Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Moedige poging om die verspreiding van die Bybel te bevorder

’n Moedige poging om die verspreiding van die Bybel te bevorder

’n Moedige poging om die verspreiding van die Bybel te bevorder

Hy het sy laaste asem uitgeblaas op die yskoue steppe van Oos-Siberië, beswadder en verneder. Min weet dat hy een van die hooffigure in die geestelike vooruitgang van sy Griekse landgenote was. Die naam van hierdie geïgnoreerde pionier was Serafim. Sy moedige poging om die verspreiding van die Bybel te bevorder, het tot sy dood bygedra.

SERAFIM het gelewe in die tyd toe Griekeland deel was van die Ottomaanse Ryk. Volgens die Grieks-Ortodokse geleerde George Metallinos is daardie tydperk gekenmerk deur “’n tekort aan geskikte skole” en “’n gebrek aan opvoeding onder die meeste mense”, waaronder selfs die geestelikes.

Daar was ’n kloof tussen Koine- (gewone) Grieks en die omgangstaal, met al sy variante. Daardie kloof het so wyd geword dat Koine, waarin die Christelike Griekse Geskrifte geskryf is, nie meer verstaan is deur diegene wat geen formele opvoeding gehad het nie. In die geskil wat hieruit voortgespruit het, het die kerk gekies om die onverstaanbare Koine-Grieks te bevorder.

In hierdie klimaat is Stefanos Ioannis Pogonatus in ongeveer 1670 vir ’n welbekende gesin op die eiland Lesbos, Griekeland, gebore. Armoede en ongeletterdheid was baie algemeen op die eiland. Omdat daar so min skole was, moes Stefanos sy basiese opvoeding by ’n plaaslike klooster ontvang. Hy is op ’n baie jong ouderdom as ’n diaken in die Grieks-Ortodokse Kerk georden en die naam Serafim gegee.

In ongeveer 1693 het Serafim se dors na kennis hom na Konstantinopel (nou Istanboel, Turkye) geneem. Mettertyd het sy vaardighede hom die respek van vooraanstaande Grieke gewen. Kort voor lank het ’n geheime Griekse nasionalistiese beweging hom as ’n afgesant na tsaar Pieter die Grote van Rusland gestuur. Serafim se reis na Moskou toe en terug het hom deur ’n groot deel van Europa geneem, waar hy blootgestel is aan winde van godsdiens- en intellektuele hervorming. In 1698 het Serafim na Engeland gereis en belangrike kontakte in Londen en Oxford opgebou. Hy is voorgestel aan die aartsbiskop van Kantelberg, die hoof van die Anglikaanse Kerk, ’n kontak wat weldra vir Serafim van nut sou wees.

Hy publiseer ’n Bybel

Terwyl Serafim in Engeland was, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat die Grieke ’n dringende behoefte het aan ’n nuwe, maklik verstaanbare vertaling van die “Nuwe Testament” (Christelike Griekse Geskrifte). Serafim het aan ’n vars, foutlose, maklik verstaanbare vertaling begin werk en gebruik gemaak van die monnik Maximus se vertaling wat meer as ’n halwe eeu vroeër uitgegee is. Hy het geesdriftig met sy werk begin, maar sy fondse het gou opgedroog. Die vooruitsigte het rooskleuriger gelyk toe die aartsbiskop van Kantelberg belowe het om die nodige finansiële bystand te verleen. Aangespoor deur hierdie ondersteuning het Serafim drukpapier gekoop en met ’n drukker onderhandel.

Die drukwerk het egter net tot by die helfte van die Evangelieverslag van Lukas gevorder. Toe het politieke veranderinge in Engeland daartoe gelei dat die aartsbiskop van Kantelberg enige verdere geldelike ondersteuning terugtrek. Serafim het hom nie daardeur laat ontmoedig nie, en hy het welgestelde borge gevind en sy hersiene vertaling in 1703 gepubliseer. ’n Deel van die koste is deur die Genootskap vir die Verspreiding van die Evangelie in die Buiteland gedek.

Maximus se ouer vertaling, wat uit twee boeke bestaan het, het die oorspronklike Griekse teks ingesluit. Dit was groot en swaar. Serafim se hersiene vertaling is in ’n kleiner font geset, het slegs die moderne Griekse vertaling bevat en was dunner en goedkoper.

’n Geskil word aangeblaas

“Hierdie bygewerkte publikasie het ongetwyfeld in ’n ware behoefte van die mense voorsien”, sê die geleerde George Metallinos. “Maar Serafim het die geleentheid aangegryp om die groep geestelikes aan te val wat [Bybel]vertaling teëgestaan het.” Die geestelikes was woedend toe Serafim in die voorwoord gesê het dat sy vertaling ‘spesifiek vir sommige priesters en sekere ouderlinge is wat nie [Koine-]Grieks verstaan nie, sodat hulle met die hulp van die Allerheilige Gees iets van die oorspronklike teks kan lees en verstaan en dit aan gewone Christene kan oordra’ (The Translation of the Bible Into Modern Greek—During the 19th Century). Serafim het hom sodoende in die maalstroom begewe waarin die Grieks-Ortodokse Kerk hom bevind het wat Bybelvertaling betref.

Aan die een kant was daar diegene wat besef het dat die geestelike en sedelike ontwikkeling van mense afhang van blootstelling aan die Bybel. Hulle het ook gevoel dat lede van die geestelikeklas hulle eie kennis van die Skrif moes opknap. Daarbenewens het voorstanders van Bybelvertaling gemeen dat skriftuurlike waarhede in enige taal uitgedruk kan word.—Openbaring 7:9.

Diegene wat Bybelvertaling teëgestaan het, het dit onder die voorwendsel gedoen dat enige vertaling van die Bybel die inhoud daarvan sou afwater en die kerk se gesag oor interpretasie en dogma ongeldig sou maak. Maar hulle eintlike vrees was dat Protestante die vertaling van die Bybel gebruik om die gesag van die Grieks-Ortodokse Kerk te ondermyn. Baie geestelikes het gedink dat dit hulle plig is om enige neiging teë te staan wat dalk simpatiek teenoor Protestante was, insluitende pogings om die Bybel vir gewone mense verstaanbaar te maak. Bybelvertaling het dus die grootste knelpunt in die konflik tussen Protestantisme en ortodoksie geword.

Hoewel Serafim glad nie van plan was om die Ortodokse Kerk te verlaat nie, het hy hom teen die onkunde en skynheiligheid van sy kerklike teenstanders uitgespreek. In die voorwoord van sy “Nuwe Testament” het hy geskryf: “Elke godvresende Christen moet die Heilige Bybel lees” sodat hy “’n navolger van Christus en gehoorsaam aan [sy] leringe kan word.” Serafim het volgehou dat dit uit die Duiwel is om die studie van die Skrif te verbied.

’n Golf van teenstand

Toe Serafim se vertaling Griekeland bereik het, het dit die godsdiensgemeenskap se toorn uitgelok. Die nuwe vertaling is verbied. Kopieë van die vertaling is verbrand, en enigiemand wat dit besit of gelees het, is met ekskommunikasie gedreig. Die kerkvader Gabriël III het die verspreiding van Serafim se vertaling verbied en gesê dat dit onnodig en nutteloos is.

Hoewel Serafim nie hoop verloor het nie, het hy besef dat hy versigtig moet wees. Ondanks die amptelike verbod deur die kerk het ’n aantal geestelikes en leke sy vertaling met ope arms aanvaar. Hy het die vertaling met groot sukses versprei. Maar sy stryd teen magtige teenstanders was nog lank nie verby nie.

Die begin van die einde

Behalwe dat Serafim Bybelverspreiding bevorder het, het hy ook by revolusionêre en nasionalistiese bewegings betrokke geraak. Om hiermee voort te gaan, het hy in die somer van 1704 na Moskou teruggekeer. Hy het een van Pieter die Grote se vertrouelinge geword en was ’n ruk lank professor aan die Russiese Koninklike Akademie. Maar omdat Serafim bekommerd was oor wat dalk met sy vertaling sou gebeur, het hy in 1705 na Konstantinopel teruggekeer.

In ’n herdruk van sy vertaling in daardie selfde jaar het Serafim die kritiese voorwoord van die oorspronklike uitgawe uitgehaal. Hy het ’n eenvoudige voorwoord ingesluit wat Bybellees aangemoedig het. Hierdie uitgawe het wye verspreiding geniet, en daar is geen rekord van enige negatiewe reaksie van die patriargaat nie.

In 1714 is hy nietemin ’n verpletterende slag toegedien deur Aleksander Helladius, ’n Griekse reisiger en teenstander van Bybelvertaling. In sy boek Status Præsens Ecclesiæ Græcæ (Die huidige stand van die Griekse Kerk) het hy die vertalers en vertalings van die Bybel skerp aangeval. Helladius het ’n hele hoofstuk aan Serafim gewy en hom as ’n dief, ’n swendelaar en ’n ongeletterde en onsedelike bedrieër uitgebeeld. Het daar enige waarheid in hierdie beskuldigings gesteek? Die skrywer Stylianos Bairaktaris spreek die ingeligte mening van baie geleerdes uit wanneer hy Serafim ‘’n briljante werker en ’n verligte pionier’ noem wat aangeval is omdat hy sy tyd vooruit was. Maar Helladius se boek het tot Serafim se ongelukkige einde bygedra.

Onder ’n wolk van agterdog

Teen die tyd dat Serafim in 1731 na Rusland teruggekeer het, was Pieter die Grote dood. Die Griekse diaken het dus geen amptelike beskerming geniet nie. Die heersende keiserin Anna Iwanowna was baie lugtig vir enige bedrywighede in haar ryk wat moontlik die vrede kon versteur. In Januarie 1732 het ’n gerug die ronde gedoen in St. Pietersburg dat ’n Griekse spioen teen die belange van die ryk werk. Die verdagte was Serafim. Hy is in hegtenis geneem en na die Newski-klooster vir ondervraging gestuur. By die klooster was daar ’n eksemplaar van Helladius se boek wat Serafim van verskeie misdade beskuldig het. In drie geskrewe weerleggings het die diaken hom teen die aantygings probeer verdedig. Die ondervraging het ongeveer vyf maande geduur, en dit was moeilik om ontslae te raak van die wolk van agterdog wat oor Serafim se kop gehang het.

Aangesien geen tasbare bewyse teen Serafim voorgelê is nie, is hy nie die doodstraf opgelê nie. Maar as gevolg van Helladius se lasterlike aantygings wou die owerheid Serafim nie vrylaat nie. Die Griekse diaken is lewenslank na Siberië verban. In die uitspraak is daar genoem dat die aanklag gegrond is op die aantygings “in die verhandeling wat deur die Griekse skrywer Helladius gepubliseer is”. Serafim het in Julie 1732 geboei in Oos-Siberië aangekom, en hy is in die berugte Okhotsk-gevangenis gegooi.

Ongeveer drie jaar later het Serafim gesterf, alleen en vergete. Soms was sy besluite en metodes onverstandig en ondeurdag, maar sy vertaling is een van talle Bybelvertalings wat vandag in moderne Grieks beskikbaar is. a ’n Ander is die maklik verstaanbare Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif, wat ook in ’n aantal ander tale beskikbaar is. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah God sy Woord bewaar het sodat mense oral in die wêreld die geleentheid het om “tot juiste kennis van die waarheid [te] kom”!—1 Timoteus 2:3, 4.

[Voetnoot]

a Sien “Die stryd om ’n Bybel in moderne Grieks” in Die Wagtoring van 15 November 2002, bladsye 26-9.

[Prent op bladsy 12]

Pieter die Grote

[Foto-erkenning op bladsy 10]

Foto’s: Courtesy American Bible Society