Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat is God se voorneme met die aarde?

Wat is God se voorneme met die aarde?

Wat is God se voorneme met die aarde?

WAAROM geniet jy dit om in ’n park of deur ’n veld met geurige blomme te loop? Waarom raak jy opgewonde wanneer jy ’n pragtige meer of majestueuse berge met hulle pieke in die wolke sien? Waarom staan jy stil om na die vrolike sang van voëltjies hoog in die bome te luister? En waarom is dit so genotvol om ’n grasieuse takbok te sien hardloop of ’n trop skape in ’n veld te sien wei?

Daar is een antwoord op al hierdie vrae. Ons is gemaak om in die Paradys te lewe! Dit is waar ons eerste ouers, Adam en Eva, hulle lewe begin het. Ons het ons begeerte om in die Paradys te lewe, by hulle gekry, en hulle het dit by hulle Skepper, Jehovah God, gekry. Hy het geweet dat ons gelukkig sou wees in die Paradys omdat hy ons geskep het met die eienskappe wat nodig is om so ’n wonderlike aardse tuiste te geniet.

Waarom het Jehovah die aarde geskep? Hy het ‘dit gevorm om bewoon te word’ deur mense (Jesaja 45:18). “Die Maker van die aarde” het aan Adam en Eva ’n pragtige paradystuiste gegee, die tuin van Eden (Jeremia 10:12; Genesis 2:7-9, 15, 21, 22). Hoe moes hulle hulle tog verlustig het in die strome, blomme en bome! Sierlike voëls het in die lug gesweef, en daar was verskillende soorte diere op land—en nie een van hulle het ’n gevaar vir mense ingehou nie. Visse en ander skepsele het in die aarde se helder, skoon waters rondgeswem. Die beste van alles is dat Adam en Eva mekaar gehad het. Hulle kon kinders voortbring en hulle Paradystuiste uitbrei terwyl hulle vreugdevolle assosiasie geniet met hulle groeiende gesin .

Hoewel die aarde nie vandag ’n paradys is nie, kan dit vergelyk word met die aangename tuiste van ’n gelukkige gesin. Ons godgegewe aardse tuiste het alles wat ons nodig het—lig, hitte, water en voedsel. Hoe waardeer ons tog die son se lig en hitte en die sagte glans van die maanlig in die aand! (Genesis 1:14-18). In die aarde se kelder is daar brandstowwe, soos steenkool en olie, wat ons kan gebruik vir verhitting. Danksy die waterkringloop en die aarde se stelsel van riviere, mere en oseane het ons water. En die aarde word deur ’n groen grastapyt bedek.

Net soos daar voedsel in ’n huis gebêre word, word daar ’n oorvloed in die aarde se spens gevind. Deur middel van gewasse op landerye en vrugte in boorde gee Jehovah ons ‘vrugbare tye en vul hy ons harte met vrolikheid’ (Handelinge 14:16, 17). Aangesien die aarde reeds so ’n aangename tuiste is, kan jy jou net voorstel hoe dit sal wees wanneer “die gelukkige God”, Jehovah, dit in ’n paradys omskep!—1 Timoteus 1:11.

[Foto-erkenning op bladsy 2]

VOORBLAD: Aarde: NASA photo; sterre: NASA, ESA and AURA/Caltech