Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah verkondig “van die begin af die uiteinde”

Jehovah verkondig “van die begin af die uiteinde”

Jehovah verkondig “van die begin af die uiteinde”

“[Die Een] wat van die begin af die uiteinde verkondig, en van ouds af die dinge wat nog nie gedoen is nie.”—JESAJA 46:10.

1, 2. Wat is merkwaardig omtrent die gebeure wat met Babilon se omverwerping verband hou, en wat toon hierdie feit omtrent Jehovah?

 IN DIE middel van die nag beweeg vyandelike soldate geluidloos in die bedding van die Eufraatrivier na hulle teiken, die magtige stad Babilon. Terwyl hulle die stadspoort nader, begroet ’n verstommende gesig hulle. Die kolossale tweevleueldeure in Babilon se muur staan oop! Hulle klim uit die rivierbedding op en gaan die stad binne. In ’n oogwink val die stad. Kores, hulle leier, bring die verowerde land spoedig onder sy beheer en vaardig later ’n verordening uit om die Israelitiese gevangenes vry te laat. Duisende ballinge keer terug huis toe om die aanbidding van Jehovah in Jerusalem te herstel.—2 Kronieke 36:22, 23; Esra 1:1-4.

2 Hierdie gebeure wat in die jare 539-537 v.G.J. plaasgevind het, word vandag deur geskiedkundiges gestaaf. Wat merkwaardig is, is dat die gebeure sowat 200 jaar vooruit voorspel is. Jehovah het sy profeet Jesaja geïnspireer om Babilon se val so ver vooruit te beskryf (Jesaja 44:24–45:7). God het nie net die omstandighede geopenbaar wat met Babilon se omverwerping verband gehou het nie, maar ook die naam van die veroweraars se leier. a Jehovah het vir die Israeliete, wat destyds sy getuies was, gesê: “Dink aan die eerste dinge van lank gelede, dat ek God is en dat daar geen ander God is nie, en ook niemand soos ek nie; wat van die begin af die uiteinde verkondig, en van ouds af die dinge wat nog nie gedoen is nie” (Jesaja 46:9, 10a). Jehovah is waarlik ’n God wat gebeure vooruit kan sien.

3. Antwoorde op watter vrae sal nou bespreek word?

3 Hoeveel weet God van die toekoms? Weet Jehovah vooruit wat elkeen van ons sal doen? Is ons toekoms in werklikheid voorbestem? Ons sal in hierdie en in die volgende artikel die Bybel se antwoorde op hierdie en verwante vrae bespreek.

Jehovah—’n God van profesie

4. Wie is die Bron van die profesieë wat in die Bybel opgeteken is?

4 Omdat Jehovah die toekoms kan vooruitsien, het hy sy knegte in Bybeltye geïnspireer om baie profesieë op te teken, wat ons in staat stel om vooruit te weet wat Jehovah van voorneme is om te doen. “Die eerste dinge—kyk, dit het gekom, maar nuwe dinge kondig ek aan”, sê Jehovah. “Voordat dit uitspruit, laat ek julle dit hoor” (Jesaja 42:9). Hoe bevoorreg is God se volk tog!

5. Voorkennis van wat Jehovah sal doen, bring watter verantwoordelikheid mee?

5 Die profeet Amos verseker ons: “Die Soewereine Heer Jehovah sal niks doen tensy hy sy vertroulike saak aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.” Hierdie voorkennis het ’n verantwoordelikheid meegebring. Let op die kragtige illustrasie wat Amos vervolgens gebruik: “’n Leeu het gebrul! Wie sal nie bang wees nie?” Net soos die gebrul van ’n leeu ’n onmiddellike reaksie uitlok by mense sowel as diere in die omgewing, het profete soos Amos Jehovah se woorde onmiddellik bekend gemaak. “Die Soewereine Heer Jehovah het gespreek! Wie sal nie profeteer nie?”—Amos 3:7, 8.

Jehovah se ‘woord behaal beslis sukses’

6. Hoe het Jehovah se “besluit” in verband met Babilon se ondergang sukses behaal?

6 Deur sy profeet Jesaja het Jehovah gesê: “My besluit sal bly staan, en alles wat my behaag, sal ek doen” (Jesaja 46:10b). God se “besluit”, dit wil sê sy wil of voorneme in verband met Babilon, het behels dat Kores uit Persië geroep word om Babilon te verower en die ondergang daarvan te bewerkstellig. Jehovah het hierdie voorneme lank voor die tyd bekend gemaak. Soos reeds gemeld is, is dit inderdaad vervul in die jaar 539 v.G.J.

7. Waarom kan ons vol vertroue wees dat Jehovah se “woord” altyd sukses behaal?

7 Byna vier eeue voor Kores se verowering van Babilon het koning Josafat van Juda voor die gesamentlike leërs van Ammon en Moab te staan gekom. Hy het vol vertroue gebid: “O Jehovah, die God van ons voorvaders, is u nie God in die hemel nie, en heers u nie oor al die koninkryke van die nasies nie, en is daar nie in u hand krag en mag nie, sodat niemand teen u kan standhou nie?” (2 Kronieke 20:6). Jesaja het soortgelyke vertroue uitgespreek toe hy gesê het: “Jehovah van die leërs het dit besluit, en wie kan dit verbreek? En sý hand is uitgesteek, en wie kan dit afwend?” (Jesaja 14:27). Later het koning Nebukadnesar van Babilon, toe hy ná ’n tydperk van kranksinnigheid weer by sy sinne gekom het, nederig erken: “Daar bestaan niemand wat [God se] hand kan teëhou of wat vir hom kan sê: ‘Wat het u gedoen?’ nie” (Daniël 4:35). Ja, Jehovah verseker sy volk: “My woord . . . sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het” (Jesaja 55:11). Ons kan vol vertroue wees dat Jehovah se “woord” altyd bewaarheid word. God se voorneme is onfeilbaar.

God se “ewige voorneme”

8. Wat is God se “ewige voorneme”?

8 In sy brief aan die Christene in Efese het die apostel Paulus gemeld dat God ’n “ewige voorneme” het (Efesiërs 3:11). Dit is nie bloot ’n plan van aksie, asof God noukeurig moes uitwerk hoe hy iets sou doen nie. Dit hou eerder verband met Jehovah se vasbeslotenheid om te volbring wat hy oorspronklik vir die mensdom en die aarde in gedagte gehad het (Genesis 1:28). Om ons te help verstaan hoe onfeilbaar sy voorneme is, kan ons kyk na die eerste profesie wat in die Bybel opgeteken is.

9. Hoe hou Genesis 3:15 verband met God se voorneme?

9 Die belofte in Genesis 3:15 toon dat Jehovah onmiddellik ná Adam en Eva se sondeval beslis het dat sy simboliese vrou ’n saad, of seun, sou voortbring. Jehovah het ook vooruitgesien wat die gevolge sou wees van die vyandskap tussen sy vrou en Satan en tussen elkeen se saad, wat mekaar sou teëstaan. Hoewel Jehovah sou toelaat dat die Saad van God se vrou in die hakskeen gewond word, sou die Saad op God se bestemde tyd die slang, of Satan die Duiwel, se kop vermorsel. Intussen het Jehovah se voorneme onstuitbaar voortbeweeg deur die gekose geslagslyn totdat Jesus as die beloofde Messias verskyn het.—Lukas 3:15, 23-38; Galasiërs 4:4.

Wat Jehovah voorbestem

10. Het Jehovah dit van die begin af voorbestem dat Adam en Eva sou sondig? Verduidelik.

10 Aangaande die rol wat Jesus in God se voorneme gespeel het, het die apostel Petrus geskryf: “Hy [Jesus] is . . . voor die grondlegging van die wêreld vooruitgeken, maar hy is aan die einde van die tye openbaar gemaak ter wille van julle” (1 Petrus 1:20, voetnoot in NW). Het Jehovah dit van die begin af voorbestem dat Adam en Eva sou sondig en dat die losprysoffer wat deur middel van Jesus Christus voorsien is, nodig sou wees? Nee. Die woord “grondlegging” is vertaal uit ’n Griekse term wat letterlik “neerwerping van saad” beteken. Is ‘saad neergewerp’, of menslike nakomelinge verwek, voordat Adam en Eva gesondig het? Nee. Adam en Eva het eers ná hulle daad van ongehoorsaamheid kinders voortgebring (Genesis 4:1). Jehovah het dus ná die opstand, maar voordat nakomelinge deur Adam en Eva verwek is, voorbestem dat die “saad” sou verskyn. Jesus se dood en opstanding het die liefdevolle losprysreëling voorsien, waardeur oorgeërfde sonde en al Satan se pogings tot niet gemaak sal word.—Matteus 20:28; Hebreërs 2:14; 1 Johannes 3:8.

11. Watter verwikkeling het Jehovah voorbestem in die uitvoering van sy voorneme?

11 God het nog ’n verwikkeling voorbestem in die uitvoering van sy voorneme. Dit word aangedui deur wat Paulus aan die Efesiërs geskryf het, naamlik dat God “alles weer byeen [sal] bring in die Christus, die dinge in die hemele en die dinge op die aarde”. En met verwysing na “die dinge in die hemele”, dit wil sê diegene wat gekies is as erfgename met Christus, het Paulus toe verduidelik: “Ons [is] voorbestem . . . ooreenkomstig die voorneme van hom wat alles werk volgens die raadsbesluit van sy wil” (Efesiërs 1:10, 11). Ja, Jehovah het vooruit bepaal dat ’n beperkte aantal mense ’n sekondêre deel van die saad van God se vrou sou uitmaak en saam met Christus die voordele van die losprys sou aanwend (Romeine 8:28-30). Die apostel Petrus verwys na hulle as “’n heilige nasie” (1 Petrus 2:9). Die apostel Johannes het die voorreg gehad om in ’n visioen die getal te hoor van dié wat Christus se mede-erfgename sou word—144 000 (Openbaring 7:4-8; 14:1, 3). Hulle is verenig met Christus as Koning en dien “tot lof van [God se] heerlikheid”.—Efesiërs 1:12-14.

12. Hoe weet ons dat die 144 000 nie as individue voorbeskik was nie?

12 Die voorbestemming van die 144 000 beteken nie dat sekere individue voorbeskik was om God getrou op hierdie manier te dien nie. Trouens, die vermanings in die Christelike Griekse Geskrifte is hoofsaaklik geskryf om gesalfdes leiding te gee en te versterk om hulle onkreukbaarheid te handhaaf en hulle hemelse roeping waardig te bly (Filippense 2:12; 2 Tessalonisense 1:5, 11; 2 Petrus 1:10, 11). Jehovah weet vooruit dat 144 000 individue sal kwalifiseer om deel te vorm van sy voorneme. Wie dit sal wees, hang af van hoe diegene wat die uitnodiging ontvang het, individueel verkies om hulle lewe te lei, ’n besluit wat elkeen van hulle persoonlik moet maak.—Matteus 24:13.

Wat Jehovah vooruit weet

13, 14. Waarmee strook Jehovah se gebruik van sy voorkennis, en waarom?

13 Hoe gebruik Jehovah sy voorkennis, aangesien hy ’n God van profesie en voorneme is? Om mee te begin, ons het die versekering dat al God se weë waaragtig, regverdig en liefdevol is. Toe die apostel Paulus aan die Hebreeuse Christene van die eerste eeu G.J. geskryf het, het hy bevestig dat God se eed en sy belofte “twee onveranderlike dinge [vorm] waarin dit onmoontlik is vir God om te lieg” (Hebreërs 6:17, 18). In sy brief aan die dissipel Titus het Paulus ook hierdie gedagte uitgespreek toe hy geskryf het dat God “nie kan lieg nie”.—Titus 1:2.

14 Wat meer is, hoewel Jehovah onbeperkte krag het, tree hy nooit onregverdig op nie. Moses het Jehovah beskryf as “’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy” (Deuteronomium 32:4). Alles wat Jehovah doen, strook met sy wonderlike persoonlikheid. Sy handelinge openbaar die volmaakte harmonie tussen sy hoofeienskappe, liefde, wysheid, geregtigheid en krag.

15, 16. Watter vooruitsigte het Jehovah in die tuin van Eden vir Adam gestel?

15 Kyk hoe dit alles verband hou met die gebeure in die tuin van Eden. As ’n liefdevolle Vader het Jehovah alles voorsien wat menseskepsele nodig gehad het. Hy het Adam die vermoë gegee om te dink, oor ’n saak te redeneer en ’n slotsom te bereik. In teenstelling met die diereskepping, wat in groot mate deur instink gelei word, het Adam die vermoë gehad om keuses te maak. Toe God dus van sy hemelse troon afkyk, het hy “alles gesien wat hy gemaak het, en kyk! dit was baie goed”.—Genesis 1:26-31; 2 Petrus 2:12.

16 Toe Jehovah besluit het om Adam ’n bevel te gee om nie van “die boom van die kennis van goed en kwaad” te eet nie, het Hy voldoende instruksies gegee sodat Adam kon besluit wat om te doen. Hy het Adam toegelaat om van “al die bome van die tuin” te eet, met die uitsondering van een, en het gewaarsku teen die noodlottige gevolge daarvan om die vrugte van die verbode boom te eet (Genesis 2:16, 17). Hy het aan Adam verduidelik wat die gevolge van sy dade sou wees. Wat sou Adam doen?

17. Waarom kan ons sê dat Jehovah se gebruik van voorkennis selektief is?

17 Jehovah het blykbaar verkies om nie vooruit te sien wat Adam—en Eva—sou doen nie, hoewel Hy die vermoë besit om alles vooruit te weet. Die vraag is derhalwe nie of Jehovah die toekoms vooruit kan sien nie, maar of hy verkies om dit te doen. Verder kan ons redeneer dat Jehovah, aangesien hy ’n God van liefde is, nie doelbewus en gevoelloos sou voorbestem dat daardie opstand—en al die droewige gevolge daarvan—plaasvind nie (Matteus 7:11; 1 Johannes 4:8). Jehovah se gebruik van voorkennis is dus selektief.

18. Waarom is Jehovah se selektiewe gebruik van voorkennis geen aanduiding van onvolmaaktheid aan sy kant nie?

18 Beteken die feit dat Jehovah sy voorkennis selektief gebruik dat hy in die een of ander opsig tekort skiet, onvolmaak is? Nee. Moses het Jehovah beskryf as “die Rots” en bygevoeg: “Volmaak is sy werk.” Hy dra nie die skuld vir die gevolge van die mens se sonde nie. Die rampspoedige gevolge wat ons almal vandag ondervind, het hulle oorsprong by daardie sondige daad van ongehoorsaamheid. Die apostel Paulus het duidelik geredeneer dat “[die sonde] deur een mens . . . in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het”.—Deuteronomium 32:4, 5; Romeine 5:12; Jeremia 10:23.

19. Watter vrae sal in die volgende artikel bespreek word?

19 Tot dusver in ons bespreking het ons gesien dat daar geen ongeregtigheid by Jehovah is nie (Psalm 33:5). Inteendeel, Jehovah se vermoëns, sedelike eienskappe en standaarde steun sy voorneme (Romeine 8:28). As die God van profesie verkondig Jehovah “van die begin af die uiteinde . . . , en van ouds af die dinge wat nog nie gedoen is nie” (Jesaja 46:9, 10). Ons het ook gesien dat hy sy voorkennis selektief gebruik. Waar pas ons dan in? Hoe kan ons seker maak dat ons besluite in ooreenstemming is met God se liefdevolle voorneme? En watter seëninge sal dit vir ons meebring? Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.

[Voetnoot]

a Sien die brosjure ’n Boek vir alle mense, bladsy 28, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

Kan jy verduidelik?

• Watter eertydse voorbeelde getuig daarvan dat God se “woord” altyd “beslis sukses behaal”?

• Wat het Jehovah voorbestem in verband met sy “ewige voorneme”?

• Hoe gebruik Jehovah sy voorkennis?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 22]

Josafat het vertroue in Jehovah gehad

[Prent op bladsy 23]

God het Jesus se dood en opstanding voorspel

[Prent op bladsy 24]

Het Jehovah Adam en Eva se optrede voorbestem?