toestand van Jehovah se volk?

16 Die geestelik voorspoedige toestand van Jehovah se volk is nie verrassend of toevallig nie. Deur die profeet Jesaja het Jehovah gesê: “Kyk! My knegte sal eet, maar julle sal honger ly. Kyk! My knegte sal drink, maar julle sal dors wees. Kyk! My knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan. Kyk! My knegte sal met vreugde uitroep weens die goeie toestand van die hart, maar julle sal skreeu weens die pyn in die hart en weeklaag weens die verbreking van gees” (Jesaja 65:13, 14). Jehovah voorsien steeds vir ons ’n oorvloed van tydige en heilsame geestelike voedsel wat ons geestelik sterk hou.—Matteus 24:45.

Wees voorbereid vir oorlewing

17. Wat sal ons help om vir oorlewing voor te berei?

17 Dit is nou, soos nog nooit tevore nie, die tyd om ‘op mekaar ag te gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering na te laat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aan te moedig’ (Hebreërs 10:23-25). As ons noue omgang geniet met en bedrywig bly saam met een van die meer as 98 000 gemeentes van Jehovah se Getuies, sal dit ons help om ons vir oorlewing voor te berei. Ons sal die ondersteuning van medegelowiges hê terwyl ons “die nuwe persoonlikheid” aan die dag probeer lê en heelhartige pogings aanwend om ander te help om van Jehovah se voorsiening vir redding te leer.—Efesiërs 4:22-24; Kolossense 3:9, 10; 1 Timoteus 4:16.

18. Waarom is jy vasbeslote om na aan die Christengemeente te bly?

18 Satan en sy bose wêreld wil ons baie graag van die Christengemeente af weglok. Maar ons kan ’n deel daarvan bly en die einde van die teenswoordige goddelose stelsel van dinge oorleef. Mag liefde vir Jehovah en dankbaarheid vir sy liefdevolle voorsienings ons aanspoor om meer vasbeslote as ooit te wees om Satan se pogings in die wiele te ry. As ons peins oor die seëninge wat ons vandag geniet, sal dit ons groter vasbeslotenheid gee. Party van hierdie seëninge sal in die volgende artikel bespreek word.

Wat is jou antwoorde?

• Hoe is ons tye soortgelyk aan Noag se dag?

• Watter eienskap is noodsaaklik vir oorlewing?

• Watter progressiewe aanpassings het Jehovah se reëling vir ons beskerming versterk?

• Hoe kan ons ons vir oorlewing voorberei?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 22]

Noag se tydgenote het hom nie ernstig opgeneem nie

[Prent op bladsy 23]

Dit hou voordele in om God se waarskuwingsboodskappe ernstig op te neem

[Prent op bladsy 24]

Wat is die doel van die Koninkryksbedieningskool?

[Prent op bladsy 25]

Dit is nou die tyd om na aan die Christengemeente te bly