Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ek dien vreugdevol ondanks gebreke

Ek dien vreugdevol ondanks gebreke

Lewensverhaal

Ek dien vreugdevol ondanks gebreke

SOOS VERTEL DEUR VARNAVAS SPETSIOTIS

In 1990, op die ouderdom van 68, het ek heeltemal verlam geword. Maar dit is die afgelope 15 jaar vir my ’n vreugde om as ’n voltydse bedienaar op die eiland Siprus te dien. Wat het my die krag gegee om ondanks my gebreke aktief te bly in Jehovah se diens?

EK IS op 11 Oktober 1922 in ’n gesin van nege kinders gebore—vier seuns en vyf dogters. Ons het in die dorpie Xylophagou op Siprus gewoon. Hoewel my ouers redelik ryk was, het dit baie harde werk op die landerye geverg om vir so ’n groot gesin te sorg.

My pa, Antonis, was van nature leergierig en nuuskierig. Kort nadat ek gebore is, het my pa ’n onderwyser op die dorp besoek en ’n traktaat met die titel Peoples Pulpit gesien, wat uitgegee is deur die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het). Hy het dit begin lees en was gou verdiep in die inhoud. Gevolglik was my pa en een van sy vriende, Andreas Christou, van die eerste mense op die eiland wat hulle met Jehovah se Getuies verbind het.

Vermeerdering ondanks teenstand

Mettertyd het hulle meer Bybelpublikasies van Jehovah se Getuies verkry. Kort voor lank is my pa en Andreas beweeg om die Bybelwaarhede wat hulle geleer het, aan die ander mense op die dorp bekend te maak. Hulle predikingswerk het hewige teenstand uitgelok van die Grieks-Ortodokse geestelikes en ander wat gevoel het dat Jehovah se Getuies ’n verderflike invloed is.

Baie van die plaaslike mense kon nie anders as om hierdie twee Bybelonderrigters te respekteer nie. My pa was welbekend vir sy goedhartigheid en vrygewigheid. Hy het dikwels arm gesinne gehelp. Soms het hy laat in die nag die huis stilletjies verlaat en meel of brood voor die deur van behoeftige gesinne gelaat. Hierdie onselfsugtige Christelike gedrag het die boodskap van hierdie twee bedienaars selfs aantrekliker gemaak.—Matteus 5:16.

Die gevolg was dat omtrent twaalf mense op die Bybelboodskap gereageer het. Toe hulle waardering vir die waarheid begin toeneem het, het hulle gevoel dat hulle in verskillende huise moet bymekaarkom om die Bybel as ’n groep te bestudeer. In ongeveer 1934 het ’n voltydse bedienaar van Griekeland, Nikos Matheakis, op Siprus aangekom en die groep in Xylophagou besoek. Met geduld en vasbeslotenheid het broer Matheakis die groep help organiseer en hulle gehelp om die Skrif beter te verstaan. Hierdie groep het die kern gevorm van die eerste gemeente van Jehovah se Getuies op Siprus.

Toe die Christelike werk gevorder en meer mense Bybelwaarheid aangeneem het, het die broers gevoel dat hulle ’n permanente plek vir hulle vergaderinge moet kry. My oudste broer, George, en sy vrou, Eleni, het ’n plek beskikbaar gestel wat hulle as ’n skuur gebruik het. Hierdie eiendom, wat langs hulle huis was, is opgeknap en omskep in ’n geskikte plek vir die vergaderinge. So het die broers hulle eerste Koninkryksaal op die eiland gekry. Hoe dankbaar was hulle tog! En wat ’n stimulus was dit tog vir verdere groei!

Ek maak die waarheid my eie

In 1938 het ek, op die ouderdom van 16, besluit om ’n timmerman te word. My pa het my dus na die hoofstad van Siprus, Nicosia, gestuur. Hy het groot wysheid aan die dag gelê en gereël dat ek by Nikos Matheakis bly. Baie op die eiland onthou nog steeds hierdie getroue broer vir sy ywer en gasvryheid. Sy oneindige entoesiasme en onwankelbare moed was gedurende daardie vroeë dae noodsaaklike eienskappe vir enige Christen op Siprus.

Broer Matheakis het my baie gehelp om ’n goeie kennis van die Bybel te verkry en om geestelike vooruitgang te maak. Terwyl ek by hom gebly het, het ek al die vergaderinge bygewoon wat in sy huis gehou is. Vir die eerste keer het ek gevoel dat my liefde vir Jehovah toeneem. Ek het my voorgeneem om ’n sinvolle verhouding met God op te bou. Binne ’n paar maande het ek broer Matheakis gevra of ek saam met hom velddiens kan doen. Dit was in 1939.

Ná ’n ruk het ek teruggegaan huis toe om by my gesin te kuier. Die tyd wat ek saam met my pa deurgebring het, het my oortuiging versterk dat ek die waarheid en die doel van die lewe gevind het. Die Tweede Wêreldoorlog het in September 1939 uitgebreek. Talle jong mans van my ouderdom het aangebied om in die oorlog te gaan veg, maar uit gehoorsaamheid aan die Bybel se riglyne het ek besluit om neutraal te bly (Jesaja 2:4; Johannes 15:19). Daardie einste jaar het ek my aan Jehovah toegewy, en ek is in 1940 gedoop. Vir die eerste keer het ek geen mensevrees gehad nie!

In 1948 het ek met Efprepia getrou. Ons is met vier kinders geseën. Ons het gou besef dat ons hard moet werk om hulle “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Ons het ons gebede en pogings daarop toegespits om ’n innige liefde vir Jehovah en respek vir sy wette en beginsels by ons kinders in te skerp.

Gesondheidsprobleme word ’n uitdaging

In 1964 het ek, op 42-jarige ouderdom, die gevoel in my regterhand en -been begin verloor. Dit het geleidelik na my linkerkant toe versprei. Ek is gediagnoseer met spieratrofie, ’n ongeneeslike siekte wat uiteindelik algehele verlamming tot gevolg het. Die nuus was vir my ’n groot skok. Dinge het so vinnig en onverwags gebeur! Ek is oorweldig deur woede en verontwaardiging en het gedink: ‘Waarom moes dit met my gebeur? Wat het ek gedoen om dit te verdien?’ Maar mettertyd het ek daarin geslaag om oor die aanvanklike skok van die diagnose kom. Toe is ek deur angs en onsekerheid oorweldig. ’n Aantal vrae het aanhoudend deur my gedagtes gemaal. Sal ek heeltemal verlam en ten volle afhanklik van ander word? Hoe sal ek oor die weg kom? Hoe sal ek kan sorg vir my gesin—my vrou en ons vier kinders? Hierdie gedagtes het my werklik gekwel.

Op hierdie kritieke tydstip in my lewe het ek, meer as ooit tevore, gevoel dat ek my tot Jehovah in gebed moet wend en hom in alle opregtheid moet vertel van al my bekommernisse en sorge. Ek het dag en nag met trane in my oë gebid. Kort voor lank het ek beter begin voel. Die vertroostende woorde van Filippense 4:6, 7 was in my geval beslis waar: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.”

Verlamming kry my nie onder nie

My toestand het al hoe erger geword. Ek het besef dat ek my gou by my nuwe omstandighede moet aanpas. Aangesien ek nie langer as ’n timmerman kon werk nie, het ek besluit om ’n minder veeleisende werk te vind wat ek wel in my fisiese toestand sal kan doen en wat my nog steeds in staat sal stel om vir my gesin te sorg. Ek het eers roomys uit ’n paneelwa verkoop. Dit het ek omtrent ses jaar lank gedoen totdat my siekte my tot ’n rystoel beperk het. Ek het toe allerhande ligter werkies gedoen wat ek kon behartig.

Sedert 1990 het my gesondheid soveel agteruitgegaan dat ek glad nie meer sekulêre werk kan doen nie. Nou is ek ten volle afhanklik van ander, selfs om dinge te doen wat vir ’n gesonde persoon iets alledaags is. Ek het hulp nodig om in die bed te kom, om my te was en om aan te trek. As ek Christelike vergaderinge wil bywoon, moet ek in ’n rystoel na die motor gestoot word en dan in die motor ingetel word. By die Koninkryksaal moet ek uit die motor uitgetel, in ’n rolstoel gesit en dan na binne gestoot word. Tydens die vergadering het ek ’n elektriese verwarmer langs my om my voete warm te hou.

Al is ek verlam, woon ek al die vergaderinge redelik gereeld by. Ek besef dit is hier waar Jehovah ons onderrig, en om saam met my geestelike broers en susters te wees, is vir my ’n ware toevlug en ’n bron van ondersteuning en aanmoediging (Hebreërs 10:24, 25). Gereelde besoeke deur geestelike ryp medegelowiges is ’n voortdurende hulp vir my. Ek kan nie anders as om soos Dawid te voel nie: “My beker is heeltemal vol.”—Psalm 23:5.

My dierbare vrou was deur al hierdie jare heen ’n wonderlike helper. My kinders ondersteun my ook baie. Hulle help my nou al ’n hele paar jaar lank met my daaglikse behoeftes. Wat hulle doen, is nie maklik nie, en met die verloop van die jare word dit al hoe moeiliker om vir my te sorg. Hulle is werklik voorbeeldig in die manier waarop hulle geduld aangekweek het en van hulleself gee, en ek bid dat Jehovah sal voortgaan om hulle te seën.

Nog ’n wonderlike voorsiening waardeur Jehovah sy knegte versterk, is gebed (Psalm 65:2). Jehovah het my hartgrondige smekinge verhoor en my die krag gegee om al hierdie jare in die geloof te volhard. Veral wanneer ek neerslagtig voel, bring gebed verligting en help dit my om my vreugde te behou. Voortdurende kommunikasie met Jehovah verkwik my, en dit hernieu my vasbeslotenheid om voort te gaan. Ek is vas oortuig dat Jehovah die gebede van sy knegte hoor en hulle die gemoedsrus gee wat hulle nodig het.—Psalm 51:17; 1 Petrus 5:7.

Bowenal word ek opnuut versterk elke keer wanneer ek daaraan dink dat God uiteindelik almal gaan genees wat geseën sal word met lewe in die Paradys onder die Koninkryksheerskappy van sy Seun, Jesus Christus. Daar het al meer as een keer trane van vreugde oor my wange gerol wanneer ek oor hierdie wonderlike hoop gepeins het.—Psalm 37:11, 29; Lukas 23:43; Openbaring 21:3, 4.

Ek dien as ’n voltydse bedienaar

In omstreeks 1991 het ek, nadat ek my situasie ontleed het, besef dat die beste manier om te voorkom dat ek aan selfbejammering toegee, is om besig te bly met die verkondiging van die kosbare goeie nuus van die Koninkryk. Ek het in daardie jaar as ’n voltydse bedienaar begin dien.

Aangesien ek ’n invalide is, doen ek die meeste van my getuieniswerk deur briewe te skryf. Maar dit is nie vir my maklik om te skryf nie; dit verg groot inspanning. Ek sukkel om die pen stewig vas te hou, omdat my hand deur spieratrofie verswak is. Maar deur volharding en gebed getuig ek nou al meer as 15 jaar lank deur middel van briewe. Ek getuig ook oor die telefoon vir mense. Ek laat nooit ’n geleentheid verbygaan om vir familie, vriende en bure wat my in my huis besoek, te vertel van my hoop van die nuwe wêreld en die Paradysaarde nie.

As gevolg hiervan het ek al baie aanmoedigende ondervindinge geniet. Ek was baie bly om te sien dat een van my kleinkinders, met wie ek sowat 12 jaar gelede die Bybel gestudeer het, geestelike vooruitgang maak en waardering vir Bybelwaarheid toon. Sy Bybelopgeleide gewete het hom beweeg om lojaal en standvastig te bly in die geskil oor Christelike neutraliteit.

Ek is veral bly wanneer mense aan wie ek skryf, met my in aanraking kom vir verdere inligting oor die Bybel. Party vra soms nog Bybellektuur. ’n Vrou het my byvoorbeeld gebel en bedank vir die aanmoedigende brief wat ek aan haar man gestuur het. Sy het die gedagtes in die brief baie interessant gevind. Dit het tot baie Bybelbesprekings met haar en haar man in my huis gelei.

’n Positiewe uitkyk

Oor die jare heen het ek gesien hoe die aantal Koninkryksverkondigers in hierdie deel van die wêreld toeneem. Die klein Koninkryksaal langs my broer George se huis is al ’n paar keer vergroot en opgeknap. Dit is ’n pragtige plek van aanbidding, wat deur twee gemeentes van Jehovah se Getuies gebruik word.

My pa is in 1943, op die ouderdom van 52, oorlede. Maar wat ’n geestelike erfenis het hy tog agtergelaat! Agt van sy kinders het die waarheid aangeneem en dien Jehovah nog steeds. In die dorpie Xylophagou, waar my pa gebore is, en in die nabygeleë dorpies is daar nou drie gemeentes, wat altesaam 230 Koninkryksverkondigers het!

Sulke uitstekende resultate is vir my ’n bron van groot vreugde. Op die ouderdom van 83 kan ek nou met vertroue soos die psalmis sê: “Die jong maanhaarleeus het min gehad en honger gely; maar wat dié betref wat Jehovah soek, dit sal hulle aan niks goeds ontbreek nie” (Psalm 34:10). Ek wag gretig op die tyd wanneer die profesie in Jesaja 35:6 vervul sal word: “Dan sal die kreupele net soos ’n takbok klim.” Ek is vasbeslote om tot dan Jehovah vreugdevol te bly dien ondanks my gebreke.

[Kaart op bladsy 17]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

TURKYE

SIRIË

LIBANON

SIPRUS

Nicosia

Xylophagou

Middellandse See

[Prent op bladsy 17]

Die eerste Koninkryksaal in Xylophagou, wat vandag nog gebruik word

[Prente op bladsy 18]

Saam met Efprepia in 1946 en vandag

[Prent op bladsy 20]

Ek geniet dit om oor die telefoon en deur middel van briewe te getuig